Sewe dae by die Hoogland Hydro

MAAK VAS JOU SITPLEKGORDEL

Sewe dae by die Hoogland Hydro

Net gematigde mense begryp die konsep van verpligte hongersnood. LAUREEN ROSSOUW, daarenteen, betaal graag die prys wat lewensgulsigheid eis.

Image: ANGELA TUCK

“HOEKOM betaal jy so baie om fokkol te eet? Moenie sê jy wil nog maerder word nie. Al weer op pad na daai plek? Ek gaan liewer oorsee.” 

Elke keer, dieselfde gematigdes wat vir jou vra hoekom rook jy nie nét vyf sigarette of drink nét twee glase wyn of eet nét twee blokkies sjokolade saans na ete nie?

Mense soos ek, die gulsige by die lewe se banket, het ’n vangmat nodig soos ’n kar ’n diens nodig het. As jy dit nie doen nie, gee hy moeilikheid. 

Eat your heart out, Wes

“Maak vas jou sitplekgordel,” sê die bestuurder. Net ná Lanseria draai hy regs, rigting Centurion. Hy vat my tot by ’n grondpad, oor die Hennopsrivier, verby sementplase, al langs polisiegrond waar hulle honde oplei, skyfskiet oefen en waar helikopters rondsirkel tot by Vlakplaas. Hy stop spesiaal vir my. Die plek staan leeg. Nie ’n naam of bord om dit aan te dui nie. Al wat dit anders maak, is die hoë draad wat die werf omhein. Dit lyk soos ’n doodgewone spoorweghuis waar ’n ma, pa en hulle drie kinders woon. Maar dit voel nie so nie.

Vlakplaas
Vlakplaas
Image: LAUREEN ROSSOUW

'n Redakteur van ’n Poolse tydskrif het eenkeer vertel haar kinders kan nie verstaan hoekom sy steeds elke keer styf trek wanneer hulle naby ’n grenspos kom nie. Dit was 20 jaar nadat die ystergordyn gelig is. Ek het presies verstaan wat sy bedoel. 

Ons ry op die sementpad oor die laaste heuwels tot onder in die laagte waar die Hoogland Hydro lê.

Vir ’n oomblik verbeel jy jou jy’s op ’n Wes Anderson-filmstel.

Voor jou lê ’n langwerpige 70's-glasgebou wat soos ’n hotel lyk, met mosaïek, bergklip en glas aan die voorkant. Dit word omring deur uitgestrekte grasveld waar wildsbokke wei en bobbejane in bome rondswaai teen ’n agtergrond van dolomietkoppe, kranse en versteende aalwyne.

Image: LAUREEN ROSSOUW

Die dubbelvolume-ingangsportaal is met koperkleurige teëls en goudbrons ornamentele spieëls bedek met oranje en bruin geometriese keramiekteëls tussenin, ’n sterk Afrika-invloed en ek weet nie of ek my verbeel nie, Egiptiese invloed – ’n soort Pretoria-psychedelia. Dit is immers Norman Eaton-wêreld, die modernistiese Pretoriase argitek (1902-1966) wat bekend was vir sy unieke gebruik van teël- en mosaïekwerk.

Eat your heart out, Wes.

Net wanneer ek my in die Valley of the Kings-atmosfeer wil verloor, word ek ontnugter deur ’n gesondheidswerker wat my neem vir ’n Covid-keuringstoets en daarna af met die lang, blou hospitaalgange tot by my kamer.

Meubels sober en gemaklik (meer sanatorium as spa).

Die portaal
Die portaal
Image: LAUREEN ROSSOUW

G’n speelplek

Die Hoogland Hydro is nie ’n speelplek vir rykes nie; dis ’n gesondheidsoord in ’n eko-natuurreservaat en behoort al jare lank aan een familie. Dr. André Kruger, ’n mediese praktisyn, sy vrou, Monica, ’n sielkundige, en hul vier kinders is almal betrokke, van die bestuur tot die beplanning van die spyskaarte. Daar is nog families, die Phiri’s en die Bonokwanes, wat al die jare na die Hydro omsien en as natuurbewaarders, gesondheidsinstrukteurs en skoonheidsterapeute hier werk.

Soos Gandhi glo hulle die liggaam genees homself en deel hiervan is hulle begeleide vasprogram.

Image: LAUREEN ROSSOUW

Suster Sharon is jou eerste stop

Voorheen was sy ’n skoolverpleegster, nou staan sy kaalvoet in ’n kortmoubroekpak met net die paar wynrooi epoulette (wat sy op enige kledingstuk vasspeld) om te wys sy is in uniform.

Toe ek by haar instap, is sy besig om 20 geel roosknoppe in ’n blompot te rangskik. Sy hou drie toe knoppies agter vir die toilet se potjie.

