Boeke | Hilary, genadelose vroue, kapers en toksiese vriende

WAT LEES ONS?

Boeke | Hilary, genadelose vroue, kapers en toksiese vriende

DEBORAH STEINMAIR skryf (vir oulaas) dié week oor die boeke wat haar die afgelope ruk geboei het. Maar eers ’n paar woorde oor die bekroonde skrywer Hilary Mantel wat verlede week oorlede is.

Hilary Mantel in 2002.
Hilary Mantel in 2002.
Image: REUTERS/HENRY NICHOLLS

Wie sal Hilary se mantel dra?

Eers ’n paar woorde oor die dood van ’n hoogs begaafde, aweregse ikoon: Hilary Mantel is verlede Donderdag, 22 September, dood en my vriend Louis was die hele dag tranerig. Sy kon skryf soos min – die manier waarop sy stowwerige historiese figure soos Hendrik die Agste van die rak kon haal en tot vlees en bloed kon terugtower, is haas ongelooflik. Ek was nooit juis ’n aanhanger van historiese fiksie nie – die hede bied, volgens my, oorgenoeg uitdagings om te verken – maar haar drie lywige boeke Wolf Hall, Bring Up The Bodies en The Mirror & The Light het my begogel. Ek weet sy was vol opinies, uitgesproke en sieklik. Ek het ’n paar interessante feite op Wikipedia gaan haal:

Haar ouers was Britte van Ierse afkoms. Sy het opgehou glo toe sy 12 was en gesê godsdiens het haar geskaad en met skuldgevoelens vervul. Sy het die Rooms-Katolieke Kerk skerp gekritiseer en gesê priesters en nonne is van die onaangenaamste mense wat sy ken. Sy het ’n kortverhaal geskryf oor ’n sluipmoord op Margaret Thatcher nadat sy lank daaroor gefantaseer het. Sy was hewig krities oor die koninklike gesin.

Hilary Mantel
Image: FACEBOOK

Sy het regte gestudeer, maar as ’n maatskaplike werker en winkelassistent gewerk. Sy was ’n fliekresensent en het essays vir onder andere Time Literary Supplement en London Review of Books geskryf. Sy is in 1973 met ’n geoloog getroud. Hulle het onder meer vyf jaar in Botswana gewoon. Hulle is 10 jaar later geskei en ná ’n jaar weer getroud.

Toe sy jonk was, is sy verkeerdelik met ’n geestesiekte gediagnoseer en antipsigotiese medikasie gegee. Dit het haar psigoties gemaak. In Botswana het sy haarself uit ’n mediese handboek met akute endometriose gdiagnoseer. Ná ’n operasie het sy op 27 vroeë menopouse betree. Sy kon nooit kinders hê nie en voortslepende gesondheidsprobleme het gesorg vir ’n belangrike tema in haar boeke: die problematiek van die vroulike liggaam. Sy is meermale bekroon, onder meer twee keer met die Booker-prys. Haar man het uitgetree om haar sake te bestuur.

Sy is dood aan komplikasies ná ’n beroerte drie dae vantevore. Sy was 70. Haar agent, Bill Hamilton, het van haar gesê: “She saw and felt things us ordinary mortals missed, but when she perceived the need for confrontation she would fearlessly go into battle." Ek sou nie omgee vir daardie grafskrif nie. Wolf Hall is leeg sonder jou, Hilary. Gelukkig is daar heelparty van haar vroeëre boeke wat ek nog moet lees.


Vurige vroue en verwaande mans

Ruthless Women deur Melanie Blake

Sepies word in die bedryf glo nie meer “soap operas” genoem nie, maar “continuing dramas”. By ons telenovelas, dink ek. Natuurlik is die groteske gebeure in hierdie genre (bloedskande, ouermoord, demoniese besetenheid, geheueverlies, kanker en fratsagtige ongeneeslike siektes, om ’n paar te noem) maar flou in vergelyking met wat agter die skerms in die produksiehuis aangaan. Mario Vargas Llosa se heerlike boek Aunt Julia and The Scriptwriter het my reeds daarop bedag gemaak, en daar was die komedie Soapdish met sterre soos Sally Field, Kevin Kline, Whoopi Goldberg, Carrie Fisher en Robert Downey Jr.

