Ontken die gif, en Mad Max wag op ons

DROË KRUIT WAG OP DIE VONK

Ontken die gif, en Mad Max wag op ons

Tekens dat die Arabiese Lente van 2010 'n oplewing beleef, laat Suid-Afrikaners wonder of 'n era van vernietiging ook op hierdie land wag, skryf ANTHONI VAN NIEUWKERK.


WAT is die kans dat 'n Arabiese Lente binnekort hier by ons uitslaan – 'n onstuitbare “Brand die land”-beweging wat die demokratiese orde ná 1994 omkeer, van die gematigde regering ontslae raak en 'n era van vernietiging inlui? Is 'n apokaliptiese Mad Max ons voorland?
Die Arabiese Lente verwys na 'n reeks anti-regeringsbetogings en gewapende rebellies wat einde 2010 in Tunisië begin en deur die Midde-Ooste en Noord-Afrika versprei het. Die proses is veroorsaak deur die onvermoë van onderdrukkende regerings om powere lewenstandaarde te verbeter. Dis versnel deur omvangryke dekking in sosiale media wat die indruk geskep het van suksesvolle revolusies wat as voorbeelde elders kon dien. 
Die maatskaplike revolusie in Tunisië het byklank gevind by die burgers van Libië, Egipte, Sirië en Bahrein. Sommige regerings is omvergewerp en elders het grootskaalse betogings en geweld uitgebreek as uitbeelding van burgerlike misnoeë. Mindere straatbetogings het in Marokko, Irak, Algerië en elders uitgebreek.
Die vlaag van opstand en geweld het teen 2012 begin bedaar nadat owerhede en hul ondersteunersgroepe stelselmatig en gewelddadig teen betogers begin optree het. Dit het op sy beurt verdere geweld ontketen: bloedige burgeroorloë, aktief ondersteun vanuit die buiteland, in Sirië, Irak, Jemen en Libië, asook die krisis en staatsgreep in Egipte.
Magstryd ná die revolusie
Die nadraai van die Arabiese Lente is 'n voortdurende magstryd. Terwyl verskeie diktators (en hul regimes) die aftog geblaas het – dink maar aan Hosni Moebarak, Saddam Hoesein, Moeammar Ghaddafi en Ben Ali – woed 'n magstryd tussen godsdiensleiers en ondersteuners van demokrasie in vele Islam-dominante state.
Die hoop dat populêre sosiale bewegings korrupsie sou beëindig, politieke deelname verbreed en ekonomiese ongelykheid aanspreek, het soos water in die woestyn verdamp namate teenrevolusionêre magte vanuit die res van die Midde-Ooste en die buiteland die oorhand geneem het. Hierbenewens het die reeks burgeroorloë enige hoop op vreedsame oorgang na demokrasie op tragiese wyse in die kiem gesmoor. Slegs die opstand in Tunisië het tot 'n oorgang na 'n demokrasie gelei.
Dis 'n treurige verhaal van naïewe hoop met tragiese gevolge. Uit die Arabiese Lente het gegroei terreurgroepe, 'n siniese wapenhandel gedryf deur Westerse demokrasieë, onstabiliteit en 'n migrasiegolf, insluitende gewetenlose mensehandel, en gretige olievergrype van buite.
Die misdaadonderwêreld vind baat by die chaos, asook sommige wêreldmoondhede. Dit is die wrange vrugte van misplaaste geloof in maatskaplike revolusie.
Onlangs is die stomme Abdelaziz Bouteflika van Algerië en die gehate Omar al-Basjir van Soedan as gevolg van maatskaplike opstand in die pad gesteek, en die debat oor die Arabiese Lente het weer opgevlam.
In Soedan veral sien ons die tekens van 'n optimistiese burgerlike samelewing wat die moed het om die regerende militêre raad uit te daag – hulle wat eintlik van Al-Basjir onslae geraak het nadat sy rol uitgespeel het. So min of meer soos Mugabe wat deur sy generaals uit die pad gevee is.
Maar verdere geweld het uitgebreek in die ineengestorte Libië, aangepor deur 'n Amerikaans-ondersteunde huursoldaat. Is dit enigsins moontlik dat die goeie mense van Soedan, Algerië en elders 'n tweede kans gegun word om die vreugde van stabiliteit en demokrasie te smaak?
Arabiese winter
Dié kans is skraal; trouens, die moontlikhede vir die uitbreek van 'n Arabiese winter lyk sterk. Die hoofstroom van akademiese literatuur oor maatskaplike prosesse van oorgang van 'n outoritêre verlede na 'n demokratiese toekoms sê min of meer dieselfde: Dis 'n lang pad om te loop, en hang af van die politieke kultuur onder mense wat verkieslik vergewensgesind en inklusief van aard is.
