Afrikaner-Broederbond: Hoe het die helde geval

GEHEIME ORGANISASIE

Afrikaner-Broederbond: Hoe het die helde geval

Vrye Weekblad het in 1993 die jongste geheime dokumente van die Afrikaner-Broederbond (AB) bekom. In dié dokumente word die sluier onder meer gelig op die worsteling binne die AB oor hoe om hom aan te pas by die nuwe situasie in die land, asook die voorstelle aan die Bondsraad oor ’n ‘nuwe AB’ wat waarskynlik ’n nuwe naam gaan kry en wat sy lidmaatskap sal uitbrei na mense van kleur en vroue. Alle berigte is deur HENNIE SERFONTEIN.

  • 14 September 2022
  • Nuus & Politiek
  • 24 min om te lees
  • artikel 7 van 7
  • Hennie Serfontein
Image: JEFF RANKIN

Nog nooit in die lang geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond, wat dekades lank die magtigste en invloedrykste liggaam in Suid Afrika was, het die organisasie so ’n laagtepunt ervaar soos tans die geval is nie, skryf HENNIE SERFONTEIN in Vrye Weekblad van 21 Mei 1993.

“PATETIES”, “lagwekkend”, “onvolwasse” is maar net sommige van die opmerkings wat ’n mens die afgelope week vanuit Afrikanergeledere hoor verwysende na die onlangse openbare optredes van ’n hele paar huidige en gewese lede van die Afrikaner-Broederbond (AB).

Terwyl tientalle vooraanstaande lede uit die AB bedank, óf omdat hulle eerlik verander het, of meer waarskynlik omdat omstandighede hulle daartoe gedwing het, is JP de Lange, AB-voorsitter, en sy medeleiers naarstiglik besig met ’n poging om die krisis te besweer.

Hoewel die AB in die verlede óf bewonder óf veroordeel is, was dit altyd ernstig opgeneem as ’n organisasie met werklike statuur en invloed. Maar met die jongste AB-manewales kom die organisasie voor as lagwekkend, ’n organisasie sonder styl en substansie ...

Niks het die AB so ontmasker soos die openbare onderhoude met aansoekers vir die nuwe SAUK-raad nie. Slaan ’n mens die kleitrappery, dubbelpratery en gerespekteerde Afrikanerleiers se pogings om die waarheid te ontvlug gade, kan jy nouliks glo dat dit hulle was wat meegehelp het om die Afrikaner so lank te manipuleer en tot ’n vaal eenvormigheid te konformeer.

Onwillekeurig is daar die vergelyking met die kommunistiese maghebbers van Oos-Europa wat ook dekades lank hul eie mense mislei het. Soos in die geval met die Oos-Europeërs kan ’n mens nie anders nie as om te vra: Hoe doodgewoon, kleurloos en onindrukwekkend is hulle nie nou dat hulle van hul ampte gestroop is nie?

Die sirkus van Boet Fourie

Neem as voorbeeld die onoortuigende vertoning om die sirkus maar sagkens te beskryf van Boet Fourie voor die paneel van regslui.

Hy is ’n vooraanstaande man, voorsitter van die SA Landbou-unie, stoere Nasionalis en amptelik ’n “verligte” Afrikaner wat hervorming ondersteun. Maar die reguit vrae van regter Ismael Mahomed of hy aan ’n geheime organisasie al dan nie behoort, probeer hy lomp ontduik. Hy wil dit nie bevestig of ontken dat hy lid van die AB is nie (wat hy inderdaad is).

Selfs toe die regter hom vra of hy openlik aan besprekings sal kan deelneem as hy lid van ’n geheime organisasie is, weier hy om te antwoord.

Watter organisasie? Dit bevestig slegs die vermoede by baie mense dat die sogenaamde “nuwe AB”, met al sy sogenaamde verligte aanpassings, nie wesenlik in pas is met die fundamentele veranderinge in Suid-Afrika nie. In ’n oop gemeenskap, met ’n ope verantwoordbaarheid en deursigtigheid is die soort inligting tog noodsaaklik om te bepaal of die betrokke mense geskik is om deel te neem aan die skepping van ’n nuwe ope gemeenskap.

