Boeke | Lotto-spelende nonne, ’n vervloekte erfdeel en liefde...

LAAT ONS LEES!

Boeke | Lotto-spelende nonne, ’n vervloekte erfdeel en liefde in rewind

Die afgelope week het DEBORAH STEINMAIR verdrink in fiksie, soos sy daarvan hou om te doen, en net nou en dan opgekom om asem te haal.

‘Opeetbaar lekker’ en vol verrassings

Small Miracles deur Anne Booth

Dikwels waag gevestigde skrywers hul hand aan kinderfiksie en vind dit onverwags uitdagend, eintlik onmoontlik. Miskien is dit makliker andersom: Anne Booth het 23 suksesvolle kinderboeke geskryf voordat sy haar eerste volwasse roman aangepak het. Small Miracles is ’n opeetbaar lekker boek – presies die soort teks wat ons in hierdie donker dae benodig. Al daardie geykte woorde soos humor, deernis en menslikheid is van toepassing. Dis ’n meesleurende storie met karakters wat in jou kop klim.

Dis iets tussen Sister Act, Father Brown en Ek wens, ek wens. Die hoofkarakters is drie nonne in Engeland. Hulle woon in ’n stokou huis wat in 1920 aan die orde geskenk is deur ’n weldoener, Edward Mortimer. Dit val uitmekaar, maar daar is nie geld om die rekeninge te betaal of die dak reg te maak nie. Hulle is al wat oorgebly het van die Orde van St. Philomena – die res is dood en die skooltjie wat deur die klooster bestuur is, het toegemaak. Margaret is in haar 50’s. Sy is slim, gekultiveerd en met ’n ironiese oog. Bridget is 70, ’n kort Ierse vrou vol warmte en lewensvreugde en ’n geïnspireerde kok – die soort mens met wie mense by ’n bushalte begin gesels. Cecilia is 90, hovaardig en aristokraties, hardkoppig – niemand sal met haar begin gesels by bushaltes nie.

As die jongste het die titel van Moederowerste op Margaret se skouers geval en sy kwel haar oor hul finansies. Sy vra haar of nonne nog ’n rol het om te vertolk in die gemeenskap. Sy het lang en openhartige gesprekke met God. Bridget ontferm haar oor almal en alles en voer die priester en biskop vet. Cecilia bid vurig om die Lotto te wen sodat hulle die klooster en kerk kan opknap.

En dan gebeur dit. Nie die boerpot nie, maar ’n klein wonderwerk: Hulle wen £20,000 pond in die Lotto! En dis maar die begin. In die antieke lessenaar wat die klooster van Edward Mortimer geërf het, kry hulle ’n geheime laai. Daarin is ’n koevert met briewe en ’n foto: ’n jong non, dekades gelede, wat bid en leviteer in die klooster se tuin. Daar is destyds probeer om haar tot heilige te laat verklaar, maar dit kos glo geld en die monseigneur wat hom daarvoor beywer het, is oorlede. Boonop wou die suster nie publisiteit hê nie. Nou is sy egter oorlede en ’n heilige uit hulle geledere kan wondere doen vir die Orde van St. Philomena.

Daar is ander verruklike karakters ook, soos die moedelose, oorgewig priester, die blinkstefaans-biskop en George, ’n reisagent, wie se lewensmaat oorlede is en wat teruggekeer het na die dorpie om sy bejaarde ma te versorg. Sy is selfsugtig en onmoontlik en lei hom ’n lewe. Hy raak hopeloos verlief op Matthew wat saam met hom in die koor sing. Matthew is ’n professor in kunsgeskiedenis en sy veld van navorsing is Jack Mortimer, die wilde, skandalige broer van die klooster se weldoener, Edward. Jack het sy rug op die familie gekeer en kerjakker rond saam met boheemse kunstenaars soos Augustus John. Nadoods word sy werk uiteindelik na waarde geskat. Daar word vermoed dat baie van sy skilderye êrens versteek is. Mmm, nou begin die leser wonder oor die groot ou huis wat die klooster geword het. Die titel verwys juis na wonderwerke in die meervoud.

Daar is ook die nutsman wat gratis die klooster se huis en tuin onderhou, ene Thomas, ’n wewenaar. Almal ken mekaar ’n leeftyd lank en elk het sy eie stryd, angs en eensaamheid. Die nonne (wel, twee van hulle) se sorgsaamheid en liefde loop soos ’n goue draad deur die dorpie.

