HELEN ZILLE het op ’n slag, voor sy haar foon afgeskakel het, getwiet dat die vrugte van die kolonialisme nie nét negatief was nie, soos byvoorbeeld die onafhanklike regbank, vervoerinfrastruktuur en kraanwater.
Teen die tyd wat sy haar foon weer aangeskakel het, was die gort gaar. Dit was vintage Twitter-Zille: Skoorsoekerig en boonop verkeerd. Nie een van die voorbeelde wat sy genoem het, is deur die Britse kolonialiste geskep nie, en boonop lees sy die tydsgees en die emosie van landgenote verkeerd.
Een ding wat deur kolonialisme in Suid-Afrika gevestig is, sal ek nie wil sien verdwyn nie. Die Nasionale Krugerwildtuin (NKW). Oukei, mens kan lank stry oor of die Transvaalse Boere en Paul Kruger, wat die aanvanklike bewaringsgebiede geproklameer het, deel was van kolonialisme, maar daar’s geen twyfel dat die Boere vooruit gespoel is deur ’n groot Westerse uitbreiding van handel en ontginning, en die belangrikste dinamo hiervan was die Britse imperialisme.
Noem dit ’n basterkind van die kolonialisme, ’n goedbedoelde weeskind van wit oorheersing. Die laaste plaaslike stam in die wildtuin, die Makulekes, is in 1969 uit die noordelike gebied geboender. Kruger en andere wou keer dat die Boere die laaste wild in die Laeveld uitwis, en dit is in wit kringe gesien as ’n edele daad. Maar die verskuiwing van mense wat al dekades daar gebly het, was net so gewelddadig en ontwrigtend soos enige van die ander groot gedwonge verplasings van mense in Suid-Afrika oor die laaste 200 jaar.
Nietemin is ek lief vir die Krugerwildtuin. Dis ’n liefde wat gesmee is nog voor ek enige idee gehad het hoe gulsige, strydlustige grootmense die wêreld opgefoeter het. Ek is lief vir Pafuri se njalas en misterieuse woude, Shingwedzi se ongereptheid en luiperds, Letaba se koelte en rivierloop en troppe olifante, Tsendze se boskamp in ’n magiese woud vol uile, Satara se uitgestrekte vlaktes geil van bokke en leeus en olifantbulle wat soos seilskepe op die horison vaar, die boonste Nwanedzi-pad waar jy in een oggend leeus, luiperds, jagluiperds, jakkalse, hiënas en ’n aardvark kan sien, en dan spek en eiers verorber by die piekniekplek op die Mosambiekgrens. Ek is lief vir ’n regte buffelpastei by Tshokwane se winkel, om uit te klim op die brûe oor die breë rivierlope wat ooswaarts vloei na die Indiese Oseaan toe, waar mens vir ure kan soek na maraboes, reuse-reiers, visarende, visvangers, lepelaars, hamerkoppe, nimmersats en saalbekooievaars. En miskien ’n luiperd.
Ek is selfs lief vir die suide. Nkuhlu- en Timbavati-piekniekplekke, Berg-en-Dal se koppiepaadjies waar ’n renoster altyd ’n moontlikheid is. Ek is lief vir Skukuza se Lake Panic-voëlskuiling, waar ’n reier eens ’n kurper ingesluk het wat so groot soos sy eie lyf was.
Hoewel die nuwe elite skynbaar Suid-Afrika se nasionale parke as bates aanvaar en grondeise ’n minimale impak gehad het, en hoewel die persentasie swart besoekers aan ons nasionale parke redelik gegroei het (38% van gaste), is die meeste steeds dagbesoekers in busse en slegs ’n powere 14% is oornagbesoekers.
As reisjoernalis, vroeër, het ek redelik kontak gehad met hoë Sanparke-amptenare, en die gevoel wat mens teen 2010 gekry het was dat dit een van die presteerders was onder staatsdepartemente, behoorlik getransformeer en relatief korrupsievry, en dat bewaring ’n ware regeringsprioriteit was.
Die Kruger het ’n internasionale bewaringsikoon geword. Dis die mees bekostigbare en bereikbare bestemming in die wêreld om Afrika se savanna-wildsoorte te ervaar. Dis belaglik goedkoop vergeleke met Serengeti, Savuti of Arusha, en jy kan self soontoe ry in ’n gewone motor.