Trouens, ’n mens kan sê as die AB dit eens is met ’n nuwe, oop Suid-Afrika, dit summier sy geheimhouding sou opskort en ’n normale, ope organisasie word.

Die geval van Hendrik Sloet

Dan is daar die geval van Hendrik Sloet, gerespekteerde Afrikaner-sakeleier en ’n aantal jare reeds lid van die huidige SAUK-raad. Maar volgens hom behoort hy nie aan ’n geheime organisasie nie, en het dus heel onlangs bedank.

Maar in antwoord op vrae tydens Agenda op TV swyg hy in sewe tale op die een kernvraag: Was hy lid van die AB terwyl hy op die SAUK-raad gedien het? Dis ’n sleutelvraag, want ons moet tog weet of hy deel was of nie deel was nie van die AB-strategie oor die jare wat die SAUK gemanipuleer het en verantwoordelik was vir dekades se propaganda en breinspoeling.

Soos andere sê hy ook: Laat ons die verlede vergeet en oor die toekoms praat. Maar hulle vergeet almal dat daar geen behoorlike fondamente vir ’n nuwe toekoms gelê kan word sonder ’n behoorlike blootlegging van die verlede nie.

Pieter Potgieter, moderator van die NG Kerk, sê ook aan die paneel van regters dat hy nie ’n lid van ’n geheime organisasie is nie. Daarna sê hy in ’n media-onderhoud dat hy uit die AB bedank het, hoofsaaklik weens druk van die NG Sendingkerk (NGSK) en die NG Kerk in Afrika (NGKA). Daar bly ’n vraagteken hang oor hoe werklik sy verandering is, want slegs tot enkele weke gelede het hy saam met ander NG Kerkleiers alle kritiek uit die geledere van die NGSK en NGKA op die AB en hul lidmaatskap verwoed verwerp.

Onverwagse bedanking

Die vraag word gevra of die onverwagse bedanking van mense soos Sloet en Potgieter nie gebeur het slegs enkele dae voor hul onderhoude met die paneel van regters nie, toe dit bekend geword het dat lidmaatskap van geheime organisasies ’n probleem geword het. AB-lid of nie, mense soos Sloet en Potgieter is steeds deurdrenk met die tradisionele AB-filosofie en -ideologie. Dit is vir die AB belangrik dat van sy lede (of geesgenote) ten alle koste op die nuwe raad moet kom.

Dit is egter verbasend dat Johan Heyns, voormalige moderator van die NGK, nie deur die paneel oor sy AB-lidmaatskap uitgevra is nie. Trouens, die afgelope maande was daar naas De Lange geen ander persoon wat die bestaan van die AB en sy lidmaatskap daarvan so vurig in openbare onderhoude en tydens gesprekke met die NGSK en NGKA verdedig het nie.

Heyns was tot twee jaar gelede lid van die Uitvoerende Raad (UR) van die AB en is duidelik steeds ’n invloedryke AB-lid. Hy is die voorsitter van die FAK, wat volgens geheime AB-dokumente die “openbare arm” van die organisasie is.

Toe hy ná Potgieter se bedanking gevra is of hy steeds lid is, het Heyns geantwoord dat mense se AB-lidmaatskap “nou volkome irrelevant” geword het in die lig van die verandering wat in die organisasie plaasvind. Hy wou geen vrae oor sy lidmaatskap beantwoord nie, en het gesê mense moet die saak nou laat rus.

Heyns steeds ’n lid

“Ons moet nou konsentreer op wat essensieel belangrik is. Ons moet aan die werk spring en die verlede vergeet,” het Heyns gesê, terwyl hy soos andere bontgespring het om nie duidelik ja of nee te antwoord nie – ’n kenmerkende eienskap van die AB. Maar in ’n gesprek met VWB het hy dit duidelik gemaak dat hy steeds ’n lid is.

