Caster: wat voel jy as jy na hierdie foto kyk?

BOG-ARGUMENTE

Caster: wat voel jy as jy na hierdie foto kyk?

Die IAAF se besluit oor die Olimpiese kampioen Caster Semenya is verkeerd op wetenskaplike, mediese, juridiese én morele gronde, skryf KIM VAN KETS, 'n prokureur en veldloop-atleet.

Vraag 1
As jy na die foto bo kyk, ervaar jy ʼn beskermende simpatie vir die blonde vrou? Dis mos so onbillik dat sy moet meeding teen iemand wat so groot en sterk en… vinnig is.
Vraag 2
Ervaar jy dieselfde simpatie vir die swart vrou? Omdat dit so onregverdig is dat sy moet kies tussen die einde van haar loopbaan en dalk haar gesondheid – of albei? Sonder dat sy enigiets verkeerd gedoen het en sonder enige afdoende mediese of wetenskaplike bewys dat die bevinding oor haar korrek, regverdig of moreel is? En dat dit ʼn voordeel – wat nog nie voldoende bewys nie – sal uitskakel?
As jou eerlike antwoord op (1) Ja en (2) Nee was, is jy enigsins‘ nuuskierig oor hoekom jy so reageer? Indien wel, lees voort, en indien nie, hou dan maar liewer verby.
Onstig
Ek is ontstig deur Semenya se situasie. Diep ontstig.
Wat my ontstel, is dat mense wat ek ken (van wie ek selfs hou) ontsteld is deur Onregverdigheid Nommer Een, maar glad nie geraak is deur Onregverdigheid Nommer Twee nie. As prokureur is dit vir my onlogies. En as mens voel dit vir my bloot verkeerd.
Die internasionale arbitrasiehof vir sport het vroeër beslis dat, vanaf 1 November 2019, vroue-atlete in die 400m-, 800m- en 1500m-wedlope wat ʼn testosteroontelling van meer as 5 nanomol per liter bloed het (wat op dees aarde is ʼn “nanomol” in elk geval?) onder die reëls van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) verplig sal wees om hul telling met sintetiese hormone te verminder tot ʼn “aanvaarbare” vlak.  
En dis die IAAF self wat klaarblyklik besluit wat aanvaarbare testosteroonvlakke vir vroue is. As die betrokke vroue-atlete nie bereid is om dit te doen nie, het hulle ʼn keuse: hardloop glad nie of ding mee teen mans.
Let wel dat die “normale” speling vir vroue 0,12 tot 1,79 nanomol per liter (nmol/l) is, waar dit vir mans 7,9 – 29,4 nmol/l is. Ek neem aan dat ek (as ʼn  gemiddelde vroueatleet) ʼn gemiddelde testosteroonvlak van sowat 1,2 nmol/l het, en die gemiddelde manlike atleet gemiddeld ʼn vlak van sowat 19 nmol/l.
Bog-argument
Daar is ʼn groot verskil hier. As testosteroon mens so ʼn duidelike voordeel gee, wonder ek hoekom ek gewoonlik minstens twee derdes van die mans klop as ek deelneem?
Terwyl hulle 18 nmol/l of meer testosteroon as ek het. Ek wonder of dit dalk te doen het daarmee dat ek hard en gereeld oefen, goed uitrus, ʼn goeie strategie het, gedissiplineerd is en heelparty ander dinge doen wat niks met testosteroon uit te waai het nie.
Ek het soveel moontlik oor die onderwerp opgelees en gesels met medici, asook een of twee wetenskaplikes, en kon die volgende aflei: Daar is tans geen afdoende wetenskaplike of mediese bewyse dat testosteroonvlakke van hoër as 5 nmol/l (of enige vlak hoegenaamd) ʼn vroue-atleet ʼn onaanvaarbare voordeel gee nie.Ek probeer nie redeneer dat dit glad nie ʼn voordeel bied nie (want daar is nog nie duidelike mediese en wetenskaplike bewyse nie), maar ʼn mens kan om dieselfde rede nie met sekerheid sê dat dit wel voordelig is nie. Nog niemand het voldoende toetse gedoen nie.Ondanks die feit dat hierdie debat al meer as ʼn dekade oud is – baie tyd vir ordentlike navorsing. Onthou dus die wonderlike reël van natuurlike reg (iets wat ons almal beweer ons omarm) om nie iemand te straf in die afwesigheid van afdoende bewyse nie.Ek kan nie verstaan hoekom so baie ooglopend gawe mense (wit, swart, manlik en vroulik) so graag hierdie reël verontagsaam nie.
Dit kelder Semenya se loopbaan en benadeel haar gesondheid, terwyl daar geen bewyse is dat haar teenwoordigheid onaanvaarbaar onregverdig is teenoor gawe blonde atlete nie.
Hoekom kan die betrokke partye nie wag totdat voldoende navorsing gedoen is nie?
