Weermag se geld droog op

PENARIE

Weermag se geld droog op

Die weermag het sy geheime fonds vir nuwe toerusting soos 'n kitsbank gebruik om tekorte op sy salarisrekening te betaal. Nou het Tesourie 'n stokkie daarvoor gesteek en word dié “bank” gesluit, terwyl die weermag sonder 'n gevegsplan sit. ERIKA GIBSON, militêre spesialisskrywer, het dié penarie probeer ontrafel.


DIE Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se oormag soldate het sy Spesiale Verdedigingsbegroting (SVB), wat veronderstel is om vir nuwe toerusting gebruik te word, verorber tot op die punt waar dié rekening nou deur tesourie gesluit gaan word.
Dít beteken 'n hele rits van die langtermyn-aanskaffings en opgraderings van gebrekkige toerusting is nou eenvoudig van die baan nadat die rekening reeds in 2010 vir die eerste keer getap is om salarisse te betaal.
Dit het 'n tweesnydende swaard geword. Pleks daarvan dat die SANW sy soldategetalle verminder het, het hy by die begroting vir toerusting “geleen”. Gevolglik was daar weer tekorte om aanskaffingsprojekte – veral dié wat werk vir die plaaslike wapenbedryf sou verseker – te laat voortgaan.
Dit was veral Denel wat op sy beurt swaar getrek het om uit sy eie finansiële penarie te kom omdat hy nie meer op bestellings uit die weermag kon staatmaak nie. Ingeligtes na aan die vuur meen dit kom neer op indirekte sabotasie van veral Denel, wat nou noodgedwonge van sy afdelings en kundighede aan buitelandse beleggers verkwansel.
In die huidige finansiële jaar word daar weer eens R1 biljoen uit die SVB geleen. Die eerste groot strooptog was in 2010 toe Lindiwe Sisulu as destydse verdedigingsminister in 'n poging om die invloed van militêre vakbonde te ondergrawe vir al die soldate in junior range 'n salarisaanpassing van tussen 2% en 65% gegee het.
Daar is nie destyds vir dié reuse-uitgawe begroot nie, en dít is waar die SVB se spaarfondse van altesaam R2 biljoen vir Sisulu se bly-makertjie gebruik is. Daarna het die SVB 'n soort kitsbankmasjien geword. In 2011 is R560 miljoen geleen; in 2012 R555 miljoen en in 2014 altesaam R503 miljoen.
Die SVBwas gemiddeld sowat R5 biljoen sterk. Waar geld nie in een jaar gespandeer is nie, het die geld na die volgende finansiële jaar oorgerol en is die SVB net weer uit die staatskas aangevul. Nou het Tesourie egter 'n streep getrek en gesê nie meer nie.
Die weermag en veral dr. Sam Gulube, die sekretaris van verdediging wat waak oor die weermag se beursie, het die afgelope drie weke vrae ontduik oor wie presies vir die stand van sake verantwoordelikheid gaan aanvaar. Tesourie het egter blitsig sy kommer uitgespreek en gesê die weermag moet sy getal soldate volgens sy begroting in pas bring. Meer soldate as waarvoor daar begroot word, is strydig met die regeringsriglyne.
Tans spandeer die weermag 59% van sy begroting om nagenoeg 75,000 soldate in diens te hou, maar die aantal aanwendbare troepe is 'n fraksie van dié getal. Die verdedigingsbegroting is reeds besnoei tot R50 biljoen in die huidige boekjaar. In 2019/'20 is die geprojekteerde besnoeiings luidens vanjaar se begrotingsrede R183 miljoen; in 2020/'21 'n verdere R174 miljoen en in 2021/'22 nog 'n snit van R5 biljoen. Die laaste bedrag is wanneer Tesourie vir oulaas geld vir die SVB se begroting gaan toewys. Dan is die weermag op sy eie en as daar teen daardie tyd nog nie drasties met personeelsnitte begin is nie, gaan die weermag eenvoudig nie meer sy soldate kan betaal nie.
