Facebook: ons het die deur vir die wolf oopgemaak

VLEISBOEK

Facebook: ons het die deur vir die wolf oopgemaak

Al daardie internetdienste waarvoor ons so lief is, is nie werklik gratis nie. Ons betaal daarvoor deur toestemming te gee dat inligting oor onsself gebruik mag word, en dáárin skuil enorme gevare, waarsku JOHAN PIENAAR.


OP 3 April het UpGuard, 'n Kaliforniese kubersekuriteitsmaatskappy, bekend gemaak dat hy die persoonlike inligting van 540 miljoen Facebook-gebruikers in die openbare domein gevind het. Gebruikers se wagwoorde, name, kommentaar, belangstellings en nog meer was beskikbaar vir enige persoon wat dié skatkis vol inligting gevind het in Cultura Colectiva se Amazon Cloud-stoorspasie.
Dit volg slegs weke ná Facebook se erkenning dat sy gebruikers se gebruikersname en wagwoorde intern sigbaar was vir meer as 22 000 van sy werknemers, en die openbaarmaking in September verlede jaar van 'n fout in die Facebook-kode wat daartoe gelei het dat die sekuriteitstekens van 30 miljoen gebruikers met kwaadwillige derde partye gedeel is.
Sekerheidsprobleme is deel van enige internetplatform. Die meeste van dié probleme is nie weens foute aan die ontwikkelaars se kant nie, maar die resultaat van 'n toegewing aan swakker sekuriteit ter wille van gebruikers se gerief. Tog is die omvang en aard van dié soort probleme by Facebook verstommend en geweldig kommerwekkend. Dit dui daarop dat die oorsprong van die probleme  diep in Facebook se DNS opgesluit is en nie maklik uitgeskakel sal kan word nie.
Aan die begin was daar die internet. En dit was woes en leeg. . .
Mark Zuckerberg het nog altyd aangevoer dat hy Facebook begin het om die mense van die wêreld met mekaar te verbind. Dalk ís dit so, maar ’n gesprek van hom met 'n vriend in sy tweede jaar op universiteit wat in 2010 aan Silicon Valley Insider laat uitlek is, skets 'n ander prentjie, een waar uitbuiting van die data die eintlike dryfkrag agter Facebook is.
Zuckerberg se standpunte in dié gesprek is minstens ver verwyder van die apologetiese, skaamjammer posisie wat hy en Facebook se uitvoerende hoof, Sheryl Sandberg, die afgelope tyd inneem terwyl hulle van die een sekuriteit- en privaatheidsskandaal na die ander steier. Min waarnemers vind die protestasies van onkunde en beloftes om beter te doen oortuigend, juis oor Zuckerberg en Facebook se geskiedenis.
In 2004 is Zuckerberg byna uit Harvard geskors oor die misbruik van ander mense se persoonlike data. In dieselfde tyd het hy data van toe nog thefacebook.com gebruik om toegang tot 'n teenstander se e-posadres te kry.
Facebook self gebruik reeds sedert 2014 instrumente om Zuckerberg en ander topbestuurslede se eie privaatheid te bestuur, maar dié hulpmiddels is ten spyte van beloftes ná die TechCrunch-openbaring 'n jaar later steeds nie vir Facebook se gewone gebruikers beskikbaar nie.
Dít alles terwyl Zuckerberg sy eie privaatheid jaloers bewaak het. Daar is geen twyfel nie dat Zuckerberg en Facebook die konsep van privaatheid deeglik verstaan. So ernstig is Facebook oor sy eie privaatheid dat die maatskappy nou toetree tot 'n hofgeding waarin die Amerikaanse Electronic Privacy Information Center (Epic) vra dat Facebook se privaatheidsverslae aan die Federal Trade Commission (FTC) blootgelê word.
Zuckerberg het vroeg reeds verstaan dat daar inherente gevare is aan die versameling van soveel persoonlike inligting in 'n enkele dataspilpunt; en enorme voordele en mag inhou vir diegene wat daardie data beheer en besit.
Verskoon dus maar diegene wat skepties is oor Zuckerberg se lang aankondiging in Maart oor Facebook se sogenaamde “swaai na privaatheid”.
Facebook is in sy wese 'n maatskappy wat jou persoonlike data met ander deel. Dit was van die begin af so en nog niks het verander nie, en sal waarskynlik ook nie in die toekoms verander nie.