In dié boek word die produksiespan agter die ikoniese sepie Falcon Bay bekyk. Dit word op ’n klein en idilliese eilandjie tussen Engeland en Frankryk verfilm. Die span skrywers, regisseurs en bestuurders se kantore is daar, die stel, en natuurlik woon die span ook daar. Dit is ’n hutspot van ambisie, magsjagsheid, wellus en venyn.

Die karakter vir wie ek my erger tot ek lekkerkry is ’n argetipe van elke boefagtige baas wat jy ooit gehad het: Jake Monroe is die grootbaas van Falcon Bay. Hy is 60 en skiem hy is baie sexy. Hy dra stywe denims en leerbaadjies. Hy is seksisties en beskou vroue (en aktrises) van 30 as oor die muur. Hy is ’n reeksveroweraar en rokjagter. Hy is nie soseer taktloos nie as berekend gemeen en hy voer ’n skrikbewind. Hy is getroud met Amanda King, gaaf en begaafd. Hulle was mededirekteurs en het saam die show gerun totdat sy (wat natuurlik baie jonger as hy is) op kraamverlof was met hul enigste kind. Toe promoveer die nuwe eienaar, natuurlik ’n sexy vrou, Madeline Kane, hom tot alleenhoof en toe Amanda terugkom, sit sy in ’n oopplankantoor.

Dit ontaard in ’n soort geslagsoorlog – die ambisieuse, slim en talentvolle vroue teen die egoïstiese, verwaande, lui en gemene mans.

Die sepie se kykerstal is besig om drasties af te neem en daar is uiterste druk op die skrywers om met nuwer, groter en meer fantasmagoriese storielyne vorendag te kom. Die vrou wat vir die rolverdeling verantwoordelik is, is ouer, sensueel, sexy en so skerp soos ’n lemmetjie. Sy deel (in ’n vergadering) die blink idee dat hulle ’n teef moet inbring, maar ’n ouer een, in haar 50’s of 60’s, wat steeds goed lyk, ’n appeltjie te skil het met elke karakter en almal se lewens verwoes. Natuurlik steel Jake haar idee en bied dit as sy eie aan.

Daar is heelwat seks in die boek, van die stomende, vinnig-innige soort sonder betrokkenheid. Op lessenaars wat met leer oorgetrek is, in die stort, op kantoortapyte. Dis ’n wisselkoers.

Ouderdom word gevrees soos die tokkelos en alles word in die stryd gewerp om die tekens daarvan hok te slaan. Daar is sterk ouer vrouekarakters wat ’n viermanskap vorm. Die produksiehoofde is byna almal mans en Jake regeer oor hierdie seunsklub en gee al die lekkerste episodes en tonele vir sy tjomme om te regisseer.

Dit ontaard in ’n soort geslagsoorlog – die ambisieuse, slim en talentvolle vroue teen die egoïstiese, verwaande, lui en gemene mans. Ek hou daarvan. Natuurlik bedreig jaloesie en ambisie ook die vroue se alliansies. Een ding word duidelik: Slegs die mees genadelose vrou gaan oorleef – vandaar die titel. La belle dame sans merci. Dis lekker lig, dramaties en pakkend.

Wie, wat, waar en hoeveel? Ruthless Women deur Melanie Blake is deur Head of Zeus Ltd uitgegee en kos R206 by Exclusive Books.

Waarna luister ons? Mungo Jerry se “Long legged woman dressed in black”.

’n Onneersitbare nagmerrie

Hostage deur Clare Mackintosh

Hier is ’n boek wat jou laat naels byt en met beswete palms koorsagtig laat omblaai. Vliegvrees is bekend aan die meeste van ons en selfs diegene wat rustig vlieg, kry soms visioene van kapings, noodlandings en neerstort.

Dit is World Airlines se eerste direkte vlug van Londen na Sydney – ’n vlug van 20 uur. Dit is wyd gepubliseer en daar is baie glansganse in besigheidsklas. Mina is ’n lugwaardin. Sy wou eintlik ’n vlieënier word en het haar eksamens met lof geslaag, maar met haar toetsvlug ’n angsaanval gekry. Dis ’n ander hartseerstorie wat geleidelik ontvou. Sy sou nie op die vliegtuig wees nie, maar het skofte uitgeruil met ’n kollega, want sy wou vir ’n paar dae wegkom van die huis. Daar heers spanning: Haar aangenome dogter het spesiale behoeftes en is ’n handvol, haar man het ’n affair met die nanny gehad en hulle is van bed en tafel geskei.

