'Rotte, kokkerotte, ape': in die bokskryt van oorlogstaal

BEVRAAGTEKENING RAAK VERRAAD. TWYFEL HOOGVERRAAD.

'Rotte, kokkerotte, ape': in die bokskryt van oorlogstaal

Dis nie wát jy sê nie, maar hóé jy dit sê. En ons taalgebruik spreek van ʼn gewelddadige ingesteldheid, veral wanneer belangrike kwessies ter sprake is. “Slaan terug.” “Ons sal nie vir nou wit mense slag nie.” Mense wil donner en oordonder. Ons sal doelbewus uit die draaikolk van die geskiedenis moet ontsnap en ons ontstrengel, sê ELMIEN DU PLESSIS. Buite die taal van geweld. Oorlogstaal.


“DER Ton macht die Musik,” sê die Duitsers. Die toon maak die musiek. Hoe ʼn mens iets sê, bepaal die melodie. Dit was my eerste gedagte toe ek “Slaan terug” op ’n lamppaal in Potchefstroom gewaar.
“Gedoriewaar,” was die tweede gedagte.
Dit het netjies in my waarneming van ons openbare taalgebruik ingepas. Ons taalgebruik rondom belangrike kwessies raak baie gewelddadig. Die Economic Freedom Fighters. Cutting the throat of whiteness. Ons sal nie vir nou wit mense slag nie. Intellektuele moet gehang word tot hulle vrot. Professors sommer drie voet hoër. Waag ʼn mens om kommentaar te lewer, bevind jy jou gou in ʼn bokskryt waar jy die houe moet kan vat. Probeer jy ’n middeweg, dan is jy Piet Retief in Dingaan se kraal wat binnekort geslag gaan word.
’n Bokskryt of Dingaan se kraal word die spasie waar idees geruil moet word. Lamppale hang nie net “Slaan terug”-verkiesingsplakkate nie, maar die dawerende stilte van professore. In plaas van verantwoordelikheid neem vir ’n standpunt, bevind mense hulle in ’n loopgraaf waar die objektiewe bevraagtekening van ’n standpunt ’n dwaalkoeël van die kant is.
Bevraagtekening raak verraad. Twyfel hoogverraad. Jy is of mét ons, of téén ons, en basta.
Die slagveld van taalgebruik
Dat gesprekke rof en ongemaklik kan wees is ’n feit. Die probleem is nie dat ʼn mens gekonfronteer word met menings wat anders is nie. Die bekommernis lê eerder in die manier waarop ʼn mens in die proses soms deur taalgebruik ontmens word.
Taalgebruik wat mense teen mekaar opstel. Wat die middelgrond ’n slagveld maak.
Wat ’n uitruil, ’n interaksie van idees moet wees, raak dan ’n stryd om idees. En in ’n stryd verloor almal, selfs die kant wat op die ou end as die skynwenner uittree.Daar is natuurlik ’n ander gevaar.As taal die hulpmiddel is waarmee ons die wêreld om ons verstaan, dan beteken die gebruik van ’n metafoor van geweld dat ons verstaan van die openbare spasie van Suid-Afrika op geweld gefundeer is. Ons wroeg ’n ewige stryd. Die taal is ons kerker.Die stryd om idees te verwoord in die taal van geweld. Luister raak ’n verdedigingsmeganisme. Ons skram weg van koeëls. Ons skree teen, en praat nie met nie.Van die ander kant gesien, vorm ons taalgebruik die wêreld om ons. Ons woorde raak dan ’n selfvervullende doemspel – ons woorde veg, en in die proses skep ons die stryd. Maak ons vyande.
Dan dring die drang om ’n vyand seer te maak. So ʼn drang word slegs gestuit deur ons besef van medemenslikheid as teenweermeganisme. Ons maak moeilik mede-mense seer. Om die drang te voed, moet taal gebruik word om mense te ontmens, sodat die mense wat ʼn mens wil seermaak of ontneem of uitsluit nie meer medemens is nie, maar minder-as-mens.
In taal rangeer “ons” “hulle” laer.
Só het die taalspel ’n beduidende impak op ons menseverhoudings. Nie alleen bou ons die verhoog met die taalgebruik nie, ons skep ook karakters met die taal. Die Jode was rotte. Die Tutsi’s kokkerotte. Daar is Ape. Bobbejane. Kaffirs.
