’n Millenniër se brief aan Cyril

SOPIE MET DIE PRESIDENT

’n Millenniër se brief aan Cyril

MERCY KANNEMEYER wil 'n paar dinge by die president weet, soos of hy en Jacob Zuma vriende is, en of hy soms daar op Nkandla gaan kuier...

GEAGTE pres. Cyril Ramaphosa,
Noudat die verkiesings-as so ’n bietjie gesak het, is daar ’n paar dinge waaroor ek wonder. Ek is seker daar is menigte Suid-Afrikaners wat ook met ’n paar vrae sit.
Eerstens, baie geluk met die verkiesingsuitslae. Die ANC was seker in die wolke toe hulle uitvind dat hulle vir die volgende paar jaar nog aan die stuur van die land gaan staan. Ek het deur die ANC se verkiesingsmanifes gelees (meer gewroeg daardeur as wat ek gelees het, want dit is lank en plek-plek maar effe airy fairy) en ek hoop van harte dat julle voet by stuk sal hou.
Ek was wel verheug toe ek ’n paar keer raaklees dat julle begrip het daarvoor dat daar groot foute in die verlede aangegaan is. Ek sou nog meer verheug gewees het as julle ’n ding op sy naam genoem het.
Call a spade a spade.
Jacob Zuma het die ANC en die land die afgrond in gedryf. En ja, ek weet – elke outjie maak ’n foutjie. Maar vir agt jaar aaneen? Dit klink vir my na ’n keuse.
Hiermee dan nou ’n paar dinge waaroor ek, ’n sogenaamde born-free, wonder:

Is daar ’n konkrete, praktiese plan om korrupsie uit te roei? Jy dra natuurlik kennis daarvan en maak melding dat dit nie deel is van die soort etiese leierskap waarna jy en die ANC strewe nie, so hoe gaan dit gebeur? Hoe gaan etiese en deursigtige leierskap aan die orde van die dag kom?
Is daar maniere hoe die regerende en opposisiepartye saam kan werk om gemeenskaplike doelwitte te bereik? Want die neiging dat die opposisie net daar is om al die foute van die regerende party uit te wys, raak nou lastig. Natuurlik moet die opposisie die regerende party aanspreeklik hou, maar dit sal as ’t ware ongeëwenaard wees indien ons kan sien hoe die partye saamwerk.
Is die grondkwessie nou al deeglik genoeg bespreek?
Is jy en Jacob Zuma vriende? Kuier jy soms by Nkandla?
Is daar meer blaf as byt in die geselsies oor ’n koalisie tussen die ANC en die EFF? Waarsku ons tog net vooraf, want die land in geheel kan nie enige verrassende wendings meer trotseer nie.

Cyril, indien jy weer langs die Seepunt-promenade gaan stap, laat weet tog asseblief. Ek woon en studeer in Stellenbosch en sal graag op ’n trein spring om jou daar te ontmoet (dis nou as die treine werk) en dan kan ons heerlik oor al hierdie dinge gesels.
Ek weet jy het net voor die verkiesing ’n klomp wynmakers hier naby Stellenbosch kom toespreek. Ek is nou wel nie ’n wynmaker of -kenner nie, maar ek geniet af en toe ’n sopie en sal dit graag saam met jou wil klink.
Groete,
Mercy
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.