Al het dit ’n komplekse geskiedenis sal dit my siel beskadig as die wildtuin misluk.
Die verdoemende verslag
Presies twee jaar gelede kom ’n verslag uit – “Landscape of Fear” – deur die gerekende navorser en joernalis Julian Rademeyer onder die vaandel van die Global Initiative Against Transnational Organised Crime. Koerantopskrifte oor die verslag was so negatief dat ek dit eers nie wou lees nie.
Rademeyer bevind dat sowat 40% van die wetstoepassers in die NKW korrup is, dat tot 70% van die personeel in die NKW inligting verskaf aan stroperbendes en dat die groot georganiseerde misdaadnetwerke in Mpumalanga, saam met beroerde sosio-ekonomiese omstandighede op die wesgrens van die wildtuin, ’n lang skadu van misdaad oor die reservaat gooi.
Prof. Jane Carruthers, ’n maatskaplike en politieke kenner van die omgewing, word in die verslag aangehaal: “For many black South Africans living in extreme poverty in areas adjoining the park, Kruger’s aesthetic beauty has little relevance. For them, the park’s name and ethos have come to symbolise strands in the web of racial discrimination and white political and economic domination.”
Rademeyer wys ook na die moord op die Valke-speurder lt.kol. Leroy Bruwer, in 2020, en Timbavati se hoofveldwagter, Anton Mzimba, in 2022, as bewys hoe renosterstropery vir die horing steeds die landskap domineer.
Die statistiek oor die ineenstorting van die renostergetalle onder die druk van stropery wys dis ’n krisis. Tussen 2011 en 2020 het die reservaat se witrenostergetalle geval van 10 621 diere tot 2 607 (dis deesdae onder 2 000) – ’n uitwissing van 75%.
Ons gaan weer wildtuin toe
In dieselfde tyd besoek ek en my gesin die wildtuin vinnig aan die einde van ’n vakansie in die Laeveld – Skukuza en Biyamiti, ’n lieflike semi-privaatkamp met slegs 15 chalets in ’n woud van jakkalsbessies en wildevye. Ek was nuuskierig oor hoe dit lyk, want Sanparke is sleg deur Covid-19 getref, die land was in ’n depressie oor die omvang van staatskaping en Zuma se kriminele netwerke soos blootgelê deur die Zondo-kommissie.
’n Mens kan nie groot gevolgtrekkings maak oor korrupsie en wanbestuur deur oppervlakkige persoonlike waarnemings nie, maar ek kan nie ontken dat ek neerslagtig was oor die toestand van die kern van Skukuza, die juweel van die NKW nie. Gras het oral deur teerpaaie gegroei, die hoofkompleks se grasdakke was in ’n haglike toestand, die hoofuitkykdek voor die restaurant was met rooi-en-wit versperringsband afgesper omdat dit skynbaar besig was om ineen te stort, ’n trop wilde blou-ape was aggressief besig om restaurantgangers te terroriseer en die diens in die restaurant was beroerd.
Dit het nie meer soos die aanloklike binnehof van ’n trotse reservaat gevoel nie, maar soos ’n verwaarloosde provinsiale oord.
Ek het in die era grootgeword waar die wildtuin ’n toonbeeld van uitnemende geriewe was – toe al die koperkrane gepoleer was, die grasdakke perfek, waar jy kookwater en kole kon gaan haal in die groot ou swart ketels, waar die gronddele altyd netjies gehark was. Maar ek weet ook dis ’n idille wat nie terugkom nie omdat die organisasie nou soveel groter is en omdat baie van die praktyke nie goeie ekologiese bestuur was nie.
Die chalet in Biyamiti waarin ons tuisgegaan het se toestand was amper vervalle. Muskietsiwwe by die vensters was stukkend, die badkamer was in ’n beroerde toestand (’n stuk van die toilet se porselein was gebreek), die plafonne was plek-plek stukkend en swart gemuf. Die kombuis se toerusting het tekortgeskiet en die stoep se plastiekmeubels was gebreek. Ek het gewonder of ek weer wildtuin toe moet kom.
