Goeters wat jy nie hoef te weet nie, maar tog

WIET DJY?

Goeters wat jy nie hoef te weet nie, maar tog

  • 14 Julie 2023
  • Vrye Denker
  • 1 min om te lees
  • artikel 11 van 28
Image: ANGELA TUCK

The Book Of Lists: The Original Compendium of Curious Information is 'n omvattende versameling van feite vreemder as fiksie en trivia waarvan jy eenvoudig wíl weet. Meer as agt miljoen eksemplare daarvan is verkoop. Hier is vier van die mees bisarre uit 'n lys van “10 ongewone mediese toestande”.

1. Wortelverslawing

Die uitgawe van Augustus 1992 van die British Journal of Addiction beskryf drie ongewone gevalle van wortelafhanklikheid. 'n Veertigjarige man het sigarette met wortels vervang, en het tot vyf bosse per dag geëet, terwyl hy obsessief daaroor gedink het. Toe die wortels onttrek is, het hy en ander pasiënte “in verhoogde prikkelbaarheid (irritability) verval”.

2. 'n Lus vir eetgerei

Die begeerte om metaalvoorwerpe te eet is betreklik algemeen. Daar is die ekstreme geval van die 47-jarige Engelsman Allison Johnson, 'n inbreker (en alkoholis) met 'n drang om eetgerei te eet. Hy het 30 operasies gehad om vreemde voorwerpe uit sy maag te verwyder, waaronder agt vurke en die metaaldele van 'n mopkop.

3. Vreemde-aksentsindroom

Daar is ongeveer 50 aangetekende gevalle van vreemde-aksentsindroom waarin mense wat 'n beroerte of ander besering opgedoen het met 'n nuwe aksent begin praat. Tiffany Roberts van Florida in die VSA was byvoorbeeld nog nooit in Brittanje nie, maar het ná 'n beroerte met 'n Engelse aksent begin praat, met woorde soos “bloody” en “loo”. En 'n Noorse vrou wat in 'n lugaanval deur skrapnel teen die kop getref is, het met 'n duidelike Duitse aksent begin praat.

4. 'n Vreemdeling se hand

Dr. Strangelove-sindroom is 'n bisarre neurologiese steuring wat veroorsaak dat iemand se een hand onafhanklik van die ander optree, en teen die persoon se wil. Een hand kan byvoorbeeld 'n hemp toeknoop terwyl die ander dit weer losknoop. Soms kan die hand aggressief raak deur die persoon te knyp, klap of met die vuis te slaan. In minstens een geval het 'n hand sy eienaar probeer verwurg.

– Anneliese Burgess

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.