Bemagtiging van die vroue van die see

AS DIE SEE DIE DAG NIE MEER GEE NIE

Bemagtiging van die vroue van die see

Nie alles by die see is lekker nie, want nie alles by die see is kreefstert en bokkombotter nie. Die vissersvroue langs ons mooi kus kom ’n lang pad met swaarkry, maar daar is ook die suksesstories. Ons moet net die skubbe afkrap, skryf INGRID JONES.

Image: ANGELA TUCK

“INGRID, jy gaan doodgaan van hongerte as daar nou ’n hongersnood moet kom, want jy gaan nie weet hoe om te oorleef nie. Jy moet net weet wát om te eet. Die natuur het alles. Laat ek jou vertel van haaivin eet.”

Só begin ’n week van heerlike storievertel deur 17 vroue wat vir ’n week saamgetrek het by The Grail Centre in Kleinmond in die Overstrand. Ek is bevoorreg om deel te wees van ’n projek met die naam PLAAS – wat niks met plaas uit te waai het nie. Dis ’n akroniem vir Institute for Poverty, Land and Agrarian Studies, ’n onafhanklike beleidsnavorsinginstituut binne die fakulteit vir ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Ek wil nie veel oor die projek sê nie; dis nie my plek nie, maar ek kan wel praat oor die ongelooflike tye wat ek elke keer saam met die vroue beleef wanneer ons bymekaar is. Ek is al langer as twee jaar betrokke by dié bemagtigingsprojek om vroue wat in vissersgemeenskappe woon vaardighede te leer wat hulle ekonomies selfstandig sal maak as die see die dag nie meer gee nie. Die agterstande wat die vroue het om kwotas te kry, om ’n boot of ’n fabriek te besit, om deel van die blou ekonomie (die benutting, bewaring en heropbou van die mariene omgewing) te word, is skreiend. Die ouderdomsgroep strek van 20 tot 85 en die lewenservaring is net so wyd soos die Heer se genade.

Ek het met oopmondverstomming geluister na al die stories van swaarkry en lekkerkry, van goeie dae en slegte dae. Van skilpad eet tot ystervarklekkerte, want as daar nie was uit die see nie, moes daar ’n plan gemaak word.

Eerder ’n onderwyser

As jy jou kan indink in ’n 85-jarige se skoene, moet jy onthou dat die geboortedatum 1937 was en dat daar baie water in die see geloop het. Die 85-jarige tannie Betsie vertel dat sy nooit met ’n seeman wou trou nie, want sy het gesien hoe die mans see toe gaan en dan kom sommige van hulle nie weer huis toe nie. Sy onthou toe hulle dae aaneen kos en koffie aangedra het vir die vroue en kinders wat langs die see gestaan en wag het. Sy sou verkies om met ’n onderwyser te trou, want hy gaan soggens skool toe met sy broodblik en dan kom hy weer vanmiddag huis toe en los sy skoene onder die tafel.

Daar is die jonger Michelle, wie se pa op die skuit uitgegaan het, op die see aan ’n hartaanval gesterf het, en vir drie dae het die skuit nie land toe gekom nie, want hulle was besig om vis te vang en die booteienaars het nie inbraak op die vangs toegelaat nie. Michelle se ma moes toe instaan vir haar ses kinders en by die visfabriek gaan werk. Dis nou dan ook in dieselfde tyd dat hulle uit hul huis gesit is, want die man het dan nou nie meer gewerk vir die visfabriekbaas nie. As die toeter op die hawe afgegaan het, moes Michelle se ma en die ander vroue alles los en hawe toe draf om vis te gaan vlek en op die ys te pak.

In een so ’n toeter-konsternasie het haar ma in haar haas ’n pan vol warm olie te na aan die tafeloppervlak gelos, die tweejarige Michelle het die papiertafeldoek beetgekry en afgetrek en brandwonde oor haar hele klein lyfie opgedoen. Dis as gevolg van die ongeluk dat sy nie die visbedryf sal verlaat nie en vandag is sy ’n kampvegter vir vissersvroue. Die Here het dit op haar pad geplaas.

Elkedagvissers

En so is daar baie stories van verlies, maar dis die kosstories wat die lekkerste was. Daar was altyd iets uit die see om te eet totdat die gulsigaards begin kwotas koop het en die elkedagvissers se bestaansreg by die knieë kom afsny het. En moet my nie eens laat begin by die mans wat ekstra woema nodig het om hul penisvaardigheid ’n blou hupstoot te gee nie! Waar kom jy daaraan dat perlemoen jou pekker ’n pluspunt gaan gee? En nou word die oseaan leeg gesuig om jou absurde wellus ’n hupstoot te gee? Ek wil nie vloek nie!

