Dis ’n lieflike dag vir shibari

PYN EN PLESIER

Dis ’n lieflike dag vir shibari

Vir een besonderse oomblik was sy, ten spyte van haar doelbewuste gekose fisieke weerloosheid, veilig. In die oopte. As vrou. Besig om haar liggaam se sensualiteit sonder voorbehoud te vier. ANELIA HEESE vertel.

Image: GERMAN ORENDAIN

DIT is eintlik perfek dat ek vir Fij by ’n piekniek op Tempelhofer Feld ontmoet, want ’n meer gepaste plek vir die begin van ’n Berlynse liefdesverhaaltjie is daar nie. Sodra die lente belofte vir ’n buitelugbyeenkoms inhou, word dié voormalige lughawe ’n uitgestrekte braai-en-speelterrein. “Een van die wêreld se grootste stadparke,” sal die reklamebrosjure dit noem. Wel, “park” is dalk wensdenkery wanneer jy die vaal grasvelde, vervalle geboue en verkrummelende aanloopbane wat oor 450 gebruikersonvriendelike hektaar strek, betrag.

Daar is nietemin iets bewonderenswaardigs daaraan hoe die stad se mense distopiese plekke herwin vir hedonistiese aktiwiteite soos braai, partytjie, en – soos ek eersdaags gaan uitvind – bondage. Klaus Wowereit, voormalige burgermeester van Berlyn, het nie verniet die stad as “arm, maar sexy” bestempel nie.

Die piekniek is deur ’n vriend van Amsterdam gereël om Koningsdag te vier. Ons is aangesê om oranje aan te trek en braaigoed saam te piekel. Hier sit ons, ’n mengelmoes aangelaste vriende en braai vegan worsies op ’n draagbare gasstofie. Nederlandse sokkietreffers word opgedis, en die potsierlikheid van alles dryf ons tot ’n speelse dans.

Terwyl ons in die skemerlig skoffel, steek Fij haar hand na my skedel uit. “Hierdie is wat, ses weke se groei?” vra sy terwyl sy oor die afgeskeerde strook hare by my regteroor streel. “Ja, ek was amper dood, maar ek moes net my hare groet om te oorleef,” antwoord ek dramaties, my selfvertroue aangehelp deur twee jenewers.

Ek wys met trots die letsel wat die chirurg se ingryping van twee jaar gelede agtergelaat het. “Ek verstaan,” antwoord sy, en vou my hand in hare, begelei dit na haar kop en nooi my om saggies oor haar hare te streel. Ek voel haar breë kakebeen onder my palm; die sagte dons op haar gesig ontlont ’n ou herinnering van ’n tienerseun in my onervare palm. Skuins agter haar linkeroor is ’n strook hare weggeskeer.

‘Ek moes die man in my lyf groet’

“Ek was ook amper dood. Ek moes die man in my lyf groet sodat ek kon oorleef. Hierdie strook kort hare is my klein aandenking aan sy afsterwe.” Haar hande gly af, oor die voorkant van haar romp. Sy span die ligte materiaal oor haar gladde bekken. “My dae van gender-ongehoorsaamheid is uiteindelik verby, nou het ek shibari. Ek sal jou eendag nooi, ek dink jy sal dit geniet. Daar is vryheid in die tou.”

Die gesprek word skielik te kompleks, die musiek te luid. Ons haal ons fone uit, vind mekaar op Telegram, en dans verder. Dit word een van daai aande waar jy nie kan onthou hoe jy gegroet het nie. Weke verstryk, en toe ek op ’n dag oor my haarstyl besin, onthou ek my vlugtige gesprek met Fij en besluit om haar vir koffie te nooi. “Graag! Ek kan egter nie hierdie Donderdag vir koffie ontmoet nie. Ek is by my shibari-piekniek. Jy is welkom om saam te kom, meld net via hierdie vorm aan,” stuur sy terug.

Raait, voordat ek met die vertelling voortgaan, moet ek myself onderbreek. Vir ’n taal in haar tienerjare beskik Afrikaans reeds oor ’n wulpse woordeskat. Ons kan vry en ons kan broeknaai. Ons kan aan ’n groepswoeps of konvooilooi deelneem. Ons kan tong-in-die-lies spot oor agtermekaarkêrels wat bat vir die ander span. By sekere terme was ons dapper genoeg om die eufemismes heeltemal te laat waai – hoekom sal jy wil doekies omdraai en dit ’n blow job noem, as dit dan inderwaarheid pielsuig is? Sekere terme in die vroetelgierwêreld bestaan egter nog nie in ons taal nie, en ek sal noodgedwonge ’n term of twee moet leen. Terug by die pieniek:

Ek ontvang ’n aansoekvorm van Untangled Ropes, ’n organisasie wat hulself as Berlyn se eerste “female-only shibari collective exploring pain and pleasure in public spaces” beskryf. In die vorm kan ek my naam of scene naam invul en my behoeftes spesifiseer. Wil ek ’n bottom of ’n bunny wees, is ek gemaklik met switching, het ek ervaring as ’n rigger, is ek bereid om met ander te speel, of wil ek net kyk? Ek kies die opsie om eers “net te kyk”, want so oopkop as wat ek wil wees, het ek immers die eerste helfte van my lewe elke Sondag die evangelie ontvang.

