Oekraïense mallemeule klap Putin van alle kante teen die kop

DNIEPER IN DIE MOEILIKHEID

Oekraïense mallemeule klap Putin van alle kante teen die kop

Pres. Vladimir Putin het Saterdag in een van sy meer bisarre optredes ’n nuwe mallemeule in Moskou met ’n enorme vuurwerkvertoning geopen. Dié glansgeleentheid kon nie meer onvanpas gewees het terwyl duisende Russiese soldate besig was om vir hul lewe te vlug voor ’n onverwagse blitzkrieg van die Oekraïense magte in die Kharkiv-oblast nie. ERIKA GIBSON skryf oor dié desperate beeldpoetsery aan die rooi magte se kant, terwyl die blou magte se sterte in die lug is.

’n Deel van ’n onbemande lugvaartuig wat Oekraïense militêre owerhede beskryf het as ’n Irannees-vervaardigde selfmoord-hommeltuig, Shahed-136, wat naby die dorp Kupiansk afgeskiet is te midde van Rusland se aanval op Oekraïne.
’n Deel van ’n onbemande lugvaartuig wat Oekraïense militêre owerhede beskryf het as ’n Irannees-vervaardigde selfmoord-hommeltuig, Shahed-136, wat naby die dorp Kupiansk afgeskiet is te midde van Rusland se aanval op Oekraïne.
Image: REUTERS

DIE Oekraïense magte het sedert die begin van September meer as 3,000 vierkante kilometer aan grondgebied gewen wat onder Russiese beheer was sedert dié se inval in Februarie. Selfs die grootste Putin-lojalis sou beswaarlik Moskou se verklaring kon glo dat die Russiese magte in opdrag onttrek om te hergroepeer. Heelparty van dié soldate het voor die intense opmars sommer net daar gedros of hulself oorgegee.

Met die sukses van die jongste offensief het Oekraïne ’n beduidende gedeelte van die besette grondgebied teruggewen, maar dit is nog net die begin, sê prof. Abel Esterhuyse, hoof van strategiese studies by die Universiteit van Stellenbosch se fakulteit militêre wetenskap.

Nodeloos om te sê het Putin se teenstanders hulle ’n dag ná die openingsfiasko verkneukel toe dit blyk die mallemeule se groot wiel het  reeds die gees gegee. Maar vir die eerste keer sedert die inval in Oekraïne lug Putin se ondersteuners nou openlik hul kritiek oor sy hantering van die oorlog én die ernstige gebreke in die weermag wat eenvoudig nie langer verswyg kan word nie.

Selfs op Russiese televisiestasies het die debatte oor die Oekraïense opmars by tye vurig téén Putin gedraai.

Met pres. Cyril Ramaphosa se ampsbesoek aan die VSA en sy ontmoeting met pres. Joe Biden gaan veral die jongste gebeure in Oekraïne die Suid-Afrikaanse regering se vriendskap met Putin en sy “neutrale” standpunt vir ’n diplomatieke skikking in die oorlog dalk moeilik verdedigbaar wees. Die VSA is een van die lande wat die meeste steun aan Oekraïne in die oorlog gegee het.

Ramaphosa sal waarskynlik ook die ongemaklikheid oor nuwe wetgewing voor die Amerikaanse kongres met Biden wil uitklaar. Dié wetgewing bepaal dat verdere sanksies teen Russiese maatskappye wat sake doen in Afrika, sowel as teen die betrokke Afrikalande, ingestel kan word. 

Grondgebied teruggewen

Oekraïne se leërhoof, genl. Valeriy Zaluzhnyi, het Sondag op sosiale media gesê tweederdes van die grondgebied is sedert 8 September teruggewen. In die rigting van Kharkiv het Zaluzhnyi se soldate suid-, oos- en noordwaarts hul opmars voortgesit.

“Daar is 50km om te gaan, dan is ons by die Russiese grens,” het Zaluzhnyi gesê. Teen Maandag was sy troepe op die grens.

Volgens Esterhuyse het die Oekraïense magte ’n fyn strategie van misleiding gevolg waarvoor die Russe geval het. Dit het begin toe Oekraïners begin verkondig het dat hulle ’n groot offensief in die suide van Kherson af beplan. Die Russe het in reaksie dié gebied oorkant die Dnieper-rivier beset wat toegang bied tot die Krim-skiereiland – en, nog belangriker, die watertoevoer na die Krim-skiereiland beheer.

Toe Oekraïners met steek-aanvalle begin, het die Russe die meeste van hul beste soldate in die noorde by Kharkiv suide toe ontplooi en eintlik die swakker soldate noord gelaat. Die blou magte het ook die meeste van die brûe oor die Dnieper en treinspore opgeblaas, wat dit vir die rooi magte van Rusland onmoontlik gemaak het om vinnig uit die gebied te kom.

