Politieke Notaboek | Die f-woord: Is Julius en Donald fasciste?

NADER EN NADER

Politieke Notaboek | Die f-woord: Is Julius en Donald fasciste?

MAX DU PREEZ skryf oor die tipering van politici as fasciste, oor die protes teen Vladimir Putin se oorlog wat na die oppervlak borrel, en oor die Sex Pistols.

Donald Trump
Donald Trump
Image: REUTERS/ANDREW KELLY

DAAR is ’n vuurwarm debat in Amerika nadat pres. Joe Biden die ondersteuners van Donald Trump se MAGA-beweging “semi-fasciste” genoem het. En hier aan huis is die EFF al meermale fasciste of “proto-fasciste” genoem.

Dis die politieke skelwoord van ons tyd. En dikwels pas die skoen.

Trump het self al meermale die Demokratiese Party fasciste genoem. Ek het byvoorbeeld ’n toespraak van hom in Minnesota op 7 Augustus 2020 opgespoor waarin hy van die Demokrate sê: “Fascists. They are fascists. Some of them, not all of them, but some of them, but they’re getting closer and closer.”

Biden het verlede week in Maryland gesê Trump ondersteun politieke geweld en glo nie langer in die demokrasie nie: “What we’re seeing now is either the beginning or the death knell of an extreme MAGA philosophy. It’s not just Trump, it’s the entire philosophy that underpins the – I’m going to say something – it’s like semi-fascism.”

Dalk moet die skellers die woord “fascisties” of “fascisme-agtig” gebruik eerder as om te sê iemand is ’n fascis, want dit is ’n politieke ideologie wat swaar in die geskiedenis geanker is, veral in Europa tussen 1919 en 1945.

Italië se Benito Mussolini is die oorspronklike poster boy van vroeë fascisme en sy party se naam was dan ook Partito Nazionale Fascista. Hy is gou deur Adolf Hiter se Nationalsozialistische Deutsche Arbeiterpartei oorskadu. Dan was daar ook die Vaterländische Front in Oostenryk, Antonio de Oliveira Salazar se União Nacional in Portugal, Ioannis Metaxas se Elefterofronoi (die party van vrye gelowiges) in Griekeland, en ander.

Wat al dié bewegings gemeen gehad het, is ’n ekstreme militaristiese nasionalisme, ’n demagogiese leierskapkultus, en ’n afkeer van veelparty-demokrasie en ’n oop gemeenskap en mense se basiese politieke en kulturele vryhede. Dit het die skepping van ’n nuwe volksgemeenskap ten doel gehad waar individuele belange ondergeskik aan die belang van die nasie gemaak word.

’n Mens sou natuurlik ’n sterk saak daarvoor kon uitmaak dat Vladimir Putin van Rusland deesdae al hoe meer fascisties word.

David Corn van die tydskrif Mother Jones plaas die Republikeinse Party se beswaardheid teen Biden se etikettering op rekord, maar vra dan: “But what to call a movement that denies election results, falsely claims an election was stolen, and refuses to admonish or excommunicate a leader who encouraged and used violence in his effort to overturn that election? In a flurry of unhinged tweets this week, Trump demanded his restoration to the presidency (a move impossible under the Constitution) and hinted that the FBI raid on Mar-a-Lago might spur his supporters to violence. That all sounds a bit fascist-ish.”

Alyssa Farah Griffin, ’n gewese direkteur van kommunikasie van die Trump-administrasie, het laas week op die gewilde TV-program The View gesê: “Do I think Donald Trump is a fascist … I think Donald Trump is. I think the vast majority of his supporters are not.”

Jason Stanley, a filosoof van Yale en skrywer van How Fascism Works, het verklaar: “You could call, legitimately call Trumpism a fascist social and political movement”. Hy sê Trump gebruik fascistiese politieke taktieke, maar hy glo nie sy regering self was klassiek fascisties nie.

Hier in Suid-Afrika het die vraag of die EFF fascisties is weer dié week ter sprake gekom toe die historikus Milton Shain en die DA-parlementslid Michael Cardo ’n stuk daaroor gepubliseer het. 

