Wat ons gesprekke oor die kwien ons van onsself vertel

DIE BALK VERSUS DIE SPLINTER

Wat ons gesprekke oor die kwien ons van onsself vertel

Ondanks die feit dat hy nie ’n vreeslike monargievolger is nie, meen DOUW KRÜGER koningin Elizabeth II het tydens haar baie lang termyn ’n goeie job gedoen. Na aanleiding van ’n klomp swetsers se lelike kommentaar oor haar en Brittanje op sosiale media en elders wonder hy oor dubbele standaarde en subjektiwiteit.

Image: GETTY IMAGES/HANNAH PETERS

ONGEAG aan watter kant van die draad mens staan, die Britse monarg se afsterwe was ’n mylpaal in die geskiedenis. Eintlik meer as dit, want die afskeidsproses was ’n geskiedenisdrama opsigself.

Dit gaan nie nou hier daaroor of ek die koningin bewonder het of nie. Ek is nie ’n vreeslike monargievolger nie, maar ek gee gou ’n eenparagraafsiening van haar.

Ek dink sy het in haar baie lang termyn ’n goeie job gedoen. Natuurlik nie volmaak nie. Tuis moes sy dalk ’n bietjie harder gewerk het aan haar kinders se onder-die-belt waardes. En ek stem saam met Jonathan Jansen – sy kon tog maar namens Brittanje ’n paar duidelike verskonings aangebied het vir dit wat die empire in sy koloniale strewes aan ander mense gedoen het. Dalk het sy gemeen dat om nice en erkentlik te wees, soos wat sy teenoor Nelson Mandela was, genoeg punte sou tel. In haar wêreld is understatement mos die norm. Maar alles inaggenome dink ek sy het respek verdien.

In die eerste paar dae ná haar dood het die sosiale media hier by ons gegons. Soos seker maar in alle lande wat ’n historiese verbintenis met Brittanje het. Vanuit die Engelssprekende geledere het ek meestal waarderende opmerkings gelees, maar ook ’n klompie skewe uitlatings. Dalk van oud-Rhodesiërs, ek sal nie weet nie. Uit Afrikaanse geledere ook nogal heelwat positiewe opmerkings. Maar soos mens kon voorspel, was daar genoeg verwysings na die Boereoorlog en konsentrasiekampe. En baie daarvan was nie netjiese kommentaar nie. Meer teen Brittanje gemik as teen haar as persoon, maar die visier was wyd gestel.

Clichés bevat meestal vanselfsprekende waarhede. Soos die een wat sê dat subjektiwiteit die primêre bron van konflik is. Dit beteken maar net dat ’n mens ’n ingebore en impulsiewe geneigdheid het om dinge vanuit jou eie hoek te sien en te beoordeel. Op papier weet ons almal dit. Ons het grootgeword met die vermaning in Mattheus 7 vers 5 oor die balk versus die splinter. Maar in die praktyk bepaal my eenogige siening van my eie verdriet, my eie geluk en my belange hoe ek dinge beoordeel en verwoord.

Oorlewingsmeganismes

Dit is natuurlik wel deel van ’n mens se oorlewingsmeganismes. Daar is situasies waar dit net nie sin maak om dinge eers deeglik te ontleed en te oordink nie. Soos wanneer iemand jou selfoon uit jou hand probeer gryp. Jy reageer instinktief.

Opinies oor geskiedkundige gebeure val uiteraard in ’n ander kategorie. En hoe langer gelede iets gebeur het, hoe meer objektief behoort mens dit te bekyk. Tog werk dit nie altyd só nie. Dink maar bietjie oor ons eie volkie se optrede, sondes en sienings gedurende die afgelope 120 jaar en selfs langer.

Ek kom uit ’n Afrikaner-nasionalistiese familie. My oupa se broer was in die Boereoorlog ’n Kaapse Rebel wat nadat hy gevang is darem die doodstraf vrygespring het en St. Helena toe gestuur is. My ander oupa se broer was ’n 1914-rebel wat in ’n geveg tydens die Rebellie gesneuwel het. My pa was ’n Ossewabrandwaglid (terwyl my ma ’n NP-ondersteuner was – ’n bron van spanning vir die jong huwelikspaar) en later ook ’n Broederbonder. Die Duitse spioen Felix (Lothar Sittig) en sy gesin was goeie huisvriende van ons.