Nou kan die drie susters Italië toe reis op soek na die oorsprong van die leviterende non. Meer wil ek nie weggee nie, maar dis ’n boek om jou in te verkneukel. Ek sien ’n rolprent kom. Ek beveel dit hoog aan.

Wie, wat, waar en hoeveel? Small Miracles deur Anne Booth is deur Harvill Secker uitgegee en kos R279 by Exclusive Books.

Waarna luister ons? “I will follow Him” van Sister Act.

Familietwis oor ’n taamlike fortuin

The Legacy deur Caroline Bond

Hier is nog ’n boek wat lees soos ’n rolprent, of ten minste ’n verhoogdrama. Jonathan Coulter het in die fynste detail voorsiening gemaak vir sy dood. Daar is die eerste vrou met wie hy 35 jaar getroud was, sy jonger tweede vrou, sy versorger en sy drie volwasse kinders om aan te dink. Hy het bepaal dat sy drie kinders alles erf, mits hulle ’n naweek saam kan deurbring en tot ’n vergelyk kan kom oor die verdeling van sy boedel. Dis baie gevra as jy eers die kinders leer ken. Elkeen was lief vir hom, maar hul verhoudings met hom en met mekaar was uiters problematies. Om nie eens te praat van hul non-verhoudings met sy tweede vrou nie.

Die naweek gebeur in die huis wat hy nagelaat het en waarin sy tweede vrou, Meghan (die liefde van sy lewe), nou woon. Sy is in uiterste rou gedompel en die kinders beplan om haar so gou moontlik die deur te wys.

Die oudste dogter, Liv, is die vroom presteerder, ’n mediese dokter met ’n besige lewe. Sy is ’n beheervraat en geneig tot oordeel. Sy is getroud met Angus, ’n liewe, skadelose, vervelige man: “Mild-mannered Angus. A man so laid-back the desire to smack him in the face was occasionally overwhelming.”

Noah, die enigste seun, is aantreklik, seunsagtig, ’n charmer, effe onbetroubaar, altyd laat, met ’n kop vol rykwordskemas en een wat graag wegskram van verantwoordelikheid. Hy is in ’n finansiële verknorsing.

Chloe, die jongste dogter, die baba van die familie, is altyd in die kake van ’n krisis, het nooit haar voete gevind in die wêreld nie, kan nie ’n beroep handhaaf nie, is geestelik pieperig en selfgesentreerd en het nog by haar pa en sy tweede vrou gewoon. Nie lewensvatbaar nie, soos my ma sou sê.

Daar is ’n redelike fortuin op die spel. Om dit in drie te deel sou eenvoudig wees, maar niks is natuurlik ooit eenvoudig nie. Noah het reeds groot bedrae geld by sy pa geleen. Chloe was vir jare finansieel afhanklik van hom. Liv is finansieel sterk. Wat van Meghan en selfs hul ma, wat met die egskeiding reeds haar pond vleis geëis het?

Die naweek van beslissing gaan gepaard met groot hoeveelhede drank en bitter bekgevegte.

Die skrywer kan karakters laat lewe. Die oorlede pa gooi ’n lang skadu oor almal van hulle: “He’d competed at everything. Aggressively. He’d been a royal pain in the arse a lot of the time. He was unforgiving and opinionated. Argumentative. Often impatient. A tough-love sort of dad.”

Die naweek van beslissing gaan gepaard met groot hoeveelhede drank en bitter bekgevegte. Die kinders is almal hardkoppig, mededingend en op die oog af onversoenbaar. Hulle kan oor niks saamstem nie. Die mooi en lankmoedige Meghan kook en dra vir almal kos aan terwyl hulle beplan hoe om haar uit die huis te sit.

In hierdie kruitvat daag Eloise, die eerste vrou en die kinders se ma, boonop ongenooid op. Sy is totaal selfgesentreerd en ontlok min simpatie by die leser. Sy wil die vonke sien spat, sy wil langs die kryt sit en die houe hoor val. Sy wil sien hoe haar opvolger dit hanteer.

