Tussen anargie en enorme potensiaal

ÁL MINDER JONGMENSE TREK HUL KRUISIE

Tussen anargie en enorme potensiaal

Studente is bitter negatief oor die toekoms wat op hulle en die land wag, blyk uit 'n onderhoud met 'n groep van hulle wat aan die Stellenbosch Universiteit (US) studeer. Praat hulle namens alle jong mense, wonder LESLIE VAN ROOI.



EERSTENS moet ons onsself afvra van wie ons praat as ons na die jeug verwys. Dink ons aan studente op ons universiteitskampusse? Of dink ons aan jong mense wie se kans op ʼn sterk (skool-)opvoedingsbasis en 'n vaste werk relatief skraal is?
Daar is nog vele ander moontlike groeperinge ook, elkeen met 'n ander uitkyk en huidige werklikheid. Dit is belangrik om hierdie uiteenlopende stemme te verstaan juis sodat ons onthou dat 'n “one size fits all”- benadering nie sinvol is nie.
En die verkiesing?
Hoe lyk jong mense se deelname by die stembus? Die prentjie is onrusbarend.
Van die ongeveer 9,8 miljoen Suid-Afrikaanse stemgeregtigdes wat gekies het om nié vir die komende verkiesing te registreer nie, is byna 62% tussen 18 en 29.
Die internasionale neiging is dat al hoe minder jong mense hul kruisies by die stembus gaan uitbring. Dit is nie anders in Suid-Afrika nie.
Baie jong mense dink nie hul stem tel nie, of dat hulle nie 'n verskil sal maak aan wie uiteindelik verkies word nie.
In die Suid-Afrikaanse konteks het die EFF al probeer om veral tot hierdie jong stemme te spreek, maar daar is 'n verskil tussen die deel van politieke sentiment en die uiteindelike trek van ʼn kruisie. As jong mense nie in groter getalle registreer om te kan stem nie, ontneem hulle hulself van die moontlikheid om sentiment in werklikheid te omskep.
Die manier waarop verkiesingsveldtogte gevoer word, strook ook nie met wat waarskynlik nodig is om meer jong mense na die stembus te lok nie. Dink maar aan die ooglopende verskil in kommunikasietegnieke tussen die plakkate op die lamppale en wat op sosiale media gebeur, en die moontlike effek daarvan op jong mense se skynbare apatie.
Studente se stemme
Is studente se houdings verteenwoordigend van alle jong mense in Suid-Afrika, en durf hulle namens die groter groep praat?
Suid-Afrika het ongeveer 1,1 miljoen studente op universiteit en ander hoëronderwys-instellings. Soos wat die geval ook buite die grense van die land is, word dit so dat studentestemme dalk harder gehoor word as dié van ander jong mense.
As ons die voorbeeld en impak van groot studenteproteste oor die jare neem, het dit gereeld 'n beduidende impak op politieke diskoers. Dink maar aan die #FeesMustFall-beweging in 2015 en 2016.
Tog is studentestemme maar 'n klein deeltjie van die geheel van jong mense. En waar studente heel gereeld die agentskap het om op verskeie maniere verandering teweeg te bring, kan dieselfde nie altyd van hul eweknieë in byvoorbeeld townships gesê word nie.
In die townships is harde vorme van protes en selfs anargie die beste vorm van “agentskap” – dit word aanvaar as  'n manier om gehoor te word en om verandering te bewerkstellig.
Blinker toekoms
Ons moet ook in gedagte hou dat 'n blinker toekoms op gegradueerdes wag. Nie net is hul  inkomstepotensiaal aansienlik hoër as dié van iemand met net 'n matrieksertifikaat of minder nie, maar die werkloosheidsyfer onder gegradueerdes in Suid-Afrika is in sommige gevalle selfs laer as dié in sogenaamde ontwikkelde lande.
Dit beteken nie dat gegradueerdes nié gaan sukkel om werk te kry nie, maar hul soort sukkel kan nie vergelyk word met die tekort aan werkgeleenthede van diegene sonder enige naskoolse kwalifikasie nie. Dit is daarom geen wonder nie dat bekostigbare toegang tot hoër onderwys  'n groeiende kwessie is.
Suid-Afrika het puik universiteite. Vergeleke met ander ontwikkelde en ontwikkelende lande het ons betreklik min studente, maar wat ons bied is vergelykbaar met die bestes ter wêreld, gegewe ons maatskaplik-ekonomiese konteks. Internasionale studies beaam dit jaarliks.
Daarom is dit 'n bitter pil om te sluk dat veral studente in ons land negatief oor hul toekoms kan wees. Gegewe al die geleenthede en moontlikhede is studente – en veral gegradueerdes – in 'n baie beter posisie as enige ander groep jong mense in die land.
Kortom: As studente so kla, wat moet ander jong mense sê? Selfs in die manier van kla is daar meer wat studente kan vermag as diegene wat nie hierdie platform en agentskap het nie.
Studente het die volste reg om negatief te wees oor wat veral polities aan die orde van die dag in ons land is. Maar hierdie stem mag nie verwyderd wees van dié van miljoene ander Suid-Afrikaners wat afhanklik is van die toekomsmoontlikhede wat deur ander aan hulle gebied word nie.
Hier het veral universiteite 'n groot rol om te speel.
Een van die groot uitdagings in die komende verkiesing is klaarblyklik dat geregistreerde kiesers kan besluit om nie hul kruisie te gaan trek nie. Die tyd sal leer of dit so is en indien wel, watter politieke party bevoordeel en benadeel sal word. Hopelik stem die meeste geregistreerdes wel in die komende verkiesing.
Die lae persentasie jong kiesers wat vir die verkiesing geregistreer het, dui hopelik nie op 'n gevoel van wantroue in demokratiese prosesse nie.  
Hopelik help dit almal van ons om te verstaan dat ons jong Suid-Afrikaners deel moet bly maak van besluitnemingsprosesse wat uiteindelik tot voordeel van almal is.
As ons dit nie doen nie, sal ons fyn moet probeer balanseer tussen die moontlikheid van anargie aan die een kant, en ongelooflike potensiaal aan die ander kant.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.