Dis tyd vir onverdraagsaamheid jeens die onverdraagsames

STANDPUNT

Dis tyd vir onverdraagsaamheid jeens die onverdraagsames

Te veel instellings is te bang om mense soos Julius Malema kort te vat oor hul ekstreme rasretoriek, en daarvoor kan Suid-Afrika ’n baie duur prys betaal, waarsku MAX DU PREEZ.


Dit is 'n verskriklike gedagte, maar nie iets wat enigiemand vandag met oortuiging kan sê is heeltemal onwaarskynlik nie: daar loop dalk 'n aspirant Brenton Tarrant in Suid-Afrika rond. (Tarrant is die terroris wat vier weke gelede vyftig Moslems in Christchurch doodgeskiet het.)
Die Nieu-Seelandse polisie het gewaarsku dat enigiemand wat met die video wat Tarrant gemaak het, betrap word, tien jaar lank tronk toe gestuur kan word. Facebook, Twitter, YouTube en Scribd het alle kopieë van die video uitgewis. Australië, Tarrant se geboorteland, het die prominente Amerikaanse alt-regse aktivis Milo Yiannopolous die land verbied nadat hy gesê het aanvalle soos dié in Christchurch gebeur omdat die “establishment ekstremistiese linkses en barbaarse, uitheemse religieuse kulture sagkens behandel”. In Brittanje het die Manchesterse polisie 'n man wat iets op sosiale media oor die aanval versprei het, weens die verspreiding van “kwaadwillige kommunikasie” in hegtenis geneem.
Dit alles is sensuur, plein en simpel. 'n Onderdrukking van vrye spraak.
Dit geld ook Duitsland se voortgesette kriminalisering van die swastika en SS insignia. Ses maande gelede is die 89-jarige Ursula Haverbeck tronk toe gestuur omdat sy die egtheid van die Joodse volksmoord bevraagteken het. Die Konstitusionele Hof het bevind dat “straf vir die ontkenning van die Nasionaal-Sosialistiese volksmoord is “fundamenteel versoenbaar” met die grondwetlike waarborge vir vrye spraak. Sodanige ontkenning “steek die grense van vreedsame openbare debat oor en verteenwoordig 'n ontwrigting van die openbare vrede”, het dié hof verklaar.
Ek is my hele volwasse lewe lank 'n aktivis vir vryheid van spraak en die media. Dit het my 'n kriminele rekord so lank soos my arm besorg, want by die oorspronklike Vrye Weekblad het ons willens en wetens die wet oortree om die publiek oor sake en menings in te lig wat ons geglo het hul reg was om te weet, maar wat die apartheidregering van hulle wou weerhou.
Saam met die onafhanklike regbank is vrye spraak en 'n onbelemmerde, onafhanklike media die sterkste redes waarom Suid-Afrika die aanslag van die Zuma-tsunami oorleef het. Daarsonder sou die aktivisme van die burgerlike samelewing nie so effektief kon gewees het nie. Vrye spraak is die hart van ons grootste bate, naamlik dat ons 'n oop gemeenskap is.
Brenton Tarrant het soos 'n held gevoel toe hy die moskeegangers afgemaai het. Hy het 'n edele daad verrig, het hy gevoel. Dieselfde geld Robert Bowers, wat in Oktober verlede jaar 11 mense in 'n sinagoge in Pittsburgh afgemaai het; Dylan Roof, die 21-jarige wat in 2015 nege swart kerkgangers in Charleston, Noord-Carolina doodgeskiet het; Anders Breivik, die wit Noorweegse rassis wat in 2012 dosyne jongmense afgemaai het; en Timothy McVeigh, wie se 1995-bom in Oklahoma 168 lewens gekos het.
(Dit is moeiliker om die individuele gevalle van terroristiese aanvalle op burgerlikes wat oor die jare in die naam van Islam of Bhuddisme (dink Myanmar) gepleeg is, te ontleed, maar dit is duidelik dat dié terroriste ook vas geglo het hulle doen die regte en die dapper ding.)
