Elton kies die Smalle Weg

GOEIE NAAM KWYT

Elton kies die Smalle Weg

TINUS HORN skryf oor rugby, krieket en ’n vermeende dief se straf.

Image: TINUS HORN

MY seun sê nou die dag my vorige rubriek was bietjie prekerig na sy sin. Hy verstaan duidelik nie hoe die stelsel werk nie: Week een preek jy, week twee neem jy kollekte op.

Ek is nou besorg dat ek kompetisie van Elton Jantjies op die lyf kan loop. Ek lees hy is van die Springboktoer afgeskop. Sy oortreding word amptelik aangegee as “kefoefel”. Nou is hy sy goeie naam kwyt, en sal vermoedelik moet afgradeer na pastoor.

Dit dan die rugby vir die week.

Ek is nie besonder lus om oor krieket te gesels nie. Goed, as ek dan absoluut moet: Hoe stjoepit presies moet ’n keurder wees wat sê Dewald Brevis, die talentvolste kolwer in die land, het te min ervaring in plaaslike reekse om die T20 Wêreldbekerspan te haal? Die antwoord: onheilspellend stjoepit.

Goed. Kan ons asseblief aanbeweeg, sodat ek kan vertel van die dief wat ek laas week gevang het? En dit sonder enige plaaslike ervaring.

Ek was dadelik spyt, want waarvoor gebruik mens ’n dief as jy die dag een het? Ek is in die familie bekend vir die stylvolle Kersgeskenke wat ek op die gratis tafel voor die charity shop uitkies, en iemand gaan teleurgesteld wees as ek vanjaar met ’n dief opdaag.

Ewenwel, daar staan ek toe met die dief, wat eintlik net ’n vermeende dief was. Die streepsak wat hy saamgebring het, was immers leeg, en dit verg ’n flink verbeelding om die Checkers-trollie op die sypaadjie as ’n getaway car te beskryf.

Daar was wel die groot klip wat hy in sy hand gehad het toe ek hom langs my sitkamervenster bespeur. Party mense gaan wonder of ek dalk ’n oomblik lank getalm het – met die oog op ’n versekeringseis – sodat hy die klip deur die venster kan gooi voordat ek om hulp roep. Haters will hate.

Die rede waarom ek hom agternagesit het, bly vir my duister. My bewese aksieplan in so ’n situasie is om agteroor te sit en ’n lysie op te stel van al die cool besittings wat ek wens ek het gehad. Boaan die eisvorm staan mens moet dit so volledig as moontlik invul.

Ek sal voortaan meer ag moet slaan op daai TV-advertensies van toestelle wat namens jou die groente skil en braaibroodjies aanmekaarslaan terwyl jy uitgepaas op die vloer langs die bank lê. En dis nie al nie! Die toestel vee ook die brandewyn op wat jy gemors het toe Canan Moodie ’n box kick op dolle vaart uit die lug pluk en oor die doellyn skarnier vir ’n sensasionele drie.

Ek vind toe mos ná die tyd uit mens kan nie by die versekering vir ’n refill eis nie. Verdekselse skelms. Ek kan my so vervies.

Hy sou later verduidelik hy wou die polisie ontbied, maar sy airtime was op en mens kan nie WhatsApp-oproepe na die aanklagkantoor maak nie.

Waar was ek laas? O ja. Die dief.

Daar hol hy toe om die huis, en ek vat kortpad deur die gang. Ek kry hom aan die hoodie beet waar hy sukkel met die lendelam voorhekkie se knip en sleep hom terug die jaart in. Hoekom? Dis wat ek ook wil weet.

Op daardie juiste oomblik gee buurman Kosie gehoor aan my bloedstollende noodkreet van vroeër. Hy’t nogal lank gevat. Hy sou later verduidelik hy wou die polisie ontbied, maar sy airtime was op en mens kan nie WhatsApp-oproepe na die aanklagkantoor maak nie.

Soos die duiwel dit wil hê, teken Kosie ook prentjies, en weet bokkerol van taekwondo.

Maar newwermaaint, in sy hand het hy ’n mes. Die kleinste kombuismessie wat jy jou kan verbeel. Ek dink mens gebruik dit om ertjies te skil.

Hy waarsku die dief streng dat hy nie moet streke uithaal nie.

Kosie was verniet besorg. Ek het toe al kans gekry om die dief in die oë te kyk, en gesien hy rook beter stuff as ek. Ons was ewe min lus om handgemeen te raak. Hy was nie die soort geharde misdadiger wat mens met ’n mikroskopiese kombuismes tot oorgawe hoef te dwing nie.

Hy het gedwee toegelaat dat ek hom garage toe lei en hom binne toesluit.

Dis streng gesproke nie ’n garage nie. Dit bevat ’n paar stukkies geroeste tuingereedskap en die skilderye wat ek nie by my laaste uitstalling kon verkoop nie. Daar is nie plek vir ’n kar nie.

Met die dief veilig agter slot en grendel, hoor ek Kosie so half binnensmonds mompel mens moet dalk oor jou loopbaan besin die dag as jy mense moet arresteer om na jou skilderye te kyk.

Hy het gemeen die man het genoeg gely en vir hom oopgesluit.

Ek het gevoel die dief het te lig daarvan afgekom. Ek was nog van plan om vir hom ’n hoofstuk uit my nuwe boek voor te lees.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.