Die wit huise van St. Helenabaai

NUWE HARTLAND

Die wit huise van St. Helenabaai

Die Weskus is besig om te verander; inkommers stroom daarheen. JAN HORN kyk terug na die dorp wat hy 10 jaar gelede saam met die sanger en liedjieskrywer Pieter van der Westhuizen besoek het en hoe dit vandag daar uitsien.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

DIE sanger, kitaarspeler en liedjieskrywer Pieter van der Westhuizen en ek ry St. Helenabaai binne op soek na sy komvandaan. Pieter het hier grootgeword en baie van sy liedjies lê in sy herinnering van St. Helenabaai.

Ons soek na sy ouerhuis. En kry dit. Pieter is stil. Voor ons ’n geroeste sinkgeboutjie met leë oë vir stukkende ruite. Binne lyk nog erger as buite. Vol vuil rommel, die uitslaapplek van bergies, dwelmverslaafdes, daggarokers en die skerwe stukkende botteltjieblou waarvan David Kramer sing.

© JAN HORN
© JAN HORN

“Ja, dit was ons plek,” vee Pieter se oë oor die vullis en skilfermure. “Maar dis nie meer ons plek nie. Ons was nie so nie.”

Hy vertel my van sy pa. Harde man met harde hande van harde werk. Maar altyd met ’n glimlag as die mense hom groet en vra, en hoe gaan dit, oom? Dan sê hy: “Dik gelap maar skoon.”

Op die visserskaai haal Pieter sy kitaar uit en sing “Dikgelap maar skoon". Oor sy pa.

Ons ry deur St. Helenabaai. My indruk van die plek is nie goed nie. Windverwaai, stof, plastieksakke wapper op skrot en roes. Die visserskaai stink van ou vis en sweet. Die paaie is oud, soos die geboue. Baie is verlate en netso gelos. Vrot geroes in die soutseewind wat troosteloos waai. Ek kan nie gou genoeg wegkom van die plek wat deur ordentlikheid vergeet is nie.

Dit is 10 jaar later. Een van my goeie vriende uit die SABC TV-dae trek sak en pak uit Johannesburg na St. Helenabaai. Weskus toe. ’n Week later whatsapp hy: “Die wind waai. Al die huise is spierwit geverf. Die wind waai. Hier praat almal net Afrikaans. Die wind waai nog steeds.”

Hulle koop ’n huisie wat klein genoeg is om drie keer in hulle Johannesburgse huis te kon pas. In die winter whatsapp hy: “Elke oggend is mislik. Dik mis-lik. Jy kan nie eers die straat sien wat twee meter voor ons voordeur loop nie. My vrou sê ek moet die bouers laat kom die huis lek water soos ’n sif. Alles is nat binne. Die bouers sê daar’s niks fout met ons huis nie, dis maar Weskuskondensasie. Ons asems se vog kondenseer en tap teen die mure af. Alles is nat. Mure, vloer, sitkamerstoele en lakens.”

Die jaar daarop gaan kuier ons by hulle. Hy neem my op ’n besigtigingstoer van St. Helenabaai, ’n “drive”. Drie goed is waar. Die wind waai. Almal praat Afrikaans en al die huise is wit. Maar dis ’n heel ander St. Helenabaai wat ek ervaar het saam met Pieter van der Westhuizen 10 jaar tevore.

Die wit huise marsjeer ry op ry al langs die see af. Die Golden Mile-straat met sy palmbome, Hollywood Boulevard, Weskus à la LA. Aan en aan en aan. Ek dink binnekort gaan daar een aaneenlopende ry wit huise van Lambertsbaai tot in Saldanha wees. Weskuswit huise. Vakansiehuise. In my gedagtes hoor ek Pieter “Die Withuis daarbo" sing. Maar sy wit huisie is nie vir dieselfde mense as die wit huise van vandag se Weskus nie.

My St. Helenabaai-vriend whatsapp: “Jan, dit voel soos Orania hier. Almal uitgesproke Afrikaans, super-Christelik, super-regs en pro-Trump. Lyk my baie soos die ou Nat- en Sap-storie.”

Toe RAU van gedaante na UJ verwissel het en die wit SAUK deur die swart SABC vervang is, het die Afrikaners weer begin trek. Aucklandpark, Melville, Westdene, Northcliff se skuldbult huise, Weskus toe. Die nuwe Northcliff. Die Engelse het uit Houghton Kaapstad toe getrek, Seepunt, Bantrybaai, Clifton, Kampsbaai en sommer orals om die Berg waar dit luuks en veilig is. Die Weskus spook by my. Maar dit is nie die enigste, nuwe Afrikanerhartland nie.

’n Familielid van my wat sy voete in Stilbaai gaan plant het, se kommentaar was, “Jan, Stilbaai is ook op pad soontoe.” 

“Ek het dit nie geweet nie.”

“ Ja,” sê hy. “Dis mos ’n sendelingsmekka. Afgetrede sendelinge uit diep Afrika. Maar Pretoria het ook kom terrein afbaken. Verder oos van die dorp grawe hulle nou in. Herehuise wat Waterkloof sal laat kwyl. Die locals noem die uitbreiding McQueenie, of so iets. So, tussen die sendelinge en sondaars en Pretoria McQueenies begin ek benoud voel.”

Dit klink vir my asof die Afrikaners besig is om die hele seekus van die Suid-Kaap se Tuinroete, om Kaappunt, noordwaarts op teen die Weskus te beset. Soos ’n yl, witgerypte baard aan die soom van Afrika. Withuise-kanker. Wil ek daar woon? Ek dink nie so nie. Hier noord van Johannesburg in die arm van die Hennops- en Jukskeiriviere voel ek deel van Afrika. Wes van my, oorkant die rivier lê die Wieg van die Mens, my komvandaan van ’n halfmiljoen jaar gelede. Hier voel ek tuis.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.