Die regse terroris wat op 15 November 1988 sewe swartmense koelbloedig op Strijdomplein in Pretoria “tereggestel” het, Barend Strydom, het jare daarna steeds volgehou dat dit 'n edel en Christelike daad was en het in 'n televisie-onderhoud gesê dat hy net jammer was dat hy nie meer swartes kon doodskiet nie. (Tot ons almal se skande het FW de Klerk in 1990 geëis dat hy amnestie moes kry, en Strydom is vandag nog in ons midde.)
Nie een van al die bogenoemde geweldenaars is deur 'n hof as kranksinnig verklaar nie (hoewel ek sou wou redeneer alle ekstremiste het êrens 'n persoonlikheidsprobleem). Nie een van hulle het net op 'n dag uit die bloute opgestaan en besluit, vandag is die dag vir menseslagting nie. Hulle is oor maande en jare deur haatsmouse, rassiste en ideoloë gesosialiseer, selfs al het pleger en prediker nooit ontmoet nie. Ons weet dat Tarrant, Bowers, Roof, Breivik, McVeigh en Strydom nie regstreeks deur enigiemand opdrag gegee is om hul terreuraanvalle te loods nie. Hulle het bloot geglo dit was wat hulle behoort te doen; wat die ideoloë sou wou hê hulle moet doen. Hulle was brawe vrywilligers vir 'n edele saak, helde in 'n heilige oorlog.
Dit moet 'n mens nie verbaas nie dat familie en vriende van dié soort terroriste gewoonlik agterna sê eintlik was hulle gawe, goeie mense. Die voorwaarde van in 'n plek instap en mense van 'n sekere ras, etnisiteit of geloofsoortuiging platskiet, is dat die slagoffers in die pleger se gemoed dit verdien en dat hulle nie inherent dieselfde waarde as mense het as die skieter se mense nie. Dit was wat Brenton Tarrant van Moslems en Barend Strydom van swartmense geglo het.Dit is hoekom soveel Rwandese hul vriende, bure en kollegas en dié se kinders met kapmesse van kant gebring het 25 jaar gelede: hulle het verdien om geslag te word want hulle was Tutsi’s, hulle was kokkerotte, soos die Hutu-krygshere en Hutu Mag se ideoloë maande lank oor Radio Télévision Libre des Mille Collines (RTLM) en elders verklaar het. Dit was nie moord nie, dit was 'n daad van patriotisme. Rwanda sou beter af wees sonder die Tutsi’s en hul Hutu meelopers, gesuiwer wees van die kokkerotte.
Terug by sensuur en vrye spraak. Is dit geregverdig om materiaal te sensureer wat tot konflik en oorlog kan lei? Is vrye spraak belangiker as mense se lewens? Is daar enige redelike mens wat nie saamstem nie dat 'n blatante propagandamedium soos RTLM eintlik verbied moes gewees het?
Ja, dit is potensieël 'n glybaan, 'n slippery slope na 'n ondermyning van vryheid. Maar ons durf nie die maklike uitweg te volg en te sê alles moet dan maar toegelaat word nie. Vryheid, demokrasie en menseregte is konsepte waarvoor geveg moet word, dit bestaan nie waar niks gedoen word om dit te beskerm nie.
Die geheim is om die fyn skeidslyn tussen vryheid van spraak en die misbruik van vrye spraak vir die doeleindes van haat en onverdraagsaam te vind en dan met selfvertroue toe te pas.
Ons weergawe van Brenton Tarrant kan uit wit óf swart geledere kom.
Daar is regse elemente in Suid-Afrika wat noue kontak met wit rassistiese ekstremiste in Amerika, Europa, Rusland en Ukraine het, mense wat verklaar dat daar 'n “Great Replacement” van wit mense aan die gang is. Dié elemente stel weens ons verlede en bevolkingsamestelling baie in Suid-Afrika belang. Hulle verkondig graag die idee dat daar 'n wit volksmoord in Suid-Afrika aan die gang is. Ek sien gereeld van dié denke op plaaslike groepe en individue se sosiale media-profiele weerspieël, veral die wit volksmoord-propaganda. Hulle voel meer selfversekerd omdat hulle nie soos die ou AWB net 'n klomp dommerige boepensboere is nie, maar dat van hulle idees in baie plekke in die wêreld gedeel word.