Dokter Kruger stap gou in om ’n lêer by haar te kry. Hy is klein van gestalte, ’n man van min woorde met ’n no-nonsense houding tot medisyne en gesondheid. Hy loop ook kaalvoet, dra tweed-onderbaadjies by flenniebroeke en het 'n ponytail(tjie). Hy is ’n vegetariër en vas al vir 30 jaar elke week 36 uur lank. Sy laboratorium en spreekkamer is langs dié van Suster.

Hulle werk in tandem, stuur pasiënte oor en weer, trek bloede, toets suurstof, neem bloeddruk en weeg jou. Tussen hulle twee word almal uitgesorteer.

Suster praat van vas asof sy vir jou malvapoeding inskep.

Hoeveel?

Vyf dae, sê ek.

Sy skryf dit in my blou boekie neer asof dit normaal is.

“Jy moet dit geniet, hoor.”

Image: LAUREEN ROSSOW

Die soorte vassers

En dan is dit jy, jou boekie en ’n week sonder kos en die vooruitsig van plesier – uitgelewer aan vreemdelinge, gister nog onbekend aan mekaar, vandag saam in ’n jacuzzi.

Alles draai om die water: die koue en warm baddens, binne- en buiteswembaddens, die stoombaddens, saunas, jaccuzzi’s en sitspa’s.

Daar is die vassers en die nie-vassers, en die ophou-vassers soos die His & Hers met hulle pepermentkleurige japonne. Sy vas nog, hy het net een dag gehou en nou laat sy hom nie onder haar oë uit nie.

Die meeste mans koek saam in die eetkamer, veral dié wat sonder vroue gekom het. Daar is ’n 24/7-buffet en warm etes word drie maal per dag voorgesit. Jy kan hiernatoe kom net om te eet. Wes van die koppies was nog nooit so lekker nie.

Heel boaan die ranglys van vassers is die vrou van Kenia wat al op dag 18 is. Sy word oorval met aandag, vrae en bewondering en as sy praat, hang almal aan haar lippe.

Duidelik ingenome met haar status en haar plat maag sweefhang sy onnodiglik lank aan die leertjie by die bad voor sy by ons inklim. Sy sê sy’s nie honger nie, sy’s nie lus vir eet nie, dink nooit eens aan kos nie én stel nie belang om haar te weeg nie.

Not my kinda gal. 

Asseblief! As jy vas, kwyl jy as jy ’n suurlemoenskil sien. Ek vermy haar.

Onwillekeurig voel ek my meer aangetrokke tot die swakkeres van gees. Soos die twee pokkeltjies van Tzaneen wat oor die verskil tussen 70% en 90% Lindt praat. Die kleintjie sê vir die grootte om 70% mild te probeer. Nou by húlle kan mens iets leer. 

Of die paartjie van Hartbeespoortdam. Elke aand tienuur (ek weet, want dis my slaaptyd) begin sy in die kamer langs myne meubels rondskuif. Hy sê sy hou daarvan om elke dag van voor af te begin. Sy nooi my om te kom kyk hoe mooi dit lyk. Vervelig by die huis is interessant hier.

En die twee diabete wat in die diepkant dryf. Net die koppe steek uit, die enorme lywe onder die water, albei al 10 dae sonder kos – vol grappies en geen spyt oor al die jare se vergrype nie, aanvaar hulle lot gelate terwyl die suikertelling daagliks daal en die enkels afsak tot na waar dit moet wees.

Tussen alles deur is daar nog die nie-vassers, die susters, skoonsusters, aangetroudes, niggies en agterkleinniggies van die mielieplase uit die omgewing wat heeldag in die jacuzzi’s omkuier, besoekers uit Afrika wat kom de-stres, Engelse vroutjies van Jozi wat alles van aanvullings weet en twee swierbolle uit Soweto wat besig is om ’n party te organiseer.

My pa het altyd gesê kinders en drank kan jou op plekke kry waar jy nooit gedink het jy sal kom nie. Só kan hongerte jou dryf tot inkleurklasse, kunshandwerk of Afrika-dansies smiddae op die grasperk.

Dis hoe ek toe ’n “beste vriendin” op die lyf loop – ’n onderwyseres van Namibië met ’n dodgy weave wat my elke oggend inwag en op my nugter maag met my oor landsake of vroueregte wil gesels (story of my life). Al waaroor ek wil praat, is kos en al wat ons gemeen het, is die uitdrukking op ons gesigte – sy’s ook op dag vier.

Uiteindelik is dit dag ses van my vas. Ek kwyl nie meer nie. Die boodskapper wat vir my maag moet laat weet daar is kos op pad, het lankal gaan slaap.

Totdat ek my eerste hap in die soet, sappige, vlesige papaja gee. Soos ’n enjin wat ge-kickstart word, vat alles oombliklik, ek blink, my vel is deurskynend, my oogballe skitterwit. Ek is vier kilogram af, so vrolik soos ’n kwartel en so mak soos ’n lam, gereed om weer op die oop pad losgelaat te word tot volgende jaar. Nes laas jaar en die jaar tevore.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.