Selfs Zuckerberg het in 2004 sy verbasing uitgespreek oor hoe maklik mense bereid was om hul data sonder voorbehoud of kommer met Facebook te deel. Maar deel hét hulle, en in so 'n mate dat Facebook sentraal staan tot hul lewens.
Die relatief nuwe verskynsel van digitale verbruikers is met Facebook aan die voorpunt omvorm tot een van digitale burgers. Binne dié nuwe digitale identiteit het die onderskeid tussen verbruiker en verskaffer vervaag tot ʼn soort digitale burgerskap waar die individu albei rolle gelyktydig vervul, met geen duidelike grense tussen die twee oënskynlike uiterstes nie.
Dalk was ons almal bloot, in die woorde van Zuckerberg, “dumb fucks”. Onvoorbereide “dumb fucks”.
Realisties gesproke
Om Facebook te bedryf, met sy sowat 2.38 biljoen maandelikse aktiewe gebruikers, kos baie geld.
In Desember 2016 het dié internetreus sowat 111 duisend gigagrepe se data in sy datasentrums gestoor. Om hiervoor te betaal, in besigheid te bly én beleggers tevrede te hou, moes Facebook sy grootste bate – jou persoonlike data – monetiseer.
Mense se persoonlike data is nie op sigself noodwendig veel werd nie. Wat wél iets werd is, is die gepaardgaande metadata. Metadata het te doen met die patrone ágter die data.
Dit beteken byvoorbeeld dat my voorliefde vir Neil Young se musiek iets werd is as dit saam met die data van ander aanhangers beskou word. Nie net vir diegene wat sy musiek wil verkoop nie, maar ook vir dié wat afleidings daaruit kan maak oor die voorkeure van sy aanhangers in die algemeen. Selfs oor iets soos politieke voorkeure.
Selfs sonder enige kennis van algoritmes sou lesers hiervan byvoorbeeld maklik riglyne kon opstel oor watter aanhangers van watter musiek in Suid-Afrika vatbaar sou wees vir etnies-rassistiese boodskappe. Dié soort ontleding van inligting was die wese van die Cambridge Analytica-skandaal.
Dis is ook hoe Facebook Ads jou persoonlike data teiken. Tesame met soortgelyke programme van onder meer Google het hulle 'n profiel van individuele verbruikers opgebou deur afleidings te maak oor hul voorkeure, onder meer deur die ontleding van hul interaksie met die platform en wyer internetgebruik.
Hierna is derde partye toegang gegee tot dié profiel ten einde dit vir finansiële, politieke en ander motiewe uit te buit. Ná meer as 'n dekade se verfyning en verstellings deur van die slimste mense op die planeet is dié elektroniese blik op die individu verstommend akkuraat.
Nóg Google, nóg Facebook sou kon voortbestaan het as hulle nie die data van hul gebruikers op dié manier verwerk en verkoop het nie. En hoe akkurater die blik word, hoe aanlokliker word die gebruik van platforms wat dan die blik nóg akkurater maak, en so aan ad infinitum.
Gebruikers se eksplisiete ooreenkoms met Facebook en ander sosialemedia-platforms en soekenjins is dat dit gratis is. Die implisiete ooreenkoms, daarenteen, is weggesteek in daardie lang voorwaardes, en kom daarop neer dat jy wel betaal, weliswaar deur hulle toegang tot jou persoonlike data te gee.
Kontraktueel gesproke is dié ondernemings waarskynlik heeltemal geregtig daarop om jou data te gebruik, te manipuleer en te verkoop, selfs nadat jy die platform verlaat het.
Eendag lank, lank gelede . . .
Vroeër was die internet 'n plek waar verskillende webwerwe en webtoepassings onafhanklik van mekaar bestaan het. Elke webwerfeienaar het verantwoordelikheid geneem vir die aantekenbehoeftes van sy gebruikers.
Teen 2010 het alles verander. Facebook, Twitter, Google en ander verskaffers het besef dat die eksponensiële groei van individue se gebruikersname en wagwoorde  ʼn praktiese probleem begin word het.
Met die skep van enkel-aantekenportale het hulle dié probleem die hoof probeer bied, en Facebook met sy enorme gebruikersgetalle het 'n vername rolspeler in dié ontluikende mark geword. Die probleem is dat Facebook nie bloot  ʼn neutrale maatskappy is wat net intekendienste aan derde partye bied nie.
'n Mens sou wou hê dat 'n intekenportaal minstens neutraal is in terme van politieke en maatskaplike opinies. Facebook sit egter op twee stoele: die een as ʼn sosialemedia-platform waarop gebruikers se gedrag beoordeel word, die ander as  'n intekenportaal vir ander dienste wat apolities kan wees.
