DIE veelheid van stemme, die kaleidoskopiese insigte, die politieke kommentaar, die leefstylraad, die onderhoude; dit alles het van die Vrye Weekblad 'n besóndere koerant gemaak.
As boekresensent (nie smaakmaker nie) was die resensies en oorsigte van Deborah Steinmair en Kerneels Breytenbach veral sinryk (met al die implikasies wat hierdie woord opsluit).
Op 'n persoonlike vlak sal ek VWB altyd dankbaar wees. Dit het my gedwing om klassieke tekste weer te lees en alles te probeer peil van presies waarom sekere boeke belangrik bly.
James Joyce se Ulysses, Marcel Proust, Virginia Woolf en veral die herlees van John Fowles was 'n openbaring. Hoe sal lesers vandag reageer op sy omstrede tekste?
Maar goeie boeke moet in die eerste en laaste instansie jou oorrompel met die taal. 'n Goeie roman kan jy op enige plek oopslaan en verbyster wees oor die skrywer se taalvermoë. Hierop wys Alberto Manguel in A history of reading (HarperCollins, 1996), daardie “judicious magpie of a literatus”, soos die agterblad blaker.
Op bladsy 211 verduidelik hy hoe die leser die herskrywer word van 'n boek. Dalk omdat die leser slim is, dalk omdat die leser “through trickery and cunning” die boek tot lewe bring.
Selfs al verskil jy van 'n skrywer se bydrae – soos Piet Croucamp oor Afrikaans se toekoms – laat dit jou nadink.
Afrikaans se klipwerk boei my. En ek deel nie die kollektiewe paranoia dat Afrikaans sal uitsterf nie. 'n Taal sterf net as die hele taalgemeenskap boedel oorgee. Afrikaans is lewend en lewendig. Dit transformeer, verander van die standaard tot streektale.
As ons steeds Van Wyk Louw se Klipwerk lees (wat ook in Duits vertaal is) soos Robert Schall dit gedoen het, kyk 'n mens anders na Afrikaans:
kyk die fieteljienies
alkant toe trap hy
bo in die mied se blom
onder in die mied se kom
schau die firlefänzchen
er tritt nach allen seiten
oben auf die diemendecke
unten in das diemenbecken
Saterdae met Deborah. En 'n salige Sondag met Anneliese Burgess sal veral gemis word. Of Willem Kempen se aweregse humor. Ali van Wyk wat 'n tendens raaksien en dit analiseer. Natuurlik ook Max du Preez.
En die woordspeletjies wat die kop besig hou. Die fieteljienies wat jy self moet uitsnuffel.
Hopelik sal die span iets nuuts of anders bedink? Dalk 'n blog elke week waar al hierdie stemme nog sal praat?
Ons het al baie oorleef in hierdie land met sy teenstrydige stemme en mense wat dwars is. Met vele boeke en skrywers. Te veel om op te noem.
Alkant toe sal ons trap, nie waar nie? Ons beleef 'n oorgangstydperk en hierom moet hierdie stemme bewaar word.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.