Die ANC-elite smul aan apartheidvrugte

Essay

Die ANC-elite smul aan apartheidvrugte

Al voel die geskiedenis soms ver (en vergesog), het dit op hierdie einste aardbol onder ons voete plaasgevind. HANS PIENAAR verduidelik hoe die huidige regerende elite steeds die vrugte van Verwoerd se tuislandstelsels pluk.


GESKIEDENIS het ’n direkte, onbreekbare verband met geografie. Vir die meeste mense, veral in ons vermaak-deursuurde tye, tel daardie assosiasie egter en word dit meer eksplisiet gemaak in tale soos Engels en Frans: histoire, verhaal, history, story. Jy maak dit mooi, of lelik, na gelang van jou gehoor, of jou eie interne, psigologiese of ideologiese behoeftes. Maar die feit dat dit op ’n sekere plek geskied het, bring jou telkens terug na die hier en nou, die spore wat jy in jou eie beswete stewels en met jou eie stowwerige bril kan gaan opsoek.
In Fordsburg, om die draai van waar ek bly, kan ek in die openbare toilet na die laaste koeëlgat gaan kyk waar die 1922-rebelle deur soldate bestook is. ’n Entjie verder is die Oosterse Plaza, een van die min suksesse van apartheid, en aan die ander kant van Fordsburg is die toilet van Braamfontein-stasie wat Umkhonto weSizwe moes gaan opblaas, maar nie kon nie. Daarna kan jy deur die kakiebossies waad op die leë erwe van Pageview waar Indiërgesinne gedwonge verskuiwings ondergaan het.
In die fisika is tyd en ruimte een, en iets soortgelyks gebeur met die geskiedenis, wat eintlik ’n geval van geografiese veranderinge in tyd is. Dit voel altyd of sy populêre narratiewe in ’n ander, eksotiese wêreld afspeel, maar dit geskied op dieselfde aardbol as die een onder ons voete.
Geografie se suster, geologie, word opgediep om as narratiewe ontvlugting te dien in Deon Opperman se jongste pleegsel, die musiekspel Afrikaan, wat vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch gedebuteer het. Dit vat ons terug na ons almal se oorsprong in die Wieg van die Mensdom. Die basiese konsep is dat groepe onder die eerste mense tienduisende jare gelede na Europa getrek het, en toe teruggekeer het as deel van “drie strome” (blank, Boesman, Bantoe), en dus nou weer tuis is.
Die teks is in versvorm, voorgedra deur iemand wat lyk soos ’n Transvaler van die ou dae wat ekstaties raak oor die sonsondergang op die strand. ’n Koor lyk en sing soos ’n sel van die Ruiterwag. Daar is kwotas van ander rasse, ’n gebaar na Afrika in die vorm van ’n enkele swart musikant. Ek sal liewer niks sê oor die musiek nie. Dit gaan tog nie onthou word nie.
Opperman probeer om die dominante ideologiese kwessie van ons tyd, die kolonialisme, op sy kop te keer. Die gewelddadige oornames of besettings kry ’n versie of twee, verder beklemtoon die grootste deel van die musiek, teks en verhoogwerk die tuiskoms van wit mense asof hulle die vasteland se Verlore Seun was. Pleks van buitelandse indringers wees, hoort ons nog altyd hier. Ons het net van kleur verander, is sy boodskap aan Afrikaners. En die implikasie is: Eis jou geboortereg op.
Daar is meriete in die argumente in die sin dat ons tog almal dieselfde is, of dieselfde voorouers gehad het – dis die een hoeksteen van die hele anti-apartheidsidee en die liberalisme waarop ons Grondwet geskoei is. Maar wat ’n mens op die verhoog kry, is ’n vergoeiliking van kolonialisme, en een lang demonstrasie dat wit mense letterlik die toon aangee, miskien selfs dat wit mense beter musicals as mense van kleur maak.
Maar die geskiedenis wil nie onder ons voete wegval nie. Die vertoning was in die Adam Small-saal. ’n Mens kan nie anders as om sy ikoniese werk Kanna hy kô hystoe op te roep nie. Dis nou ’n toneelstuk wat baie nader kom aan die verwoesting wat die kolonialisme gesaai het. Kanna keer net soos Opperman se wittes terug na Suid-Afrika, maar hy bly nie, want die wittes het seker gemaak hy is nie welkom hier nie. Dit was hulle bakermat, nie syne nie.
Opperman se stuk is deel van ’n rits pogings die laaste tyd om anderkant vrede maak met die geskiedenis te tree en dit tot diens van mag te stel, of dit wat van Afrikanermag oorbly. Hoe futiel sulke pogings is, blyk uit die jongste herskrywings van die nalatenskap van Hendrik Frensch Verwoerd, nog ’n Europeër wat na die bakermat teruggekeer het, maar anders as Kanna gebly het, want die wit mense het hom weer so welkom laat voel. Ook sý nalatenskap is onder ons voete.
Daar is twee maniere om hierdie nalatenskap te hanteer. Die eerste is die mitiese, om hom te behandel as die skurk van apartheid, die bose mastermind van ’n misdaad teen die mensdom. Hy is die perfekte sondebok – die verwronge pseudowetenskaplike wat in Nazi-Duitsland gestudeer het en as koerantredakteur propaganda vir die Nasionale Party geskryf het.
Die tweede is om buite hierdie mitiese figuur na die mens te kyk, hom binne die konteks van sy tyd te plaas. Die ongeluk is dat hy in sommige opsigte selfs erger as die mite was en dat sy nalatenskap so sterk is dat dit die mag van die huidige regerende party onderskraag.
Opperman maak die fout om die geskiedenis vanuit net een groep se diskoers te benader, en net so is die fokus gewoonlik op Verwoerd as die filosofiese redder van wit dominansie. Maar vanuit die perspektief van die gehele bevolking was hy veel meer.
Die eerste ding om oor Verwoerd te begryp, is dat hy sy politieke loopbaan as diktator in allesbehalwe naam begin het. Van 1949 af, as minister van naturellesake, het hy oor driekwart van die bevolking geheers. Sy magte is gedelegeer deur die goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, wat op sy beurt deur sy koloniale opperhoofde in die naam van die Britse koningin as die "groot wit hoofman" aangestel is en aan wie alle swart stamleiers, en by implikasie alle swart mense, dus moes rapporteer. Verwoerd kon hierdie leiers met een streep van die pen afdank en vervang.
Toe hy premier word, het dit nie lank geduur voordat hierdie direkte regering in belangrike opsigte ook onder wit mense uitgebrei is nie, en die afkondiging van die eerste noodtoestand was skaars maande nadat die Republiek in 1961 gestig is. Drakoniese maatreëls, oënskynlik om kommunisme te beveg, het aan die polisie die mag oor lewe en dood in bepaalde omstandighede gegee.
Die brutale, fascistiese toepassing van hierdie maatreëls was altyd wat in die eerste plek verkeerd was met apartheid en Verwoerd se hoofskepping, die tuislandstelsel, en nie soseer die selfbeskikkingsfilosofie daaragter nie. Verwoerd is tereg gedemoniseer vir sy berugte aanhaling oor swart mense wat nie in staat is om die standaarde van wit mense te bereik nie, en ’n diepe rassisme was die basis van sy sienings. Maar hy het ook gesê dat swart mense hierdie standaarde vinniger en makliker in hul eie gebiede sal behaal, wat nie so ver is van die denke van linkse ontwikkelingsorganisasies soos die Third World Network (TWN) of revolusionêre leiers soos Kuba se Fidel Castro nie. Die TWN was een van die populariseerders van die boks-analogie: Mense van ontwikkelende ekonomieë is nie in staat om met dié van gevorderde ekonomieë mee te ding nie, net soos ’n veergewigbokser nie teen ’n swaargewig kan baklei nie.
Castro was ’n voorstander van ’n tweestroom-benadering tot ontwikkelingsbeleide: Opkomende lande moet toegelaat word om op alternatiewe maniere tot gevorderde ekonomieë te groei.
Sulke sentimente is die basis van regstellendeaksiebeleide oor die wêreld heen, ook in Suid-Afrika, waar dit in baie gevalle baie suksesvol is, maar ook verwoesting saai deur korrupsie aan te moedig. Min of meer dieselfde het in die tuislande gebeur wat baie van die staatsamptenare van vandag opgelei het en ’n hele paar van ons hedendaagse swart magnate help skep het, maar ook grootskaalse korrupsie deur begunstigdes van die Nasionale Party bevorder het.
Die konstellasies van stukkies tuisland was ’n absurde stelsel, pure lippediens vir die strewe na gelykheid en terselfdertyd om wit landboukrag te beskerm. Tog is die grond wat aan swart mense behoort binne sowat twee dekades amper verdubbel – ’n beter poging as die ANC s’n in 24 jaar. Dit het met ’n veel kragtiger program van onteiening van wit grond gepaard gegaan wat op sy beurt ’n fundamentele skeuring in die Nasionale Party aangehelp het.
Die ideaal van etniese selfbeskikking het ook ’n klein, maar toegewyde nis van wit staatsamptenare aangevuur wat werklik in die emansipasie van swart mense geglo het. Om een voorbeeld te noem: Hulle het Fanagalo uitgeroei wat hulle tereg as vernederend teenoor swart mense beskou het en dit met ’n konkrete, suksesvolle taalontwikkelingstelsel vervang – met baie beter uitkomste as die ANC se huidige anglosentriese nie-poging.
“Gutter education” was ’n bespotting, ’n misdaad op sy eie, maar baie township-inwoners het dit as goed genoeg geag om hul kinders gedurende die stormagtige 1980’s en sy noodtoestande na tuislandskole te stuur. En die uitkomste was nie veel erger as dié van die huidige onderwysstelsel nie, waarvan die grootste sukses die Pyrrhus-oorwinning is om hordes veergewigte in die swaargewigafdelings van ons anglosentriese universiteite te laat boks.
Baie swart intellektuele en skrywers van ’n sekere ouderdom het gemengde gevoelens oor die era van die tuislande, die bekendste waarskynlik Jacob Dlamini wat Native Nostalgia geskryf het. In 2014 het ’n Afrobarometer-opname bevind dat 19% “swart Afrikane” nie apartheid as ’n misdaad teen die mensdom beskou nie.
Maar ook in stedelike gebiede, wat eksponensieël gegroei het sedert die Nasionaliste onder die "reformistiese" PW Botha in die 1980’s instromingsbeheer begin afskaf het, pluk die huidige regerende elite die vrugte van Verwoerd se separatistiese fascisme. Sý regering het nedersettings rondom die stede só beplan dat daar natuurlike buffers tussen “lokasie” en dorp sou wees – soms net oop gebiede wat “machine-gun belts” genoem is – om swart mense aan te spoor om na die tuislande te verhuis.
Een gevolg was dat vooruitsigte van ’n fisiese revolusie aansienlik verminder het. Selfs toe swart weerstand onder die sambreel van die United Democratic Front in die 1980's georganiseer is, is die regime nooit regtig deur enige van die massa-aksies bedreig nie. Die geografiese afstandelikheid is vandag grootliks ongeskonde en skei die anglosentriese kennisekonomie van die meertalige werkers en ondergeskiktes en hul informele ekonomie (Nomvula Mokonyane se “vuil kiesers”). Afgesien van die offerbare huis van ’n raadslid hier en daar, is die proteste oor dienslewering, alhoewel dit nou al in die duisende sedert 1994 tel, nooit enige fisieke bedreiging vir die staat nie.
Verwoerd se nalatenskap bly egter die sterkste in die voormalige tuislande. Hy en die ander argitekte van die stelsel het probeer om ’n politiek van teenstellende magte in tuislandregerings te skep deur ’n groeiende kapitalistiese klas die sê oor nuwe onteiende grond te gee, en deur proporsionele verteenwoordiging in die tuislandparlemente. Die doel was om ’n teenwig teen die historiese magte van die tradisionele leiers in die naturellereserwes uit die koloniale tye te skep.
Dit was Nasionale Party-beleid om fascistiese leiers in die tuislande te plaas op grond van die rassistiese teorie dat gewone swart mense diktators verkies. Hulle het die weg berei vir ’n sleutelprobleem van vandag – die provinsiale heersers voor wie pres. Cyril Ramaphosa die knie moet buig.In die 1990's, en selfs vroeër, het die nuwe swart bourgeoisie na die stede verskuif en kon tradisionele leiers die domeine uitbrei wat hulle voorouers voor die era van die tuislande onder koloniale wette geërf het. Hier regeer hulle vandag nog, dikwels op ondemokratiese wyse, soos die afgevaardigdes van die minister van naturellesake in die Unie van die Suid-Afrika se tyd. Hulle doen verslag aan die sentrale regering net soos hoofmanne aan Verwoerd gedoen het.Baie van hierdie leiers se aanspraak op mag is van twyfelagtige herkoms, maar diegene wat hulle probeer teenstaan, kan maklik gemanipuleer word. Neem byvoorbeeld die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, en die onversetlike Xolobeni-gemeenskap wat nie myne op hulle grond wil hê nie, nie eens nadat hulle leier vermoor is nie. Verskeie aktiviste en organisasies het al die moeilike posisie van vroue aan die kaak gestel en hoe wethervormings oor tradisionele gebiede nie ver genoeg gaan om aan die vereistes van die Grondwet te voldoen nie.Hierdie misbruike van mag raak ons almal en dit kan bepaal wie ons regeer: ’n Grondwet is net so goed soos die toepassing daarvan. Pogings soos Opperman s’n om die geskiedenis te verdraai, kan veroorsaak dat ons die regte stories onder ons voete miskyk.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.