Strategie van donner, oordonner
Maar hoekom die oorlogstaal?
Daar word dikwels in kommentaar gesê dat kragdadige optrede nodig is om balans te bewerkstellig, om te sorg dat die gesprek in die middel val. Maar dit raak eerder ’n tipe parasitisme – die kragdadige taalgebruik aan die een kant regverdig die kragdadige terugslaan van die ander.
Die strategie is nie om op ’n punt van verstaan te kom nie. Die strategie is om te donner. Te oordonner.
Só is dit nie meer ’n balans van magte nie, maar ’n tering op die taal van geweld. Die ander kant van dieselfde munt is dat probleme slegs met gewelddadige, oorvereenvoudigde slagspreuke, militant uitgespoeg in staccato, opgelos kan word. Dit bring ʼn mens nie tot verstaan nie.
Kumbaya-sessies
Die teenkant van ’n poging om te ontmens is om op te staan en menslikheid te bewys. Om die proses van ontmensliking moeilik, indien nie onmoontlik nie, te maak.
Die teenkant van “gronddiewe” is nie ’n ontkenning van die ongeregtighede van die verlede en ’n verheerliking van dit wat ’n misdaad teen die mensdom was nie, maar ’n erkenning van die menslike feilbaarheid, die teenstrydighede dat mense sowel goed as sleg bevat, en ’n verantwoordelikheidneming vir díé wandade wat in jou naam gepleeg is.
Eweneens is die teenkant van onregverdige ontneming van grond nie regverdige ontneming van grond nie, maar ’n erkenning van gedeelde menslikheid wat ’n gesamentlike belang in die toekoms het, en wat dáár die oplossing moet vind.
Dit verg ’n doelbewuste wegskeur van die verlede, van die binêre, goed afgemerkte identiteite wat ’n stelsel soos apartheid op ons almal gelaat het. Identiteite geskep om mense te ontmens. Sonder “as”, “maar”, “wat van” of “bepalings en voorwaardes”.
Om jammer te sê waar nodig is. Om te vergewe waar dit nodig is. En om soms, ter wille van aangaan, net ’n tydelike posisie in te neem om te kan gaan.
Want aangaan sal ons moet.
Dié tipe vraag na die herinstelling van die menswaardigheid van mense kan nie in Kumbaya-sessies gebeur nie. Die soeke na ’n gedeelde menswaardigheid is ook nie ’n naïewe idee dat die gesprek om dié tafel gemaklik en maklik sal wees, en uiteindelik tot ’n duidelike konsensus sal lei nie.
Vryheidsdans 
Konsensus word selde bereik tussen mense wat doelbewus deur ’n stelsel van mekaar ontneem is, ontmens is. Dit gaan eerder oor ’n middewegsoeke wat ’n nul-som-spel moeilik maak.
Dit vra om op te daag. Dit vra eerlikheid. Dit vra dat weerbaarheid met kwesbaarheid vervang word. Dit vra moed om met die ongemak van eeue se miskenning van mekaar te sit. Vreemdelinge wat mekaar al eeue lank ken.
Dit vra dat ʼn mens nie verstrengel moet raak in skaamte, woede of vrees nie, want nie een van dié is vooruitskouende of oplossingsoekende emosies nie. Dit vra ’n doelbewuste ontsnapping en ontstrengeling uit die draaikolk van die geskiedenis.
Buite die taal van geweld.
In ’n twis van ironie sit ek nou die dag die radio kliphard aan. Die toon dik van die dansritme. Churchil Naudé sing: “Kom slaan my mettie waarheid – hierdie liewe is ’n naarheid / Kom sit saam my la’t ons saam kan stry vannie liefde kom van daaruit / Dit maak net soveel sin om jou dag met liefde te begin.”
En ek dink: Daarop sal ek die vryheidsdans dans. En dit sal nie ’n naoorlogse dans wees nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.