Dink jou in as Suid-Afrika in sy mense sou belê ...

LIEWE LAND

Dink jou in as Suid-Afrika in sy mense sou belê ...

Suid-Afrikaners is woedend en dis duidelik dat die land dringend in sy grootste hulpbron moet belê. Rwanda is ’n voorbeeld van hoe dinge anders gedoen kan word, skryf THULI MADONSELA.

Image: 123RF/ROLFFIMAGES

DAAR is ’n ou aforisme wat sê: “As jy voorspoed vir ’n jaar wil hê, plant gewasse; as jy voorspoed vir ’n dekade wil hê, plant bome; maar as jy vir honderd jaar en daarna volhoubare welvaart wil hê, belê in mense.”

Toe Suid-Afrika se demokrasie in 1994 begin het, was die hoop en drome van baie, veral die histories onderdruktes gedurende die jare van gewettigde wit en manlike oppergesag, dat politieke en wetlike vryhede tot gedeelde welvaart sou lei.

Die doel van die Grondwet van 1996 was om “die verdeeldheid van die verlede te genees en ’n samelewing te vestig wat gegrond is op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte” waar almal se lewe verbeter en hul potensiaal bevry word.

Dít het onteenseglik vir baie mense nie gebeur nie.

Soos dinge nou staan, is meer as een uit elke drie Suid-Afrikaners werkloos, een uit elke twee is arm (en twee uit drie inheemse Afrikane), en die Gini-koëffisiënt is 0.69.

Met hierdie merkers van menslike ontbering en ongelykheid wat die hoogste ter wêreld is, is die droom om ’n samelewing op grond van sosiale geregtigheid te vestig vir eers uitgestel.

So, hoe sal belegging in mense in die praktyk lyk?

So, hoe sal belegging in mense in die praktyk lyk?

Om mee te begin sal dit vereis dat mense gesond en geskoold is, toegang tot infrastruktuur het, en simbioties pleks van ekstraktief aan die ekonomiese ekosisteem gekoppel is.

Maar as ons kyk na ons werkloosheidsyfers, die stand van ons onderwys en vlak van eienaarskap van belangrike ekonomiese hefbome, kan ons eerlik sê dat dit ’n doelbewuste belegging in mense weerspieël met die oog op die verbetering van hulle lewensgehalte?

Vandag dui die stemming in die land daarop dat mense moeg is om gebrek te ly op dieselfde manier as wat mense in die jare voor die Franse Revolusie en albei wêreldoorloë was.

Ons het dit sien manifesteer in hoe mense tydens verlede jaar se Julie-onrus toegelaat het dat hulle ge-gaslight word, en in die woede oor die Limpopo-LUR se frustrasie met ons gesondheidshulpbronne wat deur ons poreuse grense tot die uiterste beproef word.

Dit alles behoort ons nie te verbaas nie: Honger mense is woedende  mense.

Maar as ons politieke leiers, en ons as Suid-Afrikaners, werklik volhoubare welvaart wil hê, moet ons in mense belê.

Vir hoe dit gedoen kan word, kyk na Rwanda.

In Rwanda se Vision 2050 sê pres. Paul Kagame: “Dit moet gaan oor die toekoms wat ons kies, want ons kán, en omdat ons dit verdien. Rwandese sal nie tevrede wees om net van salaristjek tot salaristjek te leef sonder om welvaart en finansiële sekuriteit op te bou nie. Hulle wil naby die gesinne woon wat hulle liefhet en kyk hoe hulle floreer. Hulle wil toegang hê tot wêreldklas-onderwys, sommer hier by die huis.”

Kagame voeg by dat Rwandese die wêreld wil kan deurreis op soek na nuwe idees en ervarings “en dan met trots terugvlieg huis toe na Rwanda, want daar is geen ander plek waar hulle eerder wil woon nie”.

Ek wil nie nou in die Rwandese politiek of sy menseregte-kwessies delf nie – nie omdat dit nie saak maak nie, maar omdat die konteks gaan oor wat daardie land rég doen en wat daarvan ons as model vir onsself kan aanneem.

In dieselfde konteks kan ons kyk na die Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt se New Deal as ’n onder-na-bo-model om ’n nasie uit ’n geweldige ekonomiese moeras te sleep, sonder om blind te wees vir die feit dat dié model rasseverskille ná  slawerny geïgnoreer het.

Dis opvallend dat Kagame ’n Rwanda in die vooruitsig stel waar almal se potensiaal bevry en hul legitieme aspirasies bereik word. Dis van kritieke belang dat Vision 2050 sê ’n onkonvensionele benadering moet gevolg word omdat “business as usual” nie die ding gaan doen nie.

Wanneer ek Rwanda besoek, is die impak van hierdie mensgesentreerde,  onkonvensionele benadering duidelik in die verbetering van mense se lewensgehalte. In toenemende mate het ’n uiteenlopende aantal Rwandese hul hande op die hefbome van hul ekonomie.

In toenemende mate het ’n uiteenlopende aantal Rwandese hul hande op die hefbome van hul ekonomie.

As lede van die African Institute for Mathematical Sciences het ons gesien hoe ondersteuning aan buitelandse instellings of besighede gegee word, nie gegrond op politieke affiliasie of geld onder die tafel nie, maar wel op grond van die ruimte wat hierdie instellings kan vul in die mosaïek van waarna hulle verwys as “The Rwanda We Want”.

Suid-Afrika behoort uit hierdie ander voorbeelde lesse te leer oor hoe om op ’n verloorpad om te draai, en ons kan in mense begin belê soos  hulle gedoen het.

Net soos die aforisme hierbo aandui, beteken belegging in mense nié dat jy die gewasse of die bome ignoreer nie, dit beteken net dat jy dit kan bereik deur éérs in die mense te belê, sodat hulle dan daardie gewasse en bome kan aanplant.

Dís hoe jy ’n regverdige samelewing bou.

* Dié artikel het oorspronklik in Financial Mail verskyn.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.