Politieke Notaboek | Viva selfbeskikking, viva! (ANC-Jeugligastyl)

‘DON'T MENTION THE WAR!'

Politieke Notaboek | Viva selfbeskikking, viva! (ANC-Jeugligastyl)

MAX DU PREEZ skryf oor afstig-referendums wat oral kop uitsteek en oor 'n sakeleier wat vir Gayton McKenzie president wil maak.

Khulekani Skosana van die ANC-Jeugliga.
Khulekani Skosana van die ANC-Jeugliga.
Image: GALLO IMAGES/BEELD

ONS liewe Suid-Afrika is so ’n vindingryke land wat so graag ’n goeie wêreldburger wil wees. Hier slaan die ANC-Jeugliga skielik uit as internasionale referendum-monitors! Wie het dit nou verwag?

Nou weet ons die ANC sal gereed staan om referenda te polisieer wanneer Orania en die Wes-Kaap van Suid-Afrika wil afstig, net sodat die wêreld kan weet alles was vry en eerlik. Dit is potensieel ’n groeiende nywerheid wat die Jeugliga vir jare kan besig hou: Skotland, Katalonië, Wes-Sahara, Tigray en dalk nog KZN ook.

Viva selfbeskikking, viva!

Hoor net hoe mooi praat die Jeugliga se hoof van internasionale verhoudinge, Khulekani Skosana, in ’n onderhoud met Russiese TV uit Oos-Oekraïne waar die liga die referendums oor inlywing met Rusland monitor: “As young people of South Africa, as Africans, we believe in democracy. And we are advocates and ambassadors of democracy. We believe in self-determination.”

(Is dit Flip en Kallie wat ek daar in die agtergrond hoor “Joegaai!” skreeu?)

Khulekani gaan voort: “We are saying to the Russian people you are doing absolutely well. We are with you as we fight for self-determination. We are demanding a multipolar world. We are not going to be forcefully led by the West. We believe in democracy.”

Sy Jeugliga-kameraad, Venus Lerato Blennies, het aan Russiese televisie oor die mense van Donetsk gesê: “They’re very happy for the opportunity they have been given to be able to have an expression of their will. To have freedom of expression. To be able to have freedom of association and a choice for that matter.” Lees meer daaroor hier

Die ANC-jongspan is blykbaar deur die Russiese Association for Free Research and International Cooperation genooi en na Oekraïne gevlieg. Die man agter dié liggaam is blykbaar Vladimir Putin se gunsteling-oligarg, Yevgeny Prigozhin.

Prigozhin is toevallig ook die grootbaas van die Wagner-groep, ’n privaat militêre maatskappy wat namens die Russiese staat in Oekraïne en in Afrika veg en van ernstige oorlogsmisdade beskuldig word.

Ag sjym, man. Dalk was die Jeugliga-kamerade nie behoorlik ingelig oor wat hulle eintlik moes gaan kondoneer nie.

Want alles wat ek van die referendums in die Donbasstreek lees en hoor, is dat dit allesbehalwe vry en regverdig is, dat geen ander staat die legitimiteit daarvan erken nie (Noord-Korea sal dalk binnekort) en dat dit Putin se truuk is om die hele ooste van Oekraïne by Rusland in te lyf.

As die Oekraïense weermag daarna enige aanvalle op Russiese magte in dié streek uitvoer, sal Putin dit as ’n skending van Rusland se territoriale integriteit verklaar en dan is enige militêre metode aanvaarbaar.

Die Jeugliga is blykbaar ook nie ingelig dat die internasionale reg bepaal dat ’n eensydige referendum sonder regeringsanksie geen basis is vir die wegbreek van ’n onafhanklike staat nie.

Ook nie dat Putin alle onafhanklike media in Rusland verbied het, dat duisende burgers al in die tronk gestop is omdat hulle die Russiese inval in Oekraïne gekritiseer het, en dat betogings teen die oorlog met buitensporige geweld begroet word nie.

Putin se skuif om sowat 300,000 Russe vir diens in Oekraïne op te roep, het intussen tot ’n uittog van tienduisende mans na buurstate en elders gelei en die sluise van ontevredenheid oor die oorlog oopgetrek.

Wentel af Kaap toe

Intussen, hier aan die suidpunt, het die selfbeskikkingsdebat ook ’n trappie opgeskuif. Ekskuus, die devolusiedebat.

Die DA, die VF Plus, die ACDP, AfriForum, die Kaapse Forum, die Cape Independence Party, die Cape Independence Advocacy Group, Action Society en die landbougroep Saai het saam ’n “Wes-Kaapse devolusie-werkgroep” gestig.