Die probleem met die twee stoele is dat jou politieke uitsprake daartoe kan lei dat Facebook jou van sy platform sal verwyder. Nie net diegene wat rassisties, seksisties en dies meer is nie, maar dikwels ook hulle wat daarteen optree. Dit beteken dat die gebruik van Facebook as intekenportaal 'n onaanvaarbare risiko skep.
Selfs as jy Facebook ten volle met jou privaatheid en data vertrou, moet jy verstaan dat jy nooit werklik die platform sal kan verlaat nie omdat so baie van jou ander internetdienste met Facebook geïntegreer is.
Dit is in dié ruimte waar Facebook homself en by verlenging sy gebruikers aan die grootste risiko’s blootstel. Facebook het selfs verder gegaan as ander intekenportale en as deel van sy diens aan derdeparty-ontwikkelaars die persoonlike data van Facebook-gebruikers beskikbaar gestel.
Jou persoonlike data is nou nie meer beskikbaar aan derde partye net as sogenaamde metadata of as intekendata nie, maar ook as individuele data. En jy het waarskynlik daartoe ingestem. Die data wat jy aan Facebook toevertrou het, is dus nou in die hande van derde partye van wie jy niks of min weet nie.
Die Cambridge Analytica-skandaal is in wese verskeie probleme in een. Die bekendste hiervan, die inmenging met die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016, is bloot 'n simptoom van ander, dieperliggende probleme.
Cambridge Analytica het ongetwyfeld hul gebruiksvoorwaardes oortree met die data wat hulle van Facebook geoes het, maar die groter probleem is dat Facebook net lukraak aandag gee aan wie dit is met wie hulle jou data deel. Daar is ook geen oorsig van wat derde partye met jou data doen of hoe dit bewaar word nie.
Cambridge Analytica het die data wat hulle geoes het gebruik om vas te stel watter gebruikers ontvanklik sou wees vir regse, rasgegronde, etno-nasionalistiese boodskappe. Facebook het óf doelbewus óf by versuim aan hulle die instrumente gegee om dit te doen. Terselfdertyd het hulle die instrumente jaloers vir hulself gehou wat jy sou kon gebruik het om jouself hierteen te beskerm.
Dít alles is nie eens die slegste nuus nie. Cambridge Analytica bestaan nie meer nie en die Cultura Colectiva-toepassing ook nie. Die data bestaan wel nog. Dis nie meer in die openbare oog nie en dit mag nie bygewerk word nie, maar dit bly voortbestaan en word steeds uitgebuit.
Nou wat nou?
Facebook is deesdae ook Instagram, Facebook Messenger en WhatsApp. Laasgenoemde het reeds met advertensies begin. Die realiteit dat dit geld kos om dié dienste gratis aan die publiek beskikbaar te stel, het WhatsApp nou ook ingehaal.
En as jy dink Facebook sal nie namens adverteerders na jou private boodskappe gaan kyk nie, is jy naïef. As jy dink hulle sal nooit jou private boodskappe met derde partye deel nie, is jy ewe naïef. As jy wag vir reguleerders om jou hierteen te beskerm, moet jy maar ʼn gemaklike stoel begin soek.
Facebook, Instagram en WhatsApp kan nie voortbestaan sonder om jou data uit te buit nie. Hulle is uiteindelik besighede wie se eerste verpligting is om winste aan hul aandeelhouers te lewer.
Hulle sal die data tot hul beskikking so veel moontlik uitbuit om dit te doen. Dit gaan nie verander nie en die slakkepas van reguleerders sal ook nie binnekort die innoveerders inperk nie.
Individue sal eenvoudig groter verantwoordelikheid moet neem vir hoe en waar hul data op die internet reis. Jy behoort dadelik op te hou om Facebook as 'n intekenportaal te gebruik. Ook op webwerwe waar jy dit reeds doen. Ja, dit kan pynlik wees. Jy behoort ten minste jou Facebook-wagwoord na 'n unieke, komplekse wagwoord te verander.
Dit is moeilik om te sien hoe die soort dienste wat sosialemedia-maatskappye en soekenjins lewer, en wat so deel van ons digitale burgerskap is, sal kan voortbestaan as ons persoonlike data op selfs net aanvaarbare vlakke beskerm word. Dít is die uitdaging wat die internet van die toekoms gaan vorm.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.