IN hierdie era van driftige vrouebemagtiging soos deur onder meer die #SayHerName- en #MeToo-bewegings deurspoel ironie die aanbieding van sommige Suid-Afrikaanse vrouekunstenaars van die ou dae.
’n Mens kan argumenteer dat hulle romantiese blik op die eksotiese, “Die Ander” – geskool in die vorige eeu se “Westerse” visie – neerkom op die Nie-Feministiese Blik. Dis vreemd, die gebrek aan debat hieroor in Suid-Afrika, as ʼn mens ons hooggespanne gender- en identiteit-politiek in ag neem.
In teenstelling laat ’n tentoonstelling wat pas in Parys se Musée d’Orsay geopen het die kollig dramaties op die naamlose – veral swart – modelle val wat bekende skilders meer as ’n eeu gelede uitgebeeld het. In Le Modèle noir, de Géricault à Matisse kry die vroue name en word die kunsgeskiedenis as’t ware van skilder en model oorgeskryf.
So is Manet se beroemde skildery La Négresse van 1863 nou bekend as Portret van Laure. (Dieselfde swart vrou verskyn as bediende in Manet se Olympia, ook nou hernoem.)
In Suid-Afrika wag ons nog.
’n Paar weke gelede het die veilinghuis Strauss & Kie met basuin aangekondig dat hy pas ’n Irma Stern-skildery in Kaapstad vir R17 070 000 verkoop het. Die skildery se titel in die glanskatalogus (deesdae ’n absolute noodsaaklikheid in die grootgeld-bedryf van kunsverkwansel) is aangedui as Meditation, Zanzibar.
Presies hoe “meditasie” in die flambojante verbeelding van ’n effe treurige jong vrou vasgevang word, is miskien minder belangrik as die feit dat sy anoniem is.
Naamloos.
Stern se tipiese ekspressionistiese kwashale in driftige kleure verklap wel ’n presiesheid van persoonlikheid. Hier was, in 1939 toe sy in Zanzibar haar esel gaan opslaan het, inderdaad ’n vrou, mooi getooi, wie se gesig vertel wie sy is. Sy had ’n naam – en waarskynlik ’n gesin en geskiedenis.
Tog het mej. Stern nie daaraan gedink om haar haar naam te boekstaaf nie. Of dalk het sy dit nooit gevra nie. En nou, soveel jare later, het ’n “eerste Stern-versamelaar” volgens Strauss ’n reuse-bedrag vir haar voorkoms, haar portret, haar “geskiedenis”, betaal.
Die ironie van die “naamlose” vrou behoort ’n interessante feministiese debat op te lewer. Vreemd genoeg het ’n mens dit nog nêrens teëgekom nie.
Dieselfde veiling het nog so ’n paar naamloses – nog ’n “eksotiese vrou” onder die titel The Mauve Sari, en ’n Arabier sonder naam (teen ’n formidabele R20 484 000 verkoop) en Maggie Laubser se Vrou met die Groen Hoed. Die nuweling Aspire Art Auctions het ook vandeesmaand ’n Laubser-tekening verkoop waar die titel meer vertel van die vrou se voorskoot as haar afkoms en naam.
Toe Frank Kilbourn, geesdriftige kunsversamelaar en voorsitter van Strauss & Kie, verlede jaar sy jaarlikse liefdadigheid vir die Jan van Riebeeck-skool se Welgemeend-herehuis in die vorm van ʼn boeiende uitstalling aangebied het, was die tema vrouekuns oor die afgelope 100 jaar. Dit was ’n besondere viering en het korte mette gemaak met die gedagte dat die land nie voortreflike vrouekunstenaars het en had nie. Nietemin was daar heelwat van daardie “feministiese blindheid” te sien.
Tog sou dit nie onvanpas wees om in hierdie dae van die geldmakende kunshuise te vra om versigtig te trap as die mense in die skilderye ontmenslik aangebied word nie. As dit duidelik is dat Maggie Laubser ’n duidelik presiese persoon, ’n individu, in houtskool geteken het – die een wat onlangs vir R91 040 verkoop is – en dat die titel Portrait of a Woman with Dotted Apron dalk net effens beledigend is.
Gestroopte identiteit het ’n lang geskiedenis in die kunste. Dink maar aan die “naakstudies” deur soveel “manne” op doek en papier vasgelê. (Kan die patriargale blik van iemand soos Tretchikoff op sy talle eksotiese vroue ter wille van die kleurvolle kitsch werklik verskoon word?)
Straks moet ’n mens nie genderpolitiek met protes verwar nie.
Einde 2016 het die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad se Kompanjiestuin die kwessies behoorlik oopgekrap met sy ietwat ongelukkig beraamde Our Lady-tentoonstelling. Die driftigheid van die vroueprotes en gevolg was een van die sterk merkers van kuns en politiek.
Maar tipies van die Suid-Afrikaanse manier van protes/argumentasie het dit op ’n onbeholpe, onopgeloste debat uitgeloop, sonder enige teken van hoe hierdie uitdagende sensitiewe openbare kunsgesprekke gevoer kan word.
Die bakleiery oor Our Lady was dat ’n uitstalling wat vroue, volgens die kurators as “sterk, bemagtigde wesens”, sou huldig volgens die vrouekunstenaars die teenoorgestelde reggekry het omdat onder meer net sewe van die 27 kunstenaars wat gewys is, vroue was. Al die vrouekunstenaars het hulle werk onttrek.
Wat die situasie vererger het, was dat daar net een swart manlike kunstenaar op die groeptentoonstelling was, en dié se werk ’n naamlose foto van ’n vrou was. Die kunstenaar: Zwelethu Mthethwa – wat enkele maande daarna aan moord op die sekswerker Nokuphila Kumalo skuldig bevind is.
Met die toegevoegde aspek van geweld teen vroue as subteks, die genderwanbalans en, natuurlik, hoofsaaklik die “manlike blik” was hierdie ’n kunsprojek as anatema.
Durf ’n mens wonder of die kunsversamelaar wat R17 miljoen betaal het iets hiervan voel as sy/hy dalk wonder wie daardie vrou met die gekruisde voete op die matjie in Zanzibar voor Stern se esel was?
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.