In die lig van al die ontwykings is dit betekenisvol dat Willem de Klerk dit ondubbelsinnig op Agenda gestel het: As ’n mens lid van die nuwe SAUK-raad wil wees, kan jy nie ’n lid van die AB ook wees nie. Hy was self vir jare lid van die AB, lid van die UR en moes in 1991 bedank weens sy egskeiding.

Eweneens word daar in akademiese kringe gewonder of Andreas van Wyk, aangewese rektor van die Universiteit Stellenbosch, wel ’n oortuigingsverandering ondergaan het, en of dit nie bloot ’n strategiese stap was om steeds AB-belange te bevorder omdat hy geestelik steeds met die organisasie is nie.


Tussen die pers en die Bond val die waarheid op die grond

DIE huidige uitsprake van JP de Lange, voorsitter van die Afrikaner-Broederbond (AB), en ander senior leiers in Beeld en Rapport is vol teenstrydighede, dubbelpratery en feitelike onwaarhede. Dis duidelik ’n wanhopige poging van die AB-leierskap om die huidige verwarring in eie geledere – die interne krisis wat uitkring namate al hoe meer vooraanstaande lede bedank – te besweer.

Ontleed ’n mens egter die uitsprake in die media, besef jy dit is gevul met halwe waarhede en wanvoorstellings. So kondig Beeld met groot fanfare verlede week in ’n voorbladberig aan: “Die Broederbond gaan verdwyn – word dalk kultuurliggaam in radikale vernuwing”.

By die lees hiervan weet ’n mens nie of jy moet lag of huil nie. Want oor baie jare as ’n mens die AB gekritiseer het oor sy geheimhouding, magspolitiek en regstreekse betrokkenheid by die politiek, was die verduideliking soos ’n refrein: Die Broederbond is ’n onskuldige kultuurorganisasie wat met die politiek niks te doen het nie.

Maar geheime dokumente van die AB oor die jare bewys dat die AB as sodanig weinig met kultuursake te doen het en die meeste van sy tyd aan politieke, ekonomiese en sosiale sake wy.

Volgens AB-beleidstukke is dit die FAK – die “openbare arm” van die AB – se taak om die “kultuurakker te bewerk”.

FAK en Rapportryers

Maar in ’n onderhoud in Beeld verlede Saterdag sê De Lange: “Die FAK en die Rapportryers kyk elkeen ook na hul posisie. Maar hulle is onafhanklike organisasies met hulle eie besture en kongresse wat self sal besluit.

“In my eie gemoed het ek geen twyfel nie dat daar in Afrikaner-kultuurorganisasies ’n rasionalisasie moet plaasvind.”

Kennelik is De Lange verkeerd om die FAK as ’n “onafhanklike” organisasie te beskryf. Die FAK is indirek onder AB-beheer, is deur die AB gestig sodat AB-kultuuraksies deur die FAK gekanaliseer kan word. Dit is dan ook Johan Heyns, ’n senior AB-lid en vir jare lid van die UR, wat die voorsitter van die FAK is.

In Rapport verlede Sondag is dit betekenisvol dat De Lange – anders as die naamlose AB-Iede in Beeld twee dae vantevore, wat dit as ’n suiwer kultuurorganisasie beskryf het – uitspel dat die AB hom in der waarheid met alle lewensterreine bemoei het.

De Lange sê dat “die AB op elke lewensterrein omsien na die behoeftes van die Afrikaner. Sedert die jare tagtig is daar egter ’n besef dat hierdie belange van die Afrikaner verweef is met die belange van almal in Suid-Afrika”.

De Lange erken dus daarmee dat die AB met kultuur as sodanig nie veel te make had nie, maar ’n politieke rol in die breedste sin van die woord gespeel het.

Normale ope organisasie

Miskien is die belangrikste van die uitsprake van De Lange en sekere ander broederbonders dat die AB – in stryd met die indruk wat geskep word – beslis nie die meeste van sy geheimhouding gaan afskaf en ’n normale ope organisasie gaan word nie.

