Ons soek nie ’n Salomo nie, Cyril, ons soek ’n Moses

VERKIESING 2019

Ons soek nie ’n Salomo nie, Cyril, ons soek ’n Moses

Die middelgrond het gehou. Dit is 'n goeie voorteken vir stabiliteit in Suid-Afrika. Nou moet Cyril ernstig sy Nuwe Daeraad-ding doen, skryf MAX DU PREEZ.



Suid-Afrika se demokrasie is weer half op koers en nou kan ons die Zuma-nagmerrie agter ons kry. Nie een van die skrik-scenario's – die ANC onder 50%, die ANC by 66%, die EFF bo 15%, die DA onder 20% – het in dié week se verkiesing waar geword nie.
Suid-Afrika het die groeiende wêreldwye tendens dat populiste met die politiek weghardloop, vrygespring.
Ons het dalk ook die eerste tekens van 'n onvermydelike heroriëntering van politieke magte gesien met die Vryheidsfront-Plus wat tienduisende stemme van die DA afgerokkel het en die EFF wat dieselfde met die ANC gedoen het. Die verdelings en verrotting in die ANC is waarskynlik onomkeerbaar en dit is moeilik om te sien dat die party in een stuk gaan bly en groei in die volgende vyf jaar.
Die Ramaphosa-deel van die ANC en die DA-hoofstroom hoort uiteindelik bymekaar as 'n sterk sosiaal-demokratiese middelparty wat waarskynlik meer as twee-derdes van die kieserskorps verteenwoordig. Die populiste in die ANC en EFF sal dan links daarvan staan en die Vryheidsfront-Plus, dalk met groeiende konserwatiewe bruin en selfs swart steun, regs daarvan.
Ek het min twyfel dat dit die persoon en leierskap van Cyril Ramaphosa is wat gesorg het dat die ANC se sterk afwaartse trajek ietwat gestuit is. Met die skryf hiervan het die party op net oor die 56% steun gestaan. Dit is aansienlik minder as die 62,15% van die algemene verkiesing van 2014, maar dit was voor die Zuma-tsunami se effek gevoel is. In die plaaslike verkiesing van 2016 het die ANC tot 53,9% gedaal en die projeksies was dat dit teen nou goed onder 50% sou wees.
Ramaphosa gaan dít op die tafel sit wanneer hy sy uitvoerende komitee die naweek of vroeg volgende week ontmoet om oor 'n kabinet te praat en sy visie vir die komende maande en jare uit te spel. As hy nie nou bereid is om sy teenstanders in die NUK vierkantig in die oë te kyk en te sê dis my way of die highway nie, gaan hulle aangaan om hom te ondermyn.
Dis nou Cyril se oomblik en hy moet dit met oorgawe aangryp en vriend en vyand inspireer om saam met hom die pad van herstel en vernuwing te stap. Hy durf nie die kans verspeel nie.
Die ontledings wat ek Donderdagnag gelees het, het groot gewag gemaak van die EFF se groei en die DA se agteruitgang. Dis 'n vlak lees van die situasie. Die EFF self het vas geglo hulle sou minstens 12% gekry het, en die meningspeilings van Ipsos het hulle selfs in 'n stadium op 15% geplaas.
Alles was in die EFF se guns om naby aan 'n vyfde van die nasionale steun te kom: die populistiese aard van ons nuwe politiek, die oordrewe mediadekking wat Julius Malema en Kie. geniet het, die manier waarop hulle sosiale media oordonder het, en die verswakking in die ekonomie en styging in werkloosheid wat miljoene mense desperaat maak. En tog het hulle met net 2% of so gestyg van die 8% wat hulle in 2016 op hulle kon trek.
Twee-derdes vir onteiening
Malema en sy manne gaan sekerlik breëbors rondstap en hul gewig nog meer as tevore probeer rondgooi met hul groter kontingent in die parlement, maar dalk gaan ons oor 'n jaar of twee, drie terugkyk en sê 8 Mei 2019 was vir hulle eintlik 'n keerpunt, en nie 'n goeie een nie. Dalk het die EFF nou min of meer 'n plafon in steun bereik.
Wat nie duidelik was met die skrywe hiervan nie, is of die ANC en die EFF saam meer as 66,6% van die steun getrek het – die twee-derdes wat nodig is om die Grondwet te verander om grondonteiening sonder vergoeding in te skryf.
Die DA het wel swakker as die 26,9% van 2016 gevaar, maar dit was 'n plaaslike verkiesing. Daar is 'n redelike vermoede dat hulle goeie rekord met plaaslike regering mense wat andersins nie juis DA-erig voel nie, toe vir hulle laat stem het. Die party is vandag min of meer waar hulle in 2014 was en die voorspellings dat hulle dit nie in die Wes-Kaap sou maak nie, het toe nie waar geword nie.
'n Mens kan die argument maak dat die tweespalt in die ANC en die skandes van staatskaping die beste teelaarde vir die DA was om deur die 33% plafon te breek. Dit is so.
DA-projek die moeilikste
Maar dit bly waar dat die DA se politieke projek die moeilikste van alle partye is: om wit en swart en bruin in een gematigde, nie-populistiese party saam te snoer. Dan moet ons inreken dat as dit nie was vir die stemme wat aan die VF+ en aan Patricia de Lille se Good-party afgestaan is nie, die party wel goed meer as 25% kon getrek het.
Die feit bly staan dat die DA onder swart kiesers gegroei het, want dit was nie swart kiesers wat hulle afgestaan het nie.
Maar daar is geen twyfel nie dat die DA dringend en diep introspeksie sal moet doen oor wie en wat die party nou eintlik wil wees, wie dit moet lei en hoe om die nuwe identiteit te kommunikeer. Hulle kan nie bekostig om met die komende plaaslike verkiesing swak groei te wys as hulle in die toekoms hulle lywe regering-in-afwagting wil hou nie.
VF+ se groei gesondDit is myns insiens 'n gesonde verwikkeling dat die VF+ gegroei het. Die nuwe kiesers wat hulle van die DA af getrek het, het nooit werklik by die DA gehoort nie. Die VF+ speel meestal 'n positiewe rol in die parlement.Dalk raak die party in die jare wat kom ook minder spierwit soos konserwatiewes uit ander minderhede hulle ook aantreklik begin vind.
Die kiesers van Suid-Afrika (en die media) het hopelik uit die ervaring van dié week se verkiesing geleer om hulle nie te veel aan die randfigure te steur wat die grootste lawaai maak nie. Met die skryf hiervan het dit nie gelyk asof Black First Land First 'n enkele setel sou wen nie, so ook nie Hlaudi Motsoeneng nie, en dat die African Transformation Movement sowat 'n halfpersent steun kon trek. En die DA is steeds twee keer so groot as die EFF.Maar ons almal se oë moet nou na die president toe draai. Hy gaan hopelik begryp dat dit nou die eintlike begin van sy termyn is en dat Zuma nou net 'n onaangename herinnering is. Hy het so na aan 'n skoon lei as wat 'n leier in ons deurmekaar land maar kan hê.Ek hoop Ramaphosa kan aanvoel hoe miljoene Suid-Afrikaners wil hê hy moet Moses speel en ons uit die woestyn lei.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.