Dié week in die geskiedenis
20 November 1998: Die regering van Zimbabwe konfiskeer 841 plase wat aan wit boere behoort.
22 November 1963: Lee Harvey Oswald skiet pres. John F. Kennedy in Dallas dood.
22 November 1977: Die Nasionale Party-volksraadslid dr. Robert Smit en sy vrou word in hulle huis in Springs vermoor, 'n voorval wat vandag nog 'n raaisel bly.
22 November 1990: Ystervrou Margaret Thatcher bedank as Britse eerste minister.
25 November 1981: Kol. Mike Hoare en 'n groep huursoldate se staatsgreep in die Seychelle misluk.
’n Vrugtevolle gesprek
Vrugte word gekategoriseer volgens die deel van die plant wat tot die vrug ontwikkel, nie volgens hoe dit smaak of lyk of geëet word nie. Daarom is daar 'n paar verrassings: 'n Avokado is 'n vrug, nie 'n groente nie. Meer spesifiek is 'n avokado 'n enkelsadige bessie (alle bessies is vrugte, maar nie alle vrugte is bessies nie).
Om as 'n bessie beskou te word, moet 'n vrug uit 'n enkele vrugbeginsel ontwikkel en oor die algemeen 'n sagte eksokarp en vlesige mesokarp hê. Die endokarp moet ook sag wees en kan een of meer sade insluit. Gevolglik is 'n piesang ook botanies gesproke 'n bessie – die saadjies is net so klein dat mens nie agterkom hulle is daar nie. Aarbeie heet nou wel strawberries in Engels, maar hulle is nie ware bessies nie, want hulle saadjies is aan die buitekant van die vrug. Druiwe, eiervrugte en lemoene is almal ook bessies.
'n Paar menslike Bessies en ander Vrugte van Afrika:
♦ Canaan Banana, eerste president van Zimbabwe.
♦ Die skrywer Bessie Head, wat in Suid-Afrika gebore is maar in Botswana grootgeword en gewerk het.
♦ Bessie, die sewejarige Engelse skipbreukeling wat omstreeks 1736 aan die Wildekus uitgespoel het en deur die amaMpondo aangeneem is. Hulle het haar Gquma genoem, en sy is later getroud met Tshomane, seun van Matoyi, koning van die amaMpondo. Kyk uit vir 'n volledige storie oor dié merkwaardige vrou.
Read this article in English:
Fabelagtige rykdom
Vyf van die wêreld se grootste genoteerde maatskappye het 'n enkele familie as 'n groot aandeelhouer:
1. Walmart: Die Walton-familie besit meer as 50% van die aandele in dié Amerikaanse kleinhandelaar wat in 1962 deur Sam Walton gestig is.
2. Volkswagen: Die Porsche-familie besit sowat 31% van dié Duitse motorvervaardiger wat in 1937 gestig is.
3. Samsung: Die Lee-familie besit sowat 20% van dié Suid-Koreaanse elektronikamaatskappy wat in 1938 gestig is.
4. Ford: Die afstammelinge van Henry Ford besit sowat 40% van die maatskappy wat hy in 1903 tot stand gebring het.
5. BMW: Duitsland se Quandt-familie (hoofsaaklik Stefan Quandt en sy suster, Susanne Klatten) besit volgens die meeste bronne sowat 42% van BMW se aandele. Die maatskappy is in 1916 gestig, maar het verskeie kere amper bankrot gespeel totdat Herbert Werner Quandt in die 1960's tot die redding gekom het – gedeeltelik danksy die fortuin wat sy familie uit die vervaardiging van wapentuig en batterye onder die Nazi's gemaak het. (Herbert se pa, Günther Quandt, is om duistere redes by Neurenberg oorgesien vir sy rol in die totstandkoming van Hitler se oorlogsmasjien. Günther was terloops van 1921 tot 1929 getroud met Magda Ritschel, wat later met Joseph Goebbels getroud is.) Kyk hier na die dokumentêr Das Schweigen der Quandts (in Duits met Engelse onderskrifte), wat verklarings vir van die raaisels bied.
Nuttige nie-Afrikaanse woorde
♦ 'n Snollygoster is iemand wat slim of skerpsinnig is, maar beginselloos is, tipies 'n politikus. Die oorsprong daarvan is onduidelik, maar dis dalk afgelei van die Duitse term “Schnelle Geister”, wat iets soos “blitsige gees" beteken. In Maryland in die VSA is daar ook die mitologiese Snallygaster, 'n vlieënde gedierte wat jag gemaak het op pluimvee en selfs kinders.
♦ Culaccino is die Italiaanse woord – en daar kan nie baie ander tale wees met 'n ekwivalent nie – vir die ronde vlek wat op 'n hout-oppervlakte gelaat word deur 'n koue en nat glas of 'n warm koppie.
Uit die WAT
♦ Andoelie, ook genoem andoeliepens. Skaap-, vark- of beespens met ’n vulsel van maalvleis of vleis wat in stukkies gesny is, en wat nadat dit gekook is tussen twee planke gepers en in ’n skoorsteen drooggemaak is. Dit kan ook verwys na 'n kort, dik en sterkgekruide wors wat van die beste stukkies vleis gemaak en gerook en gedroog is. Soms word die senings en taai stukkies vleis wat nie deur die vleismasjien stukkend gesny en uitgedruk word nie, ook gebruik.
♦ Jakobjollie, ook genoem jakobjolliewalletjie. Dwarswalle in ’n pad; 'n sinkplaatpad. Só genoem na ’n padinspekteur van Calvinia wat as “Jacob Jollie” bekend was. Soos in: “Ná swaar reëns is die grondpaaie vol jakobjollies gespoel."
Fok jou, Hitler!
Paul von Lettow-Vorbeck was 'n generaal en die geniale aanvoerder van die Duitse magte in Duits-Oos-Afrika tydens die Eerste Wêreldoorlog, maar hy word dikwels eerder onthou vir die ondubbelsinnige manier waarop hy in 1935 Adolf Hitler se aanbod van 'n ambassadeurskap in Brittanje van die hand gewys het.
Von Lettow-Vorbeck het in sy tyd in Afrika die bynaam Löwe von Afrika (Leeu van Afrika) gekry. Hy het Swahili leer praat, gereeld swart troepe tot offisier bevorder en was bekend daarvoor dat hy nie teen mense gediskrimineer het op grond van hulle afkoms nie. Hy was uit die staanspoor 'n uitgesproke opponent van die Nazi's.
Die neef van 'n ooggetuie van Von Lettow-Vorbeck se gesprek met Hitler is later deur die Amerikaanse joernalis Charles Miller gevra: “I understand that Von Lettow told Hitler to go fuck himself?"
Die neef het geantwoord: “That's right, except that I don't think he put it that politely."
Hitler, selde bekend vir sy ruimheid van gees, het Von Lettow-Vorbeck hierna laat dophou en sy huis laat deursoek, maar het nie veel meer as dit gewaag nie omdat die generaal so bemind onder baie Duitsers was.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.