Goeters wat jy nie hoef te weet nie, maar tog

WIET DJY?

Goeters wat jy nie hoef te weet nie, maar tog

  • 21 Julie 2023
  • Vrye Denker
  • 2 min om te lees
  • artikel 12 van 29

AL die een gehoor van oom Frans wat sy vyfde kind Zhou Ling laat doop het? Hy het gehoor elke vyfde kind wat gebore word, is Chinees, was sy verduideliking.

Wel, as die oom se knaap eers in 2023 gebore is, sou hy hom seker Sanjeev of Rajesh moes noem. Daar is nou meer mense in Indië as in China.

’n Kwart van die 8 biljoen mense op aarde woon in die vier groot lande op die Indiese subkontinent (Indië, Pakistan, Bangladesh en Sri Lanka). In al die lande is krieket die gewildste sport.

Suid-Afrika is die sesde grootste land in Afrika naas Nigerië, Ethiopië, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Tanzanië en Egipte – dis nou indien jy Egipte nie as deel van die Midde-Ooste nie, maar eerder as deel van Afrika beskou.

Volgens die VN gaan net ’n paar lande oor die volgende 30 jaar vir meer as die helfte van die wêreld se bevolkingsgroei verantwoordelik wees. Vyf van hulle is in Afrika: die DRK, Egipte, Ethiopië, Nigerië en Tanzanië. Poligamie is een van die redes hiervoor. Sowat 36% van getroude vroue in Nigerië deel hulle mans met ander vroue. Die syfer vir Tanzanië is 25% en Ethiopië 11%.

Só lyk die jongste (afgeronde) bevolkingsgetalle van lande met meer mense as Suid-Afrika (in miljoene):

Indië 1 428; China 1 426; VSA 336; Indonesië 277; Pakistan 240; Nigerië 224; Brasilië 216; Bangladesh 173; Rusland 144; Mexiko 128; Ethiopië 126; Japan 123; Filippyne 117; Egipte 113; DRK 102; Viëtnam 99; Iran 89; Türkiye 86; Duitsland 83; Thailand 72; Brittanje 68; Tanzanië 67; Frankryk 65; en Suid-Afrika 60.

Daar is meer as 7 100 erkende tale in die wêreld. Engels is die taal wat internasionaal die meeste gepraat word – let wel, dit verwys nie na die getal moedertaalsprekers nie – met 1 132 miljoen sprekers. Dan volg Mandaryns (1 117), Hindi (615), Spaans (534), Frans (280), Arabies (274), Bangla/Bengali (265), Russies (258), Portugees (234), Indonesies (199), Urdu (170) en Duits (132).

– Max du Preez

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.