Van dié blatante rassisme en dreigemente van 'n rasoorlog of vergelding, meestal in Afrikaans, laat my hare rys. Minstens drie van dié ekstremistiese groepe lei ook mense in die hantering van wapens op en vertel hoe witmense moet optree as die swart hordes onvermydelik eendag op wittes gaan toesak.Dit is nie vrye spraak nie. Dit is 'n roekelose gedobbel met 'n land se toekoms. Dit is flagrante misbruik van vrye spraak; die gebruik van 'n vryheid om daardie vryheid te ondermyn.
Maar dit is nie net die kru grootbekke wat gevaarlik is nie. Ander, meer respektabele regse organisasies en bewegings help subtiel om dié soort narratief geloofwaardig te maak sonder om self blatante rassisme te uiter. Geen ordentlike mens in ons land is nié besorg oor die aantal aanvalle op wit plase nie, maar die verskynsel word nou as 'n politieke wapen gebruik (ge-weaponise, sou die Amerikaners sê) om mense bang te maak en te kondisioneer en só vir rekrutering voor te berei.
As dit jou hele univers is dat jy en jou soort op die punt staan om deur die horde barbare aangeval te word en jou kultuur, godsdiens en lewenswyse uitgewis gaan word, én jy het 'n sekere tipe persoonlikheid, vat dit nie veel om tot geweld oor te gaan nie. Jou mense gaan jou eer as jy dit doen en jou slagoffers verdien hul loon; die verlies aan hulle lewens is in elk geval nie so 'n groot verlies nie.
Daar is 'n kans dat ons wéér 'n Barend Strydom gaan sien, vrees ek.
Maar ons Brenton Tarrant kan ook swart wees.
Die laaste paar jaar het die ekstreme rasretoriek van politici soos Julius Malema en Floyd Shivambu van die EFF, Andile Mngxitama van Black First Land First en elemente van die #Fallist-beweging skerp in graad en intensiteit toegeneem. En hoe meer dit toegelaat en nie ernstig bevraagteken is nie, hoe meer normaal het dit geword om wit (en Indiër-) Suid-Afrikaners te vloek, te beledig en te dreig.
Ek sal Malema en Kie se reg om reguit en openlik oor die geskiedenis en witmense en Indiërs se verlede te praat en hul voortslepende rassisme uit te wys, met oortuiging verdedig. So ook hul reg om dit onomwonde aan wit burgers te stel dat hulle nie langer gaan duld om aan die agterspeen te suig en wit arrogansie gaan toelaat nie.
Maar Malema, Shivambu en deesdae veral Mngxitama gaan baie verder as dit. Hulle vervloek wit burgers, hulle maak hulle uit as die vyand; as nie deel van die nasie nie, maar 'n gehate groep inkommers wat volksmoord op swartes gepleeg het en hulle nog steeds moor en verkrag. Om “Shoot the Boer, the farmer” ná 'n geregtelike teregwysing na “Kiss the Boer” te verander, het nie die boodskap verander nie.
Malema en Kie se haatgevulde retoriek word huidjie en muidjie, klakkeloos deur heelwat van die media uitgebasuin. Malema se dreigement dat hy “will cut the throat of whiteness” is oor en oor op radio en televisie uitgesaai. Ek was laasweek verstom hoe die gerespekteerde veteraan-joernalis, eNCA se Vuyo Mvoko, soos 'n trapsuutjies tjoepstil sit terwyl Mngxitama, sy ateljeegas, op Corné Mulder skreeu en hom deurgaans as “julle gronddiewe” uitskel.
Toe ek 'n paar maande gelede ná 'n regstreekse uitsending van 'n Malema-toespraak buite die Zondo-kommisie in 'n rubriek skryf televisiekanale behoort nie sulke vitrioel regstreeks uitsaai nie, hulle moet eerder verslag doen oor die geleentheid, het 'n paar parvenu’s en agterosse my skerp aangeval as dat ek kwansuis sensuur bepleit. Speel veilig en doen niks.