’n (Naamlose) persoon sê in Beeld dat in sy nuwe hoedanigheid sal die organisasie meer in die openbaar beweeg en sy standpunte bekend maak -iets wat nou in elk geval gebeur. Maar volgens die persoon beteken dit nie sy vergaderings sal oop wees of dat hy sy “ledelyste op die straat sal rondstrooi nie”.

De Lange sê in Rapport: “Die organisasie (moet) steeds vertroulik wees, maar dat die resultaat van sy besinnings openbaar gemaak moet word, sodat daar debat oor gevoer kan word. Daarom moet sy mense ook bekend wees.”

Wat De Lange nie sê nie, is dat volgens die jongste geheime voorstelle dit van individuele lede sal afhang of hul lidmaatskap bekend gemaak sal word of nie.

De Lange het ook in die vooruitsig gestel dat die naam tot Afrikanerbond verander kan word, en dat vroue en anderskleuriges toegelaat kan word.


Ja, sê die Broers

DIE uitslag van die geskiedkundige interne referendum wat die Broederbond in Januarie en Februarie onder al sy lede en selle gehou het, is nou bekend.

Volgens die uitslag wat op 26 April1993 bekendgemaak is, het 15,358 lede daaraan deelgeneem, wat 87,4 persent van die aktiewe lede verteenwoordig.

Belangrike aspekte van die uitslag is:

  • Die AB is geensins van plan om sy geheimhouding te laat vaar nie en wil slegs op ’n beperkte wyse ’n oper organisasie word.
  • Lede mag slegs lidmaatskap bekend maak indien dit in belang van die Afrikanersaak is.
  • Lidmaatskap moet steeds tot mans beperk word hoewel aanvaar word dat die woord “blank” as vereiste vir lidmaatskap weggelaat kan word.

Hier volg die uitslag van die antwoorde op tien vrae wat die einde van verlede jaar aan selle en individuele lede gevra is:

  1. Moet die AB soos tans as vertroulike organisasie voortbestaan? – 79 persent “Ja”.
  2. Moet die missie van die AB, met die klem op die bevordering van die Afrikaner se belange tot die voordeel van die land en al sy mense, uitgeleef word? – 96 persent “Ja”.
  3. Geheimhouding ten opsigte van keuring, en mede-lede se lidmaatskap, moet gehandhaaf word. Stem u saam? – 88 persent “Ja”.
  4. Mag individuele lede hulle eie lidmaatskap in uitsonderlike omstandighede erken of bekendmaak indien dit in belang van die Afrikanersaak is? – 84 persent “Ja”.
  5. Vertroulikheid ten opsigte van besinning en werksaamhede moet gehandhaaf word. Stem u saam? – 83 persent “Ja”.
  6. Stem u saam dat van die AB se standpunte, studiestukke, gespreksdokumente en ander uitgesoekte stukke wanneer dit in belang van die Afrikanersaak en die beeld van die AB is, meer dikwels deur die UR in die media bekendgestel moet word? – 92 persent “Ja”.
  7. Die UR moet segsmanne aanwys om namens die organisasie aan openbare debatte en media-onderhoude deel te neem. Gaan u akkoord? – 91 persent “Ja”.
  8. Keur u goed dat die grondwet van die AB só deur die Bondsraad verander word dat vaartbelyning van optrede wanneer nodig, moontlik gemaak word? – 92 persent “Ja”.
  9. Stem u saam dat die bepalings in verband met lidmaatskap deur die Bondsraad gewysig word deur die woord “blanke” weg te laat, maar met klem op Afrikanerskap? – 74 persent “Ja”.
  10. Moet lidmaatskap tot mans beperk word? – 76 persent “Ja”.

Só lyk die nuwe konsep-grondwet

DIE Uitvoerende Raad (UR) van die Afrikaner-Broederbond (AB) het pas ’n konsepgrondwet voltooi wat aan alle selle en streeksrade gestuur is. Dit is tans onder bespreking van die streke en selle wat later hul reaksie aan die UR sal terugstuur sodat die Bondsraad die einde van die jaar ’n finale besluit daaroor kan neem.

