Ghoemagate 2019: Moenie die Taal saam met die Skottel weggooi nie

VERDEDIG DIE TAAL

Ghoemagate 2019: Moenie die Taal saam met die Skottel weggooi nie

Die mense wat die hardste teen Ghoemagate en vir Afrikaans skree, is blykbaar nie so bekommerd oor die gehalte of skeppendheid van taalgebruik nie, skryf MARTIN T. LAUBSCHER. As jy positief is oor jou taal, sou jy nie haar verskillende stemme wou doodskree nie. Jy sou hulle wou verdedig en vier.


TER agtergrond: “Die Land", ’n video wat vir ’n Ghoema-prys as beste musiekvideo benoem is, se benoeming is teruggetrek nadat MultiChoice gedreig het om sy borgskap aan die kompetisie te onttrek. Dit was omdat Steve Hofmeyr een van die sangers op die video is.
Sy dryftog na die verregse poeletjies van die samelewing het MultiChoice nie gepas nie (weens finansiële of morele oorwegings). Dit het groot omstredenheid veroorsaak. Ek noem dit Ghoemagate.
In die nadraai van Ghoemagate is sommige mense so boos vir MultiChoice dat hulle hul DStv-skottels by die dak begin afgooi en vernietig het (en dit natuurlik afgeneem en op Facebook geplaas het). Diesulkes se argument is dat MultiChoice hom teen Afrikaans as ’n geheel gedraai het en daarom gestraf behoort te word.
Ek wonder of hulle nie twee maal sou gedink het oor hierdie verwoesting as dit nie vir ’n stroomnetwerk soos Netflix was nie.
Dis ook interessant om te sien dat die een man nie eens self sy skottel afgegooi het nie, maar wel een van sy werknemers (wat waarskynlik nie weet wat die Ghoemas is nie) aangesê het om dit namens hom te doen. Alles voor sy seuntjie wat nuuskierig wonder wat nou aan die gang is. Meer Suid-Afrikaans kan jy nie kry nie.
Die redenasie hieragter is verwronge. Kan mense werklik dink dat een musiekvideo, of selfs hierdie prysuitdeling, ons taal in haar geheel verteenwoordig?
Gewis nie. As jy werklik lief is vir Afrikaans as taal, kan die swak, verbeeldinglose taalgebruik in vele (beslis nie almal nie) van hierdie liedjies jou sekerlik nie trots maak nie.
Koekiedrukresep ryk in suiker
Verskeie “kunstenaars” se snitte is deurtrek met verkeerde voorsetsels, anglisismes, lomp sinne en clichés. Geen oorspronklike gedagtes of emosies nie, net emosionele opswepery. Ek is seker daar is algoritmes wat mensliker lirieke kan opdis as jy hulle só programmeer.
Die liedjies word selde deur die sterre self geskryf. ’n Mens wonder of hulle enigsins dink waaroor hulle sing.
Die tendens in hierdie musiek is dikwels om ’n popresep te gebruik wat reeds 15 jaar gelede oudmodies was. Boonop is dit asof almal dieselfde ritme, akkoordprogressies en strukture het. ’n Koekiedrukresep vlak in geurverskeidenheid, maar ryk in suiker. So baie suiker mens wil kots ná twee happies.
Ek gebruik “kunstenaars” tussen aanhalingstekens, want ons mag dit nie kuns noem nie. In kuns is daar ’n mate van eerlike uitdrukking, of ten minste ’n poging daartoe.
Wat ons hier het, is 'n vervoerband wat poppe op strepe uitvoer. Mannetjiepoppe en meisiepoppe met balrokke, almal dieselfde gegrimeer en beklee. Hulle word hoofsaaklik deur twee Mickey Muis-mafiafamilies bestuur wat alles weet van goed geldmaak en fokkol van die bloed wat regte musikante stort.
Dis 'n siellose gespuis wat so baie geld uit die volk maak dat hulle nie vir ’n oomblik dink aan dit wat buite hul geblinkerde koepel aan die gang is nie.
As jy werklik lief is vir Afrikaans, sal jy ten minste toegee dat dit uit meer as hierdie spul bestaan.
Plaastaal, straattaal, bakleitaal
Afrikaans is nie nét ’n glansrok-onthaalsaaltaal nie. Dis ’n plaastaal, straattaal, bakleitaal, en sy is dikwels op haar mooiste wanneer jy die grimering afvee en haar vrylik laat rondhol.
Dis nie nét ’n spogponie wat uitgekam en geblaas en gesjampoe is nie. Dis ook ’n runnikende, galoppende woestynperd wat al baie keer in die bek gekyk is en al baie waens deur drifte getrek het.
’n Bende van die Ghoema-benoemdes het besluit om die geleentheid te boikot. Hulle sluit onder meer in Jay du Plessis, Karien van Jaarsveld, Dewald Wasserfall en Bok van Blerk.
Maar dit was nie genoeg vir verregses soos die blogger Willem Petzer nie. Hulle het dit ook nodig gevind om diegene wat wel die Ghoemas gaan bywoon het, met modder te gooi en te boelie. Petzer het so ver gegaan om vir hom ’n kaartjie te koop en die geleentheid lewend van Twitter af te bespot.
Devon Hofmeyr, een van Steve se spruite, het ook opgedaag. Devon het gekies om Shihaam Domingo, die aanbieder van die hip-hoptoekennings, se toespraak te ontwrig omdat hy vir sy “taal en kultuur” opstaan. As hy opstaan vir sy taal, waarom kies hy dan om ander Afrikaanssprekende kunstenaars te ontwrig? En is dit toevallig dat hy juis een van die min bruin kunstenaars gekies het?
So lief soos wat Devon vir Afrikaans mag wees, weet hy blykbaar nie wat die woord “trotseer” beteken nie of dat die woord “offisieel” ’n anglisisme is nie. Dis nou te oordeel na sy Facebook-video waar hy die hoop uitspreek dat die Ghoema-organiseerders wat hom uitgegooi het, hom volgende jaar sal toelaat “om weer ons taal te trotseer”.
In elk geval, my punt is dat die mense wat die hardste teen Ghoemagate en vir Afrikaans skree, blykbaar nie so bekommerd oor die gehalte of skeppendheid van taalgebruik is nie.
As jy positief oor jou taal is en lief is vir jou taal sal jy nie vernietig nie, jy sal wil bou. Jy sou nie haar verskillende stemme wou doodskree nie, jy sou hulle wou verdedig en vier.
Pleks daarvan om jou skottel weg te gooi, begin miskien jou voelers uitsteek na al die ander interessante holtetjies waarin Afrikaans haar tuismaak. Dit sal jou stembande en jou werknemer se mannekrag spaar en almal sal gelukkiger wees.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.