DALK is dit so dat mens jou hele lewe voor jou sien afspeel wanneer jy sterf. Mense wat in die gepikselleerde gebied was waar duskant begin oplos in anderkant, sê dis so. Wie kan met hulle stry?
Ek is in elk geval oortuig, want wat mens oorhou van die afgelope deel van jou bestaan, is beelde. Reekse flitse en videogrepe, soms met ’n klankbaan by.
Een van die helderste beelde wat ek my voor die geestesoog kan oproep, is ’n vlak rivier in Indië. Daar groei hoë bome weerskant. Die water kabbel oor die klippe. My beeld voor oë meng moontlik hier met die Eersterivier op Stellenbosch, die bron waaruit jeug opborrel, en kalwerliefde, en vooruitsigte en die genadige blindheid waarsonder die jongeling nie sou aanstryk nie.
My Indiese rivier is gebad in die laatmiddaglig wat selfs van die blare aan die bome hulle groen afwas en hulle in gloeiende oker klee. En nie net die blare nie. Ook die man en sy olifant. Langs die olifant met haar voete in die water lyk die man soos ’n dun tiener in die rek-stadium. Hulle bad in lig.
Maar die man is eintlik besig om sy olifant in die stroom te was. Sy staan en trap en wieg. Sy lig haar slurp lui-lui en laat val dit ongeërg terug in die water. Soms voel-voel sy met haar slurp na die man. Hy het ’n emmer. Hy skep en skiet ’n skok water oor haar uit. Met ’n besem werk hy haar flank, saaklik soos ’n ruitwasser, maar die vergulde lig versag tog die saaklikheid tot iets wat lyk soos liefde, liefderikheid, teerheid. Op die klankbaan van my geheue neurie hy vir haar ’n wysie.
Die finale snit
Daar was nog olifante wat klaar gewas op die oorkantse oewer staan. Daar was ’n gemaal van mense. Die een of ander toerismefasiliteit. Maar niks daarvan haal die finale snit van die film wat moet draai wanneer ek in die teater van die einde kom nie. Ek sien voor my net die poëtiese beeld van die man en die olifant in die water.
Miskien haal die volgende toneeltjie ook die film: Vier van ons ry in ’n metaalkontrepsie wat bakbeen oor ’n tamaai groot moederolifant se ruggraat hang. Ons gaan die ruie woud in. Ek hoop net op een ding, om ’n wilde tier te sien. Maar die tier hou hom skaars. Dalk is hy glad nie meer daar in die woud nie. Geskiet, gehok of uitgevoer soos soveel ander spesies.
Ons sien wel wilde olifante in die bos. Sku soos Dalene Matthee se grootvoete. Figure wat net vlugtig ’n oor of ’n skouer laat sien, ’n slurp wat aan ’n tak rem. Dan wieg hulle weg agter die lower in soos iets wat terugtree die domein van legende in.
Komedie
Ons olifant is mak. Ons het op haar geklouter van ’n houtstellasie af wat daar soos ’n soort kaai in die lug gestaan het. Die mahout sit op die olifant se nek met ’n latjie waarmee hy haar stuur en maneuvreer, vorentoe en agtertoe, tot sy op die regte plek vasgemeer is sodat die idiotiese toeriste haar kan bestyg.
Haar kleintjie – ’n babatjie nog – het ook daar gestaan. Sy het hom nog ’n laaste keer met die slurp aangeraak voor ons uitgevaar het bos toe. Tien meter verder, toe gee daardie kleintjie ’n yslike nies. Sy ma swaai om dat jy (in die komedie-weergawe van die film) net toeriste sien afvlieg van haar rug af. Maar ons hou vas en almal lag en die ys is gebreek.
Wat ook gebreek is, vind ek jare later eers uit, was tien teen een die olifant se rug. En nie net dit nie, haar gees ook.
Die werwels op ’n olifant se rug is skerp penne wat regop staan oor die werwelkolom. Hulle is nie rond soos mense s’n en dié van ander diere nie. Plaas jy gewig daarop, steek dit in die vel in en veroorsaak pyn. Hoekom sy dit verduur, is omdat sy as jongeling ingebreek is. Sy is van haar ma weggeneem, vasgeketting, ingehok, geslaan en verskree. Kos en water is periodiek van haar weerhou.
Dan kom die mahout en voer haar. Dis nie hy wat die slae toedien nie, sy rol in die phajaa – dit is die naam van die proses – is dié van good cop. Later word hy die hanteerder. Die heer en meester. En ek wonder of sy strelende hand ’n siddering deur die vel van die groot gryse stuur.
Ons kan nie altyd onderskei tussen ons sidderings van ekstase of van angs nie. Kinders, nog.
Skouspel
Ek dink aan die olifante wat skouspel en betowering aan my kinderdae gegee het. In die Wildtuin of in die sirkus om ’t ewe. Ek dink aan die grootvoete in die Knysna-bos, hulle wat die lig self om hulle moes invou om geheim te bly voor die verorberende skoue van die mens. Die steenkoolgrys gestaltes by die Karibameer, skimme net een skakering ligter as die nag self.
In Marlene van Niekerk se roman Triomf dié beskrywing van ’n olifant se oog: ’n gat waardeur iets van ’n ander wêreld af op ons s’n inkyk. Ek dink aan die olifante van die Okavango wat op antieke roetes probeer hou, drie lande lank, maar die setlaarmens se grensdrade sê: Sperrgebiet vir olifante.
Die meeste miskien dink ek aan Lawrence Anthony, die elephant whisperer, se olifante in KwaZulu-Natal.
Ek weet nie of hy tyd gehad het om sy movie te kyk toe die hartaanval hom vat nie. Hulle sê dis maar ’n paar sekondes; tyd werk anders in die uiterstes. Maar in sý film sien hy moontlik die troppie onbeheerbare olifante weer op sy plasie aankom, tot in hulle siel getraumatiseer deur uitskieting in die Wildtuin. Of die dag toe die matriarg hom aanraak en vrede maak. Of die dag toe hy ná ’n afwesigheid van etlike maande terugkeer en die hele trop hom by die plaashek inwag.
Dalk het hy lank genoeg vertoef om te sien hoe die trop ná sy dood vir ’n dag, twee dae, doodstil oorkant die plaashuis kom staan.
Kiekies
Maar wat gemaak met die beeldmateriaal wat ek so mooi geredigeer het vir mý finale? Is die salige toneel met man en olifant in die rivier, in die warm laatmiddaggloed, dan heeltemal vals? Ons kan ook vals en waar nie altyd so mooi van mekaar onderskei nie.
Vals, vir die toeskouer, is die kultuurvraatsug of die natuurliefhebbery van die verstandelose toeris op die boot, die Jeep, die donkie of die olifant se rug. Vir die toeris self, in sy onkunde, is dit ware belangstelling, egte liefde. Die enkele besoeker doen min skade, maar die gekumuleerde massa aangapers en vertrappers saai verwoesting.
Ons ry die blou planeet soos ’n skip vol starende toeriste in ’n histeriese rondvaart om die son. Die Hubble neem kiekies, so tussen die ruimterommel deur. Die James Webb neem nog beter foto’s. Ons sien ons is met die son en al deel van ’n massiewe spiraal wat self duiselingwekkend deur die ruimte tuimel. As Carl Sagan sê ons mense is die selfbewuswording van die heelal, dan word dié foto’s straks nog die lewensfilm van die heelal wanneer sy self agter die laaste gebeurtenishorison verdwyn.
As ons net nie so deksels arrogant en dwaas en barbaars was partykeer nie.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.