×

Ons het nuus vir jou.

Registreer gratis op Vrye Weekblad en ontvang nuusbriewe per e-pos, lewer kommentaar en meer.
Registreer nou
Soet, ryp aarbeie huldig die somer in

FYNPROE

Soet, ryp aarbeie huldig die somer in

Hierdie week se kosrubriek uit die argiewe bevat drie resepte vir liplek-lekker aarbeipoedings, asook ’n verfrissende sangria, ook met dié somervruggie gemaak. Ons drink (en eet) op die warmer weer! Deur NETTIE PIKEUR.

Image: 123RF/BRKS

SOMERWEER in die Kaap, at last. Ons word al hoe vroeër wakker en kyk hoe die see stadig begin verkleur. Wanneer dit helder lig is en die spreeus om die huis begin piep (hoekom is dié voëls so irriterend? Hulle is oral, en jy kan die goed nie verjaag nie), doop ek die een vars aarbei ná die ander in wit jogurt vir brekfis.

Onthou julle nog hoe skaars aarbeie vroeër jare was, en hoe volop hulle nou is? Elke tweede groenteman op straat verkoop sy kissie aarbeie en teen die einde van die dag kan jy boonop die prys afdwing.

Aarbeie met jogurt of roomys of roomkaas is van die lekkerste somerkos op aarde. Suurlemoen maak hulle nog lekkerder en probeer gerus om aarbeie sonder die alewige suiker voor te sit. Dit laat hulle water trek.

Onthou om die aarbeie te was net voor jy hulle eet, nie vroeër nie – hulle trek water. Ook, die sap van aarbeie maak jou vingernaels swart. Gebruik dus 'n mes om die stingels uit te trek.

Ek gee weer hierdie heerlike resep vir 'n aarbeitert, 'n maklike standby wanneer daar volop vrugte is.

Aarbeitert

Maak 'n kors van beskuitjiekrummels en gesmelte botter. Druk die mengsel in 'n groot tertbord vas. Verf 'n lagie kweperjellie op die kors en rangskik heel vars aarbeie styf teen mekaar daarop, puntjies na bo.

Smelt 2 botteltjies van die bogenoemde jellie in 'n pannetjie en roer 2 lepels sjerrie of brandewyn by. Giet die jellie versigtig oor die aarbeie en maak oornag in die yskas koud sodat die jellie stol en die aarbeie effens sag word en hul sap begin uitloop. Sit voor met geklopte room.

Jy kan aarbeie ook net so met 'n lepel suiker in die menger gooi en dan stadig 'n stroompie room bygooi tot dit glad word. Dié outydse poeding kan jy met nog room voorsit. Baie mense hou van die smaak van sjokolade en aarbeie. Vir hulle koop jy Woolies se goddelike sjokolademousse  en snipper stukkies aarbeie by.

Bevrore jogurt met aarbeie is ook besonder lekker. Moenie die jogurt kliphard vries nie en klits dit dan goed. Dit is veral lekker as jy, soos Mies Pikeur, nooit kan onthou om suiker in die huis aan te hou nie.

Dié resep vir aarbeisous kom nog uit die Meals for a Month van Phillippa Cheifitz en Shirley Friedman. Wys nou net – as 'n kookboek die toets van die tyd deurstaan, moet dit waarlik voortreflik wees. Ek het dié nommer, sedertdien etlike kere al verbeter en heruitgegee, in 1975 gekoop.

Aarbeisous

Maak 500g vars aarbeie fyn en hou die sap. Voeg water by die sap om 300ml op te maak. In 'n klein pannetjie, meng 1 eetlepel Maizena en die sap, en roer tot glad. Laat kook vir 5 minute. Voeg aarbeie en 'n kwartkoppie kirsch of 'n ander likeur by. Maak goed koud. Eet dié sous saam met roomys.

Aarbeie pas natuurlik goed in 'n vrugteslaai met appels, pere, koejawels, piesangs, en so aan. Een vriendin maak selfs ’n groenslaai met vars aarbeie, kruie, komkommer en gesnipperde grasuie. Die slaai is veral lekker by 'n braai, sê sy, of saam met geroosterde filet as jy die dag ryk voel.

Ricotta is een van daardie kase wat volmaak by vrugte soos aarbeie pas. Maak hierdie klassieke ricotta-room, en versier dan met aarbeie vir 'n pragtige en indrukwekkende poeding.

Image: 123RF/SEREZNIY

Ricotta-room met aarbeie

Meng 'n klein pakkie ricotta in 'n menger met 2 eiergele, 2 lepels suiker en 1 lepel brandewyn of soet sjerrie. Skep die poeding (dit bly dik en word nie souserig nie) bo-oor aarbeie en sit voor met 'n likeur of soetwyn.

Dit bring ons nou by wat om te drink by vrugtegeregte soos aarbeie. Moenie halfsoet wyn versmaai nie, veral nie dié uit warm streke soos Robertson en Citrusdal nie. Ek het in een van my ou kookboeke weer hierdie lekker Spaanse drankie gevind en verkies dit steeds gemaak met witwyn, nie rooiwyn nie, en die wyn ook nie alte droog nie.

Wit sangria

Meng 1 bottel witwyn, 2 koppies gemmerbier, 'n skoot elk suurlemoensap en brandewyn, een fyngekapte appel en 'n knippie fyn kaneel. Versier verder met klein heel aarbeitjies. Verdun die drankie met sodawater of drink dit net so. Skink uit groot bekers in lang glase, en eet nog 'n vars aarbei om die somer in te lui.

* Die artikel het op 28 Oktober 1993 in Vrye Weekblad verskyn.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!