DIS 2013 en ek staan op 'n krans naby Gordonsbaai. Voor my staan die akteurs Deon Lotz en Pietie Beyers. Deon het vir Pietie aan sy kroonjuwele beet en hoe harder hy druk, hoe dieper gil Pietie. Hoewel dit soos 'n koorsdroom klink, is dit eintlik 'n toneel in my tweede kortfilm, Beskermhere, 'n heerlike, dog veels te eksperimentele poging om wetenskapsfiksie in die suburbs te pleeg. Dit is nie eens die derde vreemdste ding wat in my kortfilm gebeur nie, en soos dit met die meeste tweede films, tweede boeke of tweede albums nou maar gaan, is oorywerigheid die projek se grootste swakheid. Daar is groot gedroom en nou moet daai drome uitgevoer word.
Die rede hoekom die toneel op ’n regte krans afspeel, is tweeledig. In 2013 bestaan green screens nog nie plaaslik op enige bekostigbare manier nie, en die draaiboek sê uitdruklik Pietie se karakter moet direk ná hierdie interaksie van die krans afspring. Nie ’n emosionele of metaforiese krans nie, ’n fisieke, tasbare, gevaarlike krans met bonuspunte as dit oor ’n jobbelsee in plaas van ’n seepgladde (en vervelige) dam uittoring.
Ons het nie ’n permit om hier te wees nie, ons enigste medic is my vervaardiger, Dirkie (met sy noodhulpsertifikaat en kreefduiksnorkel), en ongelukkig vir my hoofakteur kos ’n stuntman meer as ons hele begroting. Pietie moet werklik van die krans afspring, moontlik selfs twee keer as die skoot nie werk nie. Hy’t vooraf aan my erken dat hy nie gaande is oor hoogtes nie, maar dat hy in die film glo en bereid is om dit te probeer. Ek weet nie hoe mens probeer om van ’n krans af te spring nie, maar ek glo as ek hom, soos ’n perd, tot by die afgrond lei, sal hy die res doen.
Die oomblik kom, die kameras rol, ek sluk, hy aarsel, Deon hou asem op en Pietie spring.
Ek dink gereeld terug na hierdie oomblik. Daar kon soveel goed verkeerd geloop, of geval het. Pietie kon te kort spring en op die rotsbank onder hom land. ’n Brander kon my kinematograaf en sy duur kamera in die see vee. ’n CapeNature-beampte kon opdaag en ons met ’n vet boete kap. En dan wil ek nie eens dink aan die moontlikheid van haaie in die water nie.
In dieselfde film moes Deon en Pietie van ’n tuinmuur in ’n swembad spring en Deon met ’n tou om sy nek van ’n motorhuis se dak hang. In my vorige kortfilm moes arme Johan Botha ’n regte skeepsfakkel in Durbanville se naglug afvuur. My vervaardiger – dank die hemele vir Dirkie – moes nie net kyk dat Johan se poliësterkamerjas nie vlamvat nie, hy moes ook met ’n brandblusser deur die woonbuurt jaag om seker te maak die fakkel land nie op iemand se splinternuwe lapa nie.
Ongelukke nie ’n uitsondering
In ’n wêreld waar Alec Baldwin per ongeluk sy kinematograaf met ’n regte geweer tydens ’n repetisie doodgeskiet het, raak dit ál moeiliker om ’n saak uit te maak ten gunste van spesiale effekte. Hoewel Baldwin se geval ’n fratsongeluk was, is dit glad nie ’n uitsondering nie. Die filmgeskiedenis wemel van ontploffings, onthoofdings, karongelukke, helikopterbotsings en selfs ’n tragiese voorval toe Bruce Lee se seun, Brandon, ook per ongeluk op ’n filmstel deur ’n foutiewe vuurwapen doodgeskiet is. Filmstelle is ingewikkelde organismes met talle bewegende dele en allerhande swaar toerusting wat alles onder geweldige druk en tydsbeperkings verstommende beelde moet vasvang. Dit maak dus sin dat filmmakers toenemend eerder rekenaargegenereerde beelde gebruik om ons mee te bekoor.
As fliekganger is ek egter so keelvol vir sulke beeldorgasmes dat ek deesdae omtrent eerder die Kardashians sal kyk as nog ’n CGI-superheldfilm (CGI staan vir “computer-generated imagery”). Die Kardashians, selfs met al hul plastiese chirurgie, lyk ten minste nog so half soos regte mense.
Ek is nie seker waar my draai gekom het nie. In my jong dae was ek gek oor X-Men en dalk ’n Spider-Man of twee. Dalk is dit ons hedendaagse toegang tot agter-die-skerms dokumentêre wat wys hoe ons generasie se beste akteurs toenemend in reuse- groen pakhuise teenoor tennisballe moet toneelspeel. (Die asemrowende rekenaarmonsters en ontploffings word dan later oor die groen agtergronde gesmeer.) Dalk is dit die feit dat superheldfilms byna alle ander genres uit die bioskope geskrum het. Moontlik is ek net moeg vir die herhalende formule van die meeste van hierdie flieks en hunker ek om weer verras en betower te word. Ek vermoed egter dat in die aangesig van CGI, en Mark Zuckerberg se virtuele nagmerrie-werklikheidsheelal, Meta, spruit my gevoel bloot uit ’n hunkering na iets tasbaars. Al is dit vir oulaas.