Dié pad is afhanklik van 'n gunstige ekonomiese klimaat, asook werkbare staatsinstellings. 'n Belangrike faktor is die mate waarin internasionale belange bereid is om saam te werk ten gunste van 'n onderhandelde proses eerder as om eie belang na te streef. Dalk is 'n laaste bestanddeel die nodigheid aan 'n leiersfiguur wat oor skeidslyne heen 'n nasie (en wêreld) kan oorreed om die pad saam te loop, soos Nelson Mandela se ongeëwenaarde nalatenskap. 
Die vraag is of die Algeryne, Libiërs, Soedannese en dalk ook die Suid-Afrikaners die pad verstaan wat voorlê?
Klip eerder as stembrief
Verskeie ontledings dui op wydverspreide protesaksie onder Suid-Afrikaners wat hulle aan die onderkant van die sosio-ekonomiese spektrum bevind. Hierdie manier om met politici en die staat te kommunikeer (gebruik die klip eerder as die stembrief) word toenemend gewelddadig.
Trouens, dit blyk dat wetteloosheid onder landsburgers asook kriminele uitbuiting met rasse skrede groei. Die statistiek ondersteun dié indrukke.
Navorsing deur Municipal IQ identifiseer drie belangrike tendense.
Eerstens, 'n verwantskap tussen diensleweringsbetogings, ekonomiese resessie en werkloosheid. Tweedens, die meeste betogings vind plaas in die informele nedersettings wat deel vorm van die land se groot metro’s (Johannesburg, Ekurhuleni en Kaapstad). En derdens, metro’s gaan gebuk aan prosesse van verstedeliking en gevolglik is daar 'n verhouding tussen hoë vlakke van migrasie en diensleweringsbetogings.
Met ander woorde, 'n groeiende skare van ongeskoolde, werklose migrante (vanuit die platteland, ander provinsies en die buiteland) leef in honderde informele nedersettings op die buitewyke van die metro’s, met min of geen toegang nie tot ekonomiese geleenthede, behuising, of dienste.
Oxfam bereken die getal Suid-Afrikaners wat in uiterse armoede leef op 13 miljoen.  Gemarginaliseerd en uitgesluit en afhanklik van die staat se welsyn – op sigself 'n krimpende bron van stabiliteit soos wat die ekonomie verskraal en die prooi word van korrupte amptenare wat jag maak op enige vorm van “addisionele inkomste”. Die skandaalbevlekte Bathabile Dlamini, 'n Zuma-vertroueling, het die poster girl vir hierdie euwel geword.
Apokaliptiese toekoms 
So, wat beteken dit? Is hierdie die bron vanwaar 'n sosiale beweging uitstyg om die mag van die onderdrukkende diktatuur uit te daag? Is dit 'n beweging wat daarna streef om die politiek te demokratiseer, inklusiwiteit te bevorder en die sosio-ekonomiese euwels (armoede, werkloosheid, geweld) die hoof te bied?
Of moet ons 'n gedragspatroon raaksien wat op die teenoorgestelde dui: Mense wat niks het om voor te leef nie, is reg (en word uitgenooi) om te vat van dié wat het – ongeag die gevolge?  'n Soort apokaliptiese toekoms, dus?
Die beste antwoord op die vraag of Suid-Afrika op pad is na 'n Arabiese Lente, is om te verwys na die bekende relatiewe deprivasie-tese – die idee dat mense ontneem voel van die gehalte van lewe, relatief tot ander in die samelewing, en dan tot aksie oorgaan, met konflik as gevolg. Sosio-ekonomiese ongelykheid in die samelewing, visueel treffend te sien in Alexandra en Sandton – is die euwel wat die land kan kelder as die demokrasie nie werk maak daarvan nie. 
Die uitdaging is nie 'n onderdrukkende regime nie, maar eerder die onvermoë van 'n verswakte regering om die giftige mengsel van armoede, ongelykheid en 'n wankelrige ekonomie te hanteer. Walms vanuit dié mengsel ruik na rassehaat, vreemdelingehaat, geslagsgeweld, populisme, grootskaalse misdaad en korrupsie.
Soos die voorvaders sou sê: Droë kruit wat wag vir die vonk. Mad Max IV is ons voorland as die politieke elite wat ons demokrasie en administrasie moet vorm en bestuur, die gif bly ontken.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.