Dit daar gelaat. Almal het geëet. As daar nie kos was nie, het die vroue na die visfabrieke gegaan en haaivinne gaan haal wat vir weggooi bedoel was. (Dis nou in die dae voor die manne begin dink het ’n vin het afrodisiakumwaarde en vroue kollageen aan hul gesigte begin smeer het om die plooie weg te hou.)

Jy gooi die vinne oornag in asynwater, môre-oggend haal jy hulle uit, trek die velle af, maal fyn en dan maak jy vinfrikkadelle.

“Ingrid, jy sal nie eens weet jy eet vin as ek jou nie sê nie.”

“’n Knippie pietersielie hier, ’n bietjie sout en peper daar, ou brood om vastigheid te gee en siedaar.”

Vis was die stapelvoedsel, die kreef en die alikreukels was volop en perlemoen was sommer so alledaags. Maar toe kom die langanas (sleng vir die middelmanne wat alles kom befomfaai het) en nou kan mens niks meer doen sonder ’n lisensie of om deur hulle te gaan nie. Jy’t skoons ’n lisensie nodig om skulpe op die strand op te tel, en vergeet maar van suurvye pluk. Hulle sluit vir jou op as jy nie daai lisensie wys nie. En as die vis nie loop nie en jy smaak ’n ou stukkie vleis, dan is haas, klein bokkies, skilpad en ystervarkvleis die kos wat een keer ’n maand op die vuur gegooi is. Dié moes hulle met mudsakke die veld in waar wippe en strikke gestel is om die kos te vang. Niemand is gespaar nie, al was jy ook ’n kleine vier jaar oud. As pappa gepraat het, dan stap jy.

Nadiema het op 13-jarige ouderdom reeds begin vis vlek en verkoop. Met die vlekgeld, R132 per week, het sy vir haar vis gekoop by die Portugese en dan het sy dit weer verkoop. Sy het ál meer besigheid gekry en moes gou-gou ’n Shoprite-trollie kry om haar vis mee te vervoer van Houtbaai se hawe na haar blyplek hoër op Hangberg se kant toe. Sy sê visvang is nie vir haar nie; dit vat te lank en die water is te hoog. Sy het ook nie getrou nie, want ’n man kan dalk net lui wees en sy gaan hom beslis nie onderhou nie. Sy spaar elke sent wat sy maak, is nie skaam om haar Shoprite-trollie bult op en bult af te stoot nie en vandag besit sy twee tweedehandse trokkies en is daar tien mense wat vir haar werk. En sy het steeds daai trollie. Nadiema glo ook nie aan banke nie. Niemand gaan haar geld steel nie. Dis kontant of niks.

Sy eie kopdinge

Maar dis nie alles kreefsterte en perdevoete (periwinkles) nie; daar is vroue wat swaar trek. Daar is die een tannie wat met haar kinders moes vlug en in reën en hael onder bosse moes skuil, want sy was te bang om huis toe te gaan waar ’n man met gebalde vuiste gewag het. Sy het dit uiteindelik reggekry om hom te verlaat en oor te begin en die nuwe vaardighede wat sy aangeleer het deur die PLAAS-projek het haar nuwe vleuels gegee.

Daar’s die tannie in Port Nolloth wat eers op 11 kon skool toe gaan, maar haar brein was vinnig en sy was slim en sy moes vroeg die skool verlaat om kos op die tafel te sit en vandag glimlag sy skugter as sy vertel dat sy nou ses kreeftenke besit en dat dit alles deur haar harde werk gebeur het. Maar in haar onthou steek die storie dat haar ma afgedank is omdat sy dit eendag durf waag het om vir die baas ’n glas water te vra, want sy was moeg en toe jaag hy haar soos ’n sleg hond weg sonder vergoeding, want hy het nie tyd vir lui mense nie.

En wanneer dit beter begin gaan, jy geld begin maak, dan is daar ook die afguns van die gemeenskap. Jy is nou nie meer een van hulle nie. En dis moeilik, want dis jou komvandaan. Jy kan ’n beter plek bekostig om in te bly. Jy onthou die klein krot langs die see met 16 mense wat daar woon.

Maar die nuwe lewe waar dit beter gaan, het sy eie kopdinge waarmee jy moet stoei. Sê Porche: “Ons, as mense nou so kan sê, kom uit die bos waar ons agter ’n bos moes kak. Nou woon ons in ’n paleis en ons weet nie hoe om te leef nie en wil steeds agter die bos kak. Want niemand is daar om ons te leer hoe om in die paleis te bly nie. Ons weet nie hoe om die toilet in die paleis te gebruik nie, want niemand wys vir ons hoe nie. En dis hoekom ons elke keer teruggaan om agter die bos te gaan kak. Ons weet nie hoe om dienooreenkomstig op te tree nie.”

Porche het my baie dinge laat verstaan. Verslawing, geweld teen vroue, armoede, swaarkry ... Ons mense het hulp nodig. Hulle smeek om leiding. Hartseer.

♦ VWB ♦


BLY IN KONTAK!

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.