Die koningin, die Ngwazi en die mag van kennis

DIE PROBLEME MET KOLONIALISTE

Die koningin, die Ngwazi en die mag van kennis

FLORENCE DE VRIES skryf oor die dood van koningin Elizabeth, kolonialiste, en hoe Ngwazi Hastings Kamuzu Banda vir 30 jaar ná Malawi se onafhanklikheid ’n verdraaide tipe kolonialisme toegepas het.

'n Muurportret van Koningin Elizabeth in Belfast, Noord-Ierland.
'n Muurportret van Koningin Elizabeth in Belfast, Noord-Ierland.
Image: REUTERS/CLODAGH KILCOYNE

SPOTIFY kies vanoggend die Beatles se “Across the Universe” vir my om na te luister terwyl ek die week se rommel uitstoot sypaadjie toe.

Koningin Elizabeth II is gistermiddag oorlede. Ál my apps se koppelvlakke is vandag in swart geklee. Die ikoniese Cecil Beaton-foto van haar majesteit kleef soos Robin Sprong-velle aan al die hooftrekke wat spesiaal vir my gekies is om te lees. Vlieëniers moes glo onmiddellik die aankondiging aan passasiers doen ongeag waar in die wêreld se lugweë hul tuie sweef, nuuslesers het swart dasse begin dra en vlae oor die Verenigde Koninkryk (en ander dele van die wêreld) heen hang nou halfstok.

Dis seker menslik om nuuskierig te wees oor groot gebeurlikhede – veral wanneer jy redelik seker is so iets gaan waarskynlik in jóú leeftyd gebeur. Die dood van ’n bekende persoon van 96 is nie dieselfde as twee vliegtuie wat opsetlik in New Yorkse geboue vasvlieg of ’n dodelike pandemie wat jou tot stilstand ruk nie.

Ek het jare gelede al begin wonder wát alles sou gebeur ná die aankondiging dat dié koningin van amper 100 jaar oud haar oë finaal toegemaak het. Die lewe het natuurlik intussen allerhande interessante wendings geneem, egter nooit heeltemal sonder die wete nie dat dele van my (eenvoudige) vormingsjare deur die koninklikes se voorgestelde gedrag en ingesteldheid beïnvloed is.

Wat jong dames moes weet

’n Flitsboodskap op my horlosie hou my op hoogte: “The good, the bad and the corgis” lees dit. Met my geboorte is ’n oppasser onmiddellik aangestel. Marie het by ons gebly tot kort voor my sewende verjaardag. Sy’t my geleer hoe meisies moet sit (gekruisde enkels), huil (nooit in die openbaar nie) en glimlag (nie sommer nie). Silwerteestelle is elke week met suurlemoensap en koeksoda skoongevryf en ’n porseleinklokkie is elke aand kort voor aandete gelui (Blits en Snowy het die Pavlov-eksperiment elke keer bewys wanneer hulle met dié getiengelieng die wipplank soos ’n dronk dwarrelwind in die agterplaas agtergelaat het).

Mes-in-jou-regterhand-vurk-in-jou-linkerhand”, “eetgerei-op-half-sewe-geplaas-om-te-wys-jy-is-klaar-geëet”. Elke maaltyd was ’n viering én ’n les. Marie het my geleer, my ma het gesê dis goeie maniere en albei my oumas se kerkhoede het altyd by hul uitrustings gepas. Ek dink vir ’n oomblik terug. Nee, hulle’t my régtig so grootgemaak. My niggie is selfs in Engels gebore*.

Ek onthou hoe my ouma Joyce toe nooit die Sondag van 31 Augustus 1997 opgedaag het vir ons familie-ete nie. “Mamma stiek nou nog uit vi’ lunch,” het my ma 20 jaar later nog geskerts oor hoe ernstig daar gerou is oor die “mense se prinses”.

Reis as leerskool

Met die oorhandiging van my Takealot-pakkie met my nuwe kragbank in, skud die afleweraar sy kop: “Shame about the queen, hey.” “Mmm,” mompel ek. In my kop is ek egter in Malawi waar ek in Augustus dié kragbank se voorganger agtergelaat het. Die “kraak-in-die-aarde”-plek is in 1891 deur Brittanje gekoloniseer. In dié tyd het Britse setlaars hulle hier kom vestig en hulself op allerhande maniere bó die land se bevolking verhef. Malawi – ’n pragtige maar uiters onderontwikkelde land – het tydens die nou ontslape koningin se heerskappy onafhanklik geword.

Oor presies hóé mens na die jare tussen 1891 en 1964 moet kyk, kan daar seker nog baie gedebatteer word. Jy sal nog lank kan besin oor Fanon (1968) en Bhabha (1994) se idees en konsepte oor kolonisasie. Maar dit was Foucault se redenasie oor mag wat my bygebly het op die 400 kilometer lange busrit tussen Lilongwe en Rumphi.

Jong meisies met babas op hul skote en rûe – in byna elke dorp op dié pad – het my opgeval. Meisiekinders met kinders. In ’n Malawiese nuusbrief by ons verblyfplek lees ek ’n artikel oor ’n hoofvrou wat daagliks doodsdreigemente ontvang omdat sy gekant is teen die (kultureel aanvaarde) praktyk van kinderbruide en (gevolglike) tienerswangerskappe. “Minder as die helfte van Malawi se meisiekinders voltooi hul skoolloopbaan. Dit is onaanvaarbaar,” het die hoofvrou gesê.

Wat ek geweet het, is dat kolonialiste in dié land (soos in al die ander lande) reusagtige probleme veroorsaak het. Wat ek egter eers ná die tyd uitgevind het, is dat Ngwazi (of Groot Leeu) Hastings Kamuzu Banda vir 30 jaar ná Malawi se onafhanklikheid ’n verdraaide tipe kolonialisme toegepas het: ’n kombinasie van die voorkoloniale Maravi-stelsel gemeng met die onderdanigheid van vroue aan mans wat hy uit koloniale godsdienstige praktyke geplagieer het.

Só het vroulike voornaamwoorde uit boeke verdwyn en die vrou en dogter se rol in die Malawiese samelewing begin kwyn. ’n Verdigte tradisie en samelewing geskoei op hoe ons geleer is om met mag om te gaan.

Ontnugtering op ses

As ek mooi daaroor nadink, is sowel koningin Elizabeth II as Hastings Banda se rolle in die geskiedenis eintlik ’n verpersoonliking van Foucault se idee dat mag “deur elke sel van die sosiale liggaam sirkuleer.” Daar is mag in elke verhouding en elke handeling in hierdie lewe. Die uitdaging lê in ons vermoë om te verstaan of die mag ons skade berokken en om dit dan te bevraagteken.

“Die koningin is oorlede, Ma. Beteken dit vandag is vakansie?” vra my sesjarige gretig.

“Sy was nie dié koningin nie. Sy was ’n vrou van 96 en nee, haar dood beteken juis dat jy skool toe moet gaan. Al is dit net sodat jy kan verstaan dat ons as gevolg van haar ’n hele paar ander goed het om oor hartseer te wees.”

*My niggie se huistaal is Engels, anders as die res van ons.

♦ VWB ♦


BLY IN KONTAK!

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.