Om slimmer te soek na die regte soort skoolhoof

11 BEVOEGDHEDE WAT DIE VERSKIL KAN MAAK

Om slimmer te soek na die regte soort skoolhoof

Met die regte skoolhoof aan die stuur kan skole jongmense wat werklik gereed is vir die arbeidsmag die wêreld instuur en ’n groot verskil maak aan Suid-Afrika se droewige ekonomie en ongelykhede. Maar ons sal baie meer wetenskaplik te werk moet gaan om die regte mense by die regte skole aan te stel, skryf die bedryfsielkundige JACO JANSE VAN VUUREN.

  • 30 September 2022
  • Vrye Denker
  • 9 min om te lees
  • artikel 10 van 23
  • Jaco Janse van Vuuren
Image: 123RF/SLASHMAN

HOEKOM is Suid-Afrika ná byna 30 jaar se demokrasie steeds so besonders ongelyk? Wanneer gaan ons ekonomies selfversorgend wees? Waarom bly die gaping tussen ryk en arm so groot? Hoekom bly ons jeugwerkloosheidsyfer so hoog? Waarom vaar armer lande se leerders beter as ons s’n in kritieke leerareas soos lees, skryf en wiskunde?

Daar is nie eenvoudige antwoorde op hierdie vrae nie en daar is nie afgekampte, losstaande redes nie.

Navorsing vanuit verskeie studierigtings, waaronder ekonomie, sosiologie, ontwikkelingsielkunde, bedryfsielkunde en opvoedkunde wys drie spesifieke punte uit.

Eerstens: Die primêre rede waarom miljoene leerders in Suid-Afrika ontwikkelingsagterstande ervaar, swak presteer en daarna sosio-ekonomies immobiel word, is die groot verskille in blootstelling aan ontwikkelingsgeleenthede as gevolg van die swak gehalte van skole. Die tragiese realiteit is dat selfs al sou daar skielik genoeg werksgeleenthede vir almal wees, sal die meerderheid van ons arbeidsmag weens hierdie agterstande nie poste wat hoë vaardigheid verg suksesvol kon beklee of bestuur nie.

Navorsing het bewys dat potensiaal nie noemenswaardig verband hou met verskille in geslag, ras of etniese afkoms nie, maar beslis wel met verskille in blootstelling aan ontwikkelingsgeleenthede.

Tweedens: Die rol van skoolhoofde is kritiek om ontwikkelingsagterstande teen te werk. Daar is ’n hoop inspirerende gevalle waar skoolhoofde dit reggekry het om sukkelende skole om te swaai deur hulle personeel reg aan te wend.

Derdens: Die manier waarop skoolhoofde aangestel en bevorder word, moet dringend hersien word.

Ongelykheid lei tot verdeeldheid

Dekades se navorsing deur die span van Research for Socio-Economic Policy (ReSEP) aan die Universiteit Stellenbosch se departement van ekonomie het getoon dat die Suid-Afrikaanse skoolstelsel steeds ongelyke leergeleenthede produseer, waarbinne slegs ’n klein segment van leerders blootstelling aan goeie skole geniet terwyl die meerderheid hulle in swak presterende en selfs disfunksionele skole bevind. Ek herhaal: Die meerderheid van Suid-Afrikaanse leerders bevind hulle in swak tot disfunksionele skole en net ’n klein minderheid beleef die ontwikkelingsvoordele van goeie skole.

Volgens ReSEP tree die verskillende blootstelling wat kinders aan ontwikkelingsgeleenthede het al in voordat hulle laerskool toe gaan, en dit hou aan deur hulle hele skoolloopbaan. Dit bly ’n hindernis as hulle naskoolse opleiding ondergaan en lei op die ou einde daartoe dat hulle nie gereed is vir ’n loopbaan nie en dat hul maatskaplike mobiliteit vertraag word.

Goeie skoolhoofde die sleutel

Om hierdie uitdagings die hoof te bied, waarop moet ons eerste fokus? Wat sal die grootste verskil maak? Is groter begrotings en meer hulpbronne die antwoord? Moet die leerder-tot-onderwyser-verhouding afgebring word sodat daar meer intensief op die kinders as individue gefokus kan word?

