Die man wat die grens tussen mens en primaat uitgewis het

IN MEMORIAM

Die man wat die grens tussen mens en primaat uitgewis het

Die primatoloog en sosiale wetenskaplike Frans de Waal se afsterwe in Maart het min aandag ter plaatse getrek. HERMAN LATEGAN het gaan delf in De Waal se merkwaardige navorsing oor ons nefies en niggies – bobbejane, sjimpansees, kuifape en bonobo’s.

Image: ANGELA TUCK

VELE mense het die verkeerde indrukke oor primate en beskou hulle as veglustig en eendimensioneel. Dit hang seker af ... die inwoners van die spogkusdorp Pringlebaai en omtrekke het onlangs teen hans- en wilde bobbejane geprotesteer.

Nietemin, die dierkundige Frans de Waal het eendag twee sjimpansees verwoed sien baklei en daarna aanskou hoe hulle bladskud, mekaar omhels en selfs soen. Hy was verstom.

Dit het nie by die stereotipiese uitbeeldings deur dierkundiges, leke en die pers ingepas nie. Het primate emosionele dimensies waarvan ons (dalk doelbewus) niks weet nie?   

De Waal het begin om 'n studie oor versoening aan te pak. Hy het gewonder hoe ons by dié diere kon leer hoe om konflik en wraaksugtigheid te ontlont.

Die ontslape Frans de Waal (75), een van die wêreld se top-primatoloë.
Die ontslape Frans de Waal (75), een van die wêreld se top-primatoloë.

As primate-navorser het hy oor die dekades heen hulle temperament in diepte ondersoek. Dit het sy kollegas oor die aardbol versprei, wat aanvanklik erg skepties was, in akoliete verander. Vir die Washington Post het hy op 'n keer vertel mense is besonder slim, maar verder verskil ons nie fundamenteel van ons ander familie nie.

Die begin: As tjokkertjie het hy 'n troetelvis aangehou wat hy vir ure lank dopgehou het. Onder sy ander maats het 'n koterie van muise, paddas en voëls getel.

National Geographic skryf in sy huldeblyk (waarvan daar internasionaal vele was) hoe sommige van sy kraaie saamgevlieg het as hy soggens skool toe stap. Wanneer die skooldag verby was, het sy geesgenote saam-saam teruggevlieg huis toe.

Hy het maar swak gedoen in biologie en het besluit om liewer wiskunde en fisika op universiteit te studeer. Sy ma het hom egter herinner aan sy groot liefde vir diere. (Inderdaad, wat is 'n huis sonder 'n moeder?)

Hy skryf in aan die Radboud Universiteit Nijmegen. De Waal vind biologie ietwat droog, veral met die sterk fokus op anatomie. Die sielkunde-afdeling, waar hy tydens sy studies ekstra geld verdien het, het toevallig twee sjimpansees gehad.

“Hierdie vroeë blootstelling aan primate sou deurslaggewend wees,” skryf National Geographic. Hy het in 2014 'n gehoor vermaak met 'n storie van hoe wulps die sjimpanseemannetjies sou raak wanneer sy vroulike kollegas verby die omheining geloop het.

De Waal en 'n manlike medewerker het dit probeer toets deur as vroue aan te trek – dit het geen belangstelling by die manlike sjimpansees ontlok nie. Dit is hier waar hy sy weetlus vir primate ontwikkel het.  

Hy het meer as sestien topverkopers oor sy oogappels geskryf. De Waal is aanvanklik gekritiseer dat hy primate probeer vermenslik het, maar hy het dit as onsin afgemaak en dit as tekenend van die mens se hubris oor diere se sogenaamde mindere status uitgewys.

Hy was ook nie te vinde vir die misbruik van die klassifikasie van alfamannetjies om aggressiewe mans en boelies in die politiek en korporatiewe wêreld goed te praat nie. The Economist berig De Waal het aangevoer hoewel primate, net soos mense, gewelddadig en aggressief kan wees, hulle ook tot empatie en altruïsme in staat is.