Die vliegtuig het skaars opgestyg toe Mina (van Algerynse afkoms) ’n anonieme brief kry. Daar is instruksies. Sy sal die vlugdek oopsluit (sy het die kode), een van die vlieëniers gaan haal om met ’n passasier te praat en die dek oop los sodat iemand wat in die toilet wag daar kan inglip en beheer van die vliegtuig oorneem. As sy dit nie doen nie, maak hulle haar kind dood. Daar is ’n foto wat hulle die vorige dag by die kind se kleuterskool geneem het.

Sy weeg die morele dilemma op: haar kind se lewe teenoor dié van ’n skare onskuldige mense. Natuurlik kies sy haar kind se lewe en verontskuldig haar met die gedagte dat elke moeder dit sou doen. Sou ek? is die leser gedwing om te wonder.

Gou ontaard dit in chaos, paniek en geweld. Dis ’n groep omgewingsaktiviste wat die Britse regering wil dwing om vlugte te kanselleer weens die koolstofvoetspoor. Hulle is heeltemal gekant teen lugvervoer. Die regering wil nie bes gee nie. Die brandstof raak min. Mense word waansinnig en die lelikste in hulle kom na vore. Rykes kom uit besigheidsklas na ekonomiese klas omdat hulle glo dat hulle ’n beter kans in ’n sitplek sal hê in die geval van ’n noodlanding. Hulle dwing mense met geweld uit hul sitplekke.

Die kajuitpersoneel vind uit dat Mina die kapers gehelp het en sy word met absolute minagting en haat bejeën, ook deur die ander insittendes. ’n Plan begin in haar kop vorm aanneem. Sal sy die kapers kan kaap?

Die leser leer die kapers by hul kodename ken, die name van groot riviere in die wêreld. Dit is onduidelik wie die geslepe baasbrein is. Die meeste van hulle is randeiers en losers wat hul dae en nagte voor rekenaarskerms verwyl het en op die donker web gewerf en gebreinspoel is.

Deel van die handeling vind ook tuis plaas, by Mina se man, Adam – ’n man met reusagtige probleme, met moorddadige skuldeisers op sy spoor – en hul dogtertjie, Sophia. Hulle word deur dieselfde groep aktiviste bedreig en aangehou.

Die uurglas loop leeg en Australië kom nader. Daar is nie brandstof om langer in die lug te bly nie. Al die vlieëniers is vermoor. Jou oë sal oor hierdie boek gly soos ’n warm mes deur botter. Dis ’n onneersitbare nagmerrie wat jou laat nadink oor die menslike gees.

Wie, wat, waar en hoeveel? Hostage deur Clare Mackintosh is deur Sphere uitgegee en kos R309 by Exclusive Books.

Waarna luister ons? Red Hot Chili Peppers se liedjie “Aeroplane”.

’n Boeiende boek wat homself lees

When You Are Mine deur Michael Robotham

Om spanning te skep in ’n kombinasie van huishoudelike noir en ’n polisiedrama met geloofwaardige karakters is iets wat min skrywers Robotham sal kan nadoen.

Philomena McCarthy is ’n polisiekonstabel wat met seksisme te kampe het. Boonop is haar pa en ooms gangsters. Sy het haar heeltemal van hulle gedistansieer; sy wil dien en ’n verskil maak. Sy wil haar eie morele kompas vind: “Morality isn’t a rule or a plumb line that swings back and forth. It is something that is part of each of us, like a gene that evolves over time; but unlike other genes, it is affected and altered by the decisions we make and don’t make, by compassion, empathy, forgiveness."

Philomena (Phil) het ’n swart gordel in karate en kan haar man staan, al is sy fyn en aanvallig. Haar kêrel, Henry, is ’n brandweerman en een van die mooiste mans wat sy nog ooit gesien het. Hulle is sielsgenote met ’n vurige verhouding. Die enigste vlieg in die salf is sy eksvrou, wat hul seuntjie as pion gebruik om hom te manipuleer. En dan haar probleme by die werk.