Die EFF deel verskeie ideologiese kenmerke met die fasciste van die vorige eeu, skryf hulle, insluitende die voorliefde vir pseudo-militêre titels, die aanstig van oproer en die aanvalle op besighede. “Even the EFF’s penchant for uniform harks back to the Brownshirts of Hitler’s Germany and Blackshirts of Mussolini’s Italy, as does Malema’s racist and redemptive rhetoric.

Maar ten minste op papier is daar veel aan die EFF wat nie fascisties is nie – hulle steun nog ’n onafhanklike regbank, gereelde verkiesings en vrye spraak, ten minste in beginsel.

“On balance, then, there is much about Malema that is not fascist, or only superficially fascist. He slots better into the category of racial nationalist, with populist leanings.” Malema is minder gepla met die verdeling tussen links en regs as met die kloof tussen elites en “the people”, skryf Shain en Cardo.

“In exploiting these divisions, Malema employs the language of France’s Marine le Pen and the Netherlands’ Geert Wilders. Identity and exclusion shape his politics.”

Dit knor oor die Kremlin

Pres. Vladimir Putin het die opposisie, sy kritici en die media in Rusland geheel en al monddood gemaak sedert sy magte Oekraïne in Februarie binnegeval het.

Maar die Russiese weermag se onlangse teenspoed en die vordering wat die weermag van Oekraïne in die ooste gemaak het, is besig om dié stilswye te roer. Daar is al hoe meer aanduidings dat invloedryke mense in Rusland begin om die wysheid van die oorlog te bevraagteken.

Rojale onverdraagsaamheid 

Maar terwyl daar meer kritiek in Rusland gehoor word, het die pendulum in Brittanje na die ander kant geswaai. Die geweeklaag oor die koningin se dood het eienskappe in die Britse samelewing na vore gebring wat min mense verwag het.

Daar was ’n edik dat geen sport in die dae ná haar dood gespeel mag word nie. Twee sokkerspanne wat wel wedstryde gespeel het, is nou diep in die moeilikheid. Voedselbanke vir die armes en hongeres is ter ere van die monarg gesluit.

’n Jong man wat ’n belediging aan die gediskrediteerde prins Andrew tydens ’n koninklike uitstappie geskreeu het, is summier in hegtenis geneem.

Selfs ’n outjie wat ’n stuk papier met die woorde “Not my king” omhoog gehou het, is deur die polisie weggelei.

Dit het die andersins besadigde TV-aanbieder Andrew Marr sterk woorde soos “idiotic” en “pathetic” laat gebruik.

Nuwe debatte oor Britse nalatenskap

Terwyl tienduisende lojaliste baie ure lank in die tou gestaan het om by die koningin se kis verby te loop, het die dood van die monarg darem ook nuwe debatte in Brittanje ontketen oor wat Brittanje eintlik beteken en hoe dit in die geskiedenis inpas. ’n Voorbeeld is dié monoloog deur die prominente joernalis en omgewingsaktivis George Monbiot. Hy draai nie doekies om nie:

God save the queen
’cause tourists are money

Ek het al hier geskryf dat ek nogal waardering vir Elizabeth II se waardigheid en rol as simbool van Britse nasieskap het.

Maar ek moet erken dat die eerste ding waaraan ek gedink het toe ek van haar dood gehoor het, was die Sex Pistols se 1977-treffer:

God save the queen
The fascist regime
They made you a moron
A potential H bomb
God save the queen
She's not a human being
and There's no future
And England's dreaming
Don't be told what you want
Don't be told what you need
There's no future
No future
No future for you
God save the queen
We mean it man
We love our queen
God saves
God save the queen
’Cause tourists are money
And our figurehead
Is not what she seems
Oh God save history
God save your mad parade
Oh Lord God have mercy
All crimes are paid
Oh when there's no future
How can there be sin
We're the flowers
In the dustbin
We're the poison
In your human machine
We're the future
Your future

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.