Van links bo: Frans met sy vrou, Catherine Marin, op vakansie; in goeie luim met vriende en sy vrou op sy laaste verjaardag; met die akteur en etoloog Isabella Rossellini waar hulle in Brooklyn, New York, oor onder meer die sekslewe van sjimpansees praat. © PIONEERWORKS.ORG
Van links bo: Frans met sy vrou, Catherine Marin, op vakansie; in goeie luim met vriende en sy vrou op sy laaste verjaardag; met die akteur en etoloog Isabella Rossellini waar hulle in Brooklyn, New York, oor onder meer die sekslewe van sjimpansees praat. © PIONEERWORKS.ORG
De Waal het meer as sestien boeke gepubliseer en hulle is in twintig tale vertaal, onder meer in Russies, Frans, Duits en Nederlands.
De Waal het meer as sestien boeke gepubliseer en hulle is in twintig tale vertaal, onder meer in Russies, Frans, Duits en Nederlands.

Hulle het 'n konsep vir regverdigheid, wat tog die grondslag van die mensdom se morele kompas is – en dít sonder enige godsdienstige raamwerk. Terwyl aggressiewe alfamannetjies wel soms boontoe vorder in 'n  hiërargiese sjimpanseesamelewing, is dié tipe bewind gewoonlik kort en eindig dit met sy teregstelling of ballingskap.

Die algemeenste en suksesvolste alfas is nie noodwendig die grootste, sterkste en venynigste nie, dit is dié wat na die trop se veiligheid omsien, hulle beskerm, kalmte onder hulle probeer handhaaf en diegene wat onrustig is, kalmeer. Dus, 'n gerusstellende leier en vredemaker.

The Telegraph skryf oor sy bevinding betreffende hulle geslagsrolle: “Gendervloeibaarheid is algemeen onder hulle. Bonobo's, wat geneties so na aan mense soos sjimpansees is, het gereeld seks, ook daarvan gay. In alle primaatspesies is daar mannetjies met meer vroulike eienskappe [ek sal nogal 'n kamp sjimpansee wil sien! – HM] en vroulike tomboys.”

Net soos in ons samelewing, het De Waal bevind, is daar ook diegene wat nie aan geslagstereotipering voldoen nie. 'n Vroulike sjimpansee met die naam Donna sal haar harige jas soos 'n mannetjie lig en dit geniet om met alfamannetjies te stoei.

Sy het geen belangstelling in paring met mannetjies getoon nie. 'n Mantelaap genaamd Lonnie se seksuele verhoudings was uitsluitlik gay. De Waal het gereken dat tussen 5% en 10% van sjimpanseebevolkings geslags-nie-konformerende ape is.

Anders as by mense aanvaar sjimpansees en ander diereprimate egter hierdie diversiteit ten volle. Oor diere het De Waal gesê: “Ek vind nie die soort onverdraagsaamheid wat ons in menslike samelewings het nie, waarskynlik omdat religie nie 'n rol in hulle lewens speel nie.”

The Economist skryf voorts dat hy vas geglo het in die amper tasbare emosies van primate. Wanneer hy in die oë van 'n sjimpansee gekyk het, het 'n intelligente en selfversekerde dier met 'n sterk persoonlikheid teruggekyk. Charles Darwin het dieselfde gevoel toe hy sjimpansees wat mekaar kielie uitbundig sien lag het, net soos sy kinders.

Frans saam met Anton van Hooff, links, direkteur van die Arnhem-dieretuin, en Jan van Hooff, sy proefskrifadviseur. Hier is hulle by die bekendstelling van sy eerste boek, Chimpanzee Politics, in 1982. In Different het De Waal oor gay en ander geslags-nie-konformerende primate geskryf. © EMORY UNIVERSITEIT
Frans saam met Anton van Hooff, links, direkteur van die Arnhem-dieretuin, en Jan van Hooff, sy proefskrifadviseur. Hier is hulle by die bekendstelling van sy eerste boek, Chimpanzee Politics, in 1982. In Different het De Waal oor gay en ander geslags-nie-konformerende primate geskryf. © EMORY UNIVERSITEIT

De Waal het met geesdrif gerapporteer hoe hulle kan saamwerk. Hy het twee sjimpansees as voorbeeld gebruik wat saam aan 'n swaar boks gesleep het, wat elkeen nie op sy eie kon skuif nie. De Waal het talle gevalle van suiwer altruïsme gesien – die matriarg-sjimpansee Penny, te oud om te loop, is deur ander wyfies oor rotse en boomstamme gehelp.