Sy en haar partner word uitgeroep na ’n toneel van huishoudelike geweld. Die vrou is pimpel en pers geslaan en die geweldenaar is Darrel Goodall, ’n bekroonde polisieman: Hy het ’n paar jaar vantevore ’n mesaanvaller wat reeds ’n paar mense doodgesteek het, oorrompel en self ernstige wonde opgedoen.

Phil is ’n kolliehond wat almal wil red. Sy neem die vrou weg van die geweldtoneel, ’n woonstel. Natuurlik staan die geweldenaar, ’n offisier met ’n hoër rang as hare, in haar pad en mik ’n hou na haar. Sy laat hom met ’n karate-move soos ’n vrot vel deur die lug trek en op sy gat beland. Sy vat die vrou polisiekantoor toe om ’n verklaring af te lê. Die dossier verdwyn natuurlik of dit word nooit geliasseer nie, en Phil word aangekla van die aanranding van ’n polisieman en geskors.

Ek het ’n paar interessante goed geleer, soos die sindroom waaraan Tempe ly: White Knight-sindroom.
Sy baseer haar eiewaarde op haar vermoë om ander
te help.

Die vrou wat sy probeer red het, Tempe, klou soos ’n drenkeling aan haar en dit word ’n soort Single White Female-situasie waar Tempe haar lewe, huis en vriendekring binnedring en probeer oorneem. Sy doen ongevraagd allerlei gunste vir Phil. Sy is ontsettend behoeftig en boonop bedreig die gewelddadige polisieman haar lewe en moet Phil haar beskerm. Phil word ook dopgehou en gedreig.

Sonder uniform, rang of badge hou Phil natuurlik aan om speurwerk te doen. Die skurkagtige polisieman Darrel Goodall is getroud ook – en nie met Tempe nie. Sy hou sy huis en vrou dop en merk dat sy ook ’n blouoog het. Sy gaan onwettiglik ou dossiere na en sien dat Goodall se seuntjie vantevore 911 gebel het en gesê het sy pa maak sy ma seer en hou sy babasussie aan haar voete oor die trapreling. Phil benader sy vrou en oorreed haar om na ’n veilige hawe te gaan. Só beland sy natuurlik in Goodall se visier.

Dit word gou duidelik dat hy heelwat vername polisievrinne het wat agter hom opvee. Dan word hy vermoor en nou is Phil die hoofverdagte. Sy bring ’n nag in die selle deur tot haar gangster-pa een miljoen pond borgtog betaal. ’n Hele strontstorm tref haar lewe. Pornografiese materiaal van haar word op die internet losgelaat. Haar kêrel gaan woon weer by sy ouers. Tempe maak haar mal.

Ek het ’n paar interessante goed geleer, soos die sindroom waaraan Tempe ly: White Knight-sindroom. Sy baseer haar eiewaarde op haar vermoë om ander te help. As jy my vra, het Phil ook ’n klap daarvan weg. Tempe se voormalige terapeut soek Phil op en verduidelik dat Tempe emosioneel sensitief en empaties is en haarself maklik in ander se skoene kan plaas. Maar sy kan dieselfde vermoë gebruik om hulle te manipuleer en seer te maak. Sy is soos Nereus, die ou man van die see in die Griekse mitologie. Hy oorreed reisigers om hom op hul skouers oor die rivier te dra en verslap dan nooit sy greep nie. Hulle moet hom vir ewig dra tot hul bene ingee.

Dis ’n spannende boek wat jou laat nadink oor toksiese verhoudings. Dis redelik resepmatig: Die speurder wat geskors en later in hegtenis geneem word terwyl sy/haar hele lewe inplof, ensovoorts. Maar dit behou jou aandag. Ek het wel ’n paar vrae wat ek nie kan stel sonder om die storie weg te gee nie. Dis ook ’n boek wat homself lees.

Wie, wat, waar en hoeveel? When You Are Mine deur Michael Robotham is deur Sphere uitgegee en kos R343 by Exclusive Books.

Waarna luister ons? “Single White Female End Title: State of Independence”.

>> Lees nog oor boeke hier.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.