Haar Eksellensie Dokter Nkosazana Clarice...

MET GEDLEYIHLEKISA SE SEËN

Haar Eksellensie Dokter Nkosazana Clarice Dlamini-Nog-’n-Zuma: terug na die toekoms

Antie Nikotien vir president? Die opposisie hoop so, skryf MAX DU PREEZ.

Nkosazana Dlamini-Zuma
Nkosazana Dlamini-Zuma
Image: TIMESLIVE/SANDILE NDLOVU

JAMMER, Zweli Mkhize en Lindiwe Sisulu, die pos van die RET-faksie se kandidaat vir die leierskap van die ANC is gevul. Boonop met die seën van uBaba Jacob Gedleyihlekisa Zuma homself.

In ander nuus: Die land se beroemdste medieseparoolpasiënt, glo op sy sterfbed, wou na die aktiewe politiek terugkeer en hom as kandidaat vir die voorsitterskap van die ANC by die Desember-verkiesingskommissie beskikbaar stel.

Volgens news24 se Qaanita Hunter, myns insiens die beste politieke korrespondent in die land vandag, het Zuma te Nkandla aan besoekende RET-leiers oor die naweek gesê die “veterane” en ander groepe dring by hom aan om vir die posisie te staan. Sy besoekers, onder andere Ace Magashule, Supra Mahumapelo en Tony Yengeni, het hom afgeraai.

Die Sunday Times het Sondag die nuus gebreek dat Dlamini-Zuma, algemeen bekend as NDZ, bevestig het dat sy as kandidaat teen Cyril Ramaphosa gaan staan. Soos wat sy in 2017 gedoen het, toe sy naelskraaps verloor het.

Dit lyk duidelik dat Zuma en sy RET-luitenante nie glo Mkhize, wat onder verdenking staan dat hy korrup is, of Sisulu lewensvatbare kandidate teen Ramaphosa sou wees nie.

Zuma het glo aan Magashule en Kie gesê hulle moenie “defocused” wees en enige ander kandidate toelaat om Ramaphosa aan te vat nie.

Zuma het daarmee enige praatjies dat sy eksvrou dalk nie ’n openlike RET-kandidaat gaan wees nie, van die tafel gevee.

NDZ se besluit is ’n verrassing. Sy het in haar termyn in Ramaphosa se kabinet haar lyf neutraal gehou en in stadiums het dit selfs gelyk asof sy lojaal teenoor die president is. Selfs toe haar jongste dogter, Thuthukile, laas week plakkate op Twitter geplak het wat haar ma se kandidatuur vir president voorgestel het, het min dit ernstig opgeneem.

NDZ vier enkele weke ná die Desember-verkiesing haar 74ste verjaardag. Sou sy suksesvol wees en dan in 2024 die land se president word, sal sy teen die einde van haar termyn in haar 80's wees.

Tensy Ramaphosa met die Phala Phala-skandaal gaan vasval, lyk dit asof NDZ nie naastenby soveel steun in die leierskapsverkiesing gaan kry as in 2017 nie, toe sy met net 179 stemme uit meer as 4,000 verloor het.

Nie net het die RET-faksie sedert Desember 2017 agteruitgeboer nie, die ANC in NDZ se tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, het sedertdien boonop erg verswak. Dit is glad nie meer so ’n oorweldigende invloed op ANC-kongresse soos voorheen nie.

NDZ kan wel op tradisionele Zoeloesprekendes se steun staatmaak, maar sy is nie geseënd met oorvloedige charisma nie en het haarself baie ongewild gemaak met haar irrasionele en kragdadige besluite met die aanvang van die Covid19-inperkings.

Die ANC se politieke opponente moet hoop sy word in Desember as leier verkies, want dan is die ANC se kans nóg swakker om ’n volstrekte meerderheid in 2024 te behaal – die steun kan selfs tot onder 40% daal.

NDZ se besluit in Maart 2020 om alle tabakprodukte te verbied, is onlangs deur die appèlhof ongeldig verklaar: “There was no scientific justification for the continued ban on the sale of tobacco products: there is no evidence that short-term quitting has clinical significance for Covid-19 severity and outcomes."

Die lang verbod op nikotien het die staat baie biljoene rande aan inkomste gekos en ’n hupstoot aan die onwettige handel in sigarette gegee wat steeds voortwoed.

Sy het haar boonop nie as minister van samewerkende regering en tradisionele sake in eer getooi nie. Inteendeel.

As NDZ ’n nalatenskap het, is dit die verspotte tabakverbod. ANC-lede sal hulleself in Desember moet afvra of hulle regtig iemand met sulke irrasionele, diktatoriale neigings die president van Suid-Afrika wil maak.

♦ VWB ♦


BLY IN KONTAK!

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.