Wat die groot fans sê
Ek het ’n punt daarvan gemaak om intussen met soveel moontlik mense te praat wat die wildtuin baie besoek en langtermyn-tendense dophou. Meeste van hierdie mense is konserwatiewer as ek en meer skepties oor die staat se vermoë tot goeie regering. Elkeen het vir my gesê die wildtuin het swaargekry ná Covid, en hulle meen ek het toevallig twee dele getref wat waarskynlik binnekort opgeknap sou word.
Een van hulle is Villiers Steyn, wat sy lewe lank by bewaring en die natuur betrokke is. Hy het ’n meestersgraad in bewaring van die Tshwane Universiteit van Tegnologie, was betrokke by verskeie gidse oor die wildtuin, is ’n bekende wildlewefotograaf, en sy YouTube-kanaal, The Safari Expert, is uiters gewild. Hy bly in ’n natuurlandgoed in Hoedspruit en deurkruis die NKW gereeld.
“Mense raak super-emosioneel oor die park. Aanlyn is mense óf uiters negatief óf baie positief. Ek kry egter nie die gevoel dis nou meer negatief as 25 jaar gelede nie. Daar was altyd mense wat gesê het dit gaan ten gronde, en daar’s mense wat gesê het dis wonderlik. Ek is iemand wat eerder die goeie dinge raaksien en ek verstaan die uitdagings waarmee die personeel te doen het. En my persoonlike ervaring van die wildtuin in die laaste vyf jaar, ná Covid, was super-positief.
“Vat die inboekproses. Die ou wat buite by die hek staan groet jou vriendelik en hy’s reg met sy vormpie en sê vir jou van die leeus wat vroeër die oggend op ’n sekere plek gesien is. Dis hoe ek verwag ek moet in die wildtuin verwelkom word.
“Die ouens by ontvangs vroeg in die oggende, dis nag want almal fight met die personeel en is nukkerig, maar die personeel doen hulle job vinnig en met ’n smile. En in die kampe self, by Satara sal jy sien hulle het ’n pragtige dek daar gebou, die restaurant vergroot. Jy sien ’n dip in ’n spesifieke kamp waar dit agteruitgaan, en dan kom iemand in en maak dit beter as vroeër.
“Ek dink dit het baie te doen met die bestuur in elke kamp. As jy ’n goeie kampbestuurder het, dan loop dit vir seker deur.”
Adilia Briers, ’n boer en huisvrou in haar laat vyftigs van die Grootvlei-distrik in Mpumalanga, het in die wildtuin grootgeword en gaan nog steeds ten minste drie keer ’n jaar. Sy stem saam dat die kampbestuurders ’n groot invloed het. “Daar is positief en negatief. Ons kamp meestal en die positief is hulle het die kampplekke so ’n bietjie verbeter. Daar is nie meer so baie steiltes en ongelykhede nie.
“Die instandhouding gaan maar op en af. By tye kom jy op plekke en dink, ugh, kyk hoe lyk dit hier. Ek dink dit is absoluut te doen met watter kampbestuurder op daardie stadium in elke kamp aangestel is. Wat diens betref, kan ek regtig nie kla nie. Die mense is nice met my.”
Villiers het verlede jaar deur die hele wildtuin getoer. “Ons het in September van Gonarezhou deur die Pafuri-hek ingekom. Pafuri se ontvangs was uitstekend. Ons het nie ’n bespreking vir daai dag gehad nie, maar vir ’n dag later, ’n kampeerplek by Letaba, en ons soek inderhaas toe ’n chalet in ruil vir die kampeerplek. Die vrou het dadelik gesê sjap. ’n Minuut later gee sy vir my die masjien om die verskil te betaal.
“Al die gekla oor diens en instandhouding. Mens sien dit hier en daar, maar ek dink altyd hoe moeilik dit moet wees om kwaliteitsbeheer te doen oor die hele wildtuin. Wees realisties dat jy nie dieselfde diens oral gaan kry nie.
“Ook, die Krugerwildtuin se grootste prioriteit is nou waarskynlik teenstroping-operasies, dis nie eers toerisme nie. Daar is soveel prioriteite vir die begrotings, en dan kom daar vloede wat die helfte van die paaie in die park verwoes, en na slegs twee maande kan jy weer daai paaie ry.