Dan was daar die groep mannetjies wat die wonde van 'n beseerde sjimpansee gelek het. Hy het ook gesien hoe mannetjies kindersorg verskaf wanneer wyfies afwesig was, en selfs hul pas deur die woud vertraag het om die kleintjies te laat byhou.

Die aangrypendste was miskien die duidelike empatie van 'n wyfie-bonobo genaamd Kuni, wat 'n beseerde voël gevind het, daarmee na die top van die hoogste boom geklim het, en sy vlerke uitgesprei het om hom aan te moedig om te vlieg.

The Washington Post skryf De Waal het beklemtoon dat sulke gedrag nie bloot as eenvoudige weergawes van menslike interaksies beskou moet word nie. In plaas daarvan, het hy gesê, moet primate beskou word as diere met 'n ander, maar ewe ryk, ingewikkelde web van verskeie geskakeerde emosies.

In 2016 het De Waal se mentor, die bioloog Jan van Hooff, by 'n dieretuin in Arnhem, vir Mama, 'n 59-jarige sjimpansee en alfawyfie gaan besoek. Hy het gaan afskeid neem, Mama was op sterwe.

Gewoonlik laat sulke wyfies niemand toe om te na aan hulle te kom nie. Mama het egter vir Van Hooff herken. Sy het haar hand stadig uitgereik om hom te omhels. Mama het ook saggies aan sy hare gevat.

“So menslik,” het De Waal gesê oor sy vriend se ontmoeting, waarvan die video vinnig die wêreld oor versprei het. Dit het ook De Waal se boek, Mama's Last Hug: Animal Emotions and What They Tell Us about Ourselves, geïnspireer.

“Daar is kamma-verbasing oor hoe menslik die uitdrukking van Mama was en hoe medemenslik haar gebare was,” het De Waal gesê. “En dit is iets wat my opgeval het. Almal weet dat sjimpansees en bobbejane ons naaste familielid is, so hoekom sal die manier waarop hulle hulle emosies uitdruk nie baie soortgelyk aan ons s’n wees nie?”

Miskien moet ons vir die mense van Pringlebaai vra?

Voorbeelde van Frans de Waal se eie fotografie (beskikbaar by Galerie Wit, Nederland). Die hooffoto is van Naughty George. Regs onder is 'n aanstaande pleegmoeder. Links onder is Kevin. © GALERIE WIT
Voorbeelde van Frans de Waal se eie fotografie (beskikbaar by Galerie Wit, Nederland). Die hooffoto is van Naughty George. Regs onder is 'n aanstaande pleegmoeder. Links onder is Kevin. © GALERIE WIT

Ek het via sosiale media met van De Waal se familie probeer kontak maak, maar dit was onsuksesvol. Sy laaste inskrywing op Facebook was op 6 November 2023: “Gister het ons my 75ste verjaardagpartytjie [sy geboortedag is 29 Oktober] by ons huis saam met dierbare vriende gehou.

“Ons het op my verjaardag kos geëet wat my ma as kind vir my gemaak het, wat die Nederlandse weergawe van suurkool is (heelwat anders as die Duitse weergawe, en daar was drie Duitsers aan tafel).

“Dit was so 'n prettige aand, ook omdat Mark Mitton, wat 'n professionele towenaar en vriend is, uit New York daar was. Hy het 'n paar verbysterende toertjies uitgevoer wat ons eenvoudig nie kon glo nie.”

Skaars vier maande later plaas sy vrou, Catherine Marin, op Frans se Facebook-blad: “Met diepe hartseer moet ek die verwoestende nuus van Frans se dood deel. Hy is op 14 Maart 2024 in ons huis in Georgia, in Stone Mountain, oorlede.”

De Waal is aan maagkanker dood en word oorleef deur Catherine, met wie hy in 1980 getroud is, en sy broers Ferd, Wim, Hans, Vincent en Steven.

Franciscus Bernardus Maria de Waal is op 29 Oktober 1948 in 's-Hertogenbosch in Nederland gebore en is op 14 Maart 2024 in die VSA oorlede.

'n Collage van Frans de Waal se vrugbare werkslewe. © EMORY UNIVERSITEIT
'n Collage van Frans de Waal se vrugbare werkslewe. © EMORY UNIVERSITEIT

Kyk gerus hier vir meer inligting:

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 5 April 2024 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.