15+ vrae aan Willem Kempen

AGTERBLAD

15+ vrae aan Willem Kempen

Met die laaste uitgawe van Vrye Weekblad in sig vra LAUREEN ROSSOUW haar vrae ook aan 'n paar redaksielede. Vandag is dit die beurt van Willem Kempen, redakteur van ons daaglikse uitgawes.

WILLEM KEMPEN was in die Boland op skool en universiteit, maar het besluit om sy joernalistieke loopbaan in 1994 saam met die nuwe Suid-Afrika by Beeld in Johannesburg te begin, op soek na avontuur en 'n beter verstaan van die wêreld anderkant die Hexrivierberge. Hy en sy gesin het in 2008 na Potchefstroom getrek in die hoop om hulle kinders in 'n rustiger omgewing groot te maak.

1. Is jou hare lank of kort?

Ek en my coiffeur van Egiptiese afkoms met sy swak Engels kommunikeer in haarogliewe, so daar is altyd 'n element van verrassing in die lengte en styl van my kapsel as ek daar uitstap. Dis beter so as om praatjies met die haarkapper te moet aanknoop.

2. Gaan jy ooit buitentoe?

Feitlik daagliks.

Cornia en Willem op toer naby Golden Gate in die Oos-Vrystaat in 2002.
Cornia en Willem op toer naby Golden Gate in die Oos-Vrystaat in 2002.

3. En hoeveel uur 'n nag slaap jy?

Ek raak bedonnerd en totaal onproduktief as ek minder as 10 uur slaap, so dikwels moet ek in die dag inhaal as ek dit nie snags maak nie.

4. Watter publikasies en websites lees jy elke dag of meeste dae?

Vir nuus, minstens News24, Business Day en The Guardian, meeste dae ook The New York Times as ek klaar geWordle is. En dan vir kommentaar of ontleding is daar 'n hele klomp kanale op YouTube soos The Daily Show en Rationality Rules, en ek kyk ook gereeld goed met mense soos Sam Harris, Bill Maher, Lex Fridman, Stephen Fry of Dave Rubin. 

5. Watter AI tools gebruik jy gereeld en waarvoor?

Ek was aanvanklik baie skepties oor DeepSeek, maar dis nou my gunsteling. Claude is tweede en ChatGPT derde. Ek gebruik hulle as super-onderwysers wat my goed kan leer soos hoe om in HTML te kodeer, iets wat my op ander plekke baie meer tyd en geld sou gekos het. Dit maak my moedeloos as my dogters my vertel hulle mag nie die botte vir skoolwerk gebruik nie; plaas hulle die kinders leer hoe om dit reg te gebruik, die tekortkominge te verstaan en die gevare te systap.

Saam met Hannia, toe ses maande.
Saam met Hannia, toe ses maande.

6. Watter moet 'n mens vermy?

Almal wat geld vra. Dis toe nou nié die eerste ding op die internet waar 'n mens nie dieselfde gehalte iewers anders verniet kan kry nie. En ons moet verstaan dat hierdie tegnologie tegelyk wonderlik en vreesaanjaend én vreeslik hyped is.

7. En beskryf jouself in 'n hashtag?

#verdwaas

8. Waarna luister jy?

Ek verstaan self nie mooi hoekom ek nie uitgeluister kan raak aan Franz Liszt se “La Campanella" en ander musiek wat op Paganini gebaseer is nie, want meeste van die tyd kan ek nie te lank na dieselfde soort musiek luister nie. Ek het 'n swakheid vir vrouestemme soos Joan en Mimi (Fariña) Baez s'n, Edith Piaf, Mireille Mathieu, Cass Elliot, Billie Holiday, Etta James en so aan. En elke nou en dan móét ek na “Rock and Roll" of “Stairway to Heaven" van Led Zeppelin luister. Afgesien van musiek luister ek soms na opnames van die groot dramatiese toesprake, soos dié van JFK, Martin Luther King junior en die deesdae gekanselleerde Winston Churchill – “the Jimi Hendrix of the spoken word". En na enigiets uit die monde van mense soos Richard Burton en Marlon Brando en almal van The Goon Show. Op 'n ander noot is die klank van 'n vierslag-V4-motorfietsenjin een van die mooiste dinge op die planeet, soos in 'n Ducati Desmosedici of die oorspronklike Honda VFR750F. 

9. Wat sou jy doen (of wees) as jy weer kon kies?

Diamantsmokkelaar of professionele pokerspeler. Dalk 'n vlieënier, as 'n mens respektabel wil wees.

10. Bes bewaarde geheim in Potchefstroom?

Dis nie juis 'n geheim nie, maar skaars 'n kilometer van my huis af word van die wêreld se beste sweeftuie deur Jonker Sailplanes vervaardig. Dalk selfs die héél beste. Ons gee nie genoeg erkenning in hierdie land aan dinge soos ons tradisie van ingenieurswese wat uitstaan bo die res nie.

11. 'n Vrou wat jou beïndruk?

Ek hoop nie sy lees hierdie nie, maar my eie vrou, Cornia Pretorius. Bloot net om my te verduur verdien al een of ander prys. Ditto my ma, en my dogters wat ook reeds kwalifiseer.

Cornia en Willem naby Kaappunt in 1997.
Cornia en Willem naby Kaappunt in 1997.

12. Wat besit jy wat jy nooit sal weggooi nie?

My eerste regte swart biker's jacket, deur Leather & Suede van Kaapstad, met heelwat meer zips as wat streng gesproke nodig is.

13. Die diere waarvoor jy die bangste is?

Mense en pofadders.