“Ek het laasjaar van Shingwedzi tot in Berg-en-Dal getoer in 12 dae om weer ’n gevoel vir die park te kry, en die enigste aspek waarmee ek weggeloop het wat baie sleg was, was hoe die besoekers hulle gedra. Jy gaan by ’n winkeltjie in en kan enigiets koop. Die kampeerplekke is skoon, ek het net goeie vibes gekry. Die frustrasie is dat ek bewus geword het van ’n hoër hoeveelheid mense wat die park besoek. Oop safari-voertuie, selfbestuurders met hulle stres, mense wat raas in die kamp en musiek speel ...
“Suid-Afrikaners vergeet om dit met parke in ander lande te vergelyk en die waarde vir geld in die Krugerwildtuin. Ons was nou in Savuti. Dit kos jou ’n R1 000 per persoon per nag en ons het nie warm water gehad nie, dit was eintlik half chaos, maar jy’s bereid om dit te betaal vir die eksklusiwiteit.”
Die risiko van ’n stroper teëkom
Wat besoekers se veiligheid in die wildtuin betref, was daar nog bittermin voorvalle, want ’n stroper se eerste prioriteit is om nié gewaar te word nie. Nietemin het Briers se jongste seun en sy gesin ’n skokkende voorval beleef: “In Desember het DW-hulle ’n baie slegte voorval gehad. Hulle het Oujaarsdagaand op ’n nagrit gegaan daar by Berg-en-Dal, en ek dink die poachers het gedink die nagritte ry nie tot 12:00 in die aand nie, maar dit was natuurlik ’n spesiale rit op Oujaarsaand. En toe kom hulle op die poachers af waar hulle die renosterkoei sopas geskiet het, en die klein renosterkalfie hardloop agter die wildkykvoertuig aan en huil. Die personeel het dit baie goed hanteer. Hulle moes daar bly sit tot die veldwagters en die teenstropingseenhede opdaag. Dit was nie vir hulle lekker nie, maar dis nie die wildtuin se skuld nie.
“Toe hulle die volgende dag gaan navraag doen oor die kalfie, toe’t die ouens dadelik al hulle vrae beantwoord en gesê hulle het hom dieselfde aand nog ge-airlift en na die bewarkingsplekke toe gevat.”
Dina Labuschagne, ’n afgetrede taalonderwyser, besoek die wildtuin ten minste drie keer per jaar. Sy reken in die oorgangstydperk, in die laat 1990’s en die vroeë 2000’s, was daar ’n merkbare afname in die instandhouding en diens in die wildtuin, en sy noem spesifiek Satara en Berg-en-Dal.
Maar sy het ’n baie duidelike ommekeer van die park beleef in die eerste dekade van die eeu en sedertdien is sy baie beïndruk met die instandhouding en diens: “Ek kon absoluut die draai sien. Ek onthou ons het eenkeer in Pretoriuskop gekamp, daai tyd met die sokker-wêreldbeker, daai bestuurder van daai kamp, ek het nog nie in my lewe so iets gesien nie. Elke liewe ding op sy plek, die sproeiers werk, die grasperke is gesny, die rondaweltjies – daar hang nie ’n skroef of gordyntjie uit sy plek uit nie. Mettertyd het Berg-en-Dal opgetel en Satara is nou weer super-grand en Shingwedzi en Olifantskamp ook, dit gaan goed daar. Oor die algemeen is die administrasie en diens ook uitstekend.”
“Iets wat my bietjie pla is die instandhouding van die paaie, maar goed, ek gaan nie sê dis bestuur se skuld nie, want hierdie plek se reën verwoes die paaie gereeld. Dis ’n worstelstryd.”
Die een klagte wat al drie mense gehad het, was dat hulle meen die wildtuin word binne seisoen oorlaai met besoekers.
Wat die wildtuin sê
Ek wou baie graag met die hoofveldwagter van die NKW, Cathy Dreyer, gesels het oor die stand van bewaring en die verandering in die veiligheidsituasie, maar Sanparke se kommunikasiemense het telkens my pogings gefnuik. Ek kon wel met die NKW se woordvoerder, Isaac Phaahla, praat.
