So Vry soos altyd, maar nie meer Gratis nie

DINK VIR JOUSELF

So Vry soos altyd, maar nie meer Gratis nie

Vrye Weekblad 3.0 is nou al 16 maande lank heeltemal gratis. Op 2 Februarie ('n geskiedkundige dag in ons land se geskiedenis) gaan lesers moet begin betaal om ons inhoud te lees. Dit gaan jou minder as een liter petrol per uitgawe kos, maar dit gaan jou veel verder vat, skryf MAX DU PREEZ .

Image: ANGELA TUCK

TOE Vrye Weekblad in Oktober voorverlede jaar van Arena Holdings geskei en deur die Nuwe Vrye Weekblad Mediagroep oorgeneem is, het ons besluit om ons artikels vir 'n jaar of wat gratis aan te bied.

Ons wou hê soveel mense moontlik moet kennis neem dat hier 'n outentieke, vars en gesaghebbende stem is wat anders is as ander media-aanbiedings; wat noodsaaklike leesstof is vir mense wat die wêreld om hulle beter wil verstaan en selfs so nou en dan uitgedaag wil word.

'n Markplein vir idees. Oopkop. 'n Veilige, intelligente plek vir gesprekke en debatte. Inligting wat jy kan vertrou. Geen heilige koeie nie. Geen ideologie nie. Geen geldmag of belangegroep wat oor ons skouer loer nie.

Dink vir Jouself.

Maar ons is nie deel van die filantropiese medialandskap soos Daily Maverick en Maroela Media nie. Onthou, niks is werklik verniet nie.

Ons moet nou begin om die geld wat ons die laaste 16 maande belê het, terug te maak en uiteindelik gelyk te breek en selfs 'n winsie te maak, wat ons kan terugploeg.

Voor ek vertel wat dit gaan kos, eers dit:

Ons by Vrye Weekblad het 'n ernstige renons in skelm, onbeholpe politici, maar ons gló aan die mense van Suid-Afrika.

Ons verklaar gereeld: Ons, die Mense. Thina, Bantu. Rona, Batho. We, the People.

Ons is diep verbind tot 'n beter samelewing, tot 'n meer suksesvolle en gelukkige land.

Ons wil julle vra of julle bereid is om R5 elke maand by te dra wat ons dan maandeliks regstreeks aan gevestigde organisasies sal oorbetaal wat barmhartigheidsdiens doen.

Ons het veral Ladles of Love, wat honger kinders kos gee (R250 gee een kind twee gesonde maaltye per dag vir 'n maand) en Gift of the Givers in gedagte. 

Wanneer jy inteken, sal ons jou vra of ons die R5 per maand mag bysit of nie.

Ons intekengeld gaan dus R75 per maand wees, of R80 as jy die ekstra R5 betaal.

Dit is minder as wat drie cappuccino’s jou sal kos. Of vier liter petrol. Of 'n bottel middelslag-wyn, of 'n bottel olyfolie van 500 ml.

Maar ons wil wegspring met 'n spesiale aanbod. As jy nou vir ses maande inteken, gaan ons jou net R275 vir dié tydperk vra, 'n afslag van 40%, en ná ses maande val jy terug op R75/R80. (As jy vir 'n jaar wil inteken, blaas ons vir jou 'n soen, maar die afslag geld net vir die eerste ses maande.)

A, maar dis nie al nie, daar’s nóg.

Daar is 'n groep getroue lesers wat Vrye Weekblad elke week lees al sedert ons as 'n digitale publikasie herleef het, asook ander wat later bygekom het en nie 'n uitgawe mis nie. Daar is selfs 'n klompie ouer lesers wat die oorspronklike, gedrukte Vrye Weekblad ondersteun het.

Julle is ons Stigterslede.

Ons nooi jou uit om as 'n Stigterslid in te teken. Dit sal jou die reg gee om:

  • 5 artikels per maand te skenk aan vriende en kennisse wat nie ingeteken is nie;
  • al ons boeke- en ander feeste gratis by te woon;
  • deel van 'n WhatsApp-groep van VWB-stigters te word en elke week 'n vars video van my en Anneliese Burgess plus ander binne-inligting te ontvang; en
  • 'n wapentjie langs jou naam in ons kommentaarseksie te plaas wat jou as Stigterslid identifiseer.

Dit sal jou net R180 per maand kos, wat die maandelikse R5 ekstra insluit.

Lesers sal van Maandag 29 Januarie af kan begin inteken. Die uitgawe van 2 Februarie sal die eerste een agter die betaalmuur wees.

Ons sal jou in die dae vorentoe hieraan herinner en volledige inligting gee oor hoe die proses gaan werk – ons belowe om dit so eenvoudig en vinnig moontlik te maak. Dit gaan net 'n paar minute voor jou rekenaar verg.

Kom, wees deel van ons opwindende toekoms! Jy gaan mos armer sonder Vrye Weekblad wees?

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.