14. Waaroor is jy spyt?

Dat ek te hard gewerk het aan goed wat my nie gebring het waar ek wou wees nie.

15. Waarvoor is jy bang?

Dat ons nie weer soos met Nelson Mandela die soort leierskap gaan hê wat 'n toekoms kan verbeel waarin almal kan glo en mekaar se rolle verstaan en respekteer nie. Ek is ook bang vir mense wat nooit twyfel in hulleself nie.

16. Wat aan jouself sou jy wou verander?

Ek sou meer selfdissipline wou hê en minder aandagafleibaar wou gewees het.

17. Wat vind jy sexy?

Selfvertroue, verbeelding en dwarsneukerigheid. That which is not strong cannot be beautiful.

18. Jou celebrity crush?

Dis nogal random, hulle is nie almal celebs nie en 'n paar is nie meer met ons nie, maar: Claudia Sheinbaum, Penélope Cruz, Scarlett Johansson, Jennifer Lawrence, Yuja Wang, Nigella Lawson, Sinéad O'Connor, Dolores O'Riordan, Isabella Rossellini, Elizabeth Taylor, Helen Mirren, sulke mense.

19. Die grootste uitdaging in jou lewe?

Afgesien van die gewone goeters is daar twee onlangse voorbeelde waarop ek nogal trots is: dat ek net een keer my humeur verloor het met die gesiglose, humorlose en empatielose werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, en dat ek verlede week ná donker meer as 10km in Witkoppen-rylaan in Johannesburg met al die slaggate en stukkende verkeersligte per motor kon aflê sonder om betrokke te raak by 'n insident met 'n voortsnellende sportmotor, 'n gehawende taxi of 'n totaal wettelose motorfietsie op pad om iemand se aandete af te lewer. 

20. Jou beste aksiefliek?

Christopher Nolan se Dunkirk, hoewel The Dark Knight seker meer van 'n aksiefliek is.

21. As jy môre die Lotto wen, wat sal jy doen?

As dit 'n dollar-lotto en nie net 'n rand-lotto is nie, sal ek 'n aandelebeurs begin vir maatskaplike ontwikkelingsprojekte waarin die publiek met klein bedrae kan belê. Ek sal 'n span finansiële kenners en mense soos Imtiaz Sooliman nooi om 'n plan op te stel wat die regering kan oortuig dat die projek vir minstens vyf jaar vrygestel word van 'n klompie arbeids- en ander wette soos minimum lone, op voorwaarde dat vaste teikens vir werkskepping en volhoubaarheid gehaal word en dat die staat 'n voorafbepaalde kontantbedrag uitbetaal vir elke projek wat suksesvol voltooi word. Belegging in elke projek moet ten volle belastingaftrekbaar wees. 'n Mens mag mos droom ...

Willem op ses maande, die laaste keer toe hy ernstig was.
Willem op ses maande, die laaste keer toe hy ernstig was.

22. Wie bewonder jy?

Suid-Afrikaners wat tegelyk verstaan dat ons weens ons geskiedenis soms spesiale reëls moet hê, maar ook dat daardie spesiale reëls gewoonlik gefinansier moet word deur 'n kwesbare groepie belastingbetalers vir wie daar heeltemal te min respek en waardering is.

23. Jou gunstelingspeelding as 'n kind?

'n Scalextric uit min of meer 1969 met Jim Clark en Graham Hill se Lotus 49's in British Racing Green en geel. Ek vermoed dit was eintlik my pa s'n eerder as myne, maar ek onthou darem 'n keer of wat dat ek self die karretjies om die baan probeer kry het. Of dalk verbeel ek my net.

24. As jy drie mense vir ete kon nooi, wie sou dit wees en waarnatoe sal jy hulle vat?

Dit sukkel om net drie te kies, maar hoe lyk hierdie: die aktrise en uitvinder Hedy Lamarr, wat skynbaar nie eens geweet het daar wás 'n boks waarin sy veronderstel was om te leef nie; die 12de-eeuse filosoof Maimonides (Moses ben Maimon), wat dit reggekry het om in sowel die Joodse as Islamitiese tradisies aansien te geniet en die persoonlike dokter van Saladin was; en die ingenieur en uitvinder Nikola Tesla, in die hoop om 'n paar dinge uit te vind wat hy nie in lewe met die res van die wêreld wou deel nie. Ons sal vir ete ontmoet in 'n plattelandse Ierse pub wat besit word deur Spike Milligan en Shane MacGowan van The Pogues, net ingeval die gesprek sukkel om aan die gang te kom.

25. Jy ontmoet vir Elon Musk, wat sal jy vir hom sê?

Doen 'seblief 'n deal sodat ons Starlink in Suid-Afrika kan kry, selfs al beteken dit iemand soos Patrice Motsepe word op jou onkoste nog 'n biljoen of twee sterker.

26. As jy in 'n ander land kon werk, waar sal dit wees?

Ek wou nog altyd in een van daai oeroue grothuise in Matera in die suide van Italië gewoon het, of in Andorra, Europa se mees roemlose land, maar ek sal seker binne weke doodverveeld wees, en in elk geval is die internet waarskynlik vrotterig in albei.

27. Waarnatoe van hier?

Ek wil gaan aansit vir 'n nagereg van Pears Gallumbit by Milliways, ook bekend as The Restaurant at the End of the Universe. Ek skat dis die ideale plek om 'n boek te begin skryf wat niemand ooit sal lees nie, en met 'n bietjie geluk ontmoet ek daar vir Eccentrica Gallumbits, die veelgeroemde drieborstige hoer van die planeet Eroticon Six na wie die nagereg genoem is.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.