Lemon creams vir Lewis as hy Lizzie se kis deur die ...

TYD VIR BENE REK

Lemon creams vir Lewis as hy Lizzie se kis deur die ouetehuis-esse kan kry

TINUS HORN kan aan 'n paar maniere dink om TV se gewildste sepie bietjie geloofwaardiger te maak.

Image: TINUS HORN

DIS toe al die tyd waar: Mens is op jou oudag spyt oor die goed wat jy nié gedoen het nie. Of te min van gedoen het. Boweal rock & roll en die ander twee.

Maar wag. Ek wil nie nostalgies raak oor alles wat nie met my gebeur het nie. Ek is seker selfs Keith Richards het berou oor verspeelde kanse. Hy’s natuurlik nou eers 79, so daar is nog tyd vir hom om te leer hekel.

Soms is dit moeilik om te sê in watter kategorie ’n ding val; “gedoen” of “nie gedoen nie”. Vat nou maar die keer, 40 jaar gelede, toe Marcie van die Klerksdorp Rekord se typing pool by ’n partytjie in my oor gefluister het ons moet gaan shower, en ek gesê het ek het by die huis gebad. Ek het dit gedoen, dus, en ook nie gedoen nie. Dieselfde ding het lank terug een of ander ou se kat oorgekom. Spoiler alert: Die uiteinde was tragies. Of nie.

Ek het nou die dag per ongeluk by ’n AA-byeenkoms ingedrentel en dadelik tuis gevoel toe die spreker sê selfverwyt is nutteloos en verlammend. Ek stem heelhartig saam – pak eerder die skuld op iemand anders. As Marcie my vooraf gewaarsku het, het ek destyds die baddery laat staan en skoon klere en ’n handdoek saamgevat partytjie toe.

Terug by die hede. Ek het by die vergadering uitgeglip toe hulle met ’n biegtery begin wat vir my verdag baie na selfverwyt geklink het.

Ek was eintlik op pad ouetehuis toe. Ek wou vir iemand gaan kuier. Enigiemand. Beurtkrag het pas ingeskop, dit was amper teetyd, en ek het verneem hulle het ’n generator en sit eersteklas- lemon creams voor. Ek was darem nog betyds.

Ek was effens onthuts oor die tonele wat hulle in die sitkamer afspeel. Daar was ’n samekoekery om die TV wat maklik tot beserings kon lei. Hulle was besig om ’n sepie te kyk, en ek is bly om te sê die kompetisie vir lemon creams was minder gedug as wat ek verwag het.

Die sepie speel in Engeland af. Daar was ’n begrafnis, wat ouetehuis-inwoners natuurlik na aan die hart lê. Die oorledene was ’n tante, uiters gewild in sekere kringe. Selfs wildvreemdelinge het troosteloos geween. Treurig. Dis nou die draaiboek. Ek meen, komaan.

Ek het my misnoeë te kenne gegee. ’n Hele paar senior burgers het my gesjoesj, toe sluit ek my maar buite by die rokers aan, wat soos altyd vriendeliker en vroliker was as die ander. Een snel my te hulp met ’n nuttige brokkie inligting: Dit is wel ’n sepie, sê hy, maar dit word regstreeks verfilm en is ’n wêreldwye treffer.

Ek het bitter jammer gevoel vir my minderbevoorregte vriende wat onder beurtkrag gebuk gaan, sonder nabygeleë bure met kragopwekkers, en besluit toe om die gebeure op Facebook vas te lê. Al die beste stoele was gevat, toe sê ek vir 'n oom in die voorste ry hy het ’n besoeker.

Op die skerm was daar creepy goeters aan die gebeur, soos ’n eindelose rondritsery met die kis. Spyt kom te laat, mense. Pleks julle die tante vir ’n spin gevat het toe sy dit nog kon waardeer, en ná ’n billike tyd êrens stilgehou het dat sy haar bene kan rek.

Maar nee. Genadeloos aan en aan en om en om, soos 'n F1-wedren wat mens teen ’n stadiger tempo verveel. Toe ek daai dink, tref ’n ingewing my: Hulle kan tyd spaar as hulle Lewis Hamilton agter die stuur laat inskuif.  Die kamera zoem in en ek sien die wa is ’n Merc, en, kan jy nou meer, die ou in die kajuit ís Lewis Hamilton!

Mens sou jou maklik kon verbeel die mense wat my verslag volg, sou my onbaatsugtige arbeid met ’n hele paar likes beloon.  Moenie glo nie. Pleks daarvan kry ek ’n boodskap van ’n dame op Trompsburg, kompleet met twee woedende gesiggies: “Jy hou daarvan om mens se gat te krap, nè?”

Ek het dit ontken, maar gesê sy kan in die ry kom staan, ek sal kyk wat ek kan doen.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!