LESERSBRIEF | Kô lat ôs saam ongeregtigheid oopskryf

Ons moet vreesloos wees

LESERSBRIEF | Kô lat ôs saam ongeregtigheid oopskryf

Hoe Vrye Weekblad destyds erestatus op Robbeneiland gehad het

  • 19 April 2019
  • Vrye Denker
  • 1 min om te lees
  • artikel 27 van 33


EK het Vrye Weekblad die eerste keer in 1988 in my sel in die Pollsmoor-gevangenis gelees tydens my en 14 ander van die Fighting Fifteen se verhoor vir terrorisme. Dit is teen groot risiko ingesmokkel deur ons ouers en eensgesinde bewaarders.
Dat Vrye Weekblad in dieselfde asem as die koerante SASPU National, South en Saamstaan deur die Fighting Fifteen as leeswaardig vir ons weeklikse “news analysis" geag is, spreek boekdele van sy bydrae tot die veerkragtigheid van Strydsafrikaans. Dit veral in ’n tydvak toe Standaardafrikaans deur menige in my ideologiese geledere as die taal van die onderdrukker afgemaak is en van ons meesal Engels as voorkeur-strydstaal gebruik het.
Vrye Weekblad sou wel later hierdie erestatus behou in die Robbeneiland-gevangenis, waar dit nie net 'n “news analysis"-bron vir ons gebly het nie, maar ook deur vertaling aan 'n wyer kring van kaders blootgestel was. Hier het dit ook beduidend as grondstof gedien om toenemende radikale bewustheid onder veral die Afrikanerjeug te peil.
Ek is op 10 Junie 1990 uit die Robbeneiland-gevangenis vrygelaat in 'n Suid-Afrika waar Vrye Weekblad tot in Februarie 1994 in 'n vreeslose doodstryd met die Suid-Afrikaanse Polisie geworstel was. Die ontogenie van dieselfde polisie waarvan ek nou 'n lid is, en soos met Vrye Weekblad se nemesis Lothar Neethling, waarin ek ook ironies as generaal-majoor dien.
Dit is dus vir my 'n ongeëwenaarde eer om meer as 30 jaar later saam met Vrye Weekblad hul wedergeboorte met dieselfde onversetlike gees teen ongeregtigheid van die apartheidsjare oop te skryf. Dit veral vir my, steeds pligsgetrou aan prof. Jakes Gerwel se profetiese roep in 1978 (tweede-kwartaal-uitgawe van die Education-tydskrif):
“Maar so lank as daar Afrikaanssprekers is wat hul stemme vreesloos teen ons samelewingsongeregtigheid lug – en daar is sulkes – het ek die sekerheid dat ons met reg later onder 'n nuwe bestel sal kan verklaar: Een rassisme en een outoritêre regime kon ons toe nie stil kry nie en 'n nuwe gaan ons nou ook nie onderkry nie.”
Jeremy Vearey
(Geredigeer)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.