Grotte, gate, kluise, batterye (en staatshoofde vir net 6 maande)

WAAROOR WILLEM WONDER

Grotte, gate, kluise, batterye (en staatshoofde vir net 6 maande)

'n Klompie dinge wat WILLEM KEMPEN se aandag getrek het.

Image: 123RF/PAUL PALADIN

Seerowers, skattejagters en bloedgeld

Wat het Oom Paul, die Matebele-koning Lobengula en die 16de-eeuse Skotse seerowerkaptein William Kidd gemeen?

Al drie word verbind met 'n onontdekte fortuin wat iewers versteek is en nooit weer gevind is nie. En in al drie gevalle is dié wegsteekplek nie te ver van ons hier iewers aan die suidekant van Afrika nie. Maar ook: In al drie gevalle is dit g'n uitgemaakte saak dat so 'n fortuin in die eerste plek bestaan het nie, en ás dit bestaan het, of dit wel iewers weggesteek is en nie intussen stilletjies deur iemand anders weggedra is nie.

Die drie het nog iets ook gemeen: Hulle het swaarde gekruis met die magtige Brittanje. 

Paul Kruger: Verlede jaar is berig dat die Suid-Afrikaanse Munt 'n klompie ou Krugerponde uit die laaste dae van die Zuid-Afrikaansche Republiek te koop aangebied het nadat dit in 'n Switserse kluis gevind is. Of dit wel deel van die mitiese Kruger-miljoene is, en aan wie die kluis behoort het en waarom nou eers daarop afgekom is, is nie mooi duidelik nie.

Lobengula Khumalo: Hy was die tweede en laaste koning van die Noord-Ndebeles, ook bekend as die Matebeles. Oor hom het Hedley Arthur Chilvers, later mynbouredakteur van die destydse Rand Daily Mail, in sy 1930-boek The Seven Lost Trails of Africa: A Record of Sundry Expeditions, New and Old, in Search of Buried Treasure, geskryf

“King Lobengula, son of the Zulu general Moselikatze [sic] who fled to Rhodesia from the Voortrekkers and the tyrant Tshaka and founded the Matabele nation, had reached the conclusion in 1892 that war with the white man was inevitable. Many years had elapsed since his father, that ferocious old giant, had mounted to the summit of the long, flat-topped hill a few miles from Bulawayo in Southern Rhodesia, and had solemnly apportioned the promised land to his Matabele."

Dit was die vrees vir dié komende oorlog wat Lobengula laat besluit het om sy vergaarde skatte te versteek. Hieroor skryf Chilvers:

“Lobengula had two safes containing three tins filled with diamonds, each diamond a gift stolen by one of his subjects from the Kimberley mines. He had raw gold, too, from old Mashona workings, and bags of British and Kruger sovereigns. For it was customary for his Matabele, on returning to their kraals from work in the White Man's territory, to present the king with a diamond, or a sovereign, or some other such gift."

Om 'n lang en allermins onbetwiste storie kort te maak: Lubengula het sy fortuin vermoedelik iewers in 'n grot in Suid-Rhodesië laat begrawe, en met enkele uitsonderings almal laat uitmoor wat geweet het waar dit was. Ten spyte van herhaalde ekspedisies oor die jare is dit nog nooit weer gevind nie. Die waarde daarvan was volgens een bron reeds in 1923 sowat £2 miljoen.

Een van die interessante karakters wat oor die jare 'n obsessie met Lobengula se fortuin ontwikkel het, was Johann G. W. Leipoldt, C. Louis Leipoldt se broer. Hieroor het die Zimbabwiese historikus prof. Ray Roberts in 2004 geskryf:

“In 1920 Leipoldt bought a Model T Ford in which he was the first to drive all the way from South Africa into Angola where he thought the treasure was; and a trip to Southern Rhodesia a year later, that does not appear in official records, convinced him that this was so. So began a series of arduous and surreptitious visits into south-eastern Angola where, Leipoldt and the Germans before him believed, Lobengula intended to refound his state."

William Kidd: Kaptein Kidd se reputasie as boosaardige seerower kon vandag heeltemal anders gewees het as sy tydsberekening net beter was. Baie van sy plunderwerk is uitgevoer as “privateer", dit wil sê as 'n skeepskaptein wat die amptelike goedkeuring van koning William III gehad het en op Franse en ander vyandelike skepe toegeslaan het in ruil vir 10% kommissie.

Teen 1679 het Kidd egter alle pretensie laat vaar, by wyse van spreke, en 'n onbeskaamde seerower geword. Voordat hy in 1701 gehang is – eers met die derde probeerslag, want die tou het die eerste twee keer gebreek – het Kidd volgens oorlewering 'n groot deel van sy buit iewers versteek. Hy was selfs die inspirasie vir Robert Louis Stevenson se roman Treasure Island.

Een van die hardnekkigste teorieë oor Kidd se fortuin is dat hy dit iewers naby die eiland Sainte Marie aan Madagaskar se ooskus sou begrawe het. Dié eiland was in die 17de en 18de eeu 'n soort “tuishawe" vir baie van die seerowers van die Indiese Oseaan. Kyk gerus ook hierna:

Lank in die land

Die pas ontslape Elizabeth Alexandra Mary Windsor het op 6 Februarie 1952 die volle titel Elizabeth II, by the Grace of God, of the United Kingdom of Great Britain and Northern Ireland and of her other realms and territories; Queen, Head of the Commonwealth, Defender of the Faith aangeneem. Die Verenigde State van Amerika het op 4 Julie 1776 van Brittanje onafhanklik geword. Dit beteken Elizabeth was op die troon vir net minder as 30% van die VSA se bestaan.

... teenoor net ses maande

Die pas afgelope Grand Prix op Monza was Italië se tweede een vanjaar ná die een op Imola op 24 April. Die F1-wedren op Imola was vir lank as die Grand Prix van San Marino bekend, met verwysing na dié mikrostaat van net 61km² en 'n bevolking van minder as 35,000 mense.

Imola is nié in San Marino nie, wel daar naby, maar dié hele speletjie met name het (so effens) weggesteek dat Italië eintlik nog al die jare twee Grands Prix het.

San Marino is 'n vreeslik rustige plek – só rustig dat dit selfs in sy amptelike naam opgeneem is: Serenissima Repubblica di San Marino. Die land maak daarop aanspraak dat dit die wêreld se oudste soewereine staat is (sedert die jaar 301) sowel as die oudste konstitusionele republiek.

San Marino het ook 'n eiesoortige staatkundige bedeling: Twee staatshoofde met gelyke magte word elke ses maande deur die land se  demokraties verkose groot en algemene raad aangewys. Hulle staan as kapteinregente bekend en begin en eindig hul termyn saam.

Op pad na ’n beter battery

Omtrent alle gesprekke oor hernubare energiebronne beland uiteindelik by die hoë koste en lae effektiwiteit van maniere om krag te stoor.

Interessante navorsing op dié gebied is in Augustus in Nature gepubliseer deur 'n span onder leiding van prof. Donald Sadoway van MIT en 15 ander wetenskaplikes van onder meer China en Kanada.

Die span se beoogde nuwe battery gebruik aluminium en swael vir die elektrodes, met 'n gesmelte sout-elektroliet tussenin. Kyk wat Sadoway self oor sy werk sê:

♦ VWB ♦


BLY IN KONTAK!

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.