Die CapeXitters eis onafhanklikheid vir die Wes-Kaap, maar die nuwe werkgroep se benadering is eerder ’n evolusionêre ontwikkeling deur die afwenteling van mag van die sentrale regering.

“The initial focus of the group will be on the devolution of policing powers to the province and clearing the legislative hurdles which prevent the Western Cape Premier from exercising his constitutional right to directly consult the Western Cape people on specific issues via referendums,” lui ’n verklaring.

“The group will use all legal means at its disposal including formal legislation, political lobbying, legal action, public participation, and peaceful mass mobilisation.”

Die premier, Alan Winde, en die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, betoog al geruime tyd dat die provinsies veel meer polisiëringmagte moet hê en het al gevra of hulle nie eerder self die pendeltreine aan die Kaap kan bestuur nie.

Dit is sekerlik riskant vir die DA om by die afstiggroepe en AfriForum betrek te word, want dit is nie ’n gewilde idee onder veral swart kiesers nie, maar die devolusie-werkgroep is ’n beter benadering as die kru politiek van die Cape Independence Party.

Dit maak vir my sin dat die Wes-Kaap, die provinsie wat die beste in die land regeer word, meer seggenskap oor die polisie en sake soos treine kry. Dit kan dienste aan alle burgers van die provinsies net verbeter.

En dit is presies hoekom die ANC dit met hand en tand sal teëstaan: Dit sal die ANC-beheerde provinsies te sigbaar in die skande steek.

Steel sommer ’n Rolls, man

Suid-Afrikaners maak nie net goeie verkiesingsmonitors uit nie, ons is op nog ’n terrein onder die bestes in die wêreld: Ons kan steel soos niemand anders nie.

Vergeet van ’n afkoop-koeldrankie hier en daar of ’n paar honderd of ’n paar duisend rand. Suid-Afrikaners is ambisieus; as ons steel, dan stéél ons.

Soos die loterybase wat nou deur die spesiale ondersoekeenheid uitgevang is. Hoekom steel om vir jou ’n klein BMW’tjie te koop? Dié manne het Rolls-Royces met die gesteelde loterygeld gekoop. Dit wys jou hoeveel vordering ons maak – Tony Yengeni is destyds tronk toe omdat hy onregmatiglik ’n afslag op sy Mercedes beding het.

President Gayton?

Die sakeman Rob Hersov is gewild in vele wit kringe omdat hy sy kritiek op pres. Cyril Ramaphosa, sy kabinet en die ANC in skerp taal uitblêr. Heelwat van julle het seker sy onlangse video in gesprek met BizNews se Alec Hogg gesien.

Dié video was so gewild dat Hogg vir Hersov teruggeroep het vir nog. En dalk moet jy lees wat hy nou kwytgeraak het, net om te verstaan hoe ernstig ons dié vent as politieke ontleder moet opvat. 

Sy beste kandidaat vir president van Suid-Afrika is die Patriotic Alliance se Gayton McKenzie. Nou, Gayton roer blykbaar dinge baie mooi daar in die Sentraal-Karoo waar hy burgemeester is, maar president? President van Suid-Afrika? Gayton McKenzie?

Hier is ’n stukkie van wat Hersov nou kwytgeraak het:

“John Steenhuisen would make a fantastic president. There are many people in the DA who would do it. The mayor of Joburg, for example. Herman Mashaba would make a fantastic president. Mmusi Maimane would make a fantastic president. He’s regal. He’s super smart. And there are many, many others.

“But we’re running out of time to save this country. Things are falling apart. It is a turnaround situation. So we need someone that will come in who owes no favours to anyone. And he will get the job done in short order.

“So if you look at my cabinet of experts, but you sprinkle it with DA and ActionSA people, I would make the vice-president Geordin Hill-Lewis, the mayor of Cape Town, and my president would be Gayton McKenzie.

“Open your minds, folks. This is a man who grew up in abject poverty. He’s a coloured. If you want to use racial terms, he is the pain and empathy of black. In his blood. He has the pain and empathy of white in his blood. He is the true South African. He is a coloured.

“He made bad choices when he was young, became a bank robber, was caught, convicted, went to jail, served his time, released on good behaviour. In fact, his behaviour in prison got him an early release and he reformed the prison system. Read his book. He stands by what he says.

“He took the job of the mayor of Central Karoo with no salary, no guards, no drivers, no perks. He made promises about what he’d do in 100 days, and he delivered. He is a turnaround man.

“He is the man you should consider as a potential president of our country. And I know your heads are spinning right now, and you may think it’s controversial, but there are many very good potential presidents of our country, some of whom are in this room.

“But why not Gayton McKenzie?”

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.