Dr. Kobus Marais, die DA se woordvoerder, sê die onttrekkings uit die SVB is 'n onding wat nooit toegelaat moes word nie en dui op die regering se minagting van sy eie verdedigingsmag as strategiese bate. Selfs die Ouditeur-Generaal kon die afgelope jaar nie al die rekeninge oudit nie omdat baie van die projekte as geheim geklassifiseer is, wat op sigself die ruimte skep vir misbruik of wanaanwending.
Tesourie sê die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) maak dit toelaatbaar dat 'n departement van sy geld wat nie aan projekte bestee word nie, vir tekorte elders mag gebruik – mits die rekenpligtige beampte (Gulube in die weermag se geval) dit goedkeur en die minister (Nosiviwe Mapisa-Nqakula) dit afteken.
Al het Gulube nie op vrae gereageer nie, het hy wel pas by 'n vergadering van die BBBEE se verdedigingsektor (Broad-Based Black Economic Empowerment Defence Sector) bevestig die SVB gaan gesluit word. Hy het 'n beroep op die plaaslike verdedigingsbedryf, wat juis deur die toedoen van die weermag aan die doodbloei is, gedoen om die weermag te help om uit dié verknorsing te kom.
Hy het erken dat dit in die weermag se eie selfsugtige belang is dat die wapenbedryf oorleef anders gaan die weermag enige toekomstige toerusting ten duurste moet invoer. Hy het egter nie gesê waarom so baie van die aanskaffingprojekte die afgelope jaar die pas markeer het tot nadeel van die bedryf nie.
Helmoed Römer-Heitman, militêre analis, sê slegs projekte waar daar reeds kontrakte geteken is, sal waarskynlik oorleef. Die res, waaronder die aanskaffing van maritieme vliegtuie, die modernisering van die vloot se fregatte en duikbote, nuwe vragvliegtuie, en selfs die berugte Projek Hoefyster om nuwe gevegsvoertuie vir die leër aan te skaf, kan nou óf gekelder óf tot in die verskiet uitgerek word omdat dit vervolgens binne die gewone verdedigingsbegroting gefinansier sal moet word.
Hoefyster is reeds deur staatskaping geknou toe van die Gupta-luitenante met beïnvloeding van Denel se gewese topstruktuur die werk vir die projek (nagenoeg R10 biljoen) aan 'n Gupta-maatskappy, VR Laser, toegeken het pleks van Denel se eie onderafdelings. VR Laser is sedertdien gelikwideer en die betrokke kundiges om die pantservoertuie te vervaardig het bedank.
“Sonder geld vir opgradering en met die reeds skrapse vlootbegroting sal die fregatte en duikbote waarskynlik in die dokke opeindig. Pleks van enige toekomstige projekte moes die weermag minstens gesorg het dat die huidige skepe en bote 100% diensbaar is.”
Behoorlike maritieme vliegtuie om die Dakotas te vervang wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer, word as 'n strategiese knelpunt beskou omdat Suid-Afrika tans glad nie sy kuslyn kan bewaak nie. Dit is boonop strydig met sy internasionale verpligtings om enige hulp waar nodig in sy belangegebiedswaters te verleen. Dié strek van Namibië se noordgrens kuslangs om tot by Mosambiek se noordelike grens.
Tot onlangs het die weermaggeneraals gesê hulle kan nie sommer net van soldate ontslae raak nie omdat daar dan te veel militêr-opgeleide werkloses op straat gaan wees. Daar is ook op vele geleenthede die versekering gegee dat die personeelverminderings weens veiligheidsoorwegings nie voor die verkiesing in Mei sal plaasvind nie.
Ironies genoeg is haas die hele weermagtopstruktuur reeds met verlengde dienskontrakte in hul poste. Dié kom vanjaar tot 'n einde, wat beteken dat 'n nuwe span generaals, waarskynlik 'n nuwe verdedigingsminister én 'n nuwe sekretaris van verdediging met die onbenydenswaardige taak gaan sit om van die oormag uitgediende soldate ontslae te raak.
Dit sal boonop ook vinnig moet gebeur of die weermag gaan homself verteer pleks van om die land teen enige bedreiging te beskerm.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.