Navorsing deur Prof. Servaas van der Berg en sy span toon dat hoewel die bogenoemde dinge almal van waarde is, dit nie hierdie faktore is wat deurslaggewend is nie, maar eerder skoolleierskap en bestuur. Om meer spesifiek te wees, die vermoë van die skool se leierskap en bestuur om hulpbronne om te skakel in leeruitkomstes. Genoegsame en gelyke hulpbrontoedeling word eers vrugbaar wanneer daar ’n goeie skoolhoof aan die stuur is.

Dit behoort geen verrassing te wees nie dat die samevatting van die wêreld se grootste studies oor skoolleierskap, deur die Amerikaner Kenneth Leithwood en sy span, die volgende te sê het: “Indeed, there are virtually no documented instances of troubled schools being turned around without intervention by a powerful leader. Many other factors may contribute to such turnarounds, but leadership is the catalyst.”

Die impak van skoolhoofde op die skole se uiteindelike sukses is universeel. Leithwood se bevinding, hoewel hy dit derduisende kilometer van ons af gemaak het, het onlangs ook duidelik geblyk in die Wes-Kaap toe Pinelands North Primary School en West End Primary School gelys is as een van die 10 voorste skole ter wêreld wat struikelblokke oorkom. Die betrokke twee skoolhoofde, Ann Morton (Pinelands) en Clive Arries (West End) het drie dinge goed doen:

Eerstens skep hulle vir die skool en gemeenskap ’n positiewe, uitdagende leerdergeoriënteerde visie en ’n duidelike plan hoe om daar te kom. Tweedens berei hulle die personeel goed voor om die visie te bereik en ontplooi mense op grond van hulle natuurlike sterkpunte. Derdens stel hulle ’n goeie voorbeeld vir personeel en sit hulle ekstra ure in om hierdie visie te bereik, al kos dit persoonlike opoffering.

Wat maak ’n goeie skoolhoof ’n goeie skoolhoof, ten minste in die algemeen? Voordat hierdie vraag deeglik oorweeg kan word, moet ’n mens eers bepaal wat ’n skoolhoof moet bereik om objektief as suksesvol beskou te word. Met ander woorde, hoe lyk ’n suksesvolle skool oor die algemeen?

Weer eens kry ons die antwoord uit die navorsingsargiewe en steun op een van die wêreld se grootste longitudinale studies oor skoolsukses. Die Consortium on Chicago School Research, wat reeds sedert die 1990's deur Anthony Bryk en sy navorsingspan gestuur word, het in 2010 ’n besonder waardevolle bevinding gepubliseer wat wys dat daar primêr vier interafhanklike ondersteuningsprosesse is wat deurgaans ’n vereiste vir sukses is: ’n koherente stel instruksies oor hoe onderrig moet geskied; sterk professionele kapasiteit; ’n leerdergesentreerde leerklimaat; en sterk bande met die gemeenskap en ouers. Binne hierdie prosesse bestaan daar dan verskeie prestasie-uitkomste, waaronder professionele kapasiteit om skoolpersoneel op te lei, gehalte-onderrig, gesonde bande met die gemeenskap en ouers, ’n veilige, leerdergerigte leerklimaat, die mate waarin leerders betrokke is, en ten slotte akademiese resultate.

Hierdie prestasie-uitkomste is wat bepaal hoe gereed die leerders uiteindelik vir die volgende fase van hulle lewe sal wees, of dit nou vir akademiese studie of praktiese werk is. Dit is dus ’n definisie vir sukses.

So, wat is dit wat sulke skoolhoofde doen wat hulle suksesvol maak?

Elke skoolhoof bevind hom of haar in ’n unieke situasie wat die soort leierskap bepaal wat benodig word, maar daar is wel ’n stel gedragsbevoeghede wat universeel van toepassing is. As ’n mens kyk na leierskap as ’n proses met ’n spesifieke struktuur en vloei, is daar drie onbetwisbare gedragsrolle wat skoolhoofde as die leiers van hul skole moet vervul om suksesvol te wees.

Die eerste rol behels dat die hoof die visie en strategiese rigting van die skool moet bepaal. Die tweede is om die skool se mense voor te berei om die visie en strategie te implementeer. Die laaste rol verg ’n heel ander stel bevoegdhede en is die daadwerklike implementering van die visie en strategie.

