Zimbabwe: Hoofman veg vir wit egpaar en die ‘heilige berg’

Grondvergrype

Zimbabwe: Hoofman veg vir wit egpaar en die ‘heilige berg’

Grondgrype in Zimbabwe is nie iets van die verlede nie. Die onsekerheid bly voortbestaan vir die paar honderd wit boere wat oorbly. In een van die nuutste gevalle is ʼn familie wat langer as 25 jaar ʼn produktiewe plaas en lodge bedryf het, op die punt om hul grond te verloor. ʼn Man wat vroeër vir hulle gewerk het, wil die lodge hê en hulle moet voert, skryf PETA THORNYCROFT.


'n HOOFMAN - die afstammeling van Zoeloe-krygers wat groot stukke grond verower het voor die koms van Britse setlaars - is briesend dat ʼn wit egpaar wat na “sy heilige berg omsien” van hul grond in Zimbabwe afgeskop word.
Hoofman Felix Nhlanhlayamangwe Ndiweni is die hoof van die grootste kommunalestamgebied in Zimbabwe.
Carol en Brian Davies se grond word afgeneem as deel van die omstrede grondhervorming in Zimbabwe wat bykans twee dekades gelede begin het.
Deur die jare is 90% van die land se wit boere van hul grond afgesit, en dit het die ekonomie - wat so afhanklik van landbou is - in duie laat stort.
Heilige heuwel
Carol Davies se oupa het die grond rondom N’tabazinuna, die “heilige heuwel” met ʼn plat kruin sowat 20 km van die stad Bulawayo, gekoop en bewerk.
Sy het op die grond grootgeword waar haar familie die produktiefste plaas in die gebied geskep het. Hulle het duisende varke na Suid-Afrika uitgevoer. Sy en haar man het op die plaas aangebly, dit bewerk en hul twee seuns daar grootgemaak.Die familie sê dit was nog altyd vir hulle belangrik om na die heuwel om te sien. En meer as 25 jaar gelede het hulle ʼn lodge daarop gebou en ʼn safari-onderneming begin bedryf: troppe kameelperde, sebras en ander wild het gedy in die bosse vol manjifieke akasias en ander inheemse bome.
Geestelike tuiste
Volgens plaaslike inwoners word die familie as bewaarders van die “geestelike tuiste” van hoofman Ndiweni en sy mense beskou. Hulle voorvaders, Zoeloes van KwaZulu-Natal, het koning Mzilikazi in die middel-1800’s gevolg en hul pad noord oopgeveg. Eindelik het hulle gevestig in wat nou bekend staan as  Matabeleland  – ʼn gebied waar die mense oor die algemeen nie die heersende Zanu-PF ondersteun nie.
Die voormalige president, Robert Mugabe (van Zanu-PF), het sy eerste politieke neerlaag gely toe die nuwe opposisieparty, die Movement for Democratic Change (MDC), hom in 2000 in ʼn referendum oor ʼn nuwe grondwet geklop het.
Dit is tóé dat hy ingestem het dat sy ondersteuners grond in wit mense se besit moes afneem. Dit het die pragtige plaas van 5 000 hektaar ingesluit wat oorspronklik deur Jack Parsons, Carol Davies se oupa, ontwikkel is.
Die grond wat hulle eens so produktief benut het, is in die verloop van ʼn paar jaar onderverdeel en aan sowat 20 van Mugabe se ondersteuners oorhandig. Van hulle het ook grond onderverhuur.
Die bome is afgekap en die wild opgeëet. Maar Carol en Brian Davies het op ʼn klein deel van die grond agtergebly en dit aan die gang probeer hou.
Nou wil Floyd Ambrose, ʼn man van veelrassige afkoms van Bulawayo wat goed aan Carol en Brian bekend is, die lodge hê.
Hy het jare gelede vir die Davies-familie gewerk nadat die plaas beset is en dit ondergegaan het. Hulle het hom toegelaat om die lodge te gebruik in die hoop dat hy toeriste sou lok, maar dit het ook nie gewerk nie. Ambrose het die lodge in ʼn haglike toestand, vervuil van rotte, agtergelaat.
Die Davies-egpaar het teruggetrek na die lodge en dit begin opknap en skoonmaak. Hulle het veral die laaste tyd gehoop dat die toeriste sou kom. Nou sê Ambrose, wat werkloos is en in Bulawayo woon, hy wil die lodge hê. Boonop het hy, met die  steun en dokumentasie van die plaaslike departement van grondsake - die Davies-egpaar opdrag gegee om van die berg af – en uit die lodge – te skoert.
‘Wie soek jy?’
'n Geskokte en verbysterde Carol en Brian is onlangs na die hoër hof in Bulawayo om hul uitsetting te probeer keer.
Toe Ambrose om kommentaar genader is, het hy gesê: “Wie soek jy? Ek weet nie waarvan jy praat nie. Die howe sal hieroor besluit.”
Die meeste wit boere wat van hul grond afgesit is, kon nie die howe oortuig dat hulle op hul grond moet bly nie. Maar die Davies-egpaar sê hulle moet vasbyt en bly hoop dat geregtigheid sal geskied. Hulle wil nie praat oor presies wat hul verliese is voordat die hof uitspraak gelewer het nie.
‘Familie is gekies’
Ndiweni sê hy is vasbeslote dat die Daviese moet bly. “Die rede hoekom ek hulle daar wil hê, is omdat hierdie familie dekades gelede gekies is om bewaarders van hierdie heilige berg te wees (ʼn massaslagting van koning Mzilikazi se volgelinge het op dié heuwel plaasgevind), en hulle het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en die berg vir ons mense heilig gehou,” verduidelik Ndiweni.
“Ek bou net voort op die wense van die opperhoof wat in 2010 ná 71 jaar aan die bewind dood is. Ons erfenis kom van lank gelede en ons tradisionele wense kan nie geïgnoreer word nie.”
Volgens hom is die afsetting van wit boere in Zimbabwe  ʼn “skreiende skande en ʼn tragedie, en as ʼn mens na die groter prentjie kyk, het ons plaaslike inwoners niks bereik met wat gebeur het nie”. Sowat 4 000 wit boere is van hul grond af gesit.
Ndiweni het langer as 20 jaar in Brittanje gewoon nadat hy uit die skool is en het met die Daviese vriende geword.
Hulle wil nie oor hul toekoms praat voordat die hof se beslissing bekend is nie. Hulle werk albei voltyds en het die verbeteringe aan die eiendom uit hul verdienste gefinansier.
Hulle het gesê Ndiweni het hulle vroeër die week besoek. “Zimbabwe is ons tuiste. Ons wil nooit weggaan nie. Ons het nie ander paspoorte nie,” het mev. Davies gesê.
Hul prokureur, David Coltart, voormalige minister van onderwys in Zimbabwe se eens inklusiewe regering en 'n toegewyde menseregte-aktivis, sê die afsetting van die Daviese is “belaglik”.
Hy het gesê pres. Emmerson Mnangagwa, wat Mugabe sowat 18 maande gelede in ʼn coup d’état ontsetel het, het belowe dat die era van grondgrype verby was. “Hierdie is nou ʼn toeristegerief, naby Bulawayo se lughawe, en nie meer ʼn plaas nie,” sê Coltart.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.