Nou kom ons by die balk in die eie oog. Baie gou ná Uniewording, net ’n dekade nadat die Britte die Boere se land oorgeneem het, promulgeer die Unieregering die Wet op Naturellegrond. ’n Wet wat swart mense se grondbesit beperk tot 10% van die land. Grond wat reeds as “Naturelle-reservate” bekend gestaan het. Dit was een van die eerste kwessies wat die nuut gestigte South African Native National Congress onder leiding van Sol Plaatje aangepak het.

Die Rebellie van 1914 kan ek vandag in ’n mate verstaan. Dit was maar 12 jaar ná die Boereoorlog en die gemoedere was nog rou. Om saam met Engeland te gaan veg teen ’n land wat die Boere goedgesind was, was nogal baie gevra. Maar ek moet ook sê ek verstaan die optrede van die rebelle beter as my eie kerk se gekamoefleerde goedkeuring van die Rebellie. Die sinode kon dinge darem meer prinsipieel deurdink het.

Halwe waarheid

Die Tweede Wêreldoorlog val vir my duidelik in ’n ander kategorie. Dit was byna 40 jaar ná die Boereoorlog – langer as ons post-apartheidera. Die oorlog het ’n aanloop gehad wat, om dit baie sagkens te stel, Duitsland nie eer aangedoen het nie. Die etniese uitwissingsplanne was wel nog nie bekend nie, maar die teikening van die Jode en ander etniese groepe was reeds ’n groot rooi vlag. En die inval in Pole en ander gebiede het daardie vlag hard laat wapper. Dit was baie anders as die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog. Die Ossewabrandwag se optrede tydens die oorlog is later geregverdig as anti-Engeland eerder as pro-Duitsland. Maar dit is ’n halwe waarheid.

En dan natuurlik apartheid met sy baie lang aanloop wat sedert 1948 deur die NP verhard en geïnstitusionaliseer is. Oor sekere van die beginsels agter Groot Apartheid kan daar dalk debat gevoer word. As dit nie voorafgegaan was deur grondonteiening nie en as alles heelwat vroeër op ’n regverdige en lewensvatbare basis aangepak was, kon daar dalk vandag nóg Swazilande, Namibiës, Botswanas en Lesotho’s gewees het. Oor Klein Apartheid hoef ons glad nie eens te praat nie – ’n skandvlek soos min.

Nou terug na die koningin en die lelike kommentaar oor haar en Brittanje en die subjektiwiteitskwessie. Ek het ’n hele paar van die swetsers se Facebookbladsye gaan bekyk. En daar ’n boel blatante rassisme aangetref. Nie kritiek teen die ANC as organisasie nie. Nee, ’n veroordeling van swart mense en natuurlik van FW de Klerk, die uitverkoper.

Hoe bring mens nou die dinge bymekaar? Die Engelse pleeg ’n groot onreg teen die inwoners van die Boererepublieke, wit en swart – onverskoonbaar. Die nuwe regerende Britse party ondersteun daarna wel in ’n mate die herstelproses. Agt jaar ná die oorlog word selfregering aan die Unie van Suid-Afrika toegeken. Daar is nie regtig ’n skulderkenning nie. Dis nie deel van die kultuur nie. Maar op grondvlak kom eertydse vyande nader aan mekaar. My Kaapse rebellefamilie en hulle Engelse bure word ná die oorlog goeie vriende.

Die dubbele standaarde wat maar ’n uitvloeisel van subjektiwiteit is, is opvallend en agterna beskou meestal onverstaanbaar. Die Britse koningin, wat amper ’n kwarteeu ná die Boereoorlog eers gebore is, word by haar dood bygekom deur mense wat self ’n volksgeskiedenis vol vlekke het. Mense wat as individue tog soms netjiese verhoudings met hulle naaste aan die ander kant van die draad het (en dit in gesprekke ook as krediet aanwend). Maar as die klomp eendersdenkendes bymekaar kom, om ’n braaivleisvuur of op sosiale media, dan bly die balk stewig in die oog sit.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.