Jy kan jou die spanning voorstel en die oomblikke van toevallige humor. Die wedywering, smart en vertwyfeling. Ek het baie lekker gelees en beveel dit hoog aan. Dit herinner aan Skandinawiese flieks soos Festen, aan Tennessee Williams-dramas waar ou familieskelette uit hangkaste tuimel, waar dinge op ’n spits gedryf word, gemoedere opvlam en onvergeeflike dinge gesê word. Is daar inherente goedheid in die mens en sal dit seëvier, of sal hebsug almal verblind? Lees maar self.

Wie, wat, waar en hoeveel? The Legacy deur Caroline Bond is deur Corvus uitgegee en kos R206 by Exclusive Books.

Waarna luister ons? Eminem se “Legacy”. 

’n Debuut uit die boonste rakke

How I Lose You deur Kate McNaughton

Hier is ’n mooi liefdesverhaal in rewind. Adam en Eva is in hul 30’s, getroud en buitengewoon gelukkig. Op bladsy 12 gaan hy in die nag aan ’n hartaanval dood. Die res van die boek is ’n roerende relaas van die verslae Eva se pogings om staande te bly en ’n agteruitspeel van die verhaal tot by hul ontmoeting. Hul oomblikke saam is besonder aangrypend in die lig van die leser se wete dat hy oorlede is.

Daar is ook ’n raaisel aan die hart van die boek. Eva se ma het as jong meisie uit Oos-Duitsland ontsnap en nooit teruggegaan nie. Sy het geen kontak met enige familie wat nog daar woon nie en praat nooit oor haar kinderjare nie. Adam was ’n dokter en het gereeld na Berlyn gereis. Eva wou nooit saamgaan nie. Sy is ’n ondersoekende joernalis wat na Irak, Afrika en New York tydens 9/11 gereis het, maar ná Adam se dood het sy geen trek meer vir haar beroep nie.

Daar is ander interessante newekarakters, soos Adam se vriend Henry –  bevoorreg, blink en ook maar verlore in die wêreld. En Eva se vriendin Carmen met haar eie demone. Henry en Carmen het ’n ding vir mekaar, maar dis nooit gesinchroniseer nie. Een is altyd besig om oor die ander te treur terwyl die ander in ’n nuwe verhouding betrokke raak. Henry trou met ’n vrou uit sy stand en lei ’n vervelige lewe, met Carmen altyd in die hoek van sy oog.

Die leser word, soos dit hoort, met interessante dilemmas en kwessies gekonfronteer. E-posse op sy rekenaar en sekere ander leidrade laat Eva vermoed dat Adam ’n affair gehad het. Sou so iets ’n mens se rou verdriet oor jou volmaakte liefde wat verby is temper, met woede laat vervang of eerder laat vermeerder?

Eva besluit oplaas om Berlyn toe te gaan op haar ma (en Adam) se voetspoor. Meer kan ek nie verklap nie.

Dis ’n stadiger lees, daar is veel om oor na te dink en baie oomblikke van insig. Soos in Small Miracles kom geloof, die gebrek daaraan en gebed ter sprake. Wat my getref het, was toe Adam se gelowige vriend vir Eva (’n ateïs) vra hoe sy haar verlies kan hanteer sonder geloof. Sy vra hom of dit nie sy geloof uitdaag nie. En hy antwoord: “I feel my faith in God has been shaken, but that doubt, those uncertainties, that anger – they’re still directed at him. It’s like – I don’t know, it’s like being a teenager and rejecting your parents, rather than being an orphan and not having any parents to reject … I feel less alone with it. I feel like what I’m going through is in a dialogue with someone. Even when God isn’t answering me – at least there’s someone doing the non-answering.”

Die skrywer is in Parys gebore en woon nou in Berlyn, sien ek. Sy is ook ’n dokumentêre rolprentmaker en daardie filmiese oog is duidelik in haar teks. Dit is sowaar haar debuutroman.

Ek beveel dit hoog aan vir lesers wat hou van menslike drama en motivering, die dinamika van vriendskappe en liefdesverhoudings, en hoe die tergende geheime van die verlede skadu’s oor die hede gooi.

Wie, wat, waar en hoeveel? How I Lose You deur Kate McNaughton is deur Doubleday uitgegee en is tans ongelukkig onbeskikbaar by Exclusive Books.

Waarna luister ons? Janis Ian se “Jesse Come Home".

En luister sommer ook na Roberta Flack se weergawe:

>> Lees nog oor boeke hier.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.