Kom saam op ’n Amerikaanse kosreis

FYNPROE

Kom saam op ’n Amerikaanse kosreis

Toe ’n nuwe kookboek op NETTIE PIKEUR se tafel beland, moes sy eenvoudig die kombuis invaar. Ons kook en kuier saam deur Keurgeregte van die wêreld wat in 1993 uit die pen van Pat Kossuth verskyn het.

Image: 123RF/LENYVAVSHA

DIS altyd lekker om ’n vrolike nuwe kookboek op jou lessenaar te kry, veral as die Kaap lyk soos hy vandag lyk: nat en winderig. Die handdoeke bly klam en die see lyk vanmôre soos lood. Moenie al weer brom oor die weer nie, klink vrind Marthinus se stem uit die kombuis op. Jy weet die Kaap se weer is wispelturig. As jy altyd helder dae wil hê, gaan woon in Cornelia.

Wat op aarde hom aan Cornelia laat dink het, weet nugter. Maar ja, hier is die vrolike kookboek: Dit heet Keurgeregte van die wêreld (Tafelberg) en verskyn uit die pen van die vermaarde Pat Kossuth, wat nie net ’n gesoute kok is nie, maar die kuns verstaan om ’n resep helder en eenvoudig te maak. Sy het talle resepte self oor die wêreld bymekaargemaak en is dus ’n praktiese kok, nie een wat gaan navorsing doen oor die real thing nie.

Ek moet dadelik byvoeg: Hoewel die boek aantreklik is met ’n helderblou omslag van die een of ander Chinese gereg en hoewel dit talle pragfoto's op glanspapier bevat, is die resepte op die meeste toeganklik, nie avontuurlik nie. Dit het ook ’n ietwat vertaalde gevoel, die Afrikaanse kopie sprankel nie eintlik nie.

Nietemin is dit ’n deeglike en bruikbare boek, uitstekend vir die gasvrou wat Ius het om ’n nuwe gereg voor te sit.

Net een ding: Mies Pikeur het in haar jeug in ’n Turkse restaurant leer kook en Turkse kookterme geleer. Mev. Kossuth beweer cacik is Griekse tamatiejogurtsop met seekos. No way! Cacik is die Turkse weergawe van die bekende Griekse tzatziki, wat sy ook onder die Griekse hoofstuk saam met cacik liasseer. Dis gewoon verkeerd.

Maar dis nou kibbel. Sy het waarskynlik die resepte by ’n Turkse eetplekkie gekry waar die eienaar hoog en laag gesweer het dis wat cacik is.

Vandag hou ons by Amerikaanse kos, want ek verlang al weer New Orleans toe en hoewel baie Amerikaanse geregte power is, het ek in daardie land, veral in New York en San Francisco en natuurlik New Orleans, van die lekkerste kos in my lewe geëet. Die ander lande in die boek strek van Frankryk en Italië tot Oostenryk, Duitsland, Rusland, China, die Midde-Ooste, Spanje, Portugal, Griekeland, Indië en Skandinawië. Omvattend, hoor!

Maar hier is eers ’n New England-visbredie waaroor New Englanders en New Yorkers al twee eeue lank stry. Gapermossels koop jy in ’n blikkie of gebruik witmossels wat jy self op Hermanus gaan uitgrawe.

Ek het die resepte effens aangepas.

New England-visbredie

Braai 100g rou ham of spekvleis, in blokkies gesny, in ’n eetlepel botter. Skep uit en braai 2 groot gekapte uie in nog ’n bietjie botter by. Roer by sowat 1 koppie gekapte tafelseldery, 2 gekapte aartappels, bietjie tiemie, swartpeper en 4 teelepels hoenderaftrekselpoeier. Vul die vloeistof uit ’n 750g-blik gapermossels aan met water totdat 500ml verkry is, en voeg 1 liter melk by. Prut die groente tot net sag en voeg die gapermossels by 5 minute voor opskep. Verdik met ’n bietjie meel as jy wil, maar die aartappels sal die gereg genoeg verdik om ’n stewige bredie te maak.

Dis genoeg vir 6 tot 8 porsies en ek stel voor baie brood en botter is the form. Jy kan natuurlik ook kierang en stukke vis by die gereg voeg, maar dan is dit nie meer reg nie.

Hierdie spinasie-en-sampioenslaai kom van Atlanta in Georgia . Ek is ’n ou liefhebber van die kombinasieslaai en dié een klink eg Amerikaans en lekker.

Image: 123RF/TYCOON751

Peach Tree se spinasie-en-sampioenslaai

In ’n groot bak rangskik jy ’n kop sagte botterslaaiblare, asook 15 tot 20 jong spinasieblare, silwerskoon en grof met die hand geskeur.

Marineer 250g knopiesampioene, in skyfies gesny, saam met knoffel, croutons (come on, jy weet hoe om blokkies brood te braai!), gekapte pietersielie en ’n hand vol varsgerasperde parmesaankaas oor.

Die slaaisous is ’n klassieke vinaigrette met ’n halfkoppie olyfolie, 2 lepels vol wynasyn, en sout en peper na smaak, miskien met ’n tikkie mosterdpoeier by. Klits goed.

Dié twee brode kom uit twee heeltemal verskillende streke. Die mieliemeelbrood uit Louisiana, seker naby New Orleans vanweë die byt, die ander van die Episkopaalse Kerk naby Ivy, Virginië. Nes ons s’n is hulle kerkbasaarkos voortreflik.

Louisiana-mieliebrood

Verhit ’n swaar braaipan sonder handvatsel of ’n koekpan by 200°C in die oond. Sif 1½ koppies mieliemeel, ½ koppie koekmeel, 1 eetlepel suiker, 2 teelepels bakpoeier en 1 teelepel koeksoda alles saam en voeg dan 1 koppie gerasperde cheddarkaas by. Klits 2 gekapte vars rooi brandrissies, of net een as jy nie van soveel brand hou nie, saam met 2 groot eiers en 1½ koppies karringmelk.

Smelt 3 eetlepels botter in die warm pan en skep die deeg in. Bak 25 tot 30 minute tot die brood van die rande loskom. Sit in die pan voor met botter.

Image: 123RF/BONDD

Thimble Farm-piesangbrood

Klits 100g botter en 1 koppie suiker saam. Voeg 3 groot, ryp, fyngedrukte piesangs en 2 eiers by en meng deeglik. Sif 2 koppies meel met ’n knypie sout en 1 teelepel koeksoda by. Roer 4 eetlepels warm water en 1 opgehoopte teelepel bakpoeier by. Skep in ’n gesmeerde en meelbestrooide pan en bak sowat 1 uur by 180°C of tot ’n toetspen skoon uitkom.

Die laaste twee resepte, hoewel nie oordadig soet nie, is vir al die mans wat altyd so neul oor poeding en dies meer. Hulle kan stroop oor albei brode gooi as hulle wil.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Vrye Weekblad van 8 Julie 1993 verskyn.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!