VWB gee hier ’n klousule-vir-klousule-uiteensetting van die konsep-grondwet en wys in hakies op veranderinge met die vorige grondwet:

1. NAAM: Die naam van die organisasie is die Afrikanerbond. (Dit vervang die naam “Afrikaner-Broederbond”.)

2. GRONDSLAG: Die organisasie vind sy grondslag in die aanvaarding van die Bybel as die woord van God en die rigtinggewende betekenis daarvan vir die hele lewe. (Dit vervang die vorige Grondslag wat sê: “Die Bond staan op Christelike Nasionale grondslag.”)

3. STREWE: Die strewe van die organisasie is om uitgaande van sy Bybelse grondslag die Afrikaner-gemeenskap te dien in belang van die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap met die oog op ontwikkeling tot uitnemendheid op elke terrein. (Dit vervang die vorige klousule 3, wat gesê het: Die leuse van die Bond is “Wees sterk”.)

4. DOELSTELLINGS: Die doelstellings van die organisasie is:

4.1 Die konkrete uitlewing van sy strewe.

4.2 Die vestiging van eerbied vir en bevordering van die fundamentele regte en verantwoordelikhede van die indiwidu en gemeenskappe, ook in hulle onderlinge verbondenheid.

4.3 Dienslewering aan die Afrikanergemeenskap deur die uitbou en bevordering van veral eensgesindheid, samewerking, ons taal en kultuureie.

4.4 Die bou van ’n Suid-Afrikaanse nasie deur die bevordering van integriteit, respek vir mekaar en ’n gesindheid van welwillendheid, verantwoordelike burgerplig, toegewyde arbeid, ’n gemeenskaplike vaderlandsliefde en respek vir die omgewing.

4.5 Die beskikbaarstelling van die diensbaarheid van elke lid op sy terrein van deskundigheid. (Dit vervang ’n vorige klousule 4 wat baie sterk klem gelê het dat die AB Afrikanerbelange bevorder. Daarvolgens was die doel om eensgesindheid onder alle Afrikaners wat die welsyn van die Afrikanervolk nastreef, te bevorder: Die opwekking van ’n nasionale selfbewussyn by die Afrikaner; en die bevordering van alle belange van die Afrikanervolk.)

5. TAAL: Die taal van die organisasie is Afrikaans. (Hier is geen wysiging nie.)

6. LIDMAATSKAP: Lede van die organisasie is persone wat hulle met die grondslag, strewe en doelstellings van die organisasie vereenselwig en word deur werwing of aansoek verkry. (Dit vervang ’n vorige klousule waarvolgens slegs Afrikaanssprekende, blanke Protestante “skoon van karakter en vas van beginsel, ook in die handhawing van sy Afrikanerskap”, lid kon word.)


’n Paar verklarende notas

DIE Uitvoerende Raad het ’n verduideliking saam met die konsep-grondwet aan selle en streke gestuur. Daarvolgens word ’n meer gedetailleerde verduideliking van die “nuwe strewe” van die AB gegee. Want daar het duidelik ’n klemverandering plaasgevind – weg van ’n suiwer eksklusiewe Afrikaner-organisasie na ’n organisasie duidelik bewus dat Afrikanervoortbestaan afhang van samewerking met ander groepe.

Maar dit is duidelik dat die grondslag van die bestaan en optrede in die laaste instansie steeds Afrikanerbelange bly.

Hier volg die toeligting van die konsepstrewe:

Die strewe van die organisasie is om uitgaande van sy Bybelse grondslag die Afrikanergemeenskap te dien in belang van die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap met die oog op ontwikkeling tot uitnemendheid op elke terrein.