’n Touvennoot

Ek word tot ’n Telegramgroep gevoeg en word gevra om myself aan die ander lede voor te stel. “Haai! Anelia hier. Ek het pas Berlyn toe getrek en dink ek kan hier iets leer,” skryf ek, en ’n string hart-emoji’s verwelkom my tot die groep. Die volgende persoon tjirp in: “Hallo julle, ek wil net hoor of dit toelaatbaar is as ek alleen by die piekniek opdaag aangesien ek nie ’n touvennoot het wat as vrou identifiseer nie. Ek verstaan om met vreemdelinge te bind kan gevaarlik wees, maar ek dog ek vra maar net!” Waarop Nini*, een van die stigters van die groep, haar gerusstel: “Toemaar, selfs al bind ons nie, is dit lekker om net te kuier. Dit hang van rigger tot rigger af. Dalk is daar iemand wat bereid is om met nuwe modelle te speel. As jy self wil bind, kan jy my bene gebruik. Ek bied egter nooit my arms aan vir iemand wat ek nie ken nie – ek hoop jy verstaan. Sien jou Donderdag!”

Natuurlik het ek, kamma-intellektueel wat ek is, koorsig begin om oor shibari te lees om myself touwys te maak. Shibari is die Japannese praktyk van bondage en vertaal letterlik na “mooi, kunstig gebind”. Die kunsvorm stam uit militêre vegsport toe krygers tou gebruik het om vyande blitsig te immobiliseer en gevange te neem. Teen die 1600’s word tou as standaardwapen in polisiëring gebruik. Met die opkoms van plofstofgedrewe wapentuig het die gebruik oor die jare heen in obskuriteit verval, maar sekere elemente van die eeue oue vegkuns word vandag nog as Torinawa Jutsu in die openbare beskermingseenhede beoefen.

Die praktyk van toubind kan een van twee dogmas volg: Shibari is die vasbind van liggame in ’n kunstige vorm of beeld, terwyl kinbaku eksplisiet die nastrewe van seksuele bevrediging deur middel van vasbind behels. Ek besluit shibari klink nie te skadelik nie – amper soos tolletjiebrei of hare vleg.

’n Rugsak vol snoeperye

Donderdag breek aan, en ek bevind myself op ’n swoel somersaand op pad na Friedrichshain Volkspark met ’n rugsak vol snoeperye. Fij is besig met voorbereidings toe ek arriveer: ’n bamboesstam wat as mas sal dien, word van ’n eikeboom af gehang. Ander lede van die groep daag op en begin om toue van verskillende diktes in bondels te sorteer. Ek bemoei myself met dit wat vir my bekend is en begin beskuitjies en koeldrank op die piekniekkombers uitpak.

’n Jong dame met blougekleurde hare vra huiwerig of sy met my kan speel. Sy oefen vir ’n shibari-eksamen wat deur Berlyn se Instituut vir Liggaamskultuur (IKSK) aangebied word, en verduidelik dat sy ’n enkelkolomknoop binne 8 sekondes moet kan doen om te slaag.

“Sure,” sê ek, en Velvetine* beduie dat ek net rustig kan staan. Sy vou my arms agter my rug en dan begin sy, een lang, stelselmatige haal na die volgende. My polse, elmboë en skouers word stelselmatig toegespan met knope wat ’n matroos sal laat bloos. Net daar, in die goue laatmiddagson, met sagte lentegras en sigaretstompies onder my voete, snap ek uiteindelik die verleidelike paradoks van BDSM: As jy doelbewus toestem dat iemand jou fisiek inperk, kan dit bevrydend wees.

In ’n warrelweek waar dit soms voel asof ek met ’n meedoënlose Calvinistiese gier vervloek is – skottelgoed, vergadering, afstof, kontrak, wasgoed, oproep, kook, teken hier – is ek nou buite bereik, buite werking, omdat ek speel. Vir ’n uur – of was dit twee? – is ek absoluut weerloos en moet vertrou dat Velvetine my sal beskerm indien daar ’n bedreiging van buite sou wees. Behalwe vir die beperkte bloedtoevoer is hierdie intieme vertroue genoeg om jou in ’n beswyming te laat ingaan.

Daar is geen praktiese doeleinde aan hierdie aktiwiteit nie: In die kwessie van ’n paar minute is Velvetine se werk ongedaan gemaak. Ek swaai my arms los, waardeer die herwinde beweeglikheid van my ledemate. Ons lag hardop soos ons mekaar omhels, ruim op, en groet mekaar.

Veilig ondanks gekose weerloosheid

Soos ek met my fiets deur die donker strate huis toe ry, besef ek waarom hierdie ervaring so katarties was. Vir een besonderse oomblik was ek, ten spyte van my doelbewuste gekose fisieke weerloosheid, veilig. In die oopte. As vrou. Besig om my liggaam se sensualiteit sonder voorbehoud te vier. Manloos, skaamteloos, net vir my.

As jy in ’n land grootgeword het waar jou vroulike landsgenote elke 25 sekondes onder seksuele geweld gebuk gaan, is dit ’n radikale gebeurtenis, grensend aan heksery. Mamma, Mamma, sonder hande …

My arms skeur ekstaties bo my kop:

ek is
ek is
die here hoor my
’n vry fokken vrou.

Vandag, in ’n park in Berlyn. En ek sweer, die here hoor my, eendag op ’n ou myn in Krugersdorp.


Bykomende bronne:

* Dit is nie hulle regte name nie, maar performance-name.


BLY IN KONTAK!

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.