Goeters wat jy nie hoef te weet nie, maar tog

WIET DJY?

Goeters wat jy nie hoef te weet nie, maar tog

  • 28 Julie 2023
  • Vrye Denker
  • 2 min om te lees
  • artikel 12 van 29

OM geniaal te wees, selfs onder die bestes in die geskiedenis gereken te word, is geen waarborg dat jy nie in armoede gaan sterf nie.

(Aan die ander kant, soos ons in die wêreld om ons sien, is daar baie wat stinkryk word, selfs onder die rykstes in die wêreld tel, wat nie juis veel werklike talente het nie.)

Vincent van Gogh is een van die grootste skilders ooit. Selfs mense wat min in kuns belang stel, sal sy werke soos Sterrenag en Sonneblomme herken en hy neem ’n gesogte plek in van die beste kunsgalerye in.

En tog het hy in sy hele lewe (1853 tot 1890) net ’n enkele skildery verkoop. Hy het in 1890 selfdood begaan en het nie ’n sent op sy naam gehad nie.

Rembrandt van Rijn (1606 tot 1669) was wel in sy eie lewe beroemd en het baie skilderye verkoop, maar ná die dood van sy vrou en muse, Saskia van Uylenburg, het sy kreatiwiteit en lewe vinnig agteruitgegaan. Hy is in 1656 bankrot verklaar en hy is 14 jaar later in armoede dood. Tweehonderd jaar ná sy dood het Amsterdam die beroemde Rijksmuseum tot sy eer gebou.

Arme Johannes Vermeer (1632 tot 1675) is ook in armoede dood, want sy werk is is eers baie jare ná sy afsterwe “ontdek”. Die Rijksmuseum se uitstalling van 28 van sy skilderye in Junie vanjaar was ’n groot geleentheid in die internasionale kunswêreld.

Die Engelse digter en skrywer Oscar Wilde (1854 tot 1900) word vandag nog gereeld aangehaal en gereken as een van die heel grootste literêre figure van die 19de eeu. Hy is in 1900 brandarm en alleen in ’n derderangse hotelletjie in Parys dood.

Friedrich Nietzsche (1844 tot 1900) was ’n Duitse filosoof wat die hele basis van die Christendom en tradisionele moraliteit uitgedaag het. Hy het ernstige probleme met geestesgesondheid gehad, al het hy geskryf: “All superior men who were irresistibly drawn to throw off the yoke of any kind of morality and to frame new laws had, if they were not actually mad, no alternative but to make themselves or pretend to be mad." Hy is in 1900 in armoede dood.

(Ek het in die 1980’s ’n T-hemp in Berlyn gesien met die woorde: Nietzsche ist tot – Gott.)

Een van die heel grootste fisici, ingenieurs en uitvinders in die geskiedenis, Nikola Tesla (1856 tot 1943), het ook as armlastige gesterf. Hy was onder meer die uitvinder van wisselstroom en die radio en was in 1931 op die voorblad van Time. Hy het in sy laaste jare ’n liefdesverhouding met ’n wit duif gehad.

 Max du Preez

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.