Kaapse treine: Dis spoorlog! So waarom rol geen koppe nie?

SPOORLOOS

Kaapse treine: Dis spoorlog! So waarom rol geen koppe nie?

Sedert Oktober 2015 is 56 treinwaens met ’n gesamentlike waarde van sowat R636 miljoen in groter Kaapstad uitgebrand. SONJA CARSTENS, adjunk-hoofsekretaris van die United National Transport Union, werp lig op moontlike motiewe vir die aanvalle.



OP 22 April is ’n hawelose man van Khayelitsha, Thobela Xoseni (30), in hegtenis geneem 'n dag nadat treinwaens nogmaals op Kaapstad se stasie aan die brand gesteek is. Hy is op albei dae deur Ernest Hendriks, Metrorail se streekbestuurder vir veiligheid in die Wes-Kaap, op sekuriteitskameras gewaar. Hendriks het hom persoonlik gaan arresteer.
Met Xoseni se eerste hofverskyning 'n dag later is hy vir psigiatriese waarneming na die distriksgeneesheer verwys. 'n Week later is Hendriks en twee veiligheidswagte met betaling geskors hangende 'n ondersoek na hul beweerde onvermoë om die brandstigting van die laaste twee treinwaens, waartydens daar na raming R33 miljoen se skade aangerig is, te voorkom.
Terselfdertyd is die private maatskappy wat veiligheidsdienste op dié platforms verskaf, gevra om redes te gee waarom die Spoorpassasiersagentskap van Suid-Afrika (Prasa) nie sy kontrak summier moet opskort nie.
Khanyisile Kweyama, voorsitter van Prasa se raad, sê die raad is moeg daarvoor dat niemand vir die brandstigting verantwoordelik gehou word nie. Dit het tyd geword dat koppe rol.
UNTU meen dis hoogs onwaarskynlik dat Xoseni vir die uitbrand van al 56 treinwaens verantwoordelik was.
Een moontlike verklaring is gegriefde militêre veterane wat in Prasa se diens is of was, en aan wie poste en bevorderings beloof is deur van die vorige bestuurders wat intussen die agentskap se diens verlaat het. Vanweë onder meer die hoë personeelomset in Prasa se topstruktuur het daar dadels van dié beloftes gekom.
Die laaste paar jaar het daar glo 'n kultuur in Prasa ontstaan om MK-kaders en “vriende se vriende” sonder enige ervaring in dié poste aan te stel.
Prasa het sowat 900 veiligheidsbeamptes in die Wes-Kaap wat met knuppels toegerus word om pendelaars op platforms te beveilig en die infrastruktuur te bewaak.
UNTU verneem daar is ook pistole wat in kluise bewaar word vir sowat 50 van dié beamptes, maar dit kan nie aan hulle uitgereik word nie omdat hulle nie hul vuurwapenbevoegdheidstoetse ingevolge die bepalings van die Wet op Vuurwapenbeheer geslaag het nie.
Treine kelder taxibase
Nog ’n moontlikheid is ’n “derde mag” van taxibase en busmaatskappye wat agter die treinbrande sit om te sorg dat treindienste tot stilstand gedwing word.
Steve Harris, hoofsekretaris van UNTU, het aan die staande komitee van die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) verduidelik dat taxibase en busmaatskappye ekstra vervoermiddels aangekoop het nadat UNTU-lede die treindienste op die sentrale lyn tussen Kaapstad en Khayelitsha in Januarie verlede jaar vir drie maande tot stilstand gedwing het.
Een van Prasa se vorige waarnemende uitvoerende groepbestuurders, Cromet Molepo, het Prasa se Wes-Kaapse streekhoof, Richard Walker, gedwing om die beloftes te implementeer wat hy in 2016 aan UNTU gemaak het oor verskerpte veiligheidsmaatsreël op dié lyn met sy 15 treinstasies.
Dit het ingesluit die inspan van hommeltuie en die aanstelling van gewapende veiligheidswagte om treinbemanningslede op dié roete te bewaak.
Omdat treine landwyd die goedkoopste en veiligste vorm van openbare vervoer is, het pendelaars opgehou om van taxi’s en busse gebruik te maak toe die treindienste hervat het.
Hierop was daar 'n drastiese toename in die getal voorvalle van brandstigting. Dit het gestop met die ontplooiing van die Stad van Kaapstad se 100 spoorwetstoepassers wat moet help om Prasa se infrastruktuur en die sowat 600,000 pendelaars wat dié diens gebruik, te beveilig, het Harris gesê.
Tot 21 April is daar geglo die brande was iets van die verlede, al is niemand daarvoor in hegtenis geneem nie. 
’n Staking dreig
Intussen het UNTU, die vakbond wat die meerderheid van Prasa se personeel verteenwoordig, aan Nedlac se staande komitee gesê die polisie het die stryd verloor om treinverwante misdaad te bekamp, te voorkom en te ondersoek.
Die polisie vorder nie op grondvlak met enige van die omvattende planne wat hulle kwansuis in werking het nie. Die polisie het ook nie die nodige mannekrag om wetstoepassing of skarebeheer by treinstasies te doen nie. “Dit is oorlog op ons land se spoorlyne,” is Harris se waarskuwing. 
Die Federasie van Unies van Suid-Afrika (Fedusa), aan wie UNTU geaffilieer is, het ’n seksie 77-aansoek ingevolge die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge namens die vakbond na Nedlac bring.
In dié aansoek word Nedlac gevra om UNTU en die res van Fedusa se geaffilieerde vakbonde toe te laat om te staak om die regering te dwing om werk te maak van die chaos waarin Prasa hom bevind. Nedlac se staande komitee sal op 9 Mei uitsluitsel oor dié aansoek gee.
UNTU-lede word daagliks landwyd aangeval deur woedende pendelaars wat keelvol is vir Prasa se onbetroubare diens en deur misdadigers wat dié sagte teikens uitbuit. Op stasies se platforms en wanneer treine staan en wag vir mondelinge magtigings by stukkende sinjale, loop onskuldige pendelaars net so erg deur.
UNTU eis dat pres. Cyril Ramaphosa die situasie as ’n noodtoestand verklaar sodat soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontplooi kan word om treinstasies se platforms en Prasa se infrastruktuur te beveilig.
Prasa se raad meen op sy beurt dit is ’n taak wat by die polisie hoort omdat soldate opgelei word om dood te skiet en nie om skares te beheer nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.