“AS jy water wil hê in dié land, dan sink jy ʼn boorgat,” sê Johan Pretorius, terwyl hy kyk hoe die boormasjien al hoe dieper in sy agterplaas sink. Hy is moeg vir droë krane en om in gebottelde water te bad ondanks die feit dat hy in ’n groot stadsgebied woon. Maar sy erf in Van Riebeeckpark in Kemptonpark aan die Oos-Rand is klein en daar is ’n kans dat die kontrakteur die watertafel gaan mis.
“Soos God dit wil,” sug hy.
As Pretorius ’n wateraar raak boor, is die water syne. Solank hy die water net vir huishoudelike doeleindes gebruik, kan hy maak en breek soos hy wil. Maar daar is nie regtig ’n polisieman wat gaan kom kyk of hy wel binne sy kwota bly nie.
Boorgate is die sonpanele van Suid-Afrika se waterkrisis, en vir tussen R60 000 en R100 000 kan jy jou eie put oprig. Maar daar is geen data in Suid-Afrika vir hoeveel boorgate daar die afgelope tien jaar gesink is nie, veral vir kleiner boorgate waarvoor ʼn mens nie ’n waterlisensie benodig nie.
Geheime ondergrondse waterreservateVolgens dr. Anthony Turton, ’n professor aan die Vrystaat Universiteit se sentrum vir omgewingsbestuur, het Suid-Afrika groot geheime ondergrondse waterreservate. Daar is ongeveer 12 tot 15, waarvan drie die potensiaal het om met Suid-Afrika se waterkrisis te help. Een van die akwifers oos van Johannesburg is dalk selfs so groot soos die Karibadam in Zimbabwe.Ongeveer 13% van die water wat Suid-Afrika gebruik, is grondwater en volgens die departement van water en sanitasie (DWS) is meer as 300 dorpies heeltemal afhanklik van putte en boorgate.Navorsing deur die Waternavorsingskommissie se dr. Shafick Adams wys Suid-Afrika het ’n geraamde 10 miljoen kubieke meter grondwater, maar dit was voordat die droogtes van die afgelope jare ingeskop het.Die DWS probeer grondwater monitor en het 1 459 boorgate landwyd waarmee hulle die watertafel meet. Danksy knap grondwaterdeskundiges by die DWS is daar redelik goeie data, maar nog steeds geen sekerheid nie. Die DWS sê ook net 4% van reën in die grond sypel terug na die watertafel.Die probleem is dat grondwater nie gesien kan word nie en ondanks die beste wetenskaplike skattings en metings is die volume grondwater steeds ’n raaiskoot. Daar is ook geen vaste rekord van hoeveel boorgate daar in Suid-Afrika is nie.
Watertafel in Beaufort-Wes droog op
In die droogtegeteisterde Beaufort-Wes word boorgate by die dag gewilder, al wys skattings deur die DWS hulle watertafel is besig om op te droog.
Die hulporganisasie Gift of the Givers het op uitnodiging van die plaaslike munisipaliteit verskeie boorgate op Beaufort-Wes gesink en dit ontstel departementsamptenare. “Hulle kan nie net boor sonder om die wetenskaplike vloei van watertafels te bestudeer, nie” sê ’n amptenaar wat verkies om anoniem te bly. “Dit kan gevaarlik wees.”Maar dit skeel die waterlose inwoners min. Die DWS het volgens hulle nie veel gedoen om die ramp te voorkom óf te bestuur nie. En as ’n DA-munisipaliteit was hulle boonop aanvanklik ’n politieke speelbal.Gift of the Givers het intussen ook verskeie boorgate in ander dele van die Oos-Kaap en Noord-Kaap gesink om gemeenskappe in nood te help.ʼn Saak van gebedDr. Gideon Groenewald, die hidroloog wat saam met die hulporganisasie werk, het wel ’n ongewone manier van waterwys. Hy glo dis ’n saak van gebed.“Ek glo geen mens kan water wys nie,” sê hy. “Ek bid elke nag vier ure vir insig en kyk dan op die geografiese uitleg van ’n terrein op Google Earth vir die nodige bewyse. Waar ’n pad dan met die moontlike aar kruis, ry ek uit en kyk of daar ’n magnetiese veld is. As daar is, is daar water.”Alhoewel gewone huiseienaars nie toestemming vir ’n boorgat nodig het nie, sê ’n geoloog van die DWS, Jabu Sithole, die departement wil graag weet waar boorgate is om te kan beplan hoeveel water uit die watertafel geneem word en om te sien of die boorgat volhoubaar is. Stede soos Kaapstad vra ook dat mense hulle boorgate by die raad aanmeld.As jy meer uit die boorgat haal as net vir huishoudelike gebruik, moet jy vir ’n waterlisensie aansoek doen en ook die nodige toestemming daarvoor hê. As jy water wil verkoop, kort jy ook ʼn lisensie. Nietemin verkoop talle mense water in Limpopo en KwaZulu-Natal sonder om selfs ’n waarskuwing te ontvang.Die DWS moedig boorgateienaars ook aan om hulle water reg te bestuur en reënval in ag te neem. Maar weer eens is daar geen wetgewing wat eienaars verplig om die water volhoubaar te gebruik nie.
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.