Verklarende notas:

  1. Die gewysigde strewe poog om inklusief en nie eksklusief te wees nie.
  2. Gegewe die samestelling van die Suid-Afrikaanse gemeenskap, is die begrip volk te eng Afrikanerspesifiek om konsekwent ook van toepassing te maak op die ander kulturele/etniese politiek-staatkundige groeperinge in Suid-Afrika (vgl. Engelse, Portugese gemeenskappe en so meer).
  3. Gemeenskap laat ook toe vir verskille/verdelings wat reeds op godsdienstige en politieke terrein binne Afrikanergeledere bestaan.
  4. Wie bepaal wie en wat die Afrikanervolk is? Die AB? Dit sal die vermoede/persepsie van ’n selfdienende elitistiese organisasie versterk – veral onder uitgeslote Afrikaanssprekendes.
  5. Afrikanergemeenskap impliseer ook die moontlikheid van vrywillige assosiasie. Kleurling-Afrikaanssprekendes sal uiters moeilik kan identifiseer met Afrikanervolk as gemeenskaplike identiteit. Hulle kan dit egter veel makliker doen met die begrip “Afrikanergemeenskap”.
  6. Afrikanervolk is ’n gelaaide term in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing, beide in Afrikanergeledere en daarbuite. Daar is ’n stigma dat die Afrikaners vir hulself opeis dat hulle die werklike (enigste?) volk in Suid-Afrika is. Die res is kulturele of etniese identiteite. Dit is ook die begrip waarop die hele apartheidsparadigma gestruktureer is. Indien die AB eerlik is met die onderneming om ook tot voordeel van die land en sy mense op te tree, dan sou dit wys en nuttig wees om ’n gestigmatiseerde begrip soos Afrikanervolk uit sy strewe weg te laat.
  7. Die AB vind sy grondslag in die aanvaarding van die Bybel as die Woord van God, en die rigtinggewende betekenis daarvan vir die hele lewe.
  8. Bybelse grondslag sal ten opsigte van strewe en lidmaatskap wyer geïnterpreteer moet word as die gereformeerde susterkerke. Protestants is die werkbare verdelingslyn. (Wat egter van ’n Afrikaanstalige blanke of kleurling met ’n Rooms-Katolieke kerkverbintenis wat in alle ander opsigte identifiseer met die AB se oogmerke?)
  9. Die strewe impliseer dat elke lid individueel en kollektief gestalte moet gee daaraan.

Só sal die veranderings die Broeders raak

In nóg ’n dokument gee die Uitvoerende Raad ’n breedvoerige uiteensetting van hoe die AB en AB-lede deur die voorgestelde veranderinge geraak sal word.

Volgens die dokument, getitel: “Ons Organisasie”, is dit duidelik dat die AB hoofsaaklik ’n geheime organisasie bly, dat lede hulle eie lidmaatskap bekend mag maak en dat nie-lede blykbaar vir die eerste maal in die geskiedenis nou mag aansoek doen om lidmaatskap, wat voorheen slegs die resultaat van geheime werwing was.

In par. 15 word verwys na die RW (Ruiterwag) en die DK (Dameskring). Hier volg die inhoud van die toeligting:

  1. Lede mag hulle eie lidmaatskap bekendmaak.
  2. ’n Lid mag ’n ander se lidmaatskap bekend maak slegs indien hy daardie lid se toestemming daartoe verkry het.
  3. Die UR of kantoor maak geen lidmaatskap bekend nie, behalwe aan mede-lede. Geen navrae van buitestanders oor lidmaatskap word beantwoord en geen ledelyste word aan hulle bekendgemaak nie. Name van oorlede of gewese lede word ook verswyg.
  4. Lidmaatskap is steeds aan keuring onderhewig. Dit word deur werwing of op aansoek op die inisiatief van ’n voornemende lid verkry.
  5. Voornemende lede moet bereid wees om die grondslag, strewe en doelstellings van die organisasie te onderskryf en te aanvaar.
  6. Lidmaatskap moet deur aktiewe betrokkenheid en toewyding aan die strewe en doelstellings van die organisasie in stand gehou word en is hersienbaar.
  7. Die name van die lede van die Uitvoerende Raad word bekendgestel.
  8. Die Grondwet van die organisasie word herskryf.
  9. Die Reglement van die organisasie word gewysig om aan die vereistes van die Grondwet te voldoen.
  10. Die basiese struktuur van die organisasie (lede, afdelings, sentrale komitees, streekrade, gebiedsbondsrade, gebiedsrade, UR en Bondsraad) sal vermoedelik dieselfde bly. Veranderings en aanpassings word aangebring om in ooreenstemming met die Grondwet te wees.
  11. Die indeling in gebiede moet mettertyd hersien word om met die moontlike streekregering se indeling ooreen te stem. Die magte, funksies en pligte van gebiedsbondsrade, gebiedsrade en samestellende streekrade sal waarskynlik uitgebrei moet word om by ’n meer outonome streekregeringstelsel in te skakel en dit sal in die nuwe Reglement voorsien moet word.
  12. ’n Groter openheid ten opsigte van die organisasie word in beginsel aanvaar. Die UR tref die nodige reëlings om besonderhede wat wenslik geag word periodiek op ’n doeltreffende manier bekend te stel. Dit sluit onder meer die volgende in:

12.1 Die grondslag, strewe en doelstellings van die organisasie word openbaar bekendgestel.

12.2 Die name van die lede van die Uitvoerende Raad word bekendgestel.

12.3 Gesaghebbende dokumente van die organisasie word op ’n gereelde en deurlopende basis bekendgestel.

12.4 Daar word namens die organisasie op belangrike gebeure kommentaar gelewer.

12.5 Wanneer dit nodig geag word, word in die openbaar standpunt oor belangrike aangeleenthede ingeneem.

12.6 Openbare byeenkomste word periodiek gehou. Dit kan in die vorm van inligtingskonferensies, seminare, perskonferensies ens. wees. Spesifieke sake wat by die soort geleenthede behandel kan word, word vooraf bepaal en bekendgestel.

12.7 Die breinkrag en deskundigheid van ons lede word deur middel van studiekomitees en seminare benut. Resultate van besinning kan openbaar bekendgestel en waar nodig en wenslik, ook wie die komiteelede is of wie daaroor in debat sal tree of kommentaar sal lewer.

12.8 Die veranderde reëlings wat die opheffing van vertroulikheid van lidmaatskap betref, word openbaar bekendgestel.

13. Ná die Bondsraad word ’n gepaste geleentheid geskep waar lede hulle opnuut kan toewy aan en verbind tot die grondslag, strewe en doelstellings van die organisasie.

14. Ná die Bondsraad wat later vanjaar beoog word, word die stappe wat hierbo uiteengesit is en Grondwet- en Reglementwysigings goedgekeur is, word ’n gepaste geleentheid geskep om dit openbaar bekend te stel en daarmee word ’n proses van BEELDBOU begin. ’n Broederlike brief of mededeling/sertifikaat kan aan diegene wat verkies om uit te tree, besorg word (as teken van broederskap).

15. Daar moet in ’n vroeë stadium met die RW en DK geskakel word om oor hulle toekoms te beraadslaag vir sover dit deur die verandering in die AB geraak word. Koördinering met die RW en DK op plaaslike, streeks- en nasionale vlak is van die belangrikste aspekte wat daaruit voortvloei.

16. Benewens die voorgaande moet die voortbestaan van die RW en ’n moontlike nouer koördinering met die AB se werksaamhede nou reeds aandag geniet.

Waar kom VWB aan al die stories?

Die Afrikaner-Broederbond is blykbaar besig met ’n deurtastende ondersoek om vas te stel waar VWB die dokumente bekom het wat die afgelope maande gepubliseer is.

Dit blyk uit Omsendbrief 1/93/94 van 4 Maart 1993.

Die Hoofsekretaris – Naudé Botha, hoewel die gesiglose amptenaar nooit sy naam gebruik nie – lig die selle soos volg in onder item 6, getiteld “Lekkasie en Koerantberigte”:

“Goeie vordering word gemaak by die ondersoek na lekkasie van inligting op grond waarvan koerantberigte plaasvind. Dit kan egter nog etlike maande duur voordat die finale antwoord verkry is.