Dringende verandering nodig

In haar uitsonderlike doktorale studie (PhD) het Gabrielle Wills van die Universiteit Stellenbosch se departement ekonomie bevind dat die kriteria wat gebruik word om Suid-Afrikaanse skoolhoofde aan te stel en onderhoofde te bevorder nie noemenswaardig met kernuitkomste, waaronder akademiese uitslae, korreleer nie. Sy het al in 2015 ’n beroep op beleidmakers gedoen om ’n wetenskaplike benadering te volg met die aanstelling en bevordering van skoolhoofde, en stel ’n bevoegdheidsbenadering voor met aanstelling, ontwikkeling en bevordering.

Dit is hier waar die bedryfsielkundige die beste geposisioneer is om ’n bydrae te maak en die aflosstokkie aan die menslikehulpbronfunksie te oorhandig. Objektiewe voorspellingsmetodes soos geldige psigometriese instrumente wat op bevoegdheid gegrond is, moet gebruik word om persoonlikheid en kognitiewe vermoëns te toets en die relevansie daarvan op geprioritiseerde gedragsbevoegdhede te laai. Verder in die metingsproses moet kortlyskandidate se gedrag daadwerklik geobserveer word. In hierdie fase kan gestruktureerde onderhoude ’n groot bydrae lewer tot die akkuraatheid van personeelbesluite. Werk-steekproeftoetse is ’n stel take wat kandidate moet verrig wat tipies deel van dié rol is. Gestruktureerde onderhoude is scenario-gebaseerde vrae wat op ’n gestandaardiseerde manier aan kandidate gestel word en gebruik maak van metingsraamwerke met gedragsankers. Sodoende hang die eindtelling nie af van ’n onderhoudspaneellid se opinie nie, maar eerder van vasgestelde standaarde van bevoegdheid.

Gestruktureerde onderhoude is al deur prof. Paul Sackett van die Minnesota-universiteit uitgewys as die beste voorspeller van werkprestasie vir alle velde nadat dit voorheen in ’n mate onderskat is. 

Ek self streef daarna om dit wat die staat reeds met die aanstelling van skoolhoofde gebruik, te verbeter en meer wetenskaplik te maak. Saam met ’n span van die Universiteit Stellenbosch se bedryfsielkunde-departement, wat prof. Callie Theron, Francois van der Bank en Michelle Karsten insluit, het ons suksesvolle skoolhoofde self laat praat oor hoe hulle koppe werk en op grond daarvan ’n bevoegdheidsraamwerk gekonseptualiseer en ’n metingsinstrument op grond daarvan ontwikkel.

Ons navorsing dui op twee breë situasionele faktore, naamlik die druk om te verander en die kompleksiteit van die skool. Hierdie twee faktore bepaal in watter mate skoolhoofde meer transformatief moet optree. Transformatiewe gedrag skep verandering en innovasie deur middel van sterker veranderingsmeganismes soos paradigmaskuiwe en beleidsverandering. Ons navorsing toon ook dat 11 gedragsbevoeghede gekategoriseer kan word wat ongeag die konteks tot suksesvolle skole lei:

  1. Die ontwikkeling van ’n skoolvisie en formulering van ’n strategie;
  2. Die vasstel van doelwitte en verwagtinge;
  3. Die formele en informele ontwikkeling en groei van personeel;
  4. Strategiese verkryging en ekonomiese toedeling van hulpbronne;
  5. Beïnvloeding en kommunikasie;
  6. Om te lei met empatie en deernis;
  7. Volhouding met ’n studentgerigte omgewing;
  8. Besluitneming;
  9. Selfbestuur;
  10. Om te lei oor skoolgrense heen; en
  11. Die bestuur en viering van onderrig en leer

Om werklik 'n impak te maak, moet ons navorsing plaaslik gefokus maar terselfdertyd metodologies op ’n internasionale vlak mededingend wees. Ons kan nie bekostig om navorsing te probeer doen wat reeds deur vooraanstaande universiteite elders gedryf word nie. Ons moet fokus op navorsing wat ons meer maatskaplik mobiel en gelyk kan kry, en suksesvolle skoolhoofde is een van die maniere waarop ons dit kan bereik.

* Jaco Janse van Vuuren is ’n bedryfsielkundige en die stigter van Credens People Solutions, wat skoolgehalte verbeter deur die minimalisering van menslike sydigheid tydens personeelverwante besluite. Hy is ook dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland en eksterne studieleier by die Universiteit Stellenbosch se departement bedryfsielkunde.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.