Leer die kinders lees, om hemelsnaam, nie masturbasie nie!

HET ONS MAL GEWORD?

Leer die kinders lees, om hemelsnaam, nie masturbasie nie!

Leerplanontwerp, indien waar, het alles te doen met politieke simbolisme en om “woke" te wees, skryf JONATHAN JANSEN.


Iemand lieg. Óf die spesiale konsultante wat die nuwe leerplan vir lewensoriëntering (LO) help opstel het. Óf die segspersoon van die departement van basiese onderwys wat die mediaberigte ten sterkste ontken.
Lieg waaroor? Dat graad 4-kinders geleer gaan word van masturbasie. Wag-wag, voor jul ouerlike bloeddruk deur die plafon skiet, moet ons net eers ’n tree terug gee.
In die meeste demokrasieë is daar drie leerplanonderwerpe wat ouers ontstig: godsdiens, evolusie en seks. Godsdiens, want konserwatiewe ouers word baie onchristelik wanneer godsdienstige gebruike in openbare skole bedreig word.
Evolusie omdat baie Christene glo God het die mens gemaak, finish en klaar. Maar die meeste wrywing wat die leerplan veroorsaak, kom weens seks.
Die hel het dus dubbel en dwars losgebars toe die Sunday Times dié opskrif skryf: “Grade 4s to learn about masturbation in the new life orientation curriculum.”
As die mediaberigte reg is, is ek aan die ouers se kant, maar dalk om ander redes. Ek dink wel skoolkinders moet van die lewe leer en dit sluit seks in. Om egter die onderwerp “om aan jouself te vat vir plesier” vir kinders aan te bied wat pas uit die grondslagfase kom, is gewoon dom.
Maar ek veronderstel dis wat jy kry as die legendariese dr. Eve een van die kenners is wat raadgegee het met die nuwe LO-plan. Waaroor anders praat sy?
Lewensoriëntering 'n grap
Kyk, in die meeste skole is LO ’n grap, ’n vermorste periode en die kinders weet dit. Soos ek dikwels dié oneksamineerbare vak in my toesprake beskryf: “LO is die klap wat jou ma jou moes gegee het op pad skool toe.”
Natuurlik glo ek nie aan ouerlike geweld jeens kinders nie; my punt is daar is dinge wat ouers behoort te doen en daar is dinge wat die skool behoort te doen. Seksuele intimiteit is die ouers se domein, dit hoort nie in ’n LO-leerplan nie.
As jy koerante wou verkoop, ja, dan sal ’n opskrif oor graad 4’s en masturbasie finansieel slim wees. Maar is dit regtig ’n nasionale prioriteit? Vir dieselfde graad 4-klas in Suid-Afrika het ons verlede jaar bevind dat amper agt uit 10 nie kan lees met begrip nie. Leer die kinders lees, om vadersnaam, eerder as die idee van selfbevrediging. Het ons mal geword?
Ja, daar is belangrike onderwerpe wat met hoërskoolkinders in ons onverdraagsame samelewing bespreek moet word, onder meer gender-niekonformiteit, alternatiewe gesinne en seksuele toestemming. In die hande van goed opgeleide onderwysers met die nodige sensitiwiteit kan die behandeling van sulke onderwerpe help respek bou onder die jeug teenoor diegene wat anders is as wat ons verkeerdelik “normale” leerders noem.
Onderwysers se gebrek aan vaardighede
Die waarheid is egter die meeste onderwysers het nie die vaardighede of ingesteldheid vir sulke sensitiewe onderrig nie.
Onderwysers is self die produk van ons konserwatiewe, onverdraagsame samelewing en jy stel nie diepgesetelde oortuigings reg met werkwinkels oor die nuwe leerplan nie. Daarom dink ek nie die “visionêre” ideale van die leerplanskrywers rakende seksualiteit sal nie veel aanklank vind by skole en gemeenskappe nie.
Daar is ook die realiteit dat wanneer onderwysers ingewikkelde of kontroversiële onderwerpe in die leerplan teëkom, slaan hulle dit eerder oor as wat hulle ’n klomp giggelende tieners toespreek oor iets waaroor hulle self baie ongemaklik is.
Dit bring mens by die vraag: Waarom hou die onderwysdepartement hom hoegenaamd besig met die onderwerp?
Spierbultery vs transformasie
Ons regering is vasberade om te wys hy posisioneer ons skole vir die 21ste eeu. In my akademiese artikels noem ek dit politieke simbolisme. Wat dit beteken, is dat die nuwe beleid niks te doen het met die verandering van skole of die verbetering van lewens nie; dit gaan alles daaroor om modern te lyk, of in vandag se taal, “woke” te wees, al is jy nie.
Dis waarom die owerhede so tekere gaan oor die vierde industriële revolusie in elke onderwystoespraak terwyl net die bevoorregte skole goed toegeruste, funksionerende laboratoriums het.
Lank voor die slegte behandeling van die sportster Caster Semenya was Suid-Afrika die een Afrika-land wat in die openbaar die idee van veelvuldige genders en gay identiteit omarm het. Maar in die praktyk is ons net so agterlik wat dié sake betref as enige ander land op ons vasteland.
Goeie skole dóén die regte ding eerder as om te preek daaroor of om vir die regering te wag om ’n voorskrif uit te vaardig. Soos die briljante Wendy Horn van Protea Heights Academy in Brackenfell doen deur kunsmatige intelligensie by die leerplan in te werk. Of die dapper Ann Morton wat toilette geskep het vir transgender leerlinge by die sogenaamde Red School in Pinelands, Kaapstad.
Dié twee uitsonderlike skoolhoofde is leiers wat die verskil verstaan tussen politieke spierbultery en werklike transformasie in die daaglikse sleur van onderwys gee in ’n openbare skool.
* Hierdie rubriek is eerste in ons susteruitgawe, TimesLive, gepubliseer.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.