“Interessantheidshalwe noem ons graag dat ’n afdeling (AB-woord vir selle) van mening is dat ons nie in hierdie geval na verraad moet verwys nie, maar na die verbreking van ’n persoon se erewoord wat in ons situasie waarskynlik erger is as wat die woord verraad impliseer.”

Dit is in die stadium nog nie seker watter stappe die AB doen om die bron of bronne van VWB op te spoor nie. Dit is nie bekend of die AB van hul eie masjinerie gebruik maak en of hulle, soos in die verlede, die dienste van “kundige vriende” sal gebruik nie.

“Kundige vriende” verwys na AB-lede in die Polisie en Veiligheidsdienste. By ’n vorige geleentheid in 1963 toe ek in die Sunday Times met die eerste onthullings in die geskiedenis oor die AB gekom het, het die UR destyds niemand anders nie as Hendrik van den Bergh, toe hoof van die Veiligheidspolisie en ’n aktiewe AB-lid, op die UR gekoöpteer en gevra om die ondersoek te doen. Die ondersoek het maande geduur.

Die bewering kan gestaaf word deur UR-dokumente wat ek jare later bekom het.

Selle poeding, ander sous

DIE Afrikaner-Broederbond is steeds betrokke by politieke en verwante sosiale sake oor ’n breë front. Dit blyk duidelik uit omsendbrief 1/93/94 van 4 Maart 1993 deur die Hoofsekretaris aan alle selle.

Die inhoud van die brief bied ’n interessante blik op die optrede van die AB. Punt 1 handel oor armoede en daarvolgens is dit duidelik dat die AB deur hulle lede en die se vrouens betrek word om praktiese hulp te verleen aan die toenemende blanke armoede. Dit word hanteer deur ’n spesiale komitee van die UR genaamd die Komitee vir Gemeenskapsaangeleenthede.

Punt 2 handel oor Aksie 2000, die spesiale aksieprogram van die AB wat in 1988 geloods is, om AB-lede en -selle veral betrokke te kry by opheffing- en hulpaksies onder veral die swart en bruin gemeenskappe.

By die omsendbrief word ’n sogenaamde “Kompas”-dokument aangeheg wat handel oor die verbetering van verhoudinge tussen swart en wit.

Punt 3 handel oor “inligtingstukke en gespreksdokumente, die behandeling daarvan en plaaslike optredes”. Die “inligtingsdokumente” wat aan lede voorgelê is, handel oor onderwysaangeleenthede, omgewingsbewaring en arbeid- en mannekragaangeleenthede. Volgens die dokument oor die onderwys weerspieël dit die nuutste regeringstrategie in ’n nuwe nie-rassige bedeling en praktiese aanbevelings oor hoe die AB dit in die geheim kan bevorder.

Die Hoofsekretaris verduidelik die dokument “is in die eerste plek vir die inligting van ons lede waardeur hulle ook hopelik in staat gestel sal word om in hulle persoonlike hoedanigheid in die openbare lewe leiding te gee. Die inhoud is van so ’n aard dat dit in persoonlike gesprekke en praatjies by openbare byeenkomste gebruik kan word. Uit elkeen daarvan kan praktiese dade of optredes spruit en die UR wil in aansluiting by die Voorsitter se boodskap van verlede maand ’n dringende beroep op afdelings doen om hieraan aandag te gee.

“Daar moet in die proses oorweeg word watter openbare liggame vir optredes gebruik kan word, en daar moet veral oorweeg word hoe ons eggenotes en ook die werkkrag van jong mense in ons omgewing daarby ingeskakel kan word.”

Die opdrag van die Hoofsekretaris is ’n klassieke voorbeeld hoe die AB in die geheim sy invloed gebruik en misbruik deur te werk deur lede in sleutelposisies in bepaalde organisasies – organisasies wat salig onbewus is daarvan dat die betrokke persone AB-lede is en dat hul voorstelle nie gemotiveer is uit eie oortuiging nie, maar dat dit in werklikheid geheime AB-opdragte is.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Vrye Weekblad van 21 Mei 1993 verskyn.

♦ VWB ♦


BLY IN KONTAK

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.