Sedert laas week het die Oekraïense magte met ’n massiewe opmars in die noorde begin wat die Russe totaal onkant gevang het. Hulle kon weens die ontwrigting van die spoorlyne en brûe nie hul magte onttrek óf van vars voorrade voorsien nie.

Esterhuyse sê dis belangrik om daarop op te let dat Oekraïners nie daarop uit was om om die Russiese vestings in die noorde flenters te skiet nie, maar eerder om chaos te saai. “Dit is ’n tipiese taktiek in sielkundige oorlogvoering waar jy konsentreer op defeat rather than destruction.

Russe op die agtervoet

“Dit is die eerste keer sedert die begin van die oorlog dat Oekraïne nou die oormag het in magsgetalle. Die getalle is in dispuut, maar word gereken op sowat 1 miljoen teenoor die Russe se 250,000. Die blou magte het ook nou die inisiatief, terwyl die Russe op die agtervoet is. Kenners reken dat Rusland minstens 1 miljoen meer soldate nodig het om die hele gevegsfront te verdedig, en dié het hulle nie,” het Esterhuyse gesê.

Boonop het Oekraïne ook nou vir die eerste keer ’n voorsprong in militêre tegnologie wat die Russe totaal oordonder. Sy artillerie se slaankrag is aansienlik versterk met die hulp van Amerikaanse skenkings van Himars, geleide missiellanseerders wat agterop ’n vragmotor gemonteer kan word. Dié missiele se reikafstand is tot 80km en het Oekraïne in staat gestel om ver agter die vyandelike fronte teikens uit te haal.

Rusland het laas week se opmars beantwoord, en twee kruisermissiele het Kharkiv, die provinsiale hoofstad, se krag- en watervoorsieningsinstallasies verrinneweer. Elf van die missiele is afgevuur, maar danksy Oekraïne se Amerikaanse versterkings kon sy lugafweervermoë die res onskadelik stel voor dit by die teikens uitgekom het.

Luidens die jongste verslag van Britse verdedigingsintelligensie het die afgelope week se nederlae beduidende implikasies vir Rusland se hele operasionele magsontwerp. Die oorblywende rooi magte in Oekraïne sal hul verdedigingsoptredes moet herprioritiseer, maar selfs belangriker is dat die opmars die vertroue in hul generaals in Moskou onder die Russiese troepe nog verder kan knou.

Soldate onkant betrap

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) het Maandag gesê Rusland se verliese aan senior militêre gesagvoerders het duidelik ’n uitwerking op die slagveld waar die Russiese soldate onkant betrap is.

Sedert die begin van die oorlog op 24 Februarie vanjaar het Moskou drie admiraals, 38 generaals, twee kolonels, ’n luitenant-kolonel en 150 ander offisiere in sy intelligensiestrukture gearresteer of in die pad gesteek. Aan die gevegsfront het 12 generaals, 56 kolonels, 107 luitenant-kolonels en 11 vlootkapteins in aksie omgekom.

Terwyl die noordelike opmars daarop gemik is om soveel moontlik van die Russiese besetting uit die weg te ruim voordat versterkings opdaag, gaan die suidwaartse operasie deur Oekraïne voort om Kherson te ontset. Dié is die enigste stad wat Rusland sedert die begin van die oorlog kon beset.

Met die Oekraïense magte op die drumpel van nóg ’n strategiese dorp wat deur Rusland beset is, Izyum, sal dit effektiewelik Rusland se noordelike beheerlyn (axis) in die Donbasgebied verwoes, sê die Amerikaanse Institute for the Study of War in sy jongste verslag oor die oorlog in Oekraïne. Sou dieselfde by Kherson met die suidelike Russiese beheerlyn gebeur, het Moskou basies die belangrikste gedeelte van sy beheergebied in Oekraïne verloor.

Die Moscow Times het vandeesweek ná die induiestorting van die Kharkiv-front berig dat Putin al sy vergaderings met militêre generaals gekanselleer en hom in sy huis in Sochi gaan afsonder het.

Die Kremlin het ook aangekondig dat die referendums in die sogenaamde pro-Russiese gebiede in Oekraïne (Donetsk en Luhansk) oor permanente insluiting in Rusland gekanselleer is.

Esterhuyse sê dit is nog te vroeg om nou die vreugdevure aan te steek aangesien die oorlog nog lank nie gewen of verloor is nie. Rusland bevind hom egter nou in die swakste strategiese posisie moontlik sedert die begin van die oorlog.

♦ VWB ♦


BLY IN KONTAK!

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.