Grootmense in die virtuele wêreld
Dis vir min mense nuus dat rekenaarspeletjies films verbygesteek het as die gewildste vermaakvorm. Selfs immer gewilde sport (soos die antieke Grieke dit beskryf het), is nie immuun teen hierdie tektoniese verskuiwing nie. E-sport, wat rekenaarspeletjies insluit, trek reeds groter gehore as tradisionele sport. Ondersteuners gaan selfs na arenas om te sit en kyk hoe hul e-sporthelde op reuse-skerms sit en rekenaarspeel.
Ek wil nie soos ’n ou man klink wat met sy kierie sit en kla oor waarmee die kinders hulle ophou nie. Ek is immers net 37 en dis in elk geval nie net kinders nie. Volwasse gehore is ewe versot op superheldfilms, e-sport en – as ek my techboffin-vriende reg verstaan – reeds besig om hul wildste seksuele fantasieë in die virtuele wêreld uit te leef. Die geveg, indien dit ’n geveg is, is reeds verloor. Mense verkies die virtuele bo die fisieke en omdat dit toegankliker is, en soveel veiliger, kan ek hulle nie kwalik neem nie. En tog.
Ná die steriliteit en kontakloosheid van die Covid-grendeltyd voel ek dis belangriker as ooit tevore om ons aan ons tassintuig te herinner. Daar is ’n verskil tussen ’n Zoom-vergadering en ’n klomp kollegas wat om ’n regte tafel sit – selfs al kan jy Dwayne langs jou se oggendasem ruik. Dis die verskil tussen Justin Bieber se virtuele konsert in die Metaverse en vreemdelinge wat op my sweet by een of ander plaaslike orkes se kroegkonsert. Dis die verskil tussen ’n rekenaargegenereerde Tom Holland wat as Spider-Man van ’n gebou af hang, en vlees-en-bloed Tom Cruise wat buite ’n werklike vliegtuig hang terwyl dit opstyg in Mission Impossible. (Ná soveel jare se ongelooflike stunts sou mens verwag hulle sou dié filmreeks nou al herdoop het na Mission Possible.) Ek weet binnekort gaan CGI en die virtuele ruim ewe realisties en tasbaar as die werklikheid voel, maar tot tyd en wyl kan ek nog die verskil opmerk en wil ek dit vier – veral in die filmwêreld.
Twee onlangse films staaf dalk my punt beter. Doctor Strange in the Multiverse of Madness is een van die 29 Marvel-films wat skynbaar die afgelope week uitgereik is. Dis ’n CGI-tsunami waarin Benedict Cumberbatch se Doctor Strange die veelvuldige heelal uitmekaar skeur en weer aanmekaar probeer lap. Die storie is lintwurmdun en as jy mooi kyk, kan jy byna deurlopend ’n groen tennisbal se weerkaatsing in Cumberbatch se oë sien.
Die ander film heet Everything, Everywhere, All at Once en is ’n ontroerende familiedrama, binne ’n wetenskapsfiksie-smörgåsbord waar Oosterse gevegskuns en absurde komedie mekaar afwissel. Dis ’n gekke en eiesoortige film en ongetwyfeld een van die bestes van die jaar. Wat dit spesiaal maak, is dat dit op ’n piepklein begroting gemaak is en die filmmakers – ’n duo wat hulself Daniels noem – gebruik hoofsaaklik goedkoop praktiese effekte om die oneindigheid van die veelvuldige heelal uit te beeld en boonop ewe suksesvol komedie én emosie te ontgin. Hoewel albei films tegnies asemrowend lyk, voel Everything, Everywhere anders. Ek kan voel hoe Jamie Lee Curtis (soos jy haar nog nooit gesien het nie) oor ’n lessenaar gegooi word. Ek kan sien dat die akteurs teenoor mekaar speel. Elke vuishou, elke karateskop en selfs ’n fannypack-geveg voel, soos dit lyk, soos dit voel. Dis asof ons tassintuig selfs deur ons sigsintuig werk. Ek kan sien hierdie film is meer tasbaar. Dit weeg iets.
Die soetkol
Tussen gemak en gevaar, tussen steriel en roekeloos, lê daar ’n soetkol en dis waar ek wil bestaan. In my daaglikse lewe behels dit om uit die huis uit te gaan, met regte ander mense in werklike ruimtes te verkeer en dalk af en toe ’n berg of ’n boom te klim. In my vermaak vind ek dit in tasbare films en reekse. Dit hoef nie eens skouspelagtige praktiese effekte te wees nie. In Abbas Kiarostami se Where Is the Friend's House? ry ’n lummel ’n donkie deur ’n verbrokkelde Iranse landskap in ’n sekwens wat meer asembenemend as 10 Star Wars ruimtetuig-dogfights is. Dit werk juis omdat die storie so meesleurend is en omdat so ’n reuse-man werklik daai donkie deur daai dorp gery het.
Pietie het sy kranssprong oorleef en is uiteindelik met ’n Beste Akteur in ’n Kortfilm-prys beloon, moontlik juis oor sy toewyding aan die filmkuns. Ek vergelyk hom nie met Tom Cruise nie (hy’s immers minstens ’n meter langer as Cruise), maar ek dink tog as ek hom vra, sal hy weer van ’n krans afspring. Tot tyd en wyl is dit immers nog net ’n kranssprong wat soos ’n kranssprong voel. Ek sal weet, want ek moes ná Pietie ook afspring om ’n ekstra skoot met ’n kleiner kamera te kry. Op daai hoogte voel water aansienlik meer soos ’n vaste stof, iets wat die rekenaars nog moet leer.
Laaste ronde by die tas-baar is op my.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.