Die probleem met buitelandse studente in Nederland

NUWE WET VOLGENDE JAAR VERWAG

Die probleem met buitelandse studente in Nederland

Nederland is 'n aantreklike bestemming vir buitelandse studente en hulle lewer miljoene euro's vir dié land se skatkis, Dit kom egter teen 'n prys, skryf ANESCA SMITH.

Image: 123RF/ROBERTVANDERHOENDERDAAL

KLEIN soos hy is, het Nederland hom die afgelope twee dekades as een van Europa se aantreklikste bestemmings vir buitelandse studente gevestig wat miljoene euro’s vir die skatkis oplewer.

Nou loop die land hom egter teen sy grense vas: Nie net is daar groot kommer oor die grootskaalse verengelsing van universiteite nie, maar daar is ook geen woonruimte vir die toenemende aantal inkommers nie.

Sommige universiteite het dié maand, met die aanvang van die nuwe akademiese jaar, selfs studente wat reeds aanvaar is kort op die nippertjie gewaarsku om nié na Nederland te kom nie tensy hulle gewaarborg is van ’n blyplek.

Uit desperaatheid het sommige studente selfs tente opgeslaan terwyl hulle ’n woonplek soek. Wat sake verder bemoeilik, is dat daar op die oomblik ’n groot huistekort in die land is wat gepaard gaan met veel mededinging op die huismark en toringhoë koop- en huurpryse. Die huidige tekort aan studentewonings alleen word op 26,500 geraam.

Boonop kry buitelandse studente dikwels met diskriminasie op die woningmark te make met advertensies wat lui “No Internationals” of “Dutch Only”. Die behoefte aan ’n huurder wat Nederlands praat word aangevoer as een van die redes vir die bewoording van die advertensies – veral dié wat deur Nederlandse studente in ’n gedeelde huis geplaas word.

Volgens die Sentrale Buro vir Statistiek het 115,000 buitelandse studente hulle in 2021 vir studie geregistreer. Dit beteken dat 40% van eerstejaarstudente nou uit die buiteland kom. In 2006 was daar maar 31,000 registrasies. Die goeie nuus is dat joernalistiek tans een van die gewildste studierigtings onder internasionale studente hier is.

Toename in getalle

Die toename in getalle die laaste paar jaar strook volgens die Sentrale Planburo (CPB) met wat internasionaal op die studentemark gebeur en ’n owerheidsbeleid wat erg gerig is op die aantrek van internasionale studente.

Wat maak die land so aantreklik vir buitelandse studente?

Nederland het die grootste aanbod Engelstalige studieprogramme in die hele Europa en die meeste inwoners hier praat goeie Engels vergeleke met Frankryk, Duitsland of Italië. Die land het oor die jare ook ’n beeld opgebou van verdraagsaamheid en gelykheid.

Verder is studieprogramme redelik bekostigbaar in vergelyking met ander lande en het Nederland gebaat by die toenemende streng beleid in Brittanje teen buitelanders, insluitend studente, as een van sy grootste mededingers op die studentemark.

Boonop kry afgestudeerdes wat in die land wil aanbly ’n jaar tyd om ’n werk te soek sonder dat hulle ’n spesiale verblyfpermit nodig het. Ingevolge Europese reëls kan jy dié grasietydperk selfs tot drie jaar ná jou studies benut.

Nederlandse universiteite soos die Universiteit van Amsterdam en die Universiteit van Wageningen pryk ook gereeld onder die top-100 op wêreldranglyste.

‘Cash cows’

Die CPB het in 2019 bereken dat studente van buite die Europese Unie elk tot byna €90,000 (sowat R1.56 miljoen) tot die ekonomie bydra in die eerste vyf jaar van studie en werk in Nederland. Ongeveer driekwart van die buitelandse studente kom van binne die EU – hoofsaaklik Duitsland, Italië en België. Ook hulle dra na skatting elk tot byna €17 000 (sowat R294,000) by tot die skatkis.

Die meeste nie-Europese studente het voor die corona-pandemie uit China gekom, gevolg deur Indië en die VSA. Die regering het ook sogenaamde Nuffic-kantore (Nederlandse Organisasie vir Internasionale Samewerking in Hoër Onderwys) in sekere strategiese lande soos Suid-Afrika, Viëtnam, Indonesië, China en Brasilië gevestig om Nederlandse hoë onderwys daar te bevorder.

In 2019 het De Correspondent ondersoek gedoen na die groeiende aantal buitelandse studente in Nederland. Volgens die platform bied dié studente nog die enigste kans op werklike groei vir universiteite hier. Die Rijksuniversiteit Groningen sou in sy beleidsdokumente van 2014 selfs na ’n aantal Engelstalige opleidinge verwys as “cash cow-studies”. Dit sluit in programme soos International Business en European Law wat internasionaal goed doen en veel studente lok.

“Die finansiering van universiteite werk as volg,” skryf die platform. “’n Groot deel van die geld wat staatsuniversiteite van die owerheid kry word verdeel op grond van die aantal studente en die aantal diplomas wat uitgereik word. Dit geld nie net vir die aantal Nederlandse studente nie, maar ook EU-studente.

“As een universiteit egter nie groei nie en die ander wel, kry eersgenoemde ’n kleiner deel van die begroting. Dus, alle universiteite wil groei. Ongelukkig is daar net soveel Nederlandse studente – hulle getalle daal selfs al jare. Universiteite wat hul studierigtings so toeganklik moontlik maak vir internasionale studente kan groei en hul markposisie vergroot. Of in ieder geval vashou.”

Internasionalisering

Internasionalisering van Nederlandse onderwys het werklik in 1999 aan die gang gekom met die ondertekening van die Bologna-verklaring deur 26 Europese lande. Die idee was om hul onderwysstelsels in lyn te bring met mekaar, onder meer vir die uitwisseling van studente oor landsgrense heen om onder meer wetenskap te bevorder.

Om buitelandse studentesyfers meer onder beheer te kry het sommige universiteite, soos die Universiteit van Amsterdam, die regering vir toestemming gevra om die aantal buitelandse studente vir sekere studierigtings te beperk.

’n Nuwe wet in dié verband word volgende jaar verwag, maar intussen word universiteite gevra om meer terughoudend te wees met die werwing van buitelandse studente. Die kabinet beoog om die bou van nog 60,000 studentewonings teen 2030 te voltooi.

Die wet sal in ieder geval dit moeiliker maak vir buitelandse studente om in Nederland te studeer. Instellings sal byvoorbeeld dan per vak moet redes aanvoer waarom dit ook nodig is om ’n Engelse variant aan te bied. Ook sal die aanleer van Nederlands onder buitelandse studente bevorder moet word deur die wet.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.