Sedert Rademeyer se verslag in 2022 het die stroping van witrenosters effens afgeneem. In die jaar 2021-’2022 is ’n allemintige 195 renosters gestroop, maar in 2022-’23 het dit skerp afgeneem na 98 renosters. Daar is nou egter minder as 2 000 witrenosters oor in die wildtuin.
’n Verrassing is dat olifantstropery vir die eerste keer in jare toegeneem het – 32 olifante is gestroop. Ek het vir Phaahla gevra wat agter die nuwe olifantstropery sit.
“Ons het sterk rede om te glo daar is ’n onwettige wildsvleis-bedryf (bushmeat) buite die reservaat, naby aan gemeenskappe. Dit word deur die polisie ondersoek. By die meeste karkasse is die olifante se tande agtergelaat. Daar is ’n element van organisasie betreffende hierdie voorvalle.”
Ek vra vir Phaahla hoe die verhouding tussen die reservaat se bestuur en die personeel beïnvloed is deur Rademeyer se verslag: “Ons het Julian se verslag gesien, en hy het sy eie metodes gebruik. Een van die dinge wat hy genoem het, is dat daar massiewe korrupsie is. Ons weet nie hoe hy by daardie gevolgtrekking gekom het nie. Ons het egter kennis geneem en 'n deel daarvan en die sentiment was waar. Ons leef in 'n klimaat van vrees in die provinsie en stropery is nie geïsoleerd nie, maar deel van die misdaad wat in die provinsie plaasvind.
“Ons dink egter dat die persentasie wat hy beklemtoon het, van ongeveer 40% van wildbewaarders en dienspersoneel wat by korrupsie betrokke is, is ver meer as waarvan ons op die grond weet. Ons steek nie weg dat daar mense in ons geledere is wat met sindikate saamwerk nie, en jy sal besef uit die rekords dat ons glad nie enige korrupsie geduld het nie. Byna 40 mense staan tans tereg of is in die tronk."
Die stryd duur voort
“Ons het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie betrokke gekry om leiding te gee en saam met vakbonde gewerk om ’n integriteitsbestuurstelsel te ontwikkel, wat beter bekend is as poligraaftoetsing. Nadat ons riglyne en standaard- operasionele prosedure rondom dit ontwikkel het, is dit uiteindelik afgeteken tussen die unies en bestuur.
“Dit is nou deel van ons werwingsmetodes. Die bestuur van die NKW was die eerstes wat die poligraaftoetse doen. As enige afwykings opgemerk word, oorhandig ons die saak aan die polisie om verder te ondersoek. In Suid-Afrikaanse howe word poligraaftoetse nie as voldoende getuienis beskou nie.
“Wen ons hierdie stryd? Dit moet nog bewys word. Ons het steeds rede om te glo van ons kollegas ondermyn die stelsel en werk saam met misdadigers. Ons het ook honde-eenhede ingebring om te help met die stryd teen stropers en ons gebruik meer tegnologie. Ons weet daar is nog baie werk wat gedoen moet word.”
Phaahla sê ook vir my dat die voorkoms van wippe en valstrikke deur bestaanstropers op die oostelike grens ’n al groter probleem geword het in die afgelope paar jaar. Die probleem met ’n valstrik is dat dit voor die voet doodmaak – selfs buffels vrek in valstrikke. Dit is basies ’n sosio-ekonomiese probleem wat baie moeilik deur Sanparke opgelos kan word, maar hou nie ’n wesenlike bedreiging vir wildgetalle oor die hele reservaat in nie.
Wat het ek hieruit wys geword? Is die Krugerwildtuin op die afdraande pad? Wat besoekers betref, en ons verwys hier na mense wat geneig is om baie krities te wees, is daar nie ’n probleem met die bedryf van die wildtuin nie. Hulle is trouens heel positief. Wat bewaring en die stryd teen misdaad betref, is ons op ’n mespunt, maar dit gaan oor enkele spesies.
Dit is soos die res van Suid-Afrika. Ons leef met georganiseerde misdaad om ons, maar ons leef funksioneel en relatief veilig. Dit is nie ideaal nie.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.