Ek neem aan dis omdat dit onregverdig voel teenoor oulike witkop-atlete. En hoekom voel dit onbillik? Weet ons? Nie eintlik nie, want daar is geen wetenskaplike bewyse nie.
Knertsie stereotipering?
Kan dit dalk iets te doen hê met vooroordeel en ʼn knertsie stereotipering? Het dit miskien iets te doen met rassisme, seksisme en homofobie?
Wanneer enigiemand welsprekend die moontlike leemtes in die debat oor testosteroon as ʼn duidelike en onregverdige voordeel uitwys, is die gebruiklike reaksie: “Ja, maar weet jy wat niemand jou oor Caster Semenya vertel nie? Sy het XY-chromosome!” (gewoonlik in ʼn geskokte, teatrale fluisterstem).
In der waarheid vertel almal die wêreld hierdie storie al vir ʼn lang ruk, hoewel ons nie werklik weet wat haar diagnose is nie en dat die XY-diagnose een van ses moontlikhede is in haar geval.
Indien sy wel XY-chromosome het, wat beteken dit vir diegene met slegs basiese hoërskoolbiologie onder die knie? Semenya is ʼn man.
Wat beteken dit vir die wetenskaplikes en die dokters? Niks nie. Beslis niks afdoende nie. Nog ʼn baie grys area. (Aaklig, is dit nie? Dit sou soveel makliker gewees het as alles netjies swart of wit was.)
Man wees en vrou wees het te doen met veel meer as X- of Y-chromosome. In die VSA (moontlik oral) het een uit elke 20 000 mans geen Y-chromosoom nie. Hulle het XX-chromosome. ʼn Goeie aantal vroue het weer XY- in plaas van XX-chromosome.
Chromosome 
Chromosome blyk nie die enigste relevante faktor by hierdie mense te wees nie. Dis die somtotaal van hul genetika, saam met hul lewens en hul ervaringe (fisiek, geestelik en sosiaal) wat bepaal wie hulle is. Daar is (klaarblyklik) minstens 30 gene wat ʼn belangrike rol speel in geslagsontwikkeling. Van hierdie 30 gene sit daar drie op die X-chromosoom, een op die Y-chromosoom en die res op ander chromosome. (1, 2, 3, 4, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 17, 19).
Dit gee te kenne (en die meeste kenners blyk eens hieroor te wees, hoewel ek nie sê daar is eenstemmigheid nie) dat geslag deur meer as chromosome bepaal word. Dis eerder ʼn produk van ons totale genetiese samestelling en van die funksies in ons gene tydens ontwikkeling.Hier is dus die ongemaklike waarheid: ek dink as ons almal heeltemal eerlik wil wees, ons aan onsself sou erken dat ons geleer is om meer gemaklik te wees met vroue (veral uitsonderlike vroue) wat fyn, vroulik, nie-bedreigend en wit is.Ons verkies in die algemeen vroue (veral swart vroue) wat onsigbaar, besadig, apologeties en meer dankbaar is, teenoor diegene wat gespierde, blitsvinnige en trotse, sterk rockster-Amasonevegters is.Laasgenoemde maak ons half ongemaklik. En as ek praat van “ons”, sluit ek selfs sekere (swart) vroue in. Want ons is opgeneuk deur eeue se vooroordeel. Is ons dit nie aan onsself en ons toekoms verskuldig om die nuuskierigheid en selfbewustheid – ook die eerlikheid – te vind om na te dink hieroor en dinge dan (stadig en pynlik) te probeer regstel of regmaak nie?

Ingeval jy nog steeds nie saamstem nie
Indien enigiemand nie saamstem dat Semenya onregverdig behandel is nie, is hier nog ʼn paar punte om oor te dink:

In ʼn omstrede artikel in die British Journal of Sports Medicine – een wat die IAAF as verwysing gebruik – sê drs. Bermon en Garnier dat vroue-atlete met hoë testosteroonvlakke die grootste voordeel het in paalspring en hamergooi. Hierdie atletieknommers tel egter nie onder die IAAF se nuwe beperkings nie. Die IAAF het besluit om te fokus op slegs baannommers soos die 400m, 400m hekkies, 800m en 1500m ten opsigte van reëls oor testosteroonvlakke. Verskeie kenners (insluitend die wêreldbekende dr. Ross Tucker) voer aan dat dié beslissing teenstrydig is omdat atlete soos Semenya dan aan wedlope in die 200m, 3000m en 5000m sou kon deelneem sonder om hormoonmedikasie te neem. Dis opvallend dat die 400m, 800m en 1500m me Semenya se gekose afstande is. Sy het nog nie deelgeneem aan die 200m, 300m of 5000m nie. Hoekom word slegs die items waaraan Semenya deelneem, deur hierdie reël geraak?..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.