Vakbonde veg op vele fronte om voortbestaan

BOTSENDE SIENINGS

Vakbonde veg op vele fronte om voortbestaan

Die fragmentering in die vakbondwese sedert Numsa van die ANC-alliansievennoot Cosatu weggebreek het, kan die regerende party in die komende verkiesing ook by die stembus probleme besorg, skryf SONJA CARSTENS, 'n adjunk-hoofsekretaris van die United National Transport Union.


DIE Socialist Revolutionary Workers’ Party (SRWP) het verlede maand tot stand gekom met die steun van die National Union of Metalworkers of SA (Numsa), wat met sy sowat 338,000 lede die grootste vakbond in die land is. Numsa het dié party gestig met die uitsluitlike doel om die regte van werkers eerste te plaas, en sy groot ledetal kan aan die SRWP wesenlike steun by die stembus besorg.
Dit is die eerste keer sedert die fragmentering in die vakbondwese dat die ANC 'n nasionale verkiesing beveg.
Numsa het Cosatu in 2015 in twee laat skeur met sy besluit om van die ANC se alliansievennoot weg te breek. Dit was nadat Zwelinzima Vavi as  hoofsekretaris van Cosatu uitgeskop is en toe die SA Federation of Trade Unions (Saftu) gestig het.
Numsa-siening bots met minister s'n
Numsa se siening oor die rol wat 'n vakbond behoort te speel, bots lynreg met die standpunt van onder andere Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, wat bekommerd is oor die toekoms van die vakbondwese in die land juis weens vakbonde se binnegevegte oor politiek en geld, en ook vanweë internasionale veranderings in werkomgewings.
Olifant het op die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) se jaarlikse georganiseerde arbeidskool in Februarie vanjaar gewaarsku “onderlinge wedywering tussen vakbonde” ondermyn werkers se regte.
Dit steek die minister dwars in die krop dat daar teen einde Oktober verlede jaar 200 geregistreerde vakbonde in die land was, maar dat hulle gesamentlik net 35% van alle Suid-Afrikaanse werkers verteenwoordig.
Volgens Oliphant is die dae verby dat 'n enkele vakbond die belange van 'n massa verteenwoordig. Sy het vakbonde gevra om meer inklusief te wees. Sy meen inklusiwiteit van alle werkers is vakbonde se grootste uitdaging vir suksesvolle kollektiewe bedinging.
Sy het Cosatu ook op sy jaarkongres in September verlede jaar gevra om sy huis in orde te kry en te sorg dat sy vakbondverteenwoordigers beter opgelei word in arbeidswetgewing. Volgens haar faal vakbonde werkers deur in te stem tot diensvoorwaardes wat minder gunstig is as waarvoor die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge voorsiening maak.
Adv. Lehlohonolo Molefe, registrateur van die Departement van Arbeid, het in 'n onderhoud met EyeWitness News gesê binnegevegte in vakbonde en swak finansiële beheer hou die grootste bedreiging vir die toekoms van vakbonde in.
Molefe is 'n nuwe besem wat skoon probeer vee. Sedert sy aanstelling in Mei verlede jaar het hy in die Arbeidshof in Johannesburg aansoek gedoen om twee Cosatu-geaffilieerde vakbonde – Ceppwawu (wat werkers in die chemiese, energie-, papier-, druk- en houtsektore verteenwoordig) en die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) – onder administrasie te plaas.
Amcu dalk gederegistreer
Die afgelope week het Molefe in die Staatskoerant aangekondig dat hy beoog om die grootste vakbond in die mynwese, die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), as vakbond te deregistreer. Hy meen Amcu voldoen nie meer aan die vereistes van sy eie grondwet nie.
As Amcu gederegistreer word, sal dit 'n meevaller wees vir die National Union of Mineworkers (NUM), sy grootste mededinger binne die ANC-SAKP-Cosatu-alliansie. Die NUM het die afgelope paar jaar meer as 100 000 lede aan Amcu afgestaan.
Amcu het sestig dae om op Molefe se kennisgewing in die Staatskoerant te reageer en redes aan te voer waarom die vakbond nie gederegistreer moet word nie.
Molefe hou hom nie net met deregistrasies besig nie. Hy het op 15 April  die nuwe Universal Transport and Allied Workers Union (Utawu) geregistreer enkele maande nadat sy leierskap afgestig het van die National Transport Movement (NTM).
Dis ironies dat die NTM op sy beurt in 2013 tot stand gekom het nadat sy leierskap afgestig het van die Cosatu-geaffilieerde South African Transport and Allied Workers Union (Satawu).
Vakbonde onder druk
Syfers van die International Labour Organisation (ILO) dui daarop dat  vakbondlidmaatskap oor die wêreld heen die afgelope drie dekades gedaal het. Dieselfde tendens is onder Suid-Afrikaanse vakbonde te sien waar net enkele vakbonde groei in ledetalle toon.
Nedlac het die afgelope week ʼn verslag bekendgemaak oor die verwagte impak van die vierde nywerheidsrewolusie op werksgeleenthede in die land. Dit word voorspel dat 'n wesenlike gedeelte van bestaande werkgeleenthede met robotte en ander masjiene vervang sal word.
Nedlac se benadering is dat werkers self ook 'n verantwoordelikheid het om aan te pas by die veranderende wêreld. Die toekoms is daarvolgens in die voortdurende vernuwing van vaardighede en in entrepreneurskap. Niks hiervan hou sonder meer iets goeds in vir vakbonde se voortbestaan nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.