Ek het 'n redelike groot teenwoordigheid op Twitter (232 000), die EFF se gunsteling braakplek. Ek word op gereelde basis as 'n white supremacist, 'n stratcom-agent of 'n aanhanger van Verwoerd uitgekryt en ewe gereeld word ek blatant of indirek met geweld gedreig. Die kere wat ek die EFF-leiers gevra het hoekom hulle nie hulle ondersteuners dissiplineer nie, het hulle bloot gesê hulle kan nie verantwoordelikheid vir almal op Twitter neem nie. Nes die regses: die leiers maak uitsprake wat dan tot ‘n stortvloed rassisme en dreigemente onder ondersteuners lei, maar dan sê die leiers hulle het niemand aangesê om so tekere te gaan nie.
Die rassisme van swart kant op sosiale media is 'n spieëlbeeld van die wit rassisme op sosiale media.
En toe verklaar Malema op nasionale televisie met 'n dreigende vinger en skuim om die mond: “We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now.” My bloed het koud geword by die aanhoor. Daar was net één manier waarop dié woorde geinterpreteer kon word.
Hy word toe tereg by die Menseregtekommissie aangekla. Open en shut, het ek gedink. Toe nie.
Die kommissie het regsmening na regsmening aangevra en tot vervelens verduidelik hoekom hulle dit regtens onmoontlik vind om Malema aan haatspraak skuldig te bevind. Malema, het hulle dit maak klink, is steeds 'n stem onder die onderdruktes wat met dié met al die mag praat, en hy wou eintlik maar net 'n bydrae tot die gronddebat maak. Twak. Hulle was bloot bang vir Malema, bang om die slagoffer van sy skerp tong en beledigings te word. Mensregte se gat.
Prof Steven Friedman van Wits het dié week daarop gewys dat die kommissie 'n dekade gelede 'n Cosatu-beampte, Bongani Masuku, aan haatspraak skuldig bevind het. Sy sonde was dat hy gesê het dat die Sioniste wat Israel se beleid steun, “must be made to drink the bitter medicine they are feeding our brothers and sisters in Palestine”. Hy het Suid-Afrikaanse gesinne wat hulle kinders stuur om by die Israeli weermag aan te sluit, met die hel gedreig. Friedman sê Masuku het nie 'n ras- of bevolkingsgroep gedreig nie, maar mense met 'n sekere politieke siening. “If Malema’s words were not hate speech, why were Masuku’s?” vra Friedman. Solank die kommissie dié houding inneem, skryf hy, “it will be a pretty useless defender of anyone’s rights”.
As die kommissie inderdaad gevoel het die reg is deurmekaar en hulle kon nie 'n klinkklare beslissing maak nie, kon hulle ten minste vir Malema skerp tereggewys en sy uitspraak onomwonde verdoem het. Maar nee.
Laat ek hier oor swart haters herhaal wat ek hierbo oor wit haters gesê het: As dit jou hele univers is dat jy en jou soort deur gronddiewe en gewelddadige setlaars geminag en onderdruk word, én jy het 'n sekere tipe persoonlikheid, vat dit nie veel om tot geweld oor te gaan nie. Jou mense gaan jou eer as jy dit doen en jou slagoffers verdien hul loon; die verlies aan hulle lewens is in elk geval nie so 'n groot verlies nie.
Soos die Menseregtekommissie is die ANC bang vir Malema en Kie. Die Valke is bang vir hulle. Te veel joernaliste is bang vir hulle. Tot dusver was die nasionale vervolgingsgesag bang vir hulle. Dit is die zeitgeist.
Ons nuwe parlement sal as 'n saak van dringendheid klarigheid moet bring oor wanneer haatspraak strafbaar is en wanneer nie.
Ons sal baie gou meer onverdraagsaam jeens die onverdraagsames moet word, of ons eie